Nuusbrief-header
8 April 2022
facebook instagram custom 
Geagte Ouers / Voogde

Welkom terug aan die hele Jan van Riebeeck-familie. Ek hoop en vertrou dat almal die vakansieweek geniet het en saam met ons opgewonde is oor die nuwe kwartaal wat voorlê.

Baie geluk aan al ons leerders wat uitstekende akademiese uitslae na afloop van die eerste kwartaal behaal het - ons is baie trots op almal se harde werk. Ek kondig ook baie graag die Top 20-akademiese presteerders in elke graad tydens eerskomende Maandag se saalbyeenkoms aan.

Daar word reeds hard gewerk aan die beplanning van talle geleenthede wat hierdie kwartaal plaasvind en ons maak staat op ons ouergemeenskap om ons hierin te ondersteun. Hou asseblief die WhatsApp-nommer en ons sosiale media-platforms dop vir al die inligting en nuus.

Ek wil u nou reeds uitnooi en aanmoedig om kaartjies te koop vir ons musiekblyspel, Hairspray, wat vanaf 4 tot 7 Mei in die Baxter Teater aangebied word. Ons leerders en personeel werk ongelooflik hard om 'n trefferproduksie te verseker. Kaartjies is by webtickets beskikbaar: https://www.webtickets.co.za/event.aspx?itemid=1513298366
Moenie hierdie spesiale kultuurervaring misloop nie!

Baie geluk aan me. Huibrecht Steyn en haar span wat gesorg het vir ’n prentjiemooi matriekdans gisteraand. Ons matrieks het werklik stylvol en spoggerig gelyk in hul mooi uitrustings.
Ons nooi nou almal uit om volgende Woensdagaand (13 April) by die MATRIEKMODEPARADE te kom kyk hoe spoggerig hul op hul groot aand gelyk het! Alle fondse ingesamel word aangewend om te verseker dat élke 2023-matrikulant volgende jaar 'n onvergeetlike aand kan geniet.

Bespreek nou u tafel of kaartjies op Quicket: https://qkt.io/oA91yM om u plek te verseker. Slegs volwassenes woon dié aandfunksie by. Die hele skool sal volgende Donderdag tydens ons Verrykingperiode die geleentheid hê om die matrieks op die loopplank te sien.

Dis ook ’n eksamenkwartaal en ek moedig al ons Jan van Riebeeckers aan om hard te werk en nie agter te raak met hul akademiese werk nie. Die eksamen begin op 25 Mei. Die rooster is amper gefinaliseer en sal binnekort beskikbaar wees.

Baie sterkte aan ons hokkie-, netbal- en rugbyspanne wat vandag en more hul eerste amptelike liga- en winterseisoenwedstryde speel. Ons hou duimvas vir mooi uitslae. Belangriker egter: GENIET DIT!

OUERKUIER: WINTERSEISOENAFSKOP
Alle ouers en voogde word hartlik uitgenooi om vanaand vanaf 18:00 in ons klubhuis saam te kom kuier om die wintersportseisoen af te skop. Daar is ’n kontantkroeg beskikbaar en u is welkom om ’n bord eetgoed saam te bring.

JvR-TENNISOPE 2022
Kom speel in ons TENNISOPE op 27 April 2022 vanaf 09:00 tot 12:00 en kuier verder saam tot en met die VERTOONWEDSTRYD wat van 13:00 tot 15:00 sal plaasvind!

Almal word genooi om sosiaal rondom die tennisbaan te verkeer op hierdie Vryheidsdag.
Daar sal braaivleisvure brand en worsbroodjies en sosaties sal verkoop word.
Daar sal ook 'n snoepie en kontantkroeg beskikbaar wees.

Toernooiformaat - sosiale dubbelspel-tennistoernooi (slegs groenbal)
Punteformaat - tydgebaseerde toernooi

Spaninskrywings vir die sosiale toernooi beloop R300 per dubbelspan.
Die vertoonwedstryd begin om 13:00.

Program
09:00 - 12:00 Sosiale toernooi
12:00 - 13:00 Middagete
13:00 - 15:00 Vertoonwedstryd
Toegang: R20

Toernooispelers se toegangsfooi is ingesluit in die inskrywingsfooi. Kom kuier gerus saam met ons rondom die tennisbaan!
Kaartjies is op Quicket beskikbaar: https://qkt.io/Tennisope2022

DISSIPLINE: SOSIALE MEDIA
Daar is enkele leerders wat rekeninge op veral Instagram skep wat die skool se naam bevat. Hulle plaas dan foto’s en skinderstories van mede leerders wat vernederend en kwetsend is.

Die skool beskou die gebruik van sy naam sonder toestemming op sosiale media in ’n baie ernstige lig, en sal dienooreenkomstig optree. Ons skool is ’n plek van veiligheid, en hierdie gedrag strook nie met die waardes wat ons as Jan van Riebeeckers nastreef nie.

SELFIES, SEKSKLETS & SLIMFONE... SKOOLPRAATJIES
Ons nooi ook baie graag al ons ouers/voogde uit na hierdie baie insiggewende sosiale media-praatjie. Bespreek gerus u sitplekke via Karri.
Leerders woon die praatjie gratis tydens skoolure by; wanneer u op Karri betaal, is dit vir die aand om 18:00 en slegs vir volwassenes. Kliek gerus hier vir al die inligting.


TENDERGELEENTHEID: STUDENTEPLEIN
Tenders word ingewag vir die volgende projek by ons skool: Fase 2: studenteplein en amfiteater nadat die studentetrappe (fase 1) nou afgehandel is.
Belangstellende partye kan gerus navraag doen by skoolhoof@janvanriebeeck.co.za.

WINTERDRAG
Ons sal vanaf 5 tot 25 April ’n oorgangtydperk tussen die somer- en winterdrag toelaat. Leerders mag dus enige van die drag dra, maar vanaf Maandag, 25 April is dit volledige winterdrag.

Die dogters se nuwe roomkleurige rompe het gearriveer en is nou by die klerewinkel beskikbaar.

Met ons nuwe kleredrag wat ingefaseer word, die volgende reëling vir die winter:

* Die nuwe roomkleurige romp word met vlootblou sykouse of die lang kniekous
gedra. Die vlootblou sykouse is slegs by die JvR-skoolwinkel beskikbaar.

* Die vlootblou romp word ook nou met vlootblou sykouse (en nie meer swart
sykouse nie) gedra. Hierdie sykouse is slegs by die JvR-skoolwinkel beskikbaar.

* Dogters mag ook die vlootblou langbroek met sykouse of die nuwe kniekous
dra. Ons sal u in kennis stel wanneer die roomkleurige langbroeke beskikbaar is.

* Seuns mag in die winter kort- of langbroeke dra (grys of roomkleurig) en die nuwe
vlootblou sokkies saam met die roomkleurige broek of die grys sokkies saam met die
grys broek.

Skakel gerus met me. Sanette van Loggerenberg indien u enige verdere navrae het: sanette.loggerenberg@janvanriebeeck.co.za.

JvR-VERJAARDAGFEESVIERINGE
Trek asseblief solank ’n groot sirkel in u dagboek om die naweeweek van 6 Mei.

Vrydag, 6 Mei, vier ons die skool se verjaardag met ’n spesiale stigtersdagseremonie, seniortee en ook ’n oudskoliere-middagete. Die kultuur- en verrykingsprogram vind Vrydagmiddag plaas.

Saterdag, 7 Mei is ons karnavaldag wanneer ons ook sport speel teen Camps Bay High. Ons beplan heerlike kosstalletjies en ’n paar ander verrassings bo by ons sportvelde.

Ons sien daarna uit om hierdie ’n behoorlike feesnaweek te maak. Dankie by voorbaat vir almal se ondersteuning!

AKADEMIE
Cambridge-program
Baie dankie aan alle ouers wat die Cambridge-inligtingsaand op 2 Maart bygewoon het.

Die tutors vir die program vir 2022/2023 word volgende week aangestel.
Ouers sal ook volgende week per e-pos uitnodigingsontvang indien u kind kwalifiseer vir die onderskeie programme.
Enige navrae kan aan me. Meyer by sonet.meyer@janvanriebeeck.co.za gerig word.

Graad 12-Toerisme
Alle graad 12-leerders landwyd lê hul Toersime-PAT (Praktiese Assesseringstaak) op 22 en 23 Junie (na die Junie-eksamen) af. Dit is dus verpligtend dat leerders skool bywoon op hierdie twee dae en geen ander afsprake skeduleer nie. Indien die taak nie voltooi word nie, ontvang die leerder ’n onvoltooid op sy/haar nasionale senior sertifikaat. Ons maak staat op u samewerking om te verseker dat alle leerders teenwoordig is.

Onderwêreld op die planke!
Graad 12’s word genooi om op Karri te betaal vir ‘n opvoering van hul roman, Onderwêreld - ’n wonderlike leergeleentheid!

Datum: Woensdag, 11 Mei 2022
Plek: Hoërskool Tygerberg in Belville
Tyd: 12:00 (ons sal 10:40 vertrek vanaf die skool en om 14:30 terug wees.)
Koste: R100
Tydsduur: 80 minute
Sluitingsdatum vir die betaling is Vrydag, 6 Mei.

William Shakespeare's Hamlet @ The Artscape Theatre op 23 April
Hier is ’n fantastiese geleentheid vir ons leerders om dié klassieke drama te beleef, opgevoer by die bekende Kunstekaap Teater.
Alle graad 11 en 12-Engels Huistaalleerders word hartlik uitgenooi om by ons aan te sluit vir n hierdie spesiale aand van teater. Hamlet is ook een van die graad 12-voorgeskrewe werke wat later vanjaar behandel word.

Die vertoning vind op Saterdag, 23 April, vanaf 19:00 tot 21:45 plaas. Ons sal teen 18:30 by die hoofingang vergader.
Vervoer is beskikbaar vanaf die skool. Bussies sal om 18:15 vertrek en weer teen 23:15 terug wees by die skool. Ouers/Voogde is welkom om alternatiewe vervoerreëlings te tref en dit dan met mnr. Claassen of me. Visser bevestig.

Kaartjies is op Karri betaalbaar teen R80 per persoon. Die sluitingsdatum vir besprekings en betalings is Woensdag, 20 April om 15:00.

Vir enige verdere navrae, kontak gerus vir mnr. Renier Claassen by renier.claassen@janvanriebeeck.co.za

GRAADSAKE
Graad 12
Ons herinner alle ouers/voogde om te verseker dat alle graad 12-leerders teen 30 September in besit is van 'n ID-kaart. Alle leerders benodig die ID-kaart vir die NSS-eksamen en geboortesertifikate word nie aanvaar nie.

SPORTSAKE
Sportoefenprogram: Kwartaal 2
Kliek gerus hier vir die wintersport-oefenprogram vir die tweede kwartaal.

JvR-sporthemde
Ek herinner graag dat ons leerders in die nuwe JvR-sporthemp met die kraag deelneem teen ander skole.
Ons netbal- en hokkiespelers sal ook hierdie T-hemde dra vir wedstryde. Verseker asseblief dat dit betyds aangeskaf word vir die winterseisoenbepalings.
Dankie vir u samewerking.

Skaakster, Jan Karsten weer SA-kampioen!
Jan Karsten het onlangs aan die SAJCCC (SA-Juniorskaakkampioenskappe) in Pretoria deelgeneem.
Na ses dae en 11 wedstryde van intense skaak, is dié Jan van Riebeecker weer as die Suid-Afrikaanse O/14-kampioen gekroon!

Jan is ook ingesluit in die SA-span wat in Julie in Zambië aan die Afrika-jeugkampioenskappe deelneem asook in September aan die wêreldjeugkampioenskappe in Roemenië.

Jan is ook ons Jan van Riebeecker van die week! Baie geluk!

JvR-aksienetbalsterre
Ons is ongelooflik trots op vier Jan van Riebeeckers wat die afgelope week aan die Suid-Afrikaanse Junior Aksienetbalkampioenskappe in Johannesburg deelgeneem het en in die O/16-afdeling die silwer medalje terugbring Wes-Kaap toe!
Hul het ongelukkig in 'n tawwe finaal teen Gauteng-Wes verloor.

Baie geluk aan Neena Lonte, Leila Lonte, Liezel Snijders en Kailin Venter met hierdie puik prestasie - ons is ook baie trots dat vier van dié provinsiale aksienetbalwenners Jan van Riebeeckers is

Stef is bofbalster
Ons is baie trots op Stef van Duivenbooden en die Wes-Kaapse 0/18-bofbalspan wat 3de geëindig het in die onlangse nasionale kampioenskappe. Gauteng het hul in 'n taai uitspeelwedstryd om die tweede of derde plek geklop.

Stef het bykans die hele wedstryd "ge-pitch" en hom puik van sy taak gekwyt.
Mooi so, Stef!

Rugby
Ons o/15 en senior rugbyspanne speel more teen Bergvliet (weg). Die 0/15's speel om 9:00 en die eerstespan om 10:00. Sterkte, Manne! Die busse vertrek 07:00 vanaf die skool.

Albei spanne speel ook eerskomende Dinsdag, 12 April teen Hoërskool Overberg by die Gardens Rugbyklub. Die o/15's speel om 15:00 en die eerstespan om 16:00.

Die eerste ronde WP-proewe vind ook Woensdag, 13 April by Hoerskool Bellville plaas.

Netbal
Baie sterkte aan ons netbalspelers wat more aan die Margaret Pansegrouw-sportdag by Hoërskool Bellville deelneem.
Die busse vertek 06:00 vanaf die boonste parkering en sal teen 15:30 terug wees. vanaf die skool.

Sportdaginligting:
Toegansfooie
Volwassenes: R20
Leerders/Kinders (nie in skoolklere): R10
Leerders met skoolklere: Gratis
Jan van Riebeeck-leerders wat ons netbalspelers kom ondersteun, moet asseblief skooldrag dra.

Parkering
Sien die kaart hier. Busse parkeer in De La Hayelaan. Toeskouers parkeer voor of agter die skool.

Kliek hier vir aanwysings vanaf Kaapstad tot by die Hoërskool Bellville.

Sien die program vir die sportdag hier.
Spanne speel tussen 3 tot 5 wedstryde op die dag. Wedstryde is 8 minute per helfte; 1 minuut rus; 2 minute tussen rondes.

JvR-Netbal speel ook eerskomende, Dinsdag 12 April teen Hoërskool Overberg hier by die skool.

Hokkie
JvR se seunspan speel vandag om 15:15 teen Bloubergrant by St Cyprians-astro.

Die dogter- en seunspan speel ook eerskomende Dinsdag, 12 April teen Overberg tuis.
Die spanne sal by Maandag se oefening bevestig word. Dit is die eerstespanne wat speel.

Hokkie-oefeninge
Maandae en Woensdae by St. Michael's-velde, tensy anders gekommunikeer.
Enige verskonings moet asseblief aan mnr. Kastoor (wilbur.kastoor@janvanriebeeck.co.za) ten minste 24 uur vooraf gekommunikeer word.

Ligabepalings sal deurgegeee word sodra alle ligabepalings vasgestel is. Alle seuns en dogters moet op Saterdae vir ligawedstryde beskikbaar wees.

JvR VS HOëRSKOOL OVERBERG
Jan van Riebeeck vs Overberg

Jan van Riebeeck
Overberg
RUGBY
15:15
o/15A
o/15A
16:15
o/19A
o/19B
HOKKIE
15:15
Dogters
16:15
Seuns
NETBAL
15:15
Baan 1
o/14A
o/14A
15:15
Baan 2
o/19B
o/19B
15:55
Baan 1
o/15B
o/15B
15:55
Baan 2
o/15A
o/15A
16:35
Baan 1
o/19A
o/19A
16:35
Baan 2
o/16A
o/16A
Tafeltennis
Ons twee seunspanne speel eerskomende Dinsdag teen Hoërskool Fairbairn by Settlers High. Sterkte!

Lewensredding
Scarlett van der Merwe en Kianna-Gro Liversage het tydens die onlangse SA-lewensreddingkampioenskappe puik gevaar!
Scarlett het twee goue medaljes verower en Kianna-Gro ’n brons medalje. Baie geluk - ons is trots op jul!

Swem
Baie geluk aan Mia Nortje wat een brons en vier goue medaljes by die onlangse SA-streekswemgala verower het!

KULTUUR
Drama-eisteddfoefening: Elke Woensdag vanaf 14:45 tot 15:45.

Orkesoefeninge: Maandag en Doonderdag om 7:10.

Koor: Maandag, 16:30 tot 18:00 en Woensdag, 7:10 - 8:20.

Kaapse Afrikaanse Eisteddfod: Kuns - die sluitingsdatum vir inskrywings is 24 Junie. Meer inligting is beskikbaar by me. Vrey.

Tygerberg Kunssentrum Portretkompetisie: kliek gerus hier vir meer inligting oor dié opwindende kompetisie.
Young Artists - ArtSA
Biennale Arte 2022. Enter Online is one of the world’s most celebrated art exhibitions, and is starting shortly in Venice, Italy. As part of our national activities around the Biennale, we are running a nationwide competition called mzansiart@Venice for young artists. Winning entries may be displayed at the South African national exhibition in Venice.
www.artsa-venicebiennale.org
Mzanziart@Venice Young Artist Competition-
https://www.artsa-venicebiennale.org/young-artists/?fbclid=IwAR2c_K_RRP-kvX4msfG2cUNU0XfZlbk1inlGplW7tAjRkbG5pGTGswhZqqo
  • Debat: Ons debatspanne neem op 13 April en 11 Mei aan die Paul Roos Gimnasium-debatliga deel. Baie sterkte, Jan van Riebeeckers!
  • Sterrejag: Ons jaarlikse talentkompetisie word van 28 April na 1 Augustus uitgestel. Hou asseblief die nuusbrief dop vir verdere inligting aangaande inskrywings en kaartjieverkope.
  • Hairspray: Oefentye volgens die skedule op die Google Classroom en WhatsApp-groep. Sterkte!
VERRYKINGSPROGRAM
#JanKaap: Stigtersdagstaptoer!

6 April 2022 was dit presies 370 jaar gelede wat Jan van Riebeeck, sy gesin en sy bemanning in Tafelbaai geland het en die Kaap van Storms, ook bekend as Kaap de Goeie Hoop, ‘n verversingspos vir reisigers kom vestig het.

Drie-en-twintig Jan van Riebeeck-leerders het Woensdag ter viering hiervan saam met Juanine, (kultuurtoerismefundi van die FAK) 'n eksklusiewe en baie besonderse staptoer deur Kaapstad se strate aangedurf.
Tydens hierdie ontdekkingstoer is verskeie bakens wat verband hou met daardie era en Jan se dekade van uitbou en vestiging van die verversingspos, besoek.

Die opeenvolging van plekke wat besoek is sluit onder andere in: Thibauldt-plein, waar ons meer kon leer van hoe Kaapstad se kuslyn verander is deur drooglegging, en dat vaardige argitektuur en deursettingsvermoë van Thibauldt en Anreich verantwoordelik was vir vele van die pragtige ou geboue in die middestad. Daarna is ons na Bartolomeu Dias se standbeeld, en Jan en Maria van Riebeeck se standbeelde.
Ons kon die mooi muurskilderye in die Grand Centralgebou bewonder, en kyk na die geskiedkundige uitgrawings van die varswater vervoersisteem wat tydens Jan se opvolger, Wagenaar, gebou is in die kelder van die Goue Akker sentrum.Die Kasteel die Goeie Hoop en geskiedkundige geboue rondom die Paradegrond se oorsprong is uitgewys, en daarna is ons na die Wagenaar-reservoir op die Groentemarkplein en het geleer van die geskiedkundige Waghuis.
Hierna is ons na die Groote Kerk, en het ook geleer dat replikas van Jan en Maria se grafte in die binnehof van die Iziko-Slawehuis ten toon gestel word. Die toer is op ‘n hoogtepunt afgesluit by die bistro van een van ons oudouers, me. Ansia Jonck in die Kompanjietuine.
Hier is ons verder verryk met ‘n praatjie oor die geskiedkundige witte wijnappels wat deur Jan van Riebeeck geoes is in die Kompanjietuine, oor die ryke geskiedenis van die verbouing van nie net vrugte en groente nie, maar ook van die eerste rose in die Tuine. Ons moeë voete kon hier rus vind in die knus atmosfeer van “Coffee at the Vine”, die koffierestaurantjie, en elkeen het ‘n heerlike appel-kaneelpannekoek met tuisgemaakte appeltee kon afspoel.

Dit is so lekker om te weet dat ons elke dag verby hierdie glorieryke geskiedkundige bakens kan loop op pad skool toe. Dit is nog meer spesiaal om van die erfenis bewus te kon raak, en ‘n waardering te kon kry vir hierdie waagmoedige avonturiers en uitmuntende vakmanne wat eeue voor ons die Kaap wat ons vandag ken, ontwikkel het - ons geliefde bakermat.

SKOOLWINKEL
Die skoolwinkel sal volgende week Maandag en Woensdag tussen 14:00 en 15:00 oop wees.
Ons wag ongelukkig nog vir die skooltruie en serpe; dit arriveer hopelik binnekort.
Alle erebaadjies moet asseblief soggens voor skool by die snoepwinkel afgehaal word
Die seunslangbroeke is ook nou beskikbaar.

Mooi wense vir ’n baie suksesvolle tweede kwartaal! Sterkte!

Vriendelike JvR-groete
Pieter Rademeyer
Skoolhoof
facebook instagram custom 
Email Marketing Powered by MailPoet