Nuusbrief-header
18 Maart 2022
facebook instagram custom 
Geagte Ouers / Voogde

Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het verlede naweek ’n graad 8- en 9-slampoetry-voordraggeleentheid gereël waar ons eie Famke Schwartz in graad 8 en Amuran Bester in graad 9 ware ambassadeurs vir Hoërskool Jan van Riebeeck was.

Hul het tydens dié voordragoggend albei selfgeskrewe gedigte voorgedra. Lees hier die uitstekende werk van hierdie twee aspirant-digters:

EK SKRYF ’N GEDIG - FAMKE SCHWARTZ
Ek skryf 'n gedig vir die onseker,
dié wat hul bes probeer om hul toekoms te verbeter.
Dié wat in hul gedagtes dwaal
en dink môre is seker ook weer 'n bietjie vaal.

Ek skryf 'n gedig vir die ongelukkig,
dié wat dink geluk is nie in sig.
Die wat nie kan hanteer die helder en skerp lig.

Ek skryf 'n gedig vir die stil,
wat elke dag net in hul komberse wil opkrul.
Dié wat te alle tye wil wegsluip en agter hul maskers wil wegkruip.

Ek skryf 'n gedig vir die wat alleen agtergelaat is,
en vir stry, baklei en 'n slegte bui nie meer lus is.

Ek skryf 'n gedig vir enige iemand wat wil luister,
wat my sou wou hoor al het ek gefluister.
Sodat ek weet ek het die geveg gewen en die klagtes,
al was dit heeltyd net in my gedagtes.

DIE BUITEWêRELD - Amuran Bester
As ons maar net
die buitewêreld meer besoek...
maar ons verskies eerder
om vasgedruk te wees in ’n donker hoek.

Dis pragtig groen daar buite...
Ja, in handgeskrewe feite.
vyf... vier... drie... twee... een
nog vyf sekondes is daarmee heen.

Die beeldskone natuur wag vir jou,
maar nee, jy is vasgedruk in ’n betongebou.

Dink gou vir jouself:
hoe lekker sal dit wees
om in die natuur te ontspan?

Ja, die natuur kan ook genees.

Om in die natuur te mediteer,
sal jy jou liggaam goed kan beheer.

Dit is nie ’n moet
om in donker en onsuiwer strate te lewe,
want die natuur doen alles goed.

Ons hoef nie so ongebalanseerd te lewe,
want Moeder Aarde het ons reeds vergewe.

Ons is baie trots op jul twee en hoop om jul gedigte binnekort in digbundels raak te lees!

DAGPROGRAM VOLGENDE WEEK
Volgende week Dinsdag tot Vrydag (22 tot 25 Maart) is vepligte skooldae. Dit is vir ons as skool baie belangrik dat alle leerders by die skool moet wees.

Eerskomende Dinsdag, 22 Maart kontroleer leerders hul toetsreeksskrifte.
Onderwysers bespreek ook die algemene foute wat in die toetse gemaak is. Dit is dus uiters belangrik dat alle leerders by die skool moet wees - veral die graad 12's – sodat hul nie dieselfde foute in die Junie-eksamen herhaal nie.

Verder sal die akademiese program Woensdag en Donderdag soos normaal voortgaan.
Die skool begin Dinsdag tot Donderdag om 08:00 en leerders verdaag om 14:30.

Die gewone sportrooster (Kwartaal 1-wintersportrooster) word Dinsdag tot Donderdag gevolg. Slegs deelnemers aan die ExtravaJANza-konsert sal Donderdagmiddag van sport verskoon word.

Daar word ’n heerlike kaskarpretdag op Vrydag vanaf 07:40 tot 10:15 vir alle leerders aangebied. Die busse vertrek om 10:30. Borgskapvorms is reeds uitgedeel en ons hoop dat alle leerders die dag sal geniet. Betalings kan via Karri gedoen word.

Die skool sluit Vrydag om 10:15 vir die skoolvakansie. Rapporte word ook Vrydag elektronies uitgestuur.

BLOEDSKENK
Ongeveer 50 Jan van Riebeeckers het reeds bevestig dat hul eerskomende Dinsdag, 22 Maart, gaan bloed skenk. Leerders word daaraan herinner om hul ID-dokumente by hul te hê of ’n afskrif/foto van die dokument te kan wys.
Ons is trots op al dié Jan van Riebeeckers wat hierdie besondere daad verrig!

JvR-ExtravaJANza 2022
Kom sluit die kwartaal volgende week op 24 Maart om 18:30 op 'n hoogtepunt af wanneer die baie talentvolle Bottomless Coffee Band en al ons JvR-musiekgroepe en -dansers by ons opelugkonsert in die Welgemeendtuin optree!

Moenie hierdie spesiale musiekbelewenis en kultuurkuier misloop nie!
Kliek gerus hier vir meer inligting. Bespreek nou op Quicket: https://qkt.io/Kf5NPo

SNOEPWINKEL
Ouers/Voogde kan nou die Taptuck-toepassing aflaai waarop bestellings en betalings vir snoepwinkel items gemaak kan word.
Leerders kan dan daagliks die eet- en drinkgoed by die snoepwinkel afhaal. Die volledige spyskaart is ook op die bestelblad beskikbaar.

Vir enige onduidelikhede, kontak asseblief vir Sanette van Loggerenberg by sannette.loggerenberg@janvanriebeeck.co.za

AKADEMIE
Onderwêreld op die planke!
Graad 12’s word genooi om op Karri te betaal vir ‘n opvoering van hul roman, Onderwêreld.

Datum: Woensdag, 11 Mei 2022
Plek: Hoërskool Tygerberg in Belville
Tyd: 12:00 ons sal 11:00 vertrek vanaf die skool.
Koste: R100
Tydsduur: 80 minute
Sluitingsdatum vir die betaling is Vrydag, 6 Mei.

SA-Taalbond Tweetaligheidseksamen
Dié eksamen word op Maandag, 11 April 2022 afgeneem. Vraestelle in Afrikaans en Engels word in skooltyd in die skoolsaal geskryf. Leerders is reeds hiervoor ingeskryf.

GRAADSAKE
Graad 12
Die graad 12-inskrywings vir die NSS-eksamen is voltooi. Dankie aan elke ouer/voog wat die nodige inligting vir die skool gestuur het.
Ons wil tog asb. alle ouers/voogde aanmoedig om te verseker dat alle graad 12-leerders teen 30 September in besit is van 'n ID-kaart.
Alle leerders benodig die ID-kaart vir die NSS-eksamen en geboortesertifikate word nie aanvaar nie.

Graad 10
Graad 10's word aangemoedig om nou al te begin aansoek doen vir ID-kaarte. ID's word benodig tydens die NSS-eksamen.
Leerders word verder versoek om nie skoolure of buitemuurse aktiwiteite-tyd te gebruik vir die ID-aansoekproses nie, maar eerder skoolvakansies.

SPORTSAKE
Sportoefeninge volgende week (22 tot 24 Maart)
Die gewone sportrooster (Kwartaal 1-wintersportrooster) word Dinsdag tot Donderdag gevolg. Slegs deelnemers aan die ExtravaJANza-konsert sal Donderdagmiddag van sport verskoon word.

Atletiek
Ons is baie trots op Damian Bosch en Scarlett van der Merwe wat die afgelope week in Germiston aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe deelgeneem het. Damian het gekwalifiseer om later vandag aan die 800m-finaal deel te neem.

Tennis
Yurich Daniels bied vanaf 28 tot 30 ’n tenniskliniek hier by die hoërskool aan. JvR-leerders kry 25% afslag en betaal dus R750. Kliek gerus hier vir al die inligting.

Ons dogterspan het die week verloor teen Hoërskool Vishoek.

Baie sterkte aan Ruben Fourie, Peet Karsten en Mia Symington wat die naweek deelneem aan die Suid-Afrikaanse tenniskampioenskappe in Pretoria. Ons hou duimvas vir goeie uitslae!

Hokkie
Die dogterspanne beplan ’n vriendskaplike wedstryd eerskomende Woensdag (23 Maart) teen St Cyprian's op hul astro. Me. Meyer het die inligting aan die hokkiespelers deurgegee. Kontak haar gerus vir enige verdere navrae: sonet.meyer@janvanriebeeck.co.za.

Rugby
JvR se 0/15- en senior rugbyspanne neem hierdie naweek deel aan die Wynberg- rugbyfees.
’n Baie groot en opregte dank aan u wat al ’n skenking of donasie gemaak het vir ons seuns om aan die Wynberg-rugbyfees te kan gaan deelneem.

Wedstrydbepalings
Saterdag, 19 Maart
10:10
Silverhurst B
vs Vishoek 0/19A
Saterdag, 19 Maart
11:20
Silverhurst B
vs Wynberg 0/15C
Maandag, 21 Maart
11:20
Silverhurst A
vs Wynberg 0/19C
Maandag, 21 Maart
16:20
Silverhurst B
vs Vishoek 0/15A
Algemeen
  • Daar sal elke wedstryddag vir die spelers busvervoer vanaf die skool en terug wees.
  • Alle wedstryde word lewendig gestroom.
  • Foto’s sal beskikbaar wees op die Wynberg Facebook-blad
  • Toeskouers word toegelaat teen R30-00 per motor en R20-00 per persoon.
Ons hou duimvas dat dit goed sal gaan met die rugbymanne die naweek!

Netbal
Ons eerste netbaltoergroep vertrek eerskomende Sondag op ’n toer na Victoria-Wes. Karoo-Kids word aangebied deur oud-Springbok-netbalspeler, Partys van der Merwe.
Leerders gaan tussendeur die netbaloefening ook spanbou sessies hê waar hul as 'n span kan groei en mekaar beter leer ken.

Die twee spanne sal ook 'n wedstryd teen Hoërskool Sentraal (Beaufort-Wes) speel soos hul terugry huis toe. Geniet dit!

Rugbyskeidsregterkursus
Die WP-rugbyskeidsregtervereniging nooi alle 14 tot 19-jariges uit om ’n skolerugbyskeidsregterkursus by te woon. Kliek gerus hier vir al die inligting.

Swem
Ons het gister aan die laaste gala van die seisoen deelgeneem en ’n mooi derde plek behaal. Baie dankie aan Hoërskool Vishoek wat gasheer gespeel het vir dié geleentheid.
Ons o/19-seunsvryslagaflosspan verdien spesiale melding: hul het in die laaste item van die dag puik saamgewerk om ’n skitteroorwinning oor hul baie sterk opponente te kon behaal. Mooi so!

KULTUUR
Drakensberg Seunskoor toer na JvR!
Ons is baie opgewonde om die Drakensberg Seunskoor aan die begin van die nuwe kwartaal hier by JvR te ontvang vir iets wat beloof om 'n onvergeetlike konsert te wees.

Hierdie konsert vorm deel van hul landswye toer en die Drakies sluit die toer by ons af. Meer inligting oor hul konsert sal binnekort bemark word. Ons skoolkoor tree ook die aand op.

Ons reik dan graag uit na al ons koor- en musiekouers, (of eintlik die hele JvR-gemeenskap!), wat bereid sou wees om uit te help om hierdie merkwaardige groep seuns te huisves vir die aand van Dinsdag, 5 April (die dag waarop die skole heropen).

Sien die Google-vorm hier: Drakensbergseunskoor verblyf en vul die besonderhede in soos gevra. Skakel ook gerus vir mnr. Geldenhuys met enige navrae of versoeke.

Rotary Debating
Baie sterkte aan ons spanne wat eerskomende Dinsdag, 22 Maart om18:30 (tuis) in die eerste ronde teen Herzlia te staan kom.

Orkes
Daar is ’n baie belangrike oefening Donderdagoggend om 7:10 (ALMAL moet asb. daar wees!), asook oefeninge met klank deur die loop van Woensdag en Donderdag vir die ExtravaJANza van Donderdagaand.

Hou asb. die WhatsApp-groep dop vir verdere reëlings i.v.m. drag en wat wanneer gedoen moet word. Bring dus alle instrumente en musiek saam beide Woensdag en Donderdag. Sien die ExtravaJANza-skedule hier.

Koor
Daar is ’n baie belangrike oefening Woensdagoggend om 7:10. Daar sal ook 'n repetisie wees later die dag vir die ExtravaJANza Donderdagaand. Sien die ExtravaJANza-skedule hier.

Kaapse Afrikaanse Eisteddfod: Kuns
Inligting is nou by me. Vrey beskikbaar vir die leerders wat hiervoor wil inskryf.

Kaapse Afrikaanse Eisteddfod: Drama
Leerders wat nog nie ingeskryf het vir die drama-eisteddfod nie, kan nog volgende week hul name by me. Taljaard kom opskryf.

Nasionale Toneelspelkompetisie
Darren Cloete en Caylee Ray het Woensdag by Hoërskool Bellvile aan die eerste ronde van die nasionale toneelkompetisie deelgeneem. Ons sien uit na mooi uitslae!

Debat
Die JvR-debatspanne het Vrydag en Saterdag, 11 en 12 Maart te Stellenbosch aan die Wes-Kaapse streeksuitdunne van die ATKV-debatskompetisie deelgeneem. Die spanne het hulle staal gewys in argumentering en woordkuns en het ervaring van onskatbare waarde opgedoen.

Dit was die junior spanne se eerste debatskompetisie; dus het die adrenalien gepomp, maar dit was ook groot pret.

Baie geluk aan die twee spanne wat in die Top 10 van hul onderskeie afdelings geëindig het: Luca Zulch, Ella Nortjé en Carla Snijders (juniors) en Jamie Nel en Nina Crouse (seniors). Ons is trots op jul, Jan van Riebeeckers!

Hairspray-repetisies
Maandag, 21 Maart
14:30-16:30: Tracy, Amber, Edna, Wilbur, Link, Prudy, Velma
17:30 -19:30: Corny Kids en Show Kids

Dinsdag, 22 Maart
17:30-19:00: Almal vir ExtravaJANza

Woensdag, 23 Maart
17:30 -19:30: Tracy, Edna, Velma, Amber, Penny en Prudy

Donderdag, 24 Maart
ExtravaJanza-deelnemers tree op

Vrydag, 25 Maart
14:00 -16:30: Alle hoofrolle

Saterdag, 26 Maart
10:00-13:00 en 14:00-16:00: Almal (Ensemble en hoofrolle)

Maandag, 28 Maart
10:00- 13:00 en 14:00-17:00: Alle hoofrolle

VERRYKINGSPROGRAM
Plastiek herwinningsprojek
Die aarde versmoor onder plastiek! Wees deel van die oplossing en nie die probleem nie. Ondersteun asseblief ons plastiek herwinningsprojek deur plastiekbottels bymekaar te maak en die grys sak, wat leerders ontvang het, te vul.
Handig die vol sak eerskomende Dinsdag, 22 Maart by die skool in. Ons ontvang R2.00 vir elke vol sak en kan hierdie fondse vir verdere herwinningsprojekte aanwend én 'n verskil maak. Dankie by voorbaat vir almal se ondersteuning!

Akwaponika
Ons AkwaJANika-klub is heerlik aan die gang. Klublede word herinner aan ons bymekaarkom Dinsdagoggend om 07:00.

SKOOLWINKEL
Die skoolwinkel sal volgende week Dinsdag tussen 14:00 en 15:00 oop wees.

Alle erekleurebaadjies wat ingehandig is, sal binnekort gereed wees om by me. Van Loggerenberg afgehaal te word. Betalings moet vanaf eerskomende Dinsdag via Karri gedoen word. Betaling moet asb. geskied voordat die baadjies afgehaal word.

Graad 8's moet asseblief Woensdagmiddag (23 Maart) om 14:30 hul tasse by me. Van Loggerenberg se kantoor inhandig vir die borduur van hul name.
Verseker asseblief dat u kind se naam en van duidelik op ’n papiertjie geskryf word wat in die voorste sakkie geplaas word.

Graad 8's moet ook asseblief ’n sak byderhand hê waarin skool- en handboeke dan huis toe gedra kan word.

Ek vertrou dat die toetsreeks vlot verloop het - ons sien uit na mooi uitslae.
Geniet die langnaweek!

Vriendelike JvR-groete
Pieter Rademeyer
Skoolhoof
facebook instagram custom 
MailPoet