|
|
|
|
|
|
Die skooljaar is amptelik verby en dis met ’n trotse hart dat ek terugkyk op mooi dinge wat die afgelope jaar hier by Hoërskool Jan van Riebeeck gebeur het.
|
Baie geluk aan heelwat van ons leerders wat vandag met puik rapporte spog. Jul harde werk is beloon, Jan van Riebeeckers! Aan dié wat nie heeltemal tevrede is met dit wat op die vorderingverslag staan nie: aanvaar die uitdaging om volgende jaar harder te probeer!
|
Ek wil vandag graag dankie sê vir die personeel wat baie hard gewerk het om hierdie mooi oomblikke by JvR te kon verseker: in die klaskamer, op die sportveld, op die kultuurverhoog, in die koshuis, agter die skerms ... en so kan die lys aanhou. Dankie, Kollegas, vir u vasbyt in uitdagende tye en ook vir die positiewe energie waarmee u projekte aangepak het.
|
Op ’n persoonlike noot wil ek graag die hele JvR-gemeenskap bedank vir die wonderlike manier waarop julle my en my gesin vanjaar by die skool verwelkom en laat tuis voel het. Dit was inderdaad ’n bedrywige eerste 10 maande, maar dit was werklik besonders om so gemaklik deel te kan raak van ons nuwe leefwêreld en gemeenskap.
|
Ons deel graag met u in ons jaarblad ’n kykie in die 2021-skooljaar. Elke leerder het vanoggend die Jan van Riebeecker ontvang en die matrieks sal hul kopie ontvang wanneer hul op 21 Januarie hul matriekuitslae kom afhaal. Lees gerus ook die elektroniese weergawe hier: https://bit.ly/3oT82O0 Dankie aan almal wat bygedra het tot dié 2021-storie wat ons met groot trots met almal deel.
|
Laastens bedank ek graag mnre. Kees Snijders (voorsitter), Izak Swanepoel (ondervoorsitter) en die hele beheerliggaam asook die JvR-gedenktrust vir hul ongelooflike ondersteuning vanjaar. Dit is wonderlik om saam met ’n span ouers en trustees te werk wat met hart en siel bereid is om baie ekstra myle vir ons geliefde skool te loop.
|
Mag u almal ’n heerlike somervakansie en Kersseisoen saam met u geliefdes geniet.
|
Ons gesels weer wanneer die skole op 19 Januarie heropen.
|
|
|
|
|
|
|