Nuusbrief-header
13 Mei 2022
facebook instagram custom 
Geagte Ouers / Voogde

Ons is baie trots op ons leerders wie se skryfwerk in vanjaar se uitgawe van Poort verskyn. Mari Swanepoel (graad 10) het met haar gedigte, My see en Daar sit ’n seuntjie in die middel van die pad die 6de plek op die Top 10-lys in die land losgeskryf. Sy is ook uitgenooi om gedurende die Junie-vakansie saam met al die ander topskrywers ’n nasionale skryfskool by te woon. Baie geluk, Mari - ons is baie trots op jou!

My see
Spieëlgladde hande vou om my lyf
en lei my terug boontoe
wanneer ek te diep sak.
sy fluister in my oor
sy sus my met die klanke
van ‘n rustige neurie.

Ek word omring met sagte arms
gewieg soos ’n baba en
voel die kus van sout lippe,
sag
soos ’n moeder

Sy’s g'n wetenskaplike formule,
iets om te ontleed
of ’n algebraïese som…
sy’s ’n lieflike, lewende wese.

Haar skoonheid slaan my asem weg,
soms brand sy my met haar koue vingers
haar geheime lok my…
sy’s ’n misterie.

Daar sit ’n seuntjie in die middel van die pad
Die wind pluk koud
en daar sit ’n seuntjie in die middel van die pad
waar karre swenk
om en verby
maar niemand stop...
gee niemand dan om
vir sy ogies groot
’n gesiggie verskrik
agter ’n ronde brilletjie
die bibber en proes
uit die klein maer lyfie?

Daar sit ’n seuntjie in die middel van die pad
waar karre swenk
maar niemand stop...
gee niemand dan om
dat sy lippies bewe
sy tande klap
en die wind pluk aan sy klere?

Daar sit ’n seuntjie in die middel van die pad
maar niemand stop
want niemand gee om.

Die donker sluk hom in.

JvR-Karnavaldag
Baie dankie aan elke ouer/voog, toeskouer, personeellid, afrigter en leerder wat van ons karnavaldag verlede Saterdag ’n reusesukses gemaak het. Ons is nog besig om die laaste administrasie af te handel, maar alles dui daarop dat ons ’n pragtige wins gemaak het. Die samesyn en sportmangees op die dag was werklik besonders!

Baie dankie aan me. Marelise Snijders (OOV-voorsitter) en al ons ouers/voogde wat die kosstalletjies beplan en beman het - ons het groot waardering vir jul harde werk!

’n Spesiale word van dank ook aan almal wat looitjies gekoop het en losies bespreek het.
Die wenners van die looitjies is as volg:
3de prys: looitjie nr. 56: F. van Rooyen
2de prys: looitjie nr. 49: S. Curry
1ste prys: looitjie nr. 15: L. Pretorius

DANKIE vanaf me. Marelise Snijders, OOV-voorsitter
Hiermee wil ek net vir elkeen hartlik dankie sê vir al die hulp, tyd en ondersteuning met die karnaval! Julle sal met my saamstem dat dit ’n heerlike verjaardag vir die skool was!

* Dankie Sannette en tannie Hannie vir die mooiste verjaardagkoek!

* Die Groentemark, soos die ander stalletjies, het heelwat skenkings gehad. Ek wil graag dankie sê vir Renate Punt; hulle het ’n paar mooi bosse blomme geskenk. Ons het van hul bottels All Grow verkoop en al die wins het na ons gekom - dankie!

* Franciska Rix, oud-LS JvR-ouer, het heelwat groente geskenk.

* Deon en Jacomien Keller, Anke in JvR, het ook heelwat groente geskenk.

* Claudia en Lerita Lassen wat vir ons heerlike plaasgroente geskenk het! Hulle was albei in JvR; dankie.

* Jan Coetzer het die lekker lemoene vanuit Citrusdal geskenk! Sy vrou en haar ouers was in JvR; wat ‘n ‘mooi storie’!

* Dankie aan Jean en Hanlie wat omtrent 4x4-roetes aangedurf het om al die groentes te gaan oplaai - ons waardeer dit.

* Hansie van Dyk van Easygrasse wat sy sintetiese gras vir ons geleen het; dit het pragtig gelyk Saterdag!

* Kirstin vT Pieterse en Melanie du Preez wat die hele tyd die Netbalsnoepie beman het.

* Al die onderskeie koördineerders van elke graad wat leiding geneem het en al die skenkings van die ouers - van brode, soetgoed, eiers tot plaasblaarslaai.
Dankie ook aan me. Crous wat twee dae in ’n ry vir ons die pannekoeke uit die Paarl aangery het.

* Dankie Suna Karsten, Elmarie Erasmus, Hanlie van Dyk, Sebastine Griesel, Linda Willemse, Karen Botes, Tilda Nel, Malie Grütter, Adelaide Combrinck en Izette Vorster - vir elkeen van julle wat voorgevat het... dankie!

Bloedskenk
Jan van Riebeeckers het volgende Vrydag, 20 Mei weer die geleentheid om twee lewens te red met een sakkie bloed! Die WP-Bloeddiens sal die oggend in ons skoolsaal wees.

Vorms wat ouers moet teken, sal Maandag huis toe gestuur word en moet asseblief sommer al Dinsdag terugkom skool toe.
Onthou asseblief dat u kind ook die oorspronklike of ’n kopie van hul geboortesertifikaat of ID byderhand moet hê.

IoT (Internet van Dinge)
'n Opwindende inleidende kursus oor the Internet van Dinge word aangebied by Hoërskool Jan van Riebeeck in die laaste week van die kwartaal.

Enige leerder wat in ingenieurswese of programmering belangstel, word sterk aangemoedig om die kursus by te woon. Die koste van die kursus (oor die laaste vyf dae van die kwartaal na skool) beloop R1500 met 'n addisionele ongeveer R700 vir toerusting (wat in opvolgkursusse gebruik kan word). Plekke is beperk.

Kontak gerus vir mnr. Cronje by werner.cronje@janvanriebeeck.co.za vir meer besonderhede. 'n Skakel na die inskrywingsvorm en meer besonderhede sal in die volgende nuusbrief verskyn.

#JanGROEN-Thrift Store
#JanGROEN beplan eerskomende Dinsdag, 17 Mei ’n klereverkoping!

Indien jy enige klere in jou kas het wat nie meer pas nie, wat jy nooit gedra het nie of waarvan jy nie meer hou nie, stuur dit skool toe sodat ons dit vir jou kan verkoop. Hoekom geld mors op nuwe klere indien jy iets oulik teen ’n billike prys by ons uitverkoping kan kry en sommer Moeder Aarde ook kan help deur nie te vermors nie?

Alle klere moet:
  • Skoon wees
  • Heel wees
  • Nog in ’n redelike goeie toestand wees
Handig jou kledingstukke Maandag- of Dinsdagoggend by me. Nimmo se klas in.
Kom besoek ons thrift store Dinsdag tydens 2de pouse in die gat en kom koop iets skattigs vir ’n appel en ‘n ei.

Mnr. Albert Keet gesels op RSG
Ons skoolberader, mnr. Albert Keet, gesels eerskomende Dinsdagaand, 17 Mei, om 19:30 in die program Kompas op RSG oor eksamenvoorbereiding en veral wenke hoe om angs tydens die eksamenperiode te bestuur. Skakel gerus in!

AKADEMIE
Graad 8 – 12 eksamen
Kwartaal 2 se eksamen vir graad 8 tot 12 skop op Woensdag, 25 Mei af. Kliek gerus hier om die rooster af te laai. Neem asseblief kennis dat die skryftye vir graad 8 en 9 English HL, graad 11-LO en graad 12-Besigheidstudies verander het.

Die skool begin om 07:40 met 'n registerperiode en daarna sal leerders na hulle spesifieke skryflokale gaan. Die skool kom daagliks om 12:10 uit en busse vertrek om 12:25.

Neem asseblief nou reeds kennis dat ons sportbepalings op Saterdae in die eksamen voortgaan. Ons sal ook verpligte sportoefeninge vir alle spansporte op die volgende dae in die eksamen hê:

Donderdag, 26 Mei – 12:30 tot 13:45
Dinsdag, 31 Mei – 12:30 tot 13:45
Donderdag, 9 Junie – 12:30 tot 13:45
Maandag, 13 Junie – 12:30 tot 13:45

Die tweede bus sal op hierdie dae om 14:00 vertrek.

Kooroefeninge gedurende die eksamen:
Maandag, 30 Mei – 12:30 tot 13:45
Maandag, 6 Junie – 12:30 tot 13:45
Woensdag, 22 Junie – 8:00 tot 11:00

Ouers word daaraan herinner dat hul die akademiese hoof, me. Serrao, dadelik moet kontak by liza.serrao@janvanriebeeck.co.za indien u kind die dag nie ’n eksamen kan aflê nie. Ouers moet so gou as moontlik ‘n mediese sertifikaat by me. Eygelaar indien. Enige ander navrae rondom die eksamen kan ook aan me. Serrao gerig word.

Leerders bly op die dae wat hul nie eksamen skryf nie, tuis om te studeer.

Senior Afrikaansolimpiade
Die olimpiade Vind eerskomende Dinsdag, 17 Mei 2022 vanaf 14:10 tot 17:10 in die IT-klas plaas.
Graad 10 tot 12 leerders wat daarvoor ingeskryf het, moet asseblief kennis neem. Die naamlys verskyn hier.

SPORTSAKE
Rugby
  • JvR se 0/15, 0/17 en senior rugbyspan speel mộre (weg) teen Somerset College.
  • Wedstrydtye vir Saterdag, 14 Mei:
9:30 0/17
10:30 0/15
11:30 Eerstespan

Busse vertrek moreoggend om 7:30 vanaf die skool en sal terug arriveer teen 14:00.
  • Uitslae vs Camps Bay: 0/15 wen 39-0, 0/17 wen 50-0, Eerstespan wen 36-14
Baie dankie aan al die ouers wat gereeld bydraes maak om die seuns van Baobab so deel te laat voel van ons skoolgemeenskap en rugbyspanne.
Wees verseker dat u betrokkenheid baie waardeer word.

Ons neem die vrymoedigheid om u weer te vra om met mnr. Griessel te skakel as u die behoefte het om van hierdie seuns finansieel by te staan deur vervoerkostes na oefeninge te betaal of miskien ’n kospakkie op ’n wedstryddag te voorsien. By voorbaat baie dankie!

Netbal
  • JvR se netbalspanne speel Woensdag, 18 Mei (weg) teen Wynberg Girls' High.
  • Uitslae vs Camps Bay: 0/14A wen 7-5, 0/14B verloor 6-8, 0/15B wen 7-5, 0/15A wen 11-4 0/19B wen 10-9, 0/19A wen 61-21
Hokkie
Ons wens die volgende spanne alle sterkte toe met hulle wedstryde hierdie naweek:
  • Die O/16 en O/19-seunspanne speel more teen Wynberg Boys' High School (weg). Die 0/16’s speel 8:30 en die O/19’s 9:30. Almal word vriendelik uitgenooi om ons seuns te kom ondersteun.
Ons wens ook die o/16-dogterspan baie geluk met hulle oortuigende wen van 2-0 teen Hoërskool Eben Dönges Woensdag. Die seuns se wedstryd teen HTS Bellville is ongelukkig gekanselleer, maar ons sal die wedstryd herskeduleer en die nuwe datums so gou as moontlik deurgee.

Wedstryde vir volgende week:
  • Die O/16- en O/19-dogters speel Saterdag, 21 Mei (tuis) teen Monument Park.
  • Die O/16- en O/19-seuns speel Saterdag, 21 Mei (weg) teen Hoërskool Vishoek.
Alle spelers moet asb. seker maak dat hulle Maandag en Woensdag stiptelik om 14:20 by oefeninge aanmeld. Enige verskonings moet asseblief aan mnr. Kastoor: wilbur.kastoor@janvanriebeeck.co.za gekommunikeer word.
  • Uitslae vs Camps Bay: 0/16 Dogters verloor 2-0, 0/19 Dogters verloor 2-1
Tafeltennis
  • Die dogter- en seunspanne verloor teen Vishoek. Die derde seunspan verloor teen Pinelands.
  • Die seun- en dogterspanne speel Dinsdag, 17 Mei teen Edgemead.
  • Taffeltennis oefeninge gaan voort op Donderdae.
  • Mnr. Jacques van der Westhuizen is die nuwe personeelskakel vir tafeltennis. Kontak hom gerus by jacques.vanderwesthuizen@janvanriebeeck.co.za met enige navrae.
Skaak
  • Ons skaakspan speel Vrydag, 20 Mei teen Bonteheuwel.
  • Die skaakspan speel gelykop teen Herzlia en klop Camps Bay gemaklik.
Landloop
  • Baie dankie aan mnr. Klink en me. Jansen van Vuuren vir hul reëlings rondom die ligabyeenkoms wat die afgelope Dinsdag hier by ons sportvelde plaasgevind het.
Seil
Ons is steeds aan die woeker om te verseker dat hierdie nuwe JvR-bootjie sal seil. Ons het twee goeie voorstelle van die rigting wat ons wil inslaan hiermee. Ouers/Voogde kan gerus vir mnr. Jan Henning ’n e-pos stuur en hy sal die twee voorstelle aan u stuur vir oorweging. Sy e-posadres is jan.henning@janvanriebeeck.co.za.

KULTUUR
Oefentye: Kultuur
  • Orkesoefeninge: Maandag en Donderdag om 7:10
  • Koor: Maandag 16:00 tot 17:30 en Woensdag om 7:10
  • Drama-eisteddfoefening: Elke Woensdag: 14:15 - 15:15 Die eisteddfod vind op 28 Mei om 9:00 by die skool plaas.
Koor
Baie sterkte aan ons skoolkoor wat volgende Sondag, 22 Mei, by die Choral Network Foundation-geleentheid in die Kaapse stadsaal optree. Ons sien uit daarna!

Hairspray
Nogmaals dankie vir almal se ondersteuning van ons musiekblyspel verlede week in die Baxter Teater. Ek bedank ook graag weer me. Regina Malan (regisseur) en mnr. Geruan Geldenhuys (produksiebestuurder) wat hierdie produksie suksesvol op die planke gebring het. Die tafel is nou gedek vir nog vele treffer-JvR-musiekblyspele in die toekoms.

Dankie ook aan elke ouer wat agter die skerms betrokke was - ons het groot waardering vir jul tyd en moeite. 'n Spesiale woord van dank aan ons produksiesekretaresse, me. Janine Hattingh, wat haar uitmuntend van haar taak gekwyt het - dankie, Janine!

JvR-Musiekaand
Ons jaarlikse JvR-Musiekaand vind eerskomende Dinsdag, 17 Mei om 19:00 plaas. Kom geniet 'n aand van puik musiektalent deur ons vakmusiek- en Welgemeend Skool vir Musiek-leerders.
Kaartjies is op Quicket beskikbaar en beloop R30 per persoon: https://qkt.io/BPmRAq.

ATKV-DigiKunskompetisie
Inskrywings het geopen en sluit Vrydag, 3 Junie. Meer inligting is by me. Vrey beskikbaar.

Kaapse Afrikaanse Eisteddfod: Kuns
Die sluitingsdatum vir inskrywings is 24 Junie. Meer inligting is beskikbaar by me. Vrey.

SKOOLWINKEL
Die skoolwinkel is volgende week Maandag en Woensdag vanaf 13:30 tot 14:30 oop.

Geniet die naweek!

Vriendelike JvR-groete
Pieter Rademeyer
Skoolhoof
facebook instagram custom 
Email Marketing Powered by MailPoet