Nuusbrief-header
4 Februarie 2022
facebook instagram custom 
Geagte Ouers / Voogde

Dis heerlik om te sien hoe ons leerders op ’n drafstap en op ’n ietwat vinniger rtime as die afgelope twee "Covid-jare" (maar die einde is ongelukkig nog nie heeltamal in sig nie!) die nuwe skooljaar se lekkertes aanpak.

Dit bly ongelooflik belangrik dat ons leerders betrokke bly en die talle geleenthede aangryp wat die skool bied.
Deelname op skool, reken die kenners, help om jou konsentrasie, interpretasie en veral jou kritiese en kreatiewe denke te stimuleer en te ontwikkel.

Dis ook belangrik om te onthou dat die proses in hierdie geval baie meer waardevol is as die "eindproduk". Die klem moet tydens jou skooljare lê op die ontdekking van jouself; die skeppingsproses wat jou in hierdie vyf jaar aan die verskillende aspekte van die lewe voorstel en blootstel...

Jan van Riebeeckers, ek glo vas dat dinge soos selfdissipline, selfaanvaarding en selfvertroue kan net heeltemal in jou menswees staanplek kry as jy bereid is om dinge te ervaar; foute te maak langs die pad - om eindelik dan die beste weergawe van jouself te word.

Ek hoop veral die graad 8's en hul ouers/voogde voel al gemaklik en tuis hier in die Jan van Riebeeck-familie. Ek wil u uitnooi om met my kontak te maak indien enigiets pla; ons wil graag verseker dat u en u kind ’n onvergeetlike hoërskoolervaring sal geniet. Gesels gerus met my by skoolhoof@janvanriebeeck.co.za.

VRYDAGFEESTAFEL
Ek nooi ook baie graag al ons ouers/voogde en vriende van ons skool uit na ons eerste Vrydagfeestafel van 2022. Dit vind op Vrydag, 25 Februarie, plaas op Welgemeend se stoep.
Kom geniet ’n heerlike bord kos met geure uit ons kruietuin en lekker koffie/tee en iets soets teen R185 per persoon. U is welkom om u eie wyn saam te bring.

Bespreek u sitplek(ke) teen Woensdag, 23 Februarie (sitplekke is beperk tot 50).
Nooi gerus u vriende en kom geniet die middagete hier op ons pragtige kampus.

Wat is op die spyskaart?
VERWELKOMINGSDRANKIE en CANAPÉ
Filobakkie met caprese-slaai en tuinkruiepesto

HOOFGEREG
Geroosterde hoenderstukke met basiliekruid uit die Welgemeend-kruietuin en koljander-salsa verde
Chipolatas met mosterdsaad
Geroosterde soetrissie- en rooiuietert-tartin (V)
Aartappel-, pancetta- en grasuieslaai
Waatlemoen-en-fetaslaai met kruieblare
Groen slaai met kruieblare, kersietamaties, spriete en sitrus-vinaigrette
Fynproewersbrood
Kruiebotter en konfyte

NAGEREG
Mini-desserthappies

Kliek gerus hier om te bespreek:
https://www.quicket.co.za/events/165096-vrydagfeestafel-25-februarie-2022/?utm_source=EventPage

PRYSUITDELING 2021
Baie geluk aan al ons leerders wat Woensdagaand tydens ons 2021-prysuitdeling vir hul mooi prestasies vereer is. Ons sal in die volgende paar dae nog hoogtepunte op ons Facebookblad deel.
’n Spesiale woord van geluk aan ons top 3-akademiese presteerders in elke graad:

Graad 8
1. Lara-Lisa Senekal - 92,4%
2. Cayle Stoltz - 89,6%
3. Emma Bartel - 89,2%

Graad 9
1. Mari Swanepoel - 94,7%
2. Peet Karsten - 93,9%
3. Layla Erasmus - 92,4%

Graad 10
1. Adrian Huysamen - 92,14%
2. Jenna Kohler - 91,57%
3. Stefan Turkstra - 90,86%

Graad 11
1. Cavan Mckeown - 92,57%
2. Dawid Agenbag - 92,00%
3. Ella Basson - 90,57%

Ons is baie trots op dié puik akademiese prestasies!

JAN VAN RIEBEECKER VAN DIE WEEK
Ons eerste 'Jan van Riebeecker van die week' vir 2022 is 'n jongman wat tydens verlede week se interhuisatletiekbyeenkoms die 0/14-spiesgooirekord laat spat het.
Baie geluk aan Fredrich Erasmus in graad 8 wat die spies 'n indrukwekkende 37,17m ver in die lug laat trek het. Ons is trots op jou, Frederich!

OPEDAG 2022
Ons nooi graag alle graad 7's uit om ons OPEDAG by te woon. Deel gerus dié nuus met vriende en kennisse - en help ons om ons geliefde skool te bemark!

Laerskool Jan van Riebeeck-leerders woon ons opedag op 15 Februariue by en alle ander graad 7's kom kuier op 16 Februarie. Kliek gerus hier om die advertensie af te laai.
Ouers/Voogde en leerders moet hul plekke via Quicket bespreek by:

15 Februarie (Laerskool Jan van Riebeeck): https://qkt.io/OBziOk
16 Februarie (alle ander skole): https://qkt.io/BEsscA

NUWE COVID-PROTOKOL
Let asseblief op die veranderinge in die Covid-protokol, soos vroeër die week aangekondig:

* Indien ’n leerder positief toets, maar geen simptome toon nie, hoef hy/sy nie te isoleer
nie.
* Indien ’n leerder positief toets en hy/sy simptome toon, is die kwarantyntydperk 7 dae.
* Indien ’n leerder in kontak was met iemand wat positief getoets het, hoef hy/sy nie te
isoleer nie, tensy hul simptome (begin) toon nie.

Dankie vir u samewerking in die verband.

LOOPBAANUITSTALLING: 9 FEBRUARIE
Hierdie interessante uitstalling is bedoel vir ons leerders wat nie noodwendig by ’n universiteit wil gaan studeer nie. Verskeie instansies sal meer omtrent hul unieke aanbiedinge kom vertel en wys.

Ouers/Voogde, indien u Woensdag tussen 13:00 en 14:30 wil inloer, is u ook baie welkom - die uitstallers sal graag al u vrae beantwoord. Die lys van uitstallers is hier beskikbaar.

NUWE EREKLEURE
Leerders wat ’n nuwe erekleuretoekenning ontvang het, moet asseblief hul vlootblou baadjie by Woolworths koop en dit by me. Van Loggerenberg inhandig vir die borduurwerk en omboorsel.

Ouers/Voogde sal ’n SMS-boodskap/ via Karri ’n kennisgewing ontvang met die bedrag verskuldig vir die borduurwerk en omboorsel. Die bedrag is dan betaalbaar wanneer die baadjie weer afgehaal word.

VOORKOMS: ALGEMENE VOORSKRIFTE
Ons maak staat op ons ouers/voogde om ook te verseker dat u kind netjies lyk wanneer hy/sy uit die motor klim of by die huis uitgaan.


  • Skoolbaadjies is verpligtend by alle saalbyeenkomste, amptelike skoolgeleenthede en gedurende die tweede en derde kwartale.
  • ’n Skoolbaadjie mag nooit sonder ’n das gedra word nie.
  • Die dra van oorfone saam met skool- of sportdrag is nie toelaatbaar nie.
Hare - Dogters
  • Sodra hare aan die kraag raak, moet dit stewig gevleg of vasgemaak word.
  • Geen los slierte wat langs die gesig en in die oë hang, word toegelaat nie.
Hare - Seuns
  • Baarde en snorbaarde word nie toegelaat nie – seuns moet soggens skoongeskeer wees.
  • Hare mag nie aan die ore raak wanneer dit regaf gekam word nie.
  • Wenkbroue mag nie onnatuurlik geskeer word nie.
Juwele (seuns en dogters)
  • Geen juwele word toegelaat nie, behalwe: polshorlosies en mediese kettinkies, een standaard goue of silwer ringetjie of knope (3mm) in die onderpunt van elke oorlel (slegs vir dogters). Ontoelaatbare juweliersware sal afgeneem en veilig bewaar word tot aan die einde van die betrokke kwartaal.
Naels (seuns en dogters)
  • Naels moet kort, netjies en natuurlik wees.
  • Naels mag nie oor die vingerpunte steek nie.
  • Geen sigbare lyfkuns soos liggaamsjuwele, tatoeëermerke en/of kentekens is toelaatbaar nie.
VALENTYNSDANS: DONDERDAG, 10 FEBRUARIE - 18:00 TOT 21:00
Jan van Riebeecker, wil jy ’n bietjie dans in ’n atmosfeer van liefde en omgee?
’n Valentynsdans (fondsinsameling) word jaarliks op ’n skooldag naaste aan 14 Februarie gehou. Die geld wat hiermee ingesamel word sal aangewend word vir die matriekafskeid. Die graad 11-leerders kry jaarliks die geleentheid om hulle inisiatief en kreatiwiteit ten toon te stel met die reël van hierdie funksie. Dit is ’n spoggeleentheid wat graag deur alle Jan van Riebeeckers (graad 8-12) bygewoon word.
Dit is met ’n groot lekkerte dat die graad 11-groep dan alle graad 8-12-leerders uitnooi na die hierdie jaar se Valentynsdans. Terwyl die ouers/voogde lekker gaan kuier in die Welgemeendtuin, gaan ons leerders in hulle swierigste uitrusting oor die dansvloer sweef...
Kaartjies is slegs beskikbaar tot Dinsdag, 8 Februarie. Geen kaartjies sal Donderdag, 10 Februarie verkoop word nie.
Tema: Valentynsdans in Japan!
DRAG: Formeel (leerders trek nie volgens tema aan nie)
Kaartjies: R100 vir ’n Jan van Riebeecker; R130 vir ’n gas) en ’n kospakkie teen R50 is ook beskikbaar. Betaal via Karri of by die finansieskantoor voor 9 Februarie.
Leerders wat op 10 Februarie enige sportverpligtinge het, kan met me. Steyn reël om by die koshuis reg te maak vir hierdie funksie.
Kom dans en kuier saam soos net ’n Jan van Riebeecker dit kan doen - dit gaan lekker wees... kry jou dansskoene, vryf hul weer blink en kom draai en swaai!
Leerders wat graag ’n gas van buite ons skool wil saamnooi, moet asseblief kennis neem van die volgende belangrike skrywe. Kliek hier om die dokument af te laai.
OUERBRAAI 2022: Bring jou Valentyn en kom braai saam by Welgemeend!
Op Donderdag, 10 Februarie verf ons weer die skool bloedrooi wanneer Valentynsdag gevier word. Die afgelope twee jaar was daar maar min geleenthede om mekaar te sien, so vanjaar nooi ons alle ouers om saam met ons by Welgemeend te kom braai terwyl ons leerders in die gat hul gate uit geniet. Daar sal vir die leerders ’n snoepie beskikbaar wees.

Ons gaan sommer vroegaand die vure aansteek, daar sal heerlike musiek wees (en spasie as jy dalk lus raak vir bietjie dans met jou Valentyn) en natuurlik 'n gelukkige trekking waar hope pryse te wen is. Dit kos slegs R200 per persoon en hiervoor kry u 'n heerlike biefstuk met slaaie en 'n nagereg - en die voorreg om weer in die opelug met die wonderlike ouers/voogde van Hoërskool Jan van Riebeeck saam te kuier.

Ons laai al die besonderhede op Karri, so koop asseblief u kaartjies - die geld gaan vir ons graad 11's se fondsinsameling vir die jaar, so dit is vir 'n baie goeie doel.

Ons sien uit om al ons ouers/voogde daar te sien! Kliek gerus hier vir meer inligting.

NUWE JvR-SPORTHEMDE
Die nuwe vlootblou JvR-sporthemde is nou by die skoolwinkel beskikbaar.

Let asseblief op die volgende reëling: die rondekraag (T-hemp) word vir oefeninge en skoolgeleenthede as ’n oefenhempie gebruik en alle leerders sal voortaan in die nuwe gholfhelp (met kraag) aan enige kompetisies/formele geleenthede deelneem.
Dit is dus verpligtend dat hierdie nuwe sporthemde so gou as moontlik aangeskaf word.
Leerders mag steeds vanjaar die "ou" wit MBK-hemp as ’n oefenhemp gebruik.

JvR-SKOOLKALENDER
Kliek gerus hier om die jaarprogram af te laai. Die kalender is ook nou op die skoolwebblad (www.janvanriebeeck.co.za) gelaai en u kan dit gerus sinchroniseer met u ander kalenders.

WHATSAPP-KOMMUNIKASIE VANAF DIE SKOOL
Verseker asseblief dat u die skool se whatsapp-nommer op u foon gestoor het sodat u alle belangrike inlgting kan ontvang: 066 448 4881.

AKADEMIE
Kwartaal 1-assesseringsprogram
Die volledige assesseringsprogram vir Kwartaal 1 is hier beskikbaar:

Graad 8
Graad 9
Graad 10
Graad 11
Graad 12

Akademiese intervensieklasse: Kwartaal 1
Kliek gerus hier om die volledige inligting vir ons intervensieklasse af te laai.
Maak gebruik van hierdie geleentheid, Jan van Riebeeckers - die klasse is gratis en word deur ons eie vakkenners - wat presies weet wat in die klas gebeur en wat eindelik in assesserings verwag word - aangebied.

SAMO (wiskunde-olimpiade)
Ronde 1 vind plaas op 10 Maart en ons wil vanjaar graag alle graad 8 tot 12 leerders wat wiskunde neem, aanmoedig om vir dié olimpiade in te skryf.
Hierdie olimpiade fokus op wiskunde en die waarde van probleemoplossing en ontdekking. Dit bied ook vir leerders blootstelling aan alternatiewe wiskundeprobleme.

U as ouer/voog kan die inskrywingsfooi op Karri betaal. Die koste per leerder beloop R25 en die sluitingsdatum is 20 Februarie.

Vanjaar sal daar ook ’n opsie wees om ’n donasie ten opsigte van inskrywings te maak. Indien ons as skool alle wiskundeleerders die wonderlike geleentheid wil bied, benodig ons R7000. U kan ons dus help om hierdie geleentheid aan almal te bied. By voorbaat dankie!

Senior Afrikaanse Olimpiade 2022
Alle graad 10-, 11- &12-leerders word uitgenooi om deel te neem aan vanjaar se olimpiade. Dit sal elektronies afgeneem word.

INSKRYWINGSFOOI beloop R50
SLUITINGSDATUM: Dinsdag, 15 Februarie 2022

Vir enige navrae, gesels gerus met me. Roosmaryn Schwartz

NSS: GELUK AAN ONS FISIESE WETENSKAPPE-DEPARTEMENT
Ons is baie trots daarop dat Jan van Riebeeck spog met 'n 13de plek op die nasionale Top 20-presteerderlys vir onderskeidings behaal in Fisiese Wetenskappe na afloop van die 2021-matriekeindeksamen!
Baie geluk aan ons 2021 se FW-matriekklas en ons puik onderwyser, me. Lize Turkstra!

SPORTSAKE
Alle somersporte is nou volstoom aan die gang. Die rooster is weer hier beskikbaar.
Ons maak staat op almal se getroue bywoning van oefeninge. Ouers/Voogde moet die kontakonderwyser ten minste 24 uur voor die oefening per e-pos in kennis stel indien u kind om ’n goeie rede nie ’n oefening kan bywoon nie. Leerders verdien detensiepunte indien hul sonder verskoning van oefeninge wegbly. Dankie vir u ondersteuning hierin!

Atletiek
Die interskoleatletiekspan is aangekondig en 83 leerders gaan ons skool verteenwoordig. Die eerste sone-atletiekbyeenkoms wat volgende Woensdag sou plaasvind, is uitgestel tot verdere kennisgewing.

Baie geluk aan De Goede Hoop wat verlede Vrydag die interhuiskompetisie gewen het. Die senior en junior Victor en Victrix Ludorum word eerskomende Maandag tydens ons saalbyeenkoms aangekondig. Die Jan van Riebeecker met hoogste puntetelling op ASA-tabel gedurende die interhuis was Damian Bosch met 779 punte (400m - S/17). Baie geluk, Damian!

Krieket
Die JvR-krieketspan klop Rondebosch se 0/15 B-span met 80 lopies en Peet Karsten was die 'speler van die wedstryd'. Ons manne speel vandag teen Hoërskool Pearson van Port Elizabeth en eerskomende Maandag (tuis) teen Cannons Creek.

Swem
Ons swemmers neem volgende Donderdag, 10 Februarie aan ‘n swemgala by die Duitse skool deel. Sterkte aan die volgende leerders wat ons gaan verteenwoordig:

Seuns 14 Vlinderslag
Jan Karsten
Meisies 14 Vlinderslag
Mia Simington
Seuns 16 Vlinderslag
Chistian Viljoen
Meisies 16 Vlinderslag
Mienke Herbst
Seuns 19 Vlinderslag
Stef Mostert
Meisies 19 Vlinderslag
Mia Nortje
Seuns 14 Rugslag
Jan Karsten
Meisies 14 Rugslag
Carla Snijders
Seuns 16 Rugslag
Benjamin Shaw
Meisies 16 Rugslag
Kianna-Gro Livesage
Seuns 19 Rugslag
Stef Mostert
Meisies 19 Rugslag
Elmarie Combrink
Seuns 19 100m
Gerard Snijders
Meisies 19 100m
Mia Nortje
Seuns 14 Borsslag
Jan Karsten
Meisies 14 Borsslag
Luca Zulch
Seuns16 Borsslag
Chirstian Viljoen
Meisies 16 Borsslag
Mienke Herbst
Seuns 19 Borsslag
Phillip Herbst
Meisies 19 Borsslag
Mia Nortje
Seuns 14 Vryslag
Jan Karsten
Meisies 14 Vryslag
Nayla Walker
Seuns 16 Vryslag
Christian Viljoen
Meisies 16 Vryslag
Kianna-Gro Liversage
Seuns 19 Vryslag
Gerard Snijders
Meisies 19 Vryslag
Elmarie Combrink
Die huiswenner van die interhuisswemgala was Reijger. Baie geluk!

Individuele prestasies:
Junior Victor: Benjamin Shaw
Junior Victrix: Mienke Herbst
Senior Victor: Stef Mostert
Senior Victrix: Elmarie Combrink

Tennis
Ons seunspan klop SACS 5-2. Baie geluk! Die dogters speel vandag teen Herschel.
Maandag speel die seuns (weg) teen die Duitse skool en die dogters speel volgende Vrydag (tuis) teen Rustenburg Girls' High. Sterkte!

Hokkie
Hokkieproewe vir die 0/19's en o/16/s vind volgende week plaas.
Leerders moet asseblief egter swem die Donderdag prioritiseer indien hulle deelneem aan die swemgala. Tref die nodige reëlings met me. Meyer.

0/16-proewe (14-,15- en 16-jarige seuns en - dogters) vind Woensdag, 9 Februarie om 15:00-16:00 by St. Cyprians se astrobaan plaas.

0/19-proewe (17- en 18-jarige seuns en dogters) vind Donderdag om 15:00-16:00 by St. Cyprians se astro-baan plaas.

Kom skryf jou naam, posisie en selfoonnommer teen Maandag om 14:30 by me. Meyer se klas (B26) op indien jy wil deelneem.

Ons gee volgende week reëlings deur waar persoonlike besittings veilig gestoor kan word voordat leerders na die astro vertrek.

Netbal
Ons is opgewonde om hierdie kwartaal reeds ’n netbalkliniek aan te bied. Die netbalkliniek word aangebied deur Stephanie Duursema. Haar afrigting is gefokus op die ontwikkeling van visie, hantering van spasie, uitmuntende balwerk en besluitneming vir beide individu en span.
Stephanie Duursema is ’n meesterafrigter met meer as 45 jaar ondervinding as nasionale speler, afrigter, keurder en skeidregter.

Sy het onlangs vanaf Kanada verhuis waar sy spelers op provinisiale en nasionale vlak ontwikkel en afgerig het.

Wanneer: Saterdag, 26 Feb. & 5 Mrt. (Albei Saterdae moet bygewoon word)
Waar: Hoërskool Jan van Riebeeck – boonste netbalbane
Koste: R150 per leerder - dit sluit versnaperinge en ’n verrassing in.
Betalings word via Karri gedoen.

Die sluitingsdatum vir inskrywing is 21 Februarie en daar is slegs plek vir 60 spelers. Bespreek gou om teleurstelling te voorkom!

KULTUUR
Koor: Maandag 16:00-17:30 en Woensdag 7:00-8:20
Orkes: Maandag 7:00-8:40 en Donderdag 7:00-8:20

Koorkamp
Ons jaarlikse kooroefenkamp vind volgende naweek plaas en dit beloof om 'n naweek van groot pret en musiek te wees. Leerders oefen die Vrydagmiddag vanaf 15:00 tot 19:00 by die skool en gaan dan rustig terug huis toe.
Ons begin dan weer Saterdagoggend om 10:00 en sal die middag teen 17:00 klaar wees.
Die koste beloop R150 per lid. Dit sluit alle etes en versnaperinge, wat deur die koshuis verskaf sal wordin.
Die naweekkamp is verpligtend vir alle lede.

Ons gaan baie lekker sing en saam lag en as dit warm is mag ons dalk gou vinnig gaan swem om net ons stemme te laat rus ook.
Skakel gerus met mnr. Geldenhuys by geruan.geldenhuys@janvanriebeeck.co.za indien daar enige navrae is.

Welgemeend Skool vir Musiek
Alle leerders, ouers en sibbe van ander skole, wat graag wil deel vorm van ons merkwaardige buitemuurse musiekskool, sien gerus die nodige vorm hier aangeheg.
Al die nodige inligting is aangedui op die vorm.
Kontak gerus vir mnr. Geldenhuys by geruan.geldenhuys@janvanriebeeck.co.za.

Mooi musiekuitslae!
Andrée van Zyl in graad 10 het in 2021 uitstekend in beide haar Unisa-musiekeksamens gevaar. Sy voltooi haar graad 5-klaviereksamen en slaag haar graad 4-teorie-eksamen met lof. Boonop is sy ook nog ń bobaas hobospeler. Wel gedaan, Andrée!

VERRYKINGSAKE (KLUBS & VERENIGINGS)
Onze Jan
Die nuwe redaksie word herinner aan more se beplanningsessie vanaf 8:30 tot 11:30 hier by die skool.

#JanGeld
Die #JanGeld-klub ontmoet volgende Vrydag om 14:45.

Poort-skryfkompetisie
Inskrywings: Slegs graad 10’s, 11’s en 12’s van 2022, asook 2021 se matrieks
Sluitingsdatum: 18 Februarie 2022

Hierdie kreatiewe skryfkompetisie word aangebied deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Leerders kan ’n kortverhaal van maksimum 1500 woorde skryf of gedigte van wisselende lengtes.

Inskrywingsfooi: R55 per inskrywing
Wenprys: R5 000

Ontwerp die POORT-boekie se voorblad. (wees oorspronklik)
Inskrywingsfooi: R35 per inskrywing
Wenprys: R750
Inskrywingsfooie: Karri of administratiewe kantoor

Alle inskrywings vir hierdie kompetisie geskied by me. M. Strydom.

KLEREWINKEL
Die klerewinkel sal volgende week Maandag, Woensdag en Donderdag tussen 14:00 en 15:30 oop wees. Die graad 8's se voorgeskrewe boek, 'Gerook', is beskikbaar. Daar is ook nou weer skooldasse in voorraad.

Baie dankie vir u getroue ondersteuning!
Mooi naweek!

Vriendelike JvR-groete
Pieter Rademeyer
Skoolhoof
facebook instagram custom 
MailPoet