Nuusbrief-header
11 Februarie 2022
facebook instagram custom 
Geagte Ouers / Voogde

Ons graad 8-steggies het vanoggend tydens ’n spesiale baadjieplegtigheid hul pragtige JvR-skoolbaadjie en naambalkie ontvang.

Ek deel so ’n baie kort stukkie uit my paar woorde vanoggend met u:

Die voorreg om die pragtige Jan van Riebeeck-skoolbaadjie te mag aantrek, is nie vir baie mense beskore nie: dit is ’n reusevoorreg en eer om dit te mag doen.

Maar wat beteken dit om ons pragtige streepbaadjie te dra? Dit beteken dat jy nou deel word van ’n ryke geskiedenis van een van die bekendste skole in Suid-Afrika. Jy het die voorreg om jouself ’n Jan van Riebeecker te noem.

MAAR: saam met die dra van hierdie besondere baadjie kom ook ’n ongelooflike verantwoordelikheid. Wanneer jy hierdie baadjie aantrek, moet jy besef dat jy iets spesiaals aan jou lyf voel wat jou aan uitnemendheid moet herinner.
Wanneer jy die baadjie aantrek, trek jy ook al die waardes waarvoor ons staan, aan; jy trek die voorneme om deel te neem aan; jy trek geleenthede wat jy wil aangryp aan.
Jy trek nie net ‘n baadjie aan nie: jy omhels en omarm alles wat JvR aan jou wil bied. En alles waarvoor ons staan.

Dra jou baadjie met groot trots. Ons loop nie met ons hande in ons sakke nie; ons hou ons baadjie netjies en vars, want ons voorkoms is dikwels n uiterlike weerspieëling van wat in ons innerlike aan die gang is.
Ja, ons lyk eenders in ons skooldrag; ons baadjies bring eenvormigheid, maar net jy kan en moet besluit hoe jy binne daardie baadjie as méns gaan ontwikkel.

Ons graad 8's het ook vandag die graad 8-belofte afgelê. Kliek gerus hier om dit te lees.

Ek hoop dat hierdie paar woorde en die graad 8-belofte opnuut betekenis kry vir élke Jan van Riebeecker - en nie net ons graad 8's nie.

Steggies... Jan van Riebeeckers: jul het jul aan die res van die skool bewys!
Jul het ywerig deelgeneem en entoesiasties die reëls gevolg; jul het gewys wat in jul steek. Word nou déél van ’n skoolgemeenskap wat jou wil help ontwikkel om die beste weergawe van jouself te wees.
Doen wat jy moet doen met trots en respek vir jou skool, jou onderwysers en mekaar.

NUWE STUDENTETRAP VOLTOOI (FASE 1)
Die JvR-beheerliggaam het Maandagaand by hul vergadering 'n glasie op die nuwe studentetrap geklink wat ook daardie dag deur die kontrakteurs afgeteken en oorhandig is. Ons Jan van Riebeeckers kon Dinsdagoggend, 8 Februarie, trots die trappe vir die eerste keer gebruik.

Argitek en voorsitter van ons Grond en Geboue-komitee, Jean Lombaard, verdien veral 'n spesiale woord van dank vir die puik werk!

Ons volgende fase (waterwerke en ook die studenteplein tot by die nuwe amfiteater) skop net na ons opedae af.

OUERKUIER 2022
'n Perfekte Kaapse somersaand gisteraand het bygedra tot ’n baie suksesvolle JvR-ouerkuier by Welgemeend!
Baie dankie aan me. Huibrecht Steyn en die graad 11-OOV wat hierdie funksie so puik gereël het: sowat 300 ouers en die personeel, 'n heerlike 'steak'braai en interessante slaaie, fantastiese pryse vir die lootjietrekking... en 'n gesellige skoolfamiliesamesyn!

Baie dankie aan almal wat pryse vir die gelukkige trekkings geborg het. Ons waardeer jul ondersteuning baie!

Spabewys
R600.00
Nourish wellness Tyger Falls
Twee aande se verblyf in Yzerfontein- strandhuis vir ses mense
R4,000.00
Sonja Loots/Pieter Malan
Boekegeskenkpak: Die nuutste leesstof en pryswennerboeke in Afrikaans
R3,500.00
Sonja Loots/Pieter Malan
Indola fietsry-baggie en T-Hemp
R1,450.00
Philip Grütter
Rug- en nekmassering
R500.00
Linda Brink( Fisio)
Personalized t-shirt
R350.00
Leopard print
Vleispakket
R1,000.00
De Rix Meat
Sjokoladekoek en Wortelkoek
R900.00
Cake time with Elsie
Greenfish-geskenkbewyse
R900.00
www.Greenfish.co.za
Wortelkoek-geskenkbewys
R500.00
Carina Wiese
Stella Platter
R200.00
Party rentals and removals
Wyn
6 bottles Gentleman's Reserves Together in Truth 2020
6 bottles Wolvenhoek Chenin Blank
6 bottles Baba Yetu Chenin Blanc
6 bottles Baba Yetu Red blend
R5522
Travelling Winemaker Gentleman’s Reserve
Bio Energy Healing Therapy
R600.00
Jolene van As
Radisson Blue-aandete vir 2
Danie Smit
Radisson Blue-ontbyt vir 2 Danie Smit
Franschoek-oorslaap vir 2
Petro Mostert
OPWINDENDE NUUS: BOTTERKOPSLAAIE UIT ONS AKWAPONIKAPLAAS!
Jan van Riebeeck se akwaponikastelsel, onder leiding van dr. Dina de Bruyn, vaar só goed dat van die vars produkte wat daar groei, reeds vandag verkoop kon word.
Hou ons Facebook-blad in die toekoms dop om nog vars produkte te koop!

VRL- EN MR-SKEMERKELKIE
Die VRL- & MR-skemerkelkie saam met ons leerderleiers en hul ouers by Welgemeend Dinsdagaand was voorwaar 'n besondere geleentheid. Ons Jan van Riebeeckers het beïndruk met toesprake so opreg uit die hart. Ons is trots op hierdie jongmense. Sterkte met die voorstap vanjaar!

GEEN BUITEMUURS EERSKOMENDE DINSDAG (15/02) EN WOENSDAG (16/02)
Daar sal eerskomende Dinsdag en Woensdag (15 en 16 Februarie) geen sport-of kultuuraktiwiteite na skool plaasvind nie, as gevolg van die massabetrokkenheid van ons leerders by ons twee graad 7-opedae. Die personeel is ook almal betrokke by hierdie belangrike bemarkingsgeleentheid..

Leerders wat tot laat by die skool moet bly as gevolg van hul betrokkenheid, word aangemoedig om van die Sirkel van Sukses-studielokaal (SSS) se dienste gebruik te maak sodat hul hul huiswerk deur die loop van die middag kan afhandel. Die sentrium sluit om 16:45. Die snoepie sal ook tot 16:00 oop wees.

VRYDAGFEESTAFEL
Ek nooi baie graag al ons ouers/voogde en vriende van ons skool uit na ons eerste Vrydagfeestafel van 2022. Dit vind op Vrydag, 25 Februarie, plaas op Welgemeend se stoep.
Kom geniet ’n heerlike bord kos met geure uit ons kruietuin en lekker koffie/tee en iets soets teen R185 per persoon. U is welkom om u eie wyn saam te bring.

Bespreek u sitplek(ke) teen Woensdag, 23 Februarie (sitplekke is beperk tot 50).
Nooi gerus u vriende en kom geniet die middagete hier op ons pragtige kampus.

Kliek gerus hier om te bespreek:
https://www.quicket.co.za/events/165096-vrydagfeestafel-25-februarie-2022/?utm_source=EventPage

AFRIKAANSWEEK 2022!
Ons is baie opgewonde om oor drie weke weer ons Afrikaansweek aan te bied!
Kyk gerus hier na die opwindende program waarheen leerders en ouers/voogde én vriende van die skool uitgenooi word. Die week word ook ingekleur met hope pret gedurende die skooldag!

MAANDAG, 28 Februarie 2022: Praat en skaterspogspel
ATKV-DEBAT - JvR-seniordebatspan: Moet plekname verander of nie?
ATKV-REDENAARS - JvR-redenaars & JvR-primêr-gaste lewer hul toesprake en GR.8-BESTES konsert!

Kom redeneer en debatteer saam met ons JvR-sprekers wanneer hul opinies lug oor aktuele sake.
Sit daarna agteroor en skater saam met ons wanneer die graad 8’s ons met hul talente op die planke vermaak.

Datum: Maandag, 28 Februarie
Tyd: 18:00 vir 18:30
Plek: JvR-skoolsaal
Koste: R50 per persoon
Kospakkie: R50

DINSDAG, 1 Maart 2022: Blokraai-ster & “Slippery-when-wet”-band
Kom kroon saam met ons die JvR-blokraai-ster! Ouers, oudleerders, onderwysers en leerders sê mekaar die stryd aan in woordeskat en algemene kennis in die vorm van blokkiesraaisels.

Kom geniet ook die soete klanke van die “Slippery-when-wet”-band (ons eie graad 10/11-band!) wanneer hulle ons in Afrikaans vermaak.

Datum: Dinsdag, 1 Maart
Tyd: 18:00 vir 18:30
Plek: JvR-skoolsaal
Koste: R50 per persoon
Kospakkie: R50
WOENSDAG, 2 Maart: Erkenningsaand
JVR-ERKENNINGSAAND met vermaak deur The Generation Gaps
Tydens hierdie spesiale geleentheid vereer ons oud-Jan van Riebeeckers wat ’n besondere bydrae tot Afrikaans gelewer het. Slegs spesiale gaste word na dié funksie uitgenooi.

DONDERDAG, 3 Maart: Kaas-en-wyn in pronkgalery
DRAMA, KUNS & MUSIEKTRIO IN AFRIKAANS: Kaas-en-wyn-aand
Ons spog graag met ons JvR-leerders se talente. Kom wees deel van hierdie gesellige kuiergeleentheid in ons pronkgalery. Kuns, foto’s, musiek en skryfkuns in Afrikaans maak deel uit van ons aand. Kom luister ook hoe Johann Nel [RSG] gedigte en opstelle voorlees.

Datum: Donderdag, 3 Maart
Tyd: 18:00 vir 18:30
Koste: R150 per persoon
VRYDAG, 4 Maart: Kletsrym, sing & dansjôl
JvR-leerders van alle grade wat kan “rap”/kletsrym, sing of dans word uitgenooi na oudisies vir die Kletsrym, sing & dansjôl.

Hierdie lekker geleentheid vind op Vrydag, 4 Maart, tydens die verrykingsperiode in die skoolsaal plaas. Carla Smit en Beer Adriaanse
tree as beoordelaars tydens hierdie geleentheid op.

’n Skakel vir datums van die oudisies sal Maandag in alle Afrikaansklasse sowel as Afrikaans Google Classroom-klasse beskikbaar wees.

Lekker pryse is op die spel en natuurlik die eer om as die wenner van dié jôl aangewys te word. Sterkte, Jan van Riebeeckers!

SPOEGWOLF: VRYDAG, 4 MAART OM 19:00 BY JVR!
Ons sluit die JvR-Afrikaansweek af met ’n vertoning deur SPOEGWOLF hier in ons skoolsaal!
Kaartjies beloop R200 per persoon en die vertoning begin om 19:00.
Moenie dié vertoning deur een van ons land se suksesvolste bands misloop nie en nooi al jul vriende! Daar sal ook kos en iets te drinke te koop wees.

Kaartjies is op Quicket beskikbaar.

Ons sien baie uit na almal se ondersteuning van hierdie baie spesiale week vir ons skool!
Kaartjies vir al hierdie geleenthede sal via Karri gekoop kan word. Die SPOEGWOLF-kaartjies word op Quicket gekoop.
JAN VAN RIEBEECKER VAN DIE WEEK
Mari van der Merwe is ons Jan van Riebeecker van die week!

Hierdie talentvolle matrikulant is by die prysuitdeling verlede week aangewys as die mees veelsydige kultuurpresteerder in ons skool. Mari behaal in 2021 verskeie puik prestasies in visuele kuns, klassieke kitaar en ballet.
Haar passie vir die kunste is duidelik sigbaar in haar kreatiewe en fenomenale pogings!

Mooi so, Mari! Ons sien uit na nog mooi kunsstories vanjaar!

OPEDAG 2022
Ons nooi graag alle graad 7's uit om ons OPEDAG by te woon. Deel gerus dié nuus met vriende en kennisse - en help ons om ons geliefde skool te bemark!

Laerskool Jan van Riebeeck-leerders woon ons opedag op 15 Februariue by en alle ander graad 7's kom kuier op 16 Februarie. Kliek gerus hier om die advertensie af te laai.
Ouers/Voogde en leerders moet hul plekke via Quicket bespreek by:

15 Februarie (Laerskool Jan van Riebeeck): https://qkt.io/OBziOk
16 Februarie (alle ander skole): https://qkt.io/BEsscA

NUWE EREKLEURE
Leerders wat ’n nuwe erekleuretoekenning ontvang het, moet asseblief hul vlootblou baadjie by Woolworths koop en dit teen volgende Vrydag, 18 Februarie, by me. Van Loggerenberg inhandig vir die borduurwerk en omboorsel.

Ouers/Voogde sal ’n SMS-boodskap/ via Karri ’n kennisgewing ontvang met die bedrag verskuldig vir die borduurwerk en omboorsel. Die bedrag is dan betaalbaar wanneer die baadjie weer afgehaal word.

NUWE JvR-SPORTHEMDE
Die nuwe vlootblou JvR-sporthemde is nou by die skoolwinkel beskikbaar.

Let asseblief op die volgende reëling: die rondekraag (T-hemp) word vir oefeninge en skoolgeleenthede as ’n oefenhempie gebruik en alle leerders sal voortaan in die nuwe gholfhelp (met kraag) aan enige kompetisies/formele geleenthede deelneem.
Dit is dus verpligtend dat hierdie nuwe sporthemde so gou as moontlik aangeskaf word.
Leerders mag steeds vanjaar die "ou" wit MBK-hemp as ’n oefenhemp gebruik.

Die verwagting is dat JvR-leerders in hierdie netjiese hempies en JvR-broeke of skooldrag enige buitemuurse aktiwiteit by die skool bywoon.

JvR-SKOOLKALENDER
Kliek gerus hier om die jaarprogram af te laai. Die kalender is ook nou op die skoolwebblad (www.janvanriebeeck.co.za) gelaai en u kan dit gerus sinchroniseer met u ander kalenders.

WHATSAPP-KOMMUNIKASIE VANAF DIE SKOOL
Verseker asseblief dat u die skool se whatsapp-nommer op u foon gestoor het sodat u alle belangrike inlgting kan ontvang: 066 448 4881.

NOODHULPKURSUS
Die Jan van Riebeeck-noodhulpspan nooi alle leerders uit om die vlak 1- Noodhulpkursus by te woon.

Datum: 19 en 20 Februarie
Koste: R550 per leerder (‘n Karri-lys sal volgende week beskikbaar wees vir betalings)
Tyd: 09:00 tot 16h00 (Die Sondag mag leerders vroeër klaar wees).
Belangstellendes moet hul name teen Dinsdag, 15 Februarie, by me. Meyer se klas (B26) opskryf.

AKADEMIE
Cambridge International Programme
Die Cambridge-program se inligtingsaand vir ouers en leerders vind op 2 Maart om 18:30 tot 19:30 plaas.
Uitnodigings en verdere inligting omtrent die program sal volgende week per e-pos aan alle graad 8-, 9- en 10-ouers/voogde gestuur word.

UNIVERSITEITBESOEK: POTCHEFSTROOM
Alida Malan, bemarker van Universiteit van Potchefstroom, kom besoek die gr. 12- leerders op 9 Maart gedurende hulle LO-periode. Die gr 12 R-groep kan sy nie inpas nie; belangstellendes kan dus gedurende die tweede pouse na me. Ananda Visser se klas gaan waar sy hul te woord sal staan. Teken asb. die datum solank aan.

Kwartaal 1-assesseringsprogram
Die volledige assesseringsprogram vir Kwartaal 1 is weer hier beskikbaar:

Graad 8
Graad 9
Graad 10
Graad 11
Graad 12

Akademiese intervensieklasse: Kwartaal 1
Kliek gerus hier om die volledige inligting vir ons intervensieklasse af te laai.

SAMO (wiskunde-olimpiade)
Ronde 1 vind plaas op 10 Maart en ons wil vanjaar graag alle graad 8 tot 12 leerders wat wiskunde neem, aanmoedig om vir dié olimpiade in te skryf.
Hierdie olimpiade fokus op wiskunde en die waarde van probleemoplossing en ontdekking. Dit bied ook vir leerders blootstelling aan alternatiewe wiskundeprobleme.

U as ouer/voog kan die inskrywingsfooi op Karri betaal. Die koste per leerder beloop R25 en die sluitingsdatum is 20 Februarie.

Vanjaar sal daar ook ’n opsie wees om ’n donasie ten opsigte van inskrywings te maak. Indien ons as skool alle wiskundeleerders die wonderlike geleentheid wil bied, benodig ons R7000. U kan ons dus help om hierdie geleentheid aan almal te bied. By voorbaat dankie!

Senior Afrikaanse Olimpiade 2022
Alle graad 10-, 11- &12-leerders word uitgenooi om deel te neem aan vanjaar se olimpiade. Dit sal elektronies afgeneem word.

INSKRYWINGSFOOI beloop R50
SLUITINGSDATUM: Dinsdag, 15 Februarie 2022

Vir enige navrae, gesels gerus met me. Roosmaryn Schwartz

GRAADSAKE
Graad 8
Baie geluk aan Fredrich Erasmus, Luca Zulch en Elle Nortje wat deur hul graadgroep gekies is om vanjaar die graad 8's op die JvR-Verteenwoordigende Raad van Leerders te verteenwoordig. Ons is baie trots op jul!

Graad 11
Ses graad 11-leerders van Herschel Girls' High het saam met ons graad 11's kom klas draf! Die dogters het saam met hul Afrikaansvakonderwyser, me. Hanneke Basson (oud-Jan van Riebeeck-vakhoof) kom kuier, want hul wou 'n eg Afrikaanse dag beleef.
Die besoek was insiggewend en 'n aangename ervaring vir al die leerders.
Me. Helena le Roux (Alumni) het hul ook op 'n interessante toer deur Welgemeend geneem.

Die gaste het ons graad 11-mentors wat betrokke was, vandag te lekker bederf met persoonlike briefies, tuisgemaakte koekies en handgemaakte geskenkies. Dit was 'n wow-oomblik!
Ons sien daarna uit om op ons beurt later vanjaar by Herschel te gaan kuier!

SPORTSAKE
Sportafrigters benodig
Ons nooi graag belangstellendes wat ons netbal- en hokkiespanne wil afrig (veral op eerste span-vlak) uit om aansoek te doen om vir die winterseisoen by ons sportspan aan te sluit. CV's moet asseblief teen volgende Vrydag gestuur word na sport@janvanriebeeck.co.za.
Deel gerus ook die inligting met mense wat hiervoor sou kwalifiseer - dankie!

Atletiek
Die interskole-atletiekspan is aangekondig en 83 leerders gaan ons skool op 22 Februarie tydens ’n middag-aand-byeenkoms op Coetzenburg (Stellenbosch) verteenwoordig.

Die eerste sone-atletiekbyeenkoms vind eerkomende Dinsdag, 15 Februarie plaas en 43 atlete het gekwalifiseer om aan die byeenkoms deel te neem. Baie sterkte - ons sien uit na mooi uitslae!

Ons atletiek 2022-junior en senior Victor & Victrix Ludorum is Maandag tydens ons saalbyeenkoms aangekondig.

Juniors:
Scarlett van der Merwe
Stephan Griesel

Seniors:
Sima Ngwenya
Damian Bosch

Baie geluk! Ons is baie trots op jul, Jan van Riebeeckers!


Krieket
JvR-krieket klop Cannons Creek met 121 lopies - mooi so, manne! Reuben Fourie was die speler van die wedstryd.
Ons speel eerskomende Maandag teen Bishops (tuis).

Swem
Ons is baie trots op Mienke Herbst wat puik presteer het tydens die CTA-Vlak 2+-swemkampioenskappe!
Sy ontvang die volgende medaljes:
Goud: 200m borsslag
Goud: 100m borsslag
Goud: 50m borsslag
Goud: individuele 'medley'
Silwer: 200m vryslag

Mooi so, Mienke!

Tennis
Ons seunspan verloor die week teen die Duitse skool en die dogters speel gelykop teen Herschel Girls' High.
Die seuns daag Maandag Westerford (tuis) uit en die dogter speel volgende Vrydag (tuis) teen Rustenburg Girls' High. Sterkte!

Tweekamp
Baie geluk aan Mienke Herbst wat ’n 8ste plek en Stefan Griessel wat ’n 12de plek tydens die Highgate-interprovisiale byeenkoms in Oudtshoorn behaal het. Mooi so!

Rugby
Ons is opgewonde dat JvR se 0/15- en senior rugbyspanne vanaf 18 tot 21 Maart aan die Wynberg-rugbyfees deelneem. Die kostes per seun wat gekies word om die skool by dié fees te verteenwoordig, beloop R650,00. Betalings kan via Karri gedoen word.

Hokkie
Belangrike datums wat asseblief in u dagboeke aangeteken moet word.

23 Februarie: Hokkieproewe vir alle spelers - St. Cyprians-astro vanaf 15:00 tot 16:00.
1 Maart: Alle hokkie-oefeninge begin - St. Cyprians-astro; tye sal nog bevestig word.
5 Maart: JvR-hokkiedag vanaf 08:00 tot 16:00 - meer inligting volg.

Netbal
Ons is opgewonde om hierdie kwartaal reeds ’n netbalkliniek aan te bied. Die netbalkliniek word aangebied deur Stephanie Duursema. Haar afrigting is gefokus op die ontwikkeling van visie, hantering van spasie, uitmuntende balwerk en besluitneming vir beide individu en span.
Stephanie Duursema is ’n meesterafrigter met meer as 45 jaar ondervinding as nasionale speler, afrigter, keurder en skeidregter.

Sy het onlangs vanaf Kanada verhuis waar sy spelers op provinisiale en nasionale vlak ontwikkel en afgerig het.

Wanneer: Saterdag, 26 Feb. & 5 Mrt. (Albei Saterdae moet bygewoon word)
Waar: Hoërskool Jan van Riebeeck – boonste netbalbane
Koste: R150 per leerder - dit sluit versnaperinge en ’n verrassing in.
Betalings word via Karri gedoen.

Die sluitingsdatum vir inskrywing is 21 Februarie en daar is slegs plek vir 60 spelers. Bespreek gou om teleurstelling te voorkom!

KULTUUR
Koor: Maandag 16:00-17:30 en Woensdag 7:00-8:20
Die koorkamp vind ook vandag en more plaas - geniet dit en sterkte!
Orkes: Maandag 7:00-8:40 en Donderdag 7:00-8:20

Musiekpersoneelkonsert
Kom geniet ’n aand waar die musiekpersoneel van die Hoërskool Jan van Riebeeck, as deel van die Welgemeend Skool vir Musiek, hul talente ten toon gaan stel. Dit beloof om 'n aand van uitnemendheid... en grappigheid te wees.

Die vertoning vind Maandag, 21 Februarie, in die skoolsaal plaas. Kaartjies is teen R60 elk op Quicket beskikbaar.
Kliek gerus hier om u kaartjies te koop: https://qkt.io/mJvyqX

Die dinge van ’n kind - met Cintaine Schutte as Mart Vermaak
Ons is baie opgewonde om in samewerking met Arena Produksiehuis die verhoogverwerking van Marita van der Vyver se trefferjeugroman, Die dinge van ’n kind, hier by Jan van Riebeeck aan te bied.
Daar is twee skolevertonings op Woensdag, 23 en Vrydag, 25 Februarie (beide om 12:00) onderskeidelik en dan is die verhoogstuk vir die publiek te sien op Woensdag, 23 Februarie (19:00) en Sondag, 27 Februarie (14:00).
Bespreek u kaartjies so gou as moontlik by Computicket. Moenie dit misloop nie!
Tygerbergkunssentrum-portretkompetisie vir gr. 8 tot 10-leerders.
Graad 8 tot 10-leerders kan gerus met me. Vrey oor hierdie opwindende kunskompetisie gesels.

Welgemeend Skool vir Musiek
Alle leerders, ouers en sibbe van ander skole, wat graag wil deel vorm van ons merkwaardige buitemuurse musiekskool, sien gerus die nodige vorm hier aangeheg.
Al die nodige inligting is aangedui op die vorm.
Kontak gerus vir mnr. Geldenhuys by geruan.geldenhuys@janvanriebeeck.co.za.

VERRYKINGSAKE (KLUBS & VERENIGINGS)
JanSEE & JanGROEN
Die JanSEE en JanGROEN-klublede beplan 'n strandskoonmaak vir more. Klublede en alle belangstellendes word uitgenooi om by ons aan te sluit en 'n verskil te maak. Ons wil alles in ons vermoë doen om die see en ons strande te beskerm en wil graag 'n bydrae maak om te verseker dat al ons strande in en om Kaapstad bloudruppel status verkry.

Datum: 12 Februarie
Plek: Lagoon Beach, Milnerton
Tyd: 08:00-10:00 (ontmoet om 07:50 by die parkeerterrein langs die strand)
Drag: Jan van Riebeeck-sportdrag en gemaklike tekkies
Bring saam: swartsak, hoed, water, sonbrandmiddel
Ons sal plastiekhandskoene verskaf.

Daar is busvervoer beskikbaar vir die koshuisleerders. Die bus vertrek om 07:15 en sal teen 10:45 by die koshuis terug wees.

Ons is trots op ons leerders wat hiermee ’n wonderlike bydrae tot ons omgewing lewer!

Poort-skryfkompetisie
Inskrywings: Slegs graad 10’s, 11’s en 12’s van 2022, asook 2021 se matrieks
Sluitingsdatum: 18 Februarie 2022

Hierdie kreatiewe skryfkompetisie word aangebied deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Leerders kan ’n kortverhaal van maksimum 1500 woorde skryf of gedigte van wisselende lengtes.

Inskrywingsfooi: R55 per inskrywing
Wenprys: R5 000

Ontwerp die POORT-boekie se voorblad. (wees oorspronklik)
Inskrywingsfooi: R35 per inskrywing
Wenprys: R750
Inskrywingsfooie: Karri of administratiewe kantoor

Alle inskrywings vir hierdie kompetisie geskied by me. M. Strydom.

KLEREWINKEL
Die klerewinkel sal volgende week Dinsdag, Woensdag en Donderdag tussen 14:00 en 15:30 oop wees. Die graad 8's se voorgeskrewe boek, 'Gerook', is beskikbaar.
Daar is ook nou weer skooldasse in voorraad.
Die wiskunde-vraestelhulpboeke sal vanaf Dinsdag,15 Februarie beskikbaar wees.
Die graad 11-Fisiese Wetenskappe boeke is ook nou beskikbaar.

Leerders wat balkies vir hul kleurbaadjies moet kry, moet asseblief ’n afskrif van hul sertifikate by me. Van Loggerenberg inhandig sodat dit bestel kan word.

Dankie aan elke Jan van Riebeecker wat die afgelope week met entoesiasme deelgeneem het. Mooi naweek!

Vriendelike JvR-groete
Pieter Rademeyer
Skoolhoof
facebook instagram custom 
MailPoet