|
|
|
|
|
|
Dit is nie aldag dat ’n Vrydag by ons skool afgesluit word met ’n besoek deur een van ons land se grootste Afrikaanse digters nie.
|
Antjie Krog is die ouma van Jana van Rooyen (en ousus Anna in verlede jaar se matriekklas) en sy het onmiddellik ingestem om met ons leerders te kom gesels toe ons haar uitgenooi het.
|
Antjie Krog het met ons matrieks gesels en tydens die 90 minute-sessie hul geïnspireer en gelei oor hoe om die ongesiene gedig in ’n eksamenvraestel aan te pak.
|
Antjie het op 16-jarige ouderdom die land tot stilstand geruk met haar uitsonderlike skryftalent. Sy vertel vanoggend dat haar baie bekende gedig, Ma, ’n A by die eisteddfod behaal het en dit is toe in die jaarblad gepubliseer. Almal was dadelik beïndruk met haar besondere skryftalent.
|
Die mense het egter begin regop sit toe sy meer gewaagde temas aangepak het - en ’n tannie het een van haar gedigte vir Beeld gestuur... en dit is op hul agterblad gepubliseer - en daardie tyd was dit nie noodwendig positief as jy tussen die agterbladstories beland het nie!
|
Skielik het die land gewéét van hierdie (uitgesproeke) 16-jarige Afrikaanse dogter. Met vele interessante nagevolge...
|
Hierdie eerste gedig van haar as 16 jarige, bly na soveel jare steeds aangrypend: eerlik verwoord uit die hart van ’n tiener!
|
Ma, ek skryf vir jou 'n gedig sonder fênsie leestekens sonder woorde wat rym sonder bywoorde net sommer 'n kaalvoet gedig -
|
want jy maak my groot in jou krom klein handjies jy beitel my met jou swart oë en spits woorde jy draai jou leiklipkop jy lag en breek my tente op maar jy offer my elke aand vir jou Here God. jou moesie-oor is my enigste telefoon jou huis my enigste bybel jou naam my breekwater teen die lewe
|
ek is so jammer mamma dat ek nie is wat ek graag vir jou wil wees nie.
|
Die koeverte vir die fotobestellings is reeds aan die leerders uitgedeel en u kan nou fotobestellings via Karri of Eft betaal. Die sluitingsdatum vir betalings is 7 Maart.
|
AANSOEK OM VRYSTELLING VAN SKOOLFOOIE
|
Ouers/Voogde wat nog nie die aansoekvorms ingedien het nie, moet dit asseblief teen eerskomende Maandag by Nicky Hattingh in Finansies indien. Kliek hier om die vorm af te laai.
|
BARBARA SCHREUDER DANSSKOOL Ons nooi graag alle Jan van Riebeeckers uit om aan te sluit by Barbara se dansskool: sy bied dansafrigting twee keer per week in die skoolsaal van Laerskool Jan van Riebeeck - op Maandae, Dinsdae of Donderdae - aan.
|
Nuwe dansers is welkom om Barbara te kontak en ’n toetsklas te reël.
|
Skakel gerus vir Barbara by 0724549353.
|
Ek nooi baie graag al ons ouers/voogde en vriende van ons skool uit na ons eerste Vrydagfeestafel van 2022. Dit vind volgende Vrydag, 25 Februarie, plaas op Welgemeend se stoep. Kom geniet ’n heerlike bord kos met geure uit ons kruietuin en lekker koffie/tee en iets soets teen R185 per persoon. U is welkom om u eie wyn saam te bring.
|
Bespreek u sitplek(ke) teen Woensdag, 23 Februarie (sitplekke is beperk tot 50).
|
Nooi gerus u vriende en kom geniet die middagete hier op ons pragtige kampus.
|
Kliek gerus hier om te bespreek:
|
Ons is baie opgewonde om oor sowat twee weke weer ons Afrikaansweek aan te bied! Kyk gerus hier na die opwindende program waarheen leerders en ouers/voogde én vriende van die skool uitgenooi word. Die week word ook ingekleur met hope pret gedurende die skooldag!
|
MAANDAG, 28 Februarie 2022: Praat en skaterspogspel
|
|
ATKV-DEBAT - JvR-seniordebatspan: Moet plekname verander of nie?
|
ATKV-REDENAARS - JvR-redenaars & JvR-primêr-gaste lewer hul toesprake en GR.8-BESTES konsert!
|
Kom redeneer en debatteer saam met ons JvR-sprekers wanneer hul opinies lug oor aktuele sake.
|
Sit daarna agteroor en skater saam met ons wanneer die graad 8’s ons met hul talente op die planke vermaak.
|
Datum: Maandag, 28 Februarie
|
|
DINSDAG, 1 Maart 2022: Blokraai-ster & “Slippery-when-wet”-band
|
|
Kom kroon saam met ons die JvR-blokraai-ster! Ouers, oudleerders, onderwysers en leerders sê mekaar die stryd aan in woordeskat en algemene kennis in die vorm van blokkiesraaisels.
|
Kom geniet ook die soete klanke van die “Slippery-when-wet”-band (ons eie graad 10/11-band!) wanneer hulle ons in Afrikaans vermaak.
|
|
WOENSDAG, 2 Maart: Erkenningsaand
|
|
JVR-ERKENNINGSAAND met vermaak deur The Generation Gaps
|
Tydens hierdie spesiale geleentheid vereer ons oud-Jan van Riebeeckers wat ’n besondere bydrae tot Afrikaans gelewer het. Slegs spesiale gaste word na dié funksie uitgenooi.
|
DONDERDAG, 3 Maart: Kaas-en-wyn in pronkgalery
|
|
DRAMA, KUNS & MUSIEKTRIO IN AFRIKAANS: Kaas-en-wyn-aand
|
Ons spog graag met ons JvR-leerders se talente. Kom wees deel van hierdie gesellige kuiergeleentheid in ons pronkgalery. Kuns, foto’s, musiek en skryfkuns in Afrikaans maak deel uit van ons aand. Kom luister ook hoe Johann Nel [RSG] gedigte en opstelle voorlees.
|
Datum: Donderdag, 3 Maart
|
|
VRYDAG, 4 Maart: Kletsrym, sing & dansjôl
|
|
JvR-leerders van alle grade wat kan “rap”/kletsrym, sing of dans word uitgenooi na oudisies vir die Kletsrym, sing & dansjôl.
|
Hierdie lekker geleentheid vind op Vrydag, 4 Maart, tydens die verrykingsperiode in die skoolsaal plaas. Carla Smit en Beer Adriaanse
|
tree as beoordelaars tydens hierdie geleentheid op.
|
’n Skakel vir datums van die oudisies sal Maandag in alle Afrikaansklasse sowel as Afrikaans Google Classroom-klasse beskikbaar wees.
|
Lekker pryse is op die spel en natuurlik die eer om as die wenner van dié jôl aangewys te word. Sterkte, Jan van Riebeeckers!
|
SPOEGWOLF: VRYDAG, 4 MAART OM 19:00 BY JVR!
|
Ons sluit die JvR-Afrikaansweek af met ’n vertoning deur SPOEGWOLF hier in ons skoolsaal!
|
Kaartjies beloop R200 per persoon en die vertoning begin om 19:00.
|
Moenie dié vertoning deur een van ons land se suksesvolste bands misloop nie en nooi al jul vriende! Daar sal ook kos en iets te drinke te koop wees.
|
Kaartjies is op Quicket beskikbaar. Kliek gerus hier vir besprekings: https://www.quicket.co.za/events/166543-jvr-afrikaansweek-en-spoegwolf/#/
|
Ons sien baie uit na almal se ondersteuning van hierdie baie spesiale week vir ons skool!
|
Kaartjies vir al hierdie geleenthede sal via Karri gekoop kan word. Die SPOEGWOLF-kaartjies word op Quicket gekoop.
|
|
Ons mnr. en mej. Jan van Riebeeck-kompetisie vind vanjaar op 8 Maart plaas. Kliek gerus hier vir al die inligting!
|
Ons twee opeaande vir graad 7-leerders was vir almal van ons by Hoërskool Jan van Riebeeck net 'n groot lekkerte!
|
Baie dankie aan almal wat bygedra het tot ons spesiale bemarkingsaand.
|
Ek waardeer u as ouer/voog se spesiale opoffering om die leerders later as normaalweg by die skool te kom oplaai.
|
Ons JvR-leerders het werklik beïndruk met 'n interessante aanbieding oor die skool en daarna is ouers en leerders op 'n toer deur ons pragtige kampus geneem. Ons kon heerlik spog met als wat ons skool bied.
|
Graad 7-leerders doen vanjaar vanaf 14 Maart tot 15 April slegs aanlyn aansoek: https://wcedonline.westerncape.gov.za/admissions-202223
|
Leerders wat ’n nuwe erekleuretoekenning ontvang het, moet asseblief hul vlootblou baadjie by Woolworths koop en dit teen volgende Woensdag, 23 Februarie by me. Van Loggerenberg inhandig vir die borduurwerk en omboorsel.
|
Ouers/Voogde sal ’n SMS-boodskap/ via Karri ’n kennisgewing ontvang met die bedrag verskuldig vir die borduurwerk en omboorsel. Die bedrag is dan betaalbaar wanneer die baadjie weer afgehaal word.
|
Ons spog graag vir oulaas met ons toppresteerders in die 2021-matriekeksamen.
|
20% van ons matriekklas behaal ’n gemiddeld bo 80%. Kliek hier om die mooi prestasies te sien. Ons is baie trots op ons 2021-matriekklas!
|
Verseker asseblief dat die skool die nuutste inligting t.o.v. u kind se konsessies het. Alle dokumente kan aan me. Annelie Nimmo (annelie.nimmo@janvanriebeeck.co.za) teen 25 Februarie 2022 gestuur word.
|
Proverto Handelsvakke-olimpiade
|
|
Leerders (Graad 10 -12) kan vir dié olimpiade in Rekeningkunde, Ekonomie en Besigheidstudies inskryf. Leerders kan al drie vakke of slegs twee/een vak skryf en die koste beloop dieselfde. Koste: R100 per leerder indien voor 26 Februarie betaal word. Andersins R120.00. Betalings via Karri.
|
|
Die eerste ronde vind op 11 Mei plaas en leerders skryf direk na skool in me. Gouws se klas. Leerders wat belangstel, kan by me. Meyer inskryf. Verdere reëlings sal nader aan die tyd deurgegee word.
|
|
Cambridge International Programme
|
Die Cambridge-program se inligtingsaand vir ouers en leerders vind op 2 Maart om 18:30 tot 19:30 plaas.
|
Uitnodigings en verdere inligting omtrent die program sal volgende week per e-pos aan alle graad 8-, 9- en 10-ouers/voogde gestuur word.
|
UNIVERSITEITBESOEK: POTCHEFSTROOM
|
Alida Malan, bemarker van Universiteit van Potchefstroom, kom besoek die gr. 12- leerders op 9 Maart gedurende hulle LO-periode. Die gr 12 R-groep kan sy nie inpas nie; belangstellendes kan dus gedurende die tweede pouse na me. Ananda Visser se klas gaan waar sy hul te woord sal staan. Teken asb. die datum solank aan.
|
Akademiese intervensieklasse: Kwartaal 1
|
Kliek gerus hier om die volledige inligting vir ons intervensieklasse af te laai.
|
Die eerste sone-atletiekbyeenkoms het Dinsdag plaasgevind en 43 atlete het gekwalifiseer om aan die byeenkoms deel te neem.
|
Die volgende atlete kwalifiseer vir die volgende ronde wat more plaasvind:
|
F. Erasmus, S. Griesel, C. Shaw, C. Viljoen, C. vd Berg, S. vd Merwe, J. Theron,
|
M. Swanepel, D. Bosch, C. Basson, P. Schultz, E. Combrinck, S. Louw
|
Toeskouers word more by Groenpunt toegelaat. Die toegansfooi is R40 per persoon.
|
Ons top 3-atlete by die sone-byeenkoms volgens die ASA-puntetabel per item, was:
|
D. Bosch: 400m - seuns 0/17: 836 punte
|
C vd Berg: 90m hekkies - dogters o/15: 771 punte
|
F Erasmus: 90m hekkies - seuns o/14: 739 punte
|
Interskole is amptelik op ons!
|
78 Atlete neem eerskomende Dinsdag deel teen Hoërskool Stellenbosch, Worcester Gimnasium, Charlie Hofmeyr, Hoërskoool Vishoek en Curro Langebaan. Baie sterkte!
|
3000m-atlete vertrek 10:30 vanaf skool en arriveer terug om 15:00.
|
- Alle atlete en ons geesspanlede moet van busvervoer gebruik maak.
- Die busse vertrek om 10:00 vanaf die skool se parkeerarea en arriveer weer om 22:00 by die skool.
Alle leerders moet stiptelik om 09:30 by die skool aanmeld.
|
Leerders wat nie deelneem of deel is van die geesspan nie, woon nie Dinsdag skool by nie.
|
Indien u egter u kind skool toe stuur, moet hy/sy asseblief huiswerk saambring. Hier sal ’n toesigpersoneellid aan diens wees.
|
- Ouers/Voogde kan hul kinders na afloop van die byeenkoms by die skool kom haal of anders sal Dewald (JvR-busfonds) reël dat die verskillende busroetes se kinders by busstoppe afgelaai word. Ouers/Voogde moet dan net hul kinders by die onderskeie busstoppe oplaai.
- Die skool vra ’n fooi van R10 per kind om buskostes te verhaal. Hierdie fooi is via Karri betaalbaar.
- Daar sal personeeltoesig op al die busse wees.
- Alle deelnemers en toeskouers moet geklee wees volgens die beleid van die skool. Die korrekte broekie, frokkie en sweetpak moet gedra word.
- Geen plakkies, geen bont of lang kouse (slegs wit), geen juweliersware en groot oorfone sal toegelaat word nie.
- Coetzenburg in Stellenbosch is ’n kunsstofbaan (tartanbaan) en atlete moet seker maak dat hulle die regte spykerskoene dra.
- Atlete wat kaalvoet hardloop, moet hulle eie pleisters voorsien.
- Daar is ‘n snoepie beskikbaar, maar ons wil u tog vriendelik versoek om kos in te pak wat met die hand geëet kan word. Hulle is baie streng oor skerp voorwerpe by die ingang. (Covid-regulasies)
- Die koshuisinwoners ontvang ’n kospakkie.
- SONROOM en WATER is baie belangrik!
- Daar word koshuisverblyf gereël vir leerders wat gewoonlik van publieke vervoer gebruik maak. Me. Steyn sal met die betrokke leerders vergader om verder reëlings te tref.
- Geen toeskouers word ongelukkig toegelaat nie.
- Daar is behoorlike COVID-regulasies in plek.
- Alle atlete en geesspanlede moet ’n Covid-vorm invul en inhandig wanneer hulle op die bus klim. Geen leerder sal op die bus toegelaat word sonder ’n Covid-vorm nie.
- Almal moet maskers dra.
- Geen sakke met elektroniese toerusting sal toegelaat word nie. Alle sakke sal by die hekke deursoek word.
- Kliek gerus hier om die program af te laai.
Indien daar ’n paar spykerskoene by die huis lê wat nie gebruik word nie, stuur dit asseblief skool toe en lewer dit by mnr. Griessel in die sportkantoor af.
|
Ons top 3-kolwers tans is: Gerard Snijders, Peet Karsten, Ruben Fourie
|
Ons top 5-boulers tans is: Ruben Fourie, Zaheer Marney, Lezwil Hoop, Gerard Snijders en Hein Muller. Mooi so, manne!
|
Ons is trots op ons seunspan wat Westerford die afgelope week gemaklik geklop het.
|
Die seuns speel eerskomende Maandag teen Bishops (weg) en die dogters speel Vrydag teen Springfield (ook weg).
|
Sterkte aan al die Jan van Riebeeckers wat more en Sondag hul Noodhulp Vlak 1-kursus voltooi.
|
JvR se 0/15 en senior rugbyspanne neem vanaf 18 tot 21 Maart deel aan die Wynberg Rugbyfees. Die kostes per seun vir hierdie fees beloop R650 00 en is betallbaar via Karri.
|
’n Oefenkamp vir alle rugbyseuns word vir volgende Saterdag, 26 Februarie beplan. Verdere reëlings sal Maandag deurgegee word.
|
Die netbalproewe het goed verloop en ons sien uit na ’n opwindende seisoen.
|
Die eerste netbalspan toer vanaf 19 tot 22 Maart.
|
Almal word ook herinner aan volgende Saterdag se netbalkliniek.
|
23 Februarie: hokkie-proewe vir alle spelers, St. Cyprians Astro-velde, 15h00 – 16h00.
|
1 Maart begin hokkie-oefeninge, St. Cyprians Astro-velde, tye sal nog bevestig word.
|
5 Maart: hokkie-dag, 08h00 – 16h00, meer inligting sal volg.
|
Ons het gister die swemmers van die Deutsche Schule Kapstadt, Camps Bay High School en Herzlia verwelkom by ons swemgala en dit was 'n heerlike geleentheid.
|
Die Jan van Riebeeck-dogters het koninggekraai met nege eerste plekke en elf tweede plekke - 'n pragtige prestasie! Die seuns het derde geëindig.
|
Wat ons werklik trots maak, is die feit dat Jan van Riebeeck in al die items verteenwoordigend én kompeterend was - dit dui op die vordering wat ons tans met ons swem maak. Wel gedaan, Jan van Riebeeckers!
|
Koor: Slegs Woensdag 7:10-8:20 volgende week.
|
Orkes: Maandag 7:10-8:40 en Donderdag 7:10-8:20
|
Die seniors oefen Woensdag 7:00 tot 7:45 en die juniors Donderdag vanaf 7:00 tot 7:45.
|
Dié Engelse debat skop volgende week af. Indien enigiemand nog wil deelneem, moet hul asseblief met me. Lotriet gesels. Die debatteerders kom volgende Woensdag om 14:30 in me. Lotriet se klas bymekaar. Sterkte!
|
Kom geniet ’n aand waar die musiekpersoneel van die Hoërskool Jan van Riebeeck, as deel van die Welgemeend Skool vir Musiek, hul talente ten toon gaan stel. Dit beloof om 'n aand van uitnemendheid... en grappigheid te wees.
|
Die vertoning vind eerskomende Maandag, 21 Februarie, in die skoolsaal plaas. Kaartjies is teen R60 elk op Quicket beskikbaar.
|
Die dinge van ’n kind - met Cintaine Schutte as Mart Vermaak
|
|
Ons is baie opgewonde om in samewerking met Arena Produksiehuis die verhoogverwerking van Marita van der Vyver se trefferjeugroman, Die dinge van ’n kind, hier by Jan van Riebeeck aan te bied.
|
|
Daar is twee skolevertonings volgende Woensdag, 23 en Vrydag, 25 Februarie (beide om 12:00) onderskeidelik en dan is die verhoogstuk vir die publiek te sien op Woensdag, 23 Februarie (19:00) en Sondag, 27 Februarie (14:00).
|
|
Bespreek u kaartjies so gou as moontlik by Computicket. Moenie dit misloop nie!
|
|
Tygerbergkunssentrum-portretkompetisie vir gr. 8 tot 10-leerders.
|
Graad 8 tot 10-leerders kan gerus met me. Vrey oor hierdie opwindende kunskompetisie gesels.
|
Die klerewinkel sal volgende week Maandag en Donderdag tussen 14:00 en 15:30 oop wees.
|
Die wiskunde-vraestelhulpboeke, graad 12-Lewenswetenskappe en die graad 11-Fisiese Wetenskappe boeke is nou beskikbaar.
|
Leerders wat balkies vir hul kleurbaadjies moet kry, moet asseblief ’n afskrif van hul sertifikate by me. Van Loggerenberg inhandig sodat dit bestel kan word.
|
Graad 8's moet daarop let dat hul nuwe skooltasse gedurende die vakansie ingeneem sal word vir die borduur van hul name.
|
|
|
|
|
|
|