Nuusbrief-header
22 April 2022
facebook instagram custom 
Geagte Ouers / Voogde

Ons het besluit om aanpassings aan die 2022-dagprogram te maak om sodoende tyd soggens, eerder as smiddae wanneer leerders sport- en kultuuraktiwiteite beoefen, in te ruim vir intervensie. Om dan boonop die nodige onderrigtyd te verseker, en verrykinggeleenthede in te bou, verdaag ons om 14:30 en sport begin om 15:00. Ons maak baie staat op buite-afrigters en ook veral rugbyspelers wat dikwels eers na 15:00 by oefeninge kan wees.

Ek waardeer die terugvoer (positief én negatief) oor dié reëling en besef maar al te goed dat die skool nie altyd almal tevrede kan stel nie: sommige leerders geniet die later begin op Dinsdae, Woensdae en Donderdae, terwyl ander weer in die verkeer vassit as hul 10 minute later van die huis af vertrek...

Die ligging van ons skool en ook die verskillende rigtings waaruit ons leerders reis hierheen, is beslis uniek: soms neem dit op een dag heelwat langer om uit die stad te kom as op ’n ander dag - en ook meer so miskien as ander Kaapse skole wat ook eers om 14:30 of 15:00 verdaag.

Hoe dit ookal sy: ons luister baie graag na u kommentaar en wil verseker dat ons ’n diens bied wat spreek van aanpasbaarheid as iets nie heeltemal 'werk' nadat dit beproef is nie. Ons luister egter eers wyd en deeglik voordat ons sommer net verander.

Die skool neem deeglik kennis van veral ons busleerders wat na sport wat nou later eindig, skielik veel langer op die bus moet wees op pad terug huis toe smiddae.

Die skool is bereid om ons dagprogram te hersien sodat die skooldag daagliks om 7:40 begin en om 14:05 eindig. Sport begin dan om 14:30 en ons verseker dat die sportbus om 16:00 kan vertrek. Daar sal egter altyd nog laatbusse beskikbaar wees vir aktiwiteite na 16:00.
Ons sal ook al die nuwe probleme wat met ’n moontlike verandering weer geskep word (soos veral die rugby wat reeds groot uitdagings het en spelers van oraloor in die stad heen en weer vervoer, moontlike nuwe afrigters, ens.) bestuur - ons vra u geduld hiervoor.

Ons kan ook sekere onderwysers van hul verpligtinge soggens (vergaderings, beplanning, diens, ens.) verskoon sodat veral die matrikulante steeds vanaf 7:00 tot 8:00 (deur die registerperiode) hul intervensieklasse kan bywoon. Alle leerders is ook welkom om steeds per afspraak intervensieklasse te bespreek vanaf 7:00 soggens en dan smiddae wanneer hul/die personeel nie ander buitemuurse verpligtinge het nie.
Die koor sal dan ook steeds op Woensdaeoggende vanaf 7:00 tot 8:00 kan oefen.

Ons wil graag aan u die geleentheid bied om deel te neem aan die meningpeiling oor die tye. Voltooi asb. die onderstaande skakel en dui aan watter opsie u verkies: soos ons dit tans doen of eerder die 7:40 tot 14:05-opsie elke dag.
Hierdie vorm moet asseblief teen eerskomende Maandag ingevul word en slegs een ouer/voog per gesin moet die vorm namens u kind(ers) voltooi.

Kliek gerus hier om aan die meningpeiling deel te neem:
https://docs.google.com/forms/d/e/1FAIpQLSeTKrq-w1XDpA7sHclwozBLxgQmrUKbXDyKXQoTDIY9foUgcA/viewform?usp=sf_link

Alle reëlings bly soos dit tans is totdat ons ’n amptelike skrywe en moontlike veranderinge aan die dagprogram deurgee.

Baie dankie vir u samewerking en begrip in die verband!

ONS DROOM GROOT!
Dis met groot opgewondenheid en trots dat ons ’n nuwe betrokkenheidblad bekendstel waar ouers, oudleerders en vriende van ons skool kan bydra en inkoop in ons toekomsplanne vir ons skool - met die oog op ons eeufeesvieringe oor vier jaar!

’n Pragtige nuwe webbladgedeelte is geskep waar u kan sien en dophou watter fasiliteite ons nog beplan en mettertyd afhandel. Afgesien van finansiële ondersteuning, is daar ook verskeie ander opsies waar u betrokke kan raak.

Kliek gerus hier om die JvR-100-kampusplan te sien en kliek dan op die webbladskakel onder op die advertensie om by ons projekteblad op ons skool se webblad ui te kom.

'n Vinniger roete is ook om sommer hierdie skakel te volg:
https://fonds.janvanriebeeck.co.za/

By voorbaat dankie vir almal se ondersteuning om te help bou aan ons geliefde skool.

JvR BESOEK NAMIBIë
Ek en ons beheerliggaamvoorsitter, Kees Snijders, gaan volgende Dinsdag en Woensdag (26 en 27 April) in Windhoek kuier en ’n praatjie oor ons skool aanbied. Alle oudleerders word ook uitgenooi om te kom saamkuier!

Indien u enige kontakte in Namibië het, deel asseblief hierdie nuus met hul. Kliek ook gerus hier om die uitnodiging af te laai.

REüNIENAWEEK 2022: 6-8 MEI
Ons vier Hoërskool Jan van Riebeeck se 96 jaar van uitnemendheid en trots met ’n heerlike feesnaweek vir ons ouers, oudleerders en vriende van die skool.
Kliek gerus hier vir die volledige program. Ons sien daarna uit om u almal hierdie naweek by die skool te verwelkom!

Saterdag, 7 Mei, se sportdag teen Camps Bay High School, sal ook ’n karnavalformaat aanneem. Kom geniet hierdie lekker dag saam met ons!

BESPREEK ’N LOSIE BY ONS KARNAVALNAWEEK
Losies sal langs die veld beskikbaar wees gedurende ons karnavaldag teen Camps Bay High.

Elke 4m by 4m-losie bestaan uit 'n gazebo met 6 stoele, waar u 'n eie atmosfeer kan skep en heerlik kan kuier.
’n Tou sal voor elke losie gespan word sodat u nooit verder as 5 meter van die aksie af is nie. Alle ander toeskouers moet van die pawiljoen gebruik maak.

Die losies sal aan die oorkant van die pawiljoen, reg langs die kuiertent begin en sal strek tot by die rugbypale aan die suidekant.( sien illustrasie)
Elke losie kos R300.00 en sal genommer wees, sodat u die beste sitplek vir u kuier kan kies. Dit sal ook na die heerlike kuier opgeruim word.

U is welkom om versnaperings in u losie te geniet, so ons vra dat u ook asseblief die kuiertent en kosstalletjies sal ondersteun.

Besprekings moet asb. op Quicket (Losies langs die veld JVR vs Camps Bay) gedoen word. Skakel gerus met mnr. Sampie Griessel vir enige navrae: sampie.griessel@janvanriebeeck.co.za.

JvR-TENNISOPE 2022
Kom speel in ons TENNISOPE op 27 April 2022 vanaf 09:00 tot 12:00 en kuier verder saam tot en met die VERTOONWEDSTRYD wat van 13:00 tot 15:00 sal plaasvind!

Almal word genooi om sosiaal rondom die tennisbaan te verkeer op hierdie Vryheidsdag.
Daar sal braaivleisvure brand en worsbroodjies en sosaties sal verkoop word.
Daar sal ook 'n snoepie en kontantkroeg beskikbaar wees.

Toernooiformaat - sosiale dubbelspel-tennistoernooi (slegs groenbal)
Punteformaat - tydgebaseerde toernooi

Spaninskrywings vir die sosiale toernooi beloop R300 per dubbelspan.
Die vertoonwedstryd begin om 13:00.

Program
09:00 - 12:00 Sosiale toernooi
12:00 - 13:00 Middagete
13:00 - 15:00 Vertoonwedstryd
Toegang: R20

Toernooispelers se toegangsfooi is ingesluit in die inskrywingsfooi. Kom kuier gerus saam met ons rondom die tennisbaan!
Kaartjies is op Quicket beskikbaar: https://qkt.io/Tennisope2022

SELFIES, SEKSKLETS & SLIMFONE... SKOOLPRAATJIES
Ons nooi ook baie graag al ons ouers/voogde uit na hierdie baie insiggewende sosiale media-praatjie. Bespreek gerus u sitplekke via Karri.
Leerders woon die praatjie gratis tydens skoolure by; wanneer u op Karri betaal, is dit vir die aand om 18:00 en slegs vir volwassenes. Kliek gerus hier vir al die inligting.

LAATKOMMERS MELD BY STUDENTESAKE AAN
Ek herinner dat laatkommers soggens eers by Studentesake in die voorportaal moet aanmeld voordat hul klasse toe gaan. Ek doen ook ’n dringende beroep op u om te verseker dat u kind(ers) betyds is vir skool. Dankie vir u samewerking.

AKADEMIE
Graad 8-12 assesseringsprogram
Kliek gerus hier vir die graad 8-, graad 9-, graad 10-, graad 11- en graad 12-assesseringsprogram vir hierdie kwartaal.

Graad 8–12 Junie-eksamen
Kwartaal 2 se eksamen vir ons graad 8–12's skop op Woensdag, 25 Mei af.
Kliek gerus hier om die eksamenrooster af te laai.

Verdere reëlings rondom die eksamen sal nader aan die tyd aan u gekommunikeer word. Indien u nou reeds enige navrae het, kan u die akademiese hoof, me. Liza Serrao, by liza.serrao@janvanriebeeck.co.za kontak.

Konsessies
Alle ouers/voogde moet verseker dat die skool die nuutste inligting t.o.v. u kind se konsessies het. Alle dokumente moet asseblief teen 13 Mei aan me. Annelie Nimmo by annelie.nimmo@janvanriebeeck.co.za gestuur word.

Graad 12: IGO-intervensie
Graad 12's sal vanaf volgende week elke Dinsdagoggend om 7:05 intervensieklasse kan bywoon.

MATRIEKRAAD & VRL
Die MR en VRL hou fliekaand!
Geniet 'n opwindende animasiefilm, Belle, saam met vriende!

Kom kuier eerskomende Dinsdag, 26 April, vanaf 18:30 saam in die Jubileumsaal. Hierdie geleentheid is gratis en leerders mag hul eie kos en drinkgoed, sowel as kussings en komberse, bring.

Indien moontlik, bring asseblief toiletware (soos seep, toiletrolle, tandepasta ens.) saam wat geskenk sal word.

SPORTSAKE
Naweekprogram
Kliek gerus hier om die naweek se sportprogram en -reëlings af te laai.

Kapteineaand 2022
Die tradisionele Kapteineaand gisteraand was voorwaar 'n pragtige prestigefunksie in ons 'nuwe' klubhuis. Dit was ’n groot sukses en beslis ’n aand wat ons gaan onthou.

Ons sportkapteine, sowel as die o/19-spanlede, is hier vereer. ’n Kragtige boodskap van ervaring is deur ons gasspreker, die kranige marathonatleet en oudleerder (2008), Imgard Krugman, gelewer en het bygedra tot die sukses van die aand.

Elke spankaptein het ook die geleentheid gehad om ’n kort inspirerende boodskap te lewer. Dis duidelik: die gees loop hoog en ons Jan van Riebeeckers is gereed om die winterseisoen met absolute ywer aan te pak!

Ons leerders het pragtig gelyk, hul kon heerlik ontspan en saamkuier en hul is bederf met smaaklike verversings. Baie dankie aan die matriekraad, me. Steyn en me. Van Loggerenberg wat ’n baie suksesvolle funksie gereël het.

Netbal
Kliek gerus hier vir die 2022-netbaldatums. Let asseblief daarop dat sommige datums/beplaings nog kan verander.

Nuwe netbalakademie by Jan van Riebeeck
Dit is heerlik om Melanie Rossouw en haar span van Pearl-netbalakademie vanaf 29 April op ons kampus te verwelkom!
Jan van Riebeeck is die nuwe tuiste van hierdie akademie wat reeds suksesvol in Gauteng gevestig is.

Alle leerders in die Kaapstadomgewing word uitgenooi om aan te sluit om hul netbal-vaardighede te slyp. Die groepsessies vind op Vrydaemiddae op die boonste netbalbane plaas en individuele sessies kan ook gereël word.
Kliek gerus hier vir meer inligting en ouers kan hul kinders by die volgende skakel registeer: shorturl.at/nvKM3

Ek moedig u aan om hierdie inisiatief te ondersteun, ons te help bemark - ook veral aan laerskoolleerders.

JvR-seilprogram
Ons is opgewonde oor die positiewe reaksie van ons leerders om deel te neem aan die seilprogram.
Kyk gerus na die skakel om ’n voorsmakie te geniet van die program wat eersdaags afskop. Hierdie vaardigheidsprogram word in samewerking met Mills Boat Academy aangebied: https://youtu.be/8vTzTiaYFDI

Gesels gerus met mnr. Jan Henning (jan.henning@janvanriebeeck.co.za) om verdere inligting te ontvang.

Tafeltennis
Die skoletafeltennisliga het afgeskop. Sterkte vir die seisoen, Jan van Riebeeckers!

Eerstespan wen 6-0 teen Edgemead High
Derdespan verloor 0-6 teen Fairmont High

KULTUUR
Hairspray-musiekblyspel
Ek wil u uitnooi en aanmoedig om kaartjies te koop vir ons musiekblyspel, Hairspray, wat vanaf 4 tot 7 Mei in die Baxter Teater aangebied word. Ons leerders en personeel werk ongelooflik hard om 'n trefferproduksie te verseker. Kaartjies is by webtickets beskikbaar: https://www.webtickets.co.za/event.aspx?itemid=1513298366
Moenie hierdie spesiale kultuurervaring misloop nie!

Three wishes for Cinderella-balletuitvoering: 2 tot 5 Junie by die Baxter Teater
Aan die begin van Junie word die bekende Aspoestertjie (“Cinderella”) -ballet deur die Cape Ballet Centre by die Baxter Teater aangebied.

Ons is baie trots dat twee van ons Jan van Riebeeckers in die uitvoering optree: Mari van der Merwe en Lara Pieterse.

Kaartjies is nou by Computicket en Webtickets beskikbaar en belangstellendes sal gou moet spring om betyds kaartjies te koop om hierdie wonderlike vertoning te beleef.

Sterkte en geniet dit, Mari en Lara!

Drama
Jan van Riebeeck by die Suidoosterfees!
NATi-Jeugteater: Om teen treine te skree 27 April 19:30

Mercy en haar vriende hang gereeld by die treinspoor naby haar huis uit. Maar nadat ’n foto van Mercy onder die hele skool versprei word, word vriendskappe, verhoudings en vertroue onder mekaar verbreek. In die nadraai van ’n aand op die spoor word ’n groep vriende almal na vore geroep vir nabetragting oor wat gebeur het. Tussen vingerwys, leuens en beloftes lê die waarheid iewers teen die trein se geskree.

Aangebied deur die ATKV en Hoërskool Jan van Riebeeck
Kaartjies by Computicket

Redenaars
10 Jan van Riebeeckers het die afgelope week aan die streeksuitdunne van die ATKV-Redenaarskompetisie deelgeneem en ons leerders het omtrent uitgeblink!

Die seniors het in die onvoorbereide afdeling veral met takt en styl oor 'n baie sensitiewe onderwerp, inklusiwiteit in die onderwys, gepraat.

Die uitslae behoort volgende week beskikbaar te wees.

OEFENTYE: KULTUUR
  • Drama-eisteddfoefening: Elke Woensdag: 14:45 - 15:45
  • Orkesoefeninge: Maandag en Doonderdag 7:10
  • Koor: Geen kooroefening, a.g.v. Hairspray-betrokkenheid vir onderwysers en leerders
  • Hairspray: soos op die finale skedule wat uitgedeel is.
Kaapse Afrikaanse Eisteddfod: Kuns
Die sluitingsdatum vir inskrywings is 24 Junie. Meer inligting is beskikbaar by me. Vrey.

VERRYKINGPROGRAM
#JuniorLeierskap
Op Donderdag, 28 April vanaf 15:00 tot15:45 kom mnr. Daylin Mitchell 'n leierskapsessie hier by die skool aanbied.

Mnr. Mitchell is die Wes-Kaapse Provinsiale Minister van Vervoer en Openbare Werke, asook die jongste lid van die provinsiale kabinet.

Die #JuniorLeierskap-klub bied die geleentheid aan, maar alle leerders is welkom om die sessie by te woon. Leerders kan teen Woensdag (eerste pouse) hul naam op die lys buite me. van Rensburg of mnr. Kastoor se klas skryf.

Moenie hierdie unieke geleentheid misloop nie!

SKOOLWINKEL
Die skoolwinkel is volgende week Dinsdag en Woensdag vanaf 14:00 tot 15:00 oop.
Daar is nog enkele leerders wat hul balkies moet kom afhaal.

Geniet die naweek!

Vriendelike JvR-groete
Pieter Rademeyer
Skoolhoof
facebook instagram custom 
Email Marketing Powered by MailPoet