|
|
|
|
|
|
Hier heers groot opgewondenheid oor ’n besondere geleentheid wat op Donderdag, 23 Junie (die aand voor die skole sluit) in die skoolsaal plaasvind:
|
Die JvR-personeel bied ’n PERSONEELKONSERT aan!
|
Dit gaan omtrent ’n aand vol lawwe en lekker oomblikke wees. En ons personeellede wys selfs ’n paar verskuilde talente of twee...
|
Die belangrike vir ons is egter die réde vir dié konsert: ons begin vanjaar die JvR-personeelstudiebeursfonds waarmee ons jaarliks matrikluante wil ondersteun om hul studiedrome na skool te bewaarheid.
|
Indien u dus ’n kaartjie teen R250 koop, kom kyk u nie net hoe ons op die verhoog sing, dans en ons lyf akteur hou nie, u belê ook in die toekoms van Jan van Riebeeckers wat hard werk om ’n goeie toekoms te verseker, maar dalk om verskeie redes uitdagings moet trotseer wat in hul pad na daardie droom staan.
|
Die personeel gaan u verras met ’n paar heerlikhede - u kan dit nie misloop nie! Ongelukkig is die vertoning slegs vir volwassenes en skoliere kan dit nie bywoon nie. Nooi gerus vriende ook saam.
|
Ons kuier vanaf 18:00 saam in die Rooiplein (die kaartjie sluit ’n heerlike hamburger en skyfies in) en daar sal ’n kontantkroeg beskikbaar wees. Die personeel verskyn dan so ’n bietjie later op die verhoog...
|
Die uitleg in die saal is bistro-styl, so u sal gesellig buite en binne die saal saam met vriende kan kuier.
|
Kliek gerus hier vir meer inligting en bespreek sommer dadelik u kaartjies op Quicket: https://qkt.io/0BKmFr
|
By voorbaat dankie aan die hele JvR-gemeenskap se ondersteuning in hierdie nuwe personeelinisiatief!
|
NUWE WAARNEMENDE ADJUNKHOOF
|
Dis vir my aangenaam om aan te kondig dat me. Huibrecht Steyn vanaf die derde kwartaal sal waarneem in die adjunkhoofpos totdat die pos later amptelik in die WKOD-bulletin geadverteer en gevul word.
|
Me. Steyn is tans departementshoof en op vele terreine van die skoollewe ’n staatmaker en leier en daarom is ek saam met die res van die skoolgemeenskap baie opgewonde om te sien hoe sy haar ervaring en passie vir die skool en ons JvR-kinders in hierdie nuwe rol ook verder sal uitleef.
|
Baie sterkte me. Steyn - ons ondersteun jou baie graag in hierdie nuwe waarnemende hoedanigheid!
|
Adolessensie is een van die moeilikste lewensoorgange waarbinne ‘n kind hom of haar kan bevind. Die sprong van kind na adolessent is reusagtig; die nuwe biologiese, kognitiewe, morele, emosionele en sosiale ontwikkeling en aanpassings moet sorgvuldig begelei word.
|
Vandag word die samelewing getipeer as ’n patalogiese-adolessente-samelewing. Kortom: grootmense is nog ongesonde tieners… selfs wêreldleiers verteenwoordig miljoene van hierdie tragesiese stand van sake. En boonop het Covid alles verander…
|
Dr. Theo Geyser is passievol oor lewensoorgange en begelei al jare lank kinders deur hierdie moeilike lewensfase.
|
Hy gesels volgende Saterdag, 11 Junie vanaf 11:00 tot 13:00 in ons klubhuis met die JvR-ouers/voogde oor hierdie onderwerp en begelei u baie graag om ook u kinders hierin te begelei…
|
Koste: R50 per persoon (sluit ’n ligte middagete en iets te drinke in).
|
Bespreek gerus via Karri teen Donderdag, 9 Junie.
|
Moenie hierdie besondere ouerskapgesprek misloop nie.
|
SIRKEL VAN SUKSES-SENTRUM GEDURENDE DIE EKSAMEN
|
Ons sal vanaf Maandag tot aan die einde van die eksamen die sentrum oopstel waar leerders kan studeer indien u hul nie om 12:10 kan oplaai nie.
|
Die studeerlokaal sal vanaf Maandag tot Donderdag 12:30 tot 14:00 oop wees met personeeltoesig.
|
Voltooi asseblief die vorm hier
|
Daar is ook heelwat leerders wat smiddae tot laat by die sekuriteitshek sit en wag vir ouers/voogde om hul op te laai. Moedig asseblief u kind aan om van hierdie fasiliteit gebruik te maak. Die personeel sal ook leerders wat smiddae gedurende die eksamentydperk op die kampus is, na die sentrum verwys sodat daar gestudeer kan word.
|
AFLAAI VAN LEERDERS SOGGENS
|
Ek versoek weer vriendelik dat u asseblief soggens voor skool u kind(ers) vinnig aflaai en nie in die parkeerarea sit en wag/parkeer nie. Die afgemerkte parkerings is net genoeg vir ons personeelvoertuie. Dankie vir u samewerking in die verband.
|
Indien u moontlik sou belangstel in die geleentheid om nog meer by ons OOV betrokke te raak of wil uitvind wat die voorsitterposisie sou behels, maak gerus kontak met my by skoolhoof@janvanriebeeck.co.za om verder hieroor te gesels.
|
Ons jaarlikse glans aanlyn veiling vind vanjaar op 25 en 26 Augustus plaas.
|
Ons nader graag weer ons gemeenskap om uit te vind of u bereid is om spesiale items, kuns, ervarings of etes vir hierdie geleentheid te skenk.
|
Die veiling is ons grootste fondsinsamelingsprojek van die jaar en die fondse word aangewend om leerders te ondersteun en geleentehede te gun wat andersins nie moontlik sal wees nie. Ons waardeer die volgehoue ondersteuning.
|
Enige navrae in die verband kan aan Karien Zulch gerig word by
|
'n Opwindende inleidende kursus oor the Internet van Dinge word aangebied by Hoërskool Jan van Riebeeck in die laaste week van die tweede kwartaal.
|
Indien u kind enigsins in programmering of ingenieurswese belangstel, is hierdie ‘n wonderlike geleentheid om te sien of sy/hy daarvan gaan hou of nie; asook om belangrike vaardighede in die algemeen te ontwikkel.
|
ME. SANET TALJAARD BEïNDRUK MET DEBUUT-KORTVERHALEBUNDEL
|
Ons is só trots op ons Afrikaansonderwyseres en vakhoof van Dramatiese Kunste, me. Sanet Taljaard, wat haar debuutbundel met die allerheerlikste kortverhale, 'Wysbegeerte', by Welgemeend bekendgestel het.
|
Sanet noem hierdie werk haar 'arms vol stories':"Kennis is nie 'n notaboekie vol feite nie. Dis 'n lyf vol drome. Dit wek beelde. Die uitdaging is om dit te ontgin." (Jeanne Goosen).
|
Bestel gerus ’n kopie teen R250 per kopie (versending uitgesluit) deur 'n WhatsApp na 0849414343 te stuur. Baie geluk met hierdie pragtige prestasie, Sanet!
|
Die hele JvR-familie is so trots en opgewonde saam met jou. Ons sien ook uit na daardie jeugroman waarvoor jou vingers nou jeuk!
|
Ouers word daaraan herinner dat hul die akademiese hoof, me. Serrao, dadelik moet kontak by liza.serrao@janvanriebeeck.co.za indien u kind die dag nie ’n eksamen kan aflê nie. Ouers moet so gou as moontlik ‘n mediese sertifikaat by me. Eygelaar indien. Enige ander navrae rondom die eksamen kan ook aan me. Serrao gerig word.
|
Leerders bly op die dae wat hul nie eksamen skryf nie, tuis om te studeer.
|
Neem asseblief kennis dat ons sportbepalings op Saterdae in die eksamen voortgaan. Ons sal ook verpligte sportoefeninge vir alle spansporte op die volgende dae in die eksamen hê:
|
Donderdag, 9 Junie – 12:30 tot 13:45
|
Maandag, 13 Junie – 12:30 tot 13:45
|
Die tweede bus sal op hierdie dae om 14:00 vertrek.
|
Kooroefeninge gedurende die eksamen:
|
Maandag, 6 Junie – 12:30 tot 13:45
|
Woensdag, 22 Junie – 8:00 tot 11:00
|
NETWERK24-WISKUNDEKOMPETISIE 2022
|
Daar is weer groot prysgeld op die spel (vir die wenners EN hul skole).
|
En onthou, elke finalis wat in die finaal deelneem sal R1 000 kontant ontvang!
|
Alle graad 12-leerders het gister 'n toestemmingsvorm ontvang (kliek hier om die vorm weer af te laai) wat deur die leerder en die ouer/voog geteken moet word.
|
Die WKOD vereis die vorms vir alle graad 12-NSS-inskrywings.
|
Sal u asb. sorg dat u kind die toestemmingsvorm eerskomende Maandagoggend by hulle registeronderwyser indien. Baie dankie vir u samewerking.
|
Die graad 12-Toerismeleerders word daaraan herinner dat hul op 22 en 23 Junie ’n verpligte Praktiese Assesseringstaak (PAT) voltooi. Dis ’n reëling wat vir alle skole in die land geld, so geen leerder mag hiervan verkoon word nie. Die assessering is op beide dae ’n 4-uur sessie en leerders sal ’n 30-minute pouse hê. Leerders sal vanaf 8:00 tot 12:00 besig wees hiermee. Ons versoek baie vriendelik dat ouers/voogde geen ander afsprake vir leerders op hierdie twee dae maak nie.
|
Die afskeurstrokies vir die graad 11-werkskaduprogram moet so gou as moontlik by me. Ananda Visser en me. Janse van Vuuren ingehandig word. Die werkskadu is verpligtend vir alle graad 11-leerders op 23 en 24 Junie en die leerders sal ’n assesseringstaak oor die ervaring voltooi. Enige afwykings van hierdie datums met goeie redes, moet asseblief direk met my gekommunikeer word by skoolhoof@janvanriebeeck.co.za.
|
Uitslae vs. Hoërskool President:
|
Baie geluk aan Obi Ramadann (eerstespanstut) wat ingesluit is in die WP-o. 18-groep wat gedurende die vakansie deelneem aan die Cravenweek by Rondebosch Boys' High.
|
Ruben Fourie en Stefan Griesel is ook gekies om aan die finale WP-o. 15-proewe vir die Winter Games more deel te neem. Mooi so!
|
Uitslae vs. Hoërkool President:
|
Van die netballigabepalings kon ongelukkig nie plaasvind soos beplan is nie, as gevolg van die weer en eksamenskedules van die skole. Hier is voorlopige datums, maar dit kan nog weer verander.
|
Netbalwedstryde teen Hoërskool Charlie Hofmeyr
|
Ons is baie opgewonde oor die netbalwedstryd wat bevestig is teen Charlie Hofmeyr op Donderdag, 23 Junie. Dit is slegs die o. 19A- en B-spanne wat teen hul (weg) speel. Die bus vertrek om 7:30 vanaf die skool. Ons hoop om teen 16:00 terug te wees by die skool.
|
Ons wens die volgende spanne alle sterkte toe met hulle wedstryde hierdie naweek:
|
- Die o. 19-seunshokkiespan speel vandag om 14:30 teen Hoërskool Parow (tuis).
- Die o. 16- en o.19-meisieshokkiespanne speel more teen JG Meiring (weg). Die o. 16's speel om 9:00 en die o. 19's speel 10:10.
Almal word vriendelik uitgenooi om beide ons seuns en dogters te kom ondersteun.
|
Ons o. 19-meisiehokkiespan het verlede naweek gelykop (2-2), teen Protea Hoogte Akademie gespeel. Mooi so!
|
Wedstryde vir volgende week:
|
- Die o. 16- en o. 19 dogters speel volgende Saterdag, 11 Junie, teen Hoërskool President (tuis).
- Die o. 16- en o. 19-seuns speel Saterdag, 11 Junie, teen Hoërskool Melkbosstrand (weg).
- Mari Swanepoel behaal verlede naweek tydens die WP-bergfietskampioenskappe by Boland Landbouskool ’n vyfde plek - mooi so, Mari!
Puik prestasies en pret by die Kaapse Afrikaanse eisteddfod!
|
Tien JvR-vertolkings verdien hoogste lof, 7 vertolkings verdien lof en 5 vertolkings behaal eervolle vermelding by vanjaar se Kaapse Afrikaanse eisteddfod.
|
Dankie aan twee lieflike beoordelaars, Dirk Binneman en Rosa Mackenzie, wat met groot lof van ons leerders se talent praat.
|
Ons is só trots op dié leerders wat in die eksamen nog kans sien om aan die eisteddfod deel te neem.
|
Kaapse Afrikaanse Eisteddfod: Kuns
|
Die sluitingsdatum vir inskrywings is 24 Junie. Meer inligting is beskikbaar by me. Vrey.
|
Die skoolwinkel is volgende week Maandag en Woensdag vanaf 12:00 tot 13:00 oop.
|
Sterkte met almal se eksamenvoorbereiding die naweek! Mooi wense.
|
|
|
|
|
|
|