Nuusbrief-header
25 Februarie 2022
facebook instagram custom 
Geagte Ouers / Voogde

Tom Peters skryf in In Search of Excellence van die trotse ouers wat by ’n oueraand moes hoor dat hul intelligente en kreatiewe graad 1-knapie ’n "onbevredigend" vir kuns behaal het. Hul kon dit nie verstaan nie. Die onderwyser se verduideliking was soos ’n koue bak water in hul gesig: "U seun het geweier om binne die lyntjies in te kleur!"

Gister luister ek na een van my groot onderwysmentors, mnr. André van Staden, die rektor van Paul Roos Gimnasium, by ’n 'kopskuif'-onderwysgesprek in Stellenbosch en hy praat hard met die onderwysleiers dat ons nie moet toelaat dat die konvensionele en "aanvaarbare manier van doen die afgelope dertig jaar" steeds die rigtingwyser is nie.

Ek glo die onderwyslandskap is gereed vir uitnemendheid op alle vlakke.
Die volgende generasie leiers en grensverskuiwers moet nou met ongekende verrykingsgeleenthede en met die hoogste standaarde gekweek word - en ons wil dit hier by ons geliefde Afrikaanse hoërskool doen. Ons wil ook buite die lyne inkleur om dit reg te kry.

Ons is voorturend besig om te dink en te gesels oor hoe ons vir ons leerders ’n beter skoolervaring kan verseker. Dit bly vir my belangrik dat lewensonderrig hier by Jan van Riebeeck plaasvind en daarom sal ons bly soek na geleenthede waar leerders die kennis en ervaring binne die klaskamer ook buite die grense van die kurrikulum kan beleef en geniet. Ons kan met hierdie filosofie nie alleen onafhanklike denke verder bevorder nie, maar ook toekomsdenkers inspireer.
Onder die breë sambreel van uitnemendheid en kreatiwiteit, wil ons graag vir ons skoolgemeenskap so dan ’n oopkop en unieke aanbieding verseker.

Ek nooi u almal uit om saam te gesels en vorentoe te dink. Ons verwelkom graag al die idees en voorstelle vir ’n toekomsgerigte Jan van Riebeeck - wat natuurlik sterk bly staan op ons stewige fondasie van tradisie en trots.

Gesels gerus met my by skoolhoof@janvanriebeeck.co.za indien u op énige manier wil bydra tot die uitbou van ons skool - ons het almal se kreatiewe gedagtes, kritiese oordeel, vars insigte en perspektiewe en kundigheid nodig.

EDUVELOPMENT-LOOPBAANPLATFORM VIR JAN VAN RIEBEECKERS
Dit is vir ons besonders aangenaam om hierdie jaar hande te vat met EDUvelopment om elke leerders van die skool die nodige ondersteuning te gee om die beste moontlike loopbaankeuses te maak.

Deur hierdie platform word elke leerder van ons skool die geleentheid gebied om sy eie profiel te skep en hierdeur ’n doelgerigte, afgeronde en toegeruste besluit oor hul toekoms te neem met al die nodige vaardighede.
Hierdie program is ontwikkel in samewerking met hoogserkende, vooraanstaande skoolhoofde en opvoedkundiges.

Ons is tans besig om al die kontakbesonderhede van leerders en ouers op te dateer. Die skool gaan binnekort ’n epos aan alle ouers stuur waar u kennis sal ontvang van die program. Die maatskappy gaan dan vir elke ouer die skakels en nodige inligting stuur om ‘n profiel vir elke leerder te kan skep. Daar is vir u geen verdere koste aan die gebruik van die platform verbonde nie.

Ons gaan die nodige ondersteuning by die skool bied sodat die leerders dit ten volle kan benut. Vir enige verdere inligting kan EDUvelopment gekontak word by (tel) +27 (0) 12 534 4020 e-pos info@eduvelopment.com of gesels gerus met me. Lin Olivier by lin.olivier@janvanriebeeck.co.za

Maak van die volgende skakel gebruik om meer te lees oor EDUvelopment: www.eduvelopment.com

FOTO'S: VALENTYNSBAL EN SKOOLFOTO'S
Valentynsbalfoto’s kan by me. Vrey se klas besigtig word en via Karri/Eft betaal word. Die sluitingsdatum vir bestellings is 7 Maart. Alle koeverte met bestellings en die bewys van betaling moet by me. Vrey ingehandig word.

Die koeverte vir die fotobestellings van die individuele skoolfoto's is reeds aan die leerders uitgedeel en u kan nou fotobestellings via Karri of Eft betaal. Die sluitingsdatum vir hierdie betalings is ook 7 Maart.

AFRIKAANSWEEK 2022 IS HIER!
Ons is baie opgewonde om volgende week ons Afrikaansweek aan te bied! Kyk gerus hier na die opwindende program waarheen leerders en ouers/voogde én vriende van die skool uitgenooi word.
Die week word ook ingekleur met hope pret gedurende die skooldag!

MAANDAG, 28 Februarie 2022: Praat en skaterspogspel
ATKV-DEBAT - JvR-seniordebatspan: Moet plekname verander of nie?
ATKV-REDENAARS - JvR-redenaars & JvR-primêr-gaste lewer hul toesprake en GR.8-BESTES konsert!

Kom redeneer en debatteer saam met ons JvR-sprekers wanneer hul opinies lug oor aktuele sake.
Sit daarna agteroor en skater saam met ons wanneer die graad 8’s ons met hul talente op die planke vermaak.

Datum: Maandag, 28 Februarie
Tyd: 18:00 vir 18:30
Plek: JvR-skoolsaal
Koste: R50 per persoon
Kospakkie: R50

DINSDAG, 1 Maart 2022: Blokraai-ster & “Slippery-when-wet”-band
Kom kroon saam met ons die JvR-blokraai-ster! Ouers, oudleerders, onderwysers en leerders sê mekaar die stryd aan in woordeskat en algemene kennis in die vorm van blokkiesraaisels.

Kom geniet ook die soete klanke van die “Slippery-when-wet”-band (ons eie graad 10/11-band!) wanneer hulle ons in Afrikaans vermaak.

Datum: Dinsdag, 1 Maart
Tyd: 18:00 vir 18:30
Plek: JvR-skoolsaal
Koste: R50 per persoon
Kospakkie: R50
WOENSDAG, 2 Maart: Erkenningsaand
JVR-ERKENNINGSAAND met vermaak deur The Generation Gaps
Tydens hierdie spesiale geleentheid vereer ons oud-Jan van Riebeeckers wat ’n besondere bydrae tot Afrikaans gelewer het. Slegs spesiale gaste word na dié funksie uitgenooi.

DONDERDAG, 3 Maart: Kaas-en-wyn in pronkgalery
DRAMA, KUNS & MUSIEKTRIO IN AFRIKAANS: Kaas-en-wyn-aand
Ons spog graag met ons JvR-leerders se talente. Kom wees deel van hierdie gesellige kuiergeleentheid in ons pronkgalery. Kuns, foto’s, musiek en skryfkuns in Afrikaans maak deel uit van ons aand. Kom luister ook hoe Johann Nel [RSG] gedigte en opstelle voorlees.

Datum: Donderdag, 3 Maart
Tyd: 18:00 vir 18:30
Koste: R150 per persoon
Bespreek u kaartjies op Quicket: https://qkt.io/WFeCaE
VRYDAG, 4 Maart: Kletsrym, sing & dansjôl
JvR-leerders van alle grade wat kan “rap”/kletsrym, sing of dans word uitgenooi na oudisies vir die Kletsrym, sing & dansjôl.

Hierdie lekker geleentheid vind op Vrydag, 4 Maart, tydens die verrykingsperiode in die skoolsaal plaas. Carla Smit en Beer Adriaanse
tree as beoordelaars tydens hierdie geleentheid op.

’n Skakel vir datums van die oudisies sal Maandag in alle Afrikaansklasse sowel as Afrikaans Google Classroom-klasse beskikbaar wees.

Lekker pryse is op die spel en natuurlik die eer om as die wenner van dié jôl aangewys te word. Sterkte, Jan van Riebeeckers!

SPOEGWOLF: VRYDAG, 4 MAART OM 19:00 BY JvR!
Ons sluit die JvR-Afrikaansweek af met ’n vertoning deur SPOEGWOLF hier in ons skoolsaal!
Kaartjies beloop R200 per persoon en die vertoning begin om 19:00.
Moenie dié vertoning deur een van ons land se suksesvolste bands misloop nie en nooi al jul vriende! Daar sal ook kos en iets te drinke te koop wees.

Kaartjies is op Quicket beskikbaar. Kliek gerus hier vir besprekings: https://www.quicket.co.za/events/166543-jvr-afrikaansweek-en-spoegwolf/#/

Ons sien baie uit na almal se ondersteuning van hierdie baie spesiale week vir ons skool!
Kaartjies vir al hierdie geleenthede sal via Karri gekoop kan word. Die SPOEGWOLF-kaartjies word op Quicket gekoop.
JAN STYL 2022
Ons mnr. en mej. Jan van Riebeeck-kompetisie vind vanjaar op 8 Maart plaas. Kom sluit by ons aan vir ’n aand van styl, mode en liefdadigheid. Hierdie jaar word alle fondse ten bate van die HOOP-projek ingesamel.

Ons beoordelaars is Charlene Kallis, Alette Winckler, dr. Jan Nel, Wilhelm van der Walt en ’n baie spesiale 'geheime beoordelaar'. Die pragtige Cintaine Schutte is ons seremoniemeester vir die aand.

Die skemerkelkie vir ouers/voogde sal vanaf 17:30 in skaakplein plaasvind en is ingesluit by kaartjieprys.

Bespreek gerus op Quicket:
https://www.quicket.co.za/events/167282-jan-styl-2022/

Elke deelnemer ondersteun ’n liefdadigheidsorganisasie en u kan ook bydra tot hul fondsinsamelingspogings. Donasies kan hier gemaak word: https://www.quicket.co.za/events/167267-jan-styl-donasies/

Moenie hierdie spoggeleentheid misloop nie!

AKADEMIE
Cambridge International Programme
Die Cambridge-program se inligtingsaand vir ouers en leerders vind volgende Woensdag, 2 Maart om 18:30 tot 19:30 plaas.
Uitnodigings en verdere inligting omtrent die program is per e-pos aan alle graad 8-, 9- en 10-ouers/voogde gestuur.

GRAADSAKE
Graad 12
Die graad 12 -inskrywings vir die NSS-eksamen word eerskomende Maandag gekontroleer. Leerders moet asb. sorg dat hul die volgende inligting saambring skool toe:
  • ’n gesertifiseerde afskrif van hul ID-dokument
  • Woonadres
  • Selfoonnommer van ouer/voog en die leerder
SPORTSAKE
Alle wintersporte skop eerskomende Dinsdag, 1 Maart, af. Kliek gerus hier vir die sportrooster wat vanaf Dinsdag gevolg word.

Atletiek
Baie geluk aan die volgende atlete wat vir die WP-sonekampioenskappe gekwalifiseer het, wat vandag en more plaasvind: Fredrich Erasmus, Stephan Griesel, Catherine Shaw, Christian Viljoen, Scarlett van der Merwe, Jan Theron, Carla van den Berg, Mari Swanepoel, Damain Bosch, Charné Basson, Paul Schultz, Elmarie Combrinck en Seth Louw - baie sterkte!

    Atletiek-interskole 2022
    Na ’n lang (en warm!) dag het ons atlete en die geesspan behoorlik gewys wat in hul steek!
    In ’n eerste vir interskole, word ’n Klein Skole Trofee aan die skool toegeken wat - ten spyte van die grootte van hul atletiekspan - steeds uitstekend gevaar het.

    Die totale punte aangeteken, gedeel deur die aantal atlete wat deelneem, het die wenner van dié trofee bepaal. Dit is daarom met groot trots dat ons met hierdie trofee kan spog! Dankie en geluk aan ons Jan van Riebeeckers vir jul harde werk!

    Verder spog ons ook met die volgende uitslae: ons verower 16 goue medaljes, 17 silwer en 13 brons medaljes; ’n totaal van 46 medaljes!
    Ons o/16-meisieaflosspan asook ons manspersoneelspan verdien ook spesiale melding - baie geluk met jul uitstekende wenpogings!

    Dankie aan ons vriende by Hoërskool Stellenbosch vir ‘n wonderlike byeenkoms. Ons sien reeds uit na 2023 wanneer ons gasheer speel vir hierdie pragtige samekoms van skole.

    Baie dankie ook aan al ons ouers/voogde vir u geduld en begrip toe u u kind laataand moes kom oplaai het. Die hele personeel was ook in Stellenbosch: dankie vir die ekstra myl, kollegas!

      Krieket
      Sterkte aan ons krieketmanne wat eerskomende Maandag teen Ottoman-krieketklub (tuis) speel.

        Tennis
        Ons dogterspan speel volgende Vrydag, 4 Maart (tuis) teen Westerford. Die seuns speel eerskomende Maandag (tuis) teen Hout Bay International School. Sterkte!

        Rugby
        JvR se 0/15 en senior rugbyspanne neem vanaf 18 tot 21 Maart deel aan die Wynberg Rugbyfees. Die kostes per seun vir hierdie fees beloop R650 00 en is betaalbaar via Karri.
        ’n Oefenkamp vir alle rugbyseuns vind more vanaf 9:30 tot 11:00 op die Buys-veld plaas. ’n E-pos met al die nodige reëlings is gister uitgestuur.

        Hokkie
        Die JvR-hokkiedag vind volgende Saterdag, 5 Maart vanaf 08:00 tot 14:00 plaas. Ons begin die dag by die St. Michaels-veld en ons eindig om 14:00 by St. Cyprians se astrobaan. Leerders wat belangstel, kan hulle name by me. Meyer se klas gaan opskryf.

        Swem
        Dit gaan baie goed met ons swemprogram: oefeninge word goed bygewoon en ons
        span het goed vertoon die jaar - mooi so!

        Daar is nog drie galas waaraan ons Jan van Riebeeckers hierdie kwartaal deelneem:

        3 Maart: Springfield
        10 Maart: Herzlia
        17 Maart: Vishoek (let wel: hierdie gala vind gedurende die toetsreeks plaas. Leerders sal nie verskoon kan word nie en moet daarom hul studietyd so beplan dat hul steeds beskikbaar is om te swem.)

        KULTUUR
        Koor: Maandag 16:00 tot 17:30 en Woensdag 7:10-8:20
        Orkes: Maandag 7:10-8:40 en Donderdag 7:10-8:20

        Hairspray-repetisies:
        Maandag 17:30-20:00, Woensdag 17:30-20:00, Donderdag 17:30-19:30, Saterdag 13:00-16:00.
        Spesifieke rolle sal in kennis gestel word van wie by watter repetisies moet wees. Leerders en ouers moet asb. die Hairspray Google Classroom en Whatsapp-groep dophou.

        Afrikaanse Debat
        Die seniors oefen Woensdag 7:00 tot 7:45 en die juniors Donderdag vanaf 7:00 tot 7:45.

        Tygerbergkunssentrum-portretkompetisie vir gr. 8 tot 10-leerders.
        Graad 8 tot 10-leerders kan gerus met me. Vrey oor hierdie opwindende kunskompetisie gesels.

        VERRYKINGSPROGRAM
        #JanDIER: Brakstap 2022
        Ons eerste brakstap vind op Saterdag, 12 Maart om 9:00 op die nuwe bergfietsroete by die Buysveld plaas. Bring gerus ’n piekniekmandjie en jou vierbeen vriend vir ‘n oggendstappie onder Tafelberg.

        Koste: R50 vir volwassenes en R30 vir kinders. Alle fondse word aan Stellenbosch-Dierebeskermingsvereniging geskenk.

        Honde moet asseblief te alle tye op leiband wees. Daar sal ook pryse vir die hondjies met die oulikste uitrustings wees.

        Jan van Riebeeckers, kom geniet die uur of wat saam met #JanBRAK voor jul voor die boeke inskuif vir die Maandag se toetse.

        KLEREWINKEL
        Die klerewinkel sal volgende week Dinsdag en Donderdag tussen 14:00 en 15:00 oop wees.
        Die wiskunde-vraestelhulpboeke, graad 12-Lewenswetenskappe en die graad 11-Fisiese Wetenskappe boeke is nou beskikbaar.

        Alle erekleurebaadjies wat ingehandig is, sal oor ongeveer drie weke gereed wees om by me. Van Loggerenberg afgehaal te word.

        Graad 8's moet daarop let dat hul nuwe skooltasse gedurende die vakansie ingeneem sal word vir die borduur van hul name.

        Baie dankie vir u getroue ondersteuning!

        Vriendelike JvR-groete
        Pieter Rademeyer
        Skoolhoof
        facebook instagram custom 
        MailPoet