Nuusbrief-header
15 Junie 2022
facebook instagram custom 
Geagte Ouers / Voogde

Dit is met groot hartseer dat die Jan van Riebeeck-familie van ’n geliefde en gewaardeerde kollega, mnr. Alan Gericke, moet afskeid neem.
Mnr. Gericke, of mnr. Alan en oom Alan, soos die leerders na hom verwys het, is verlede Saterdagaand in ’n motorfietsongeluk oorlede.

Alan sal met die grootste liefde onthou word vir sy knap werk en kundigheid as ons IT-bestuurder, maar veral ook vir sy eindelose geduld en bereidwilligheid om vir ons leerders en personeel tot diens te wees. Hy het nie geskroom om die spreekwoordelike ekstra myl te stap nie. Hy het ook baie hard agter die skerms gewerk en op soveel gebiede van die skoollewe en veral die logistiek van die skooldag, ’n reuse-impak gehad.

Alan het ’n héérlike sin vir humor gehad en was baie geliefd onder die personeel en leerders. Hy het tyd gemaak om met sy kollegas te gesels en het altyd belanggestel in die welstand van almal met wie hy saamgewerk het.

Hy het áltyd oud en jonk met die grootste respek en medemenslikheid behandel.

Ons innige meegevoel aan sy vrou, Anthea, en sy tweelingdogtertjies, Lovianna en Lolita. Ons gedagtes en gebede is met hul in hierdie moeilike tyd.

Mag die mooi manier waarop Alan met elkeen van ons gewerk en gekommunikeer het, vir elke Jan van Riebeecker ’n voorbeeld wees wat ons wil bly nastreef. Mag ons ook streef om, soos Alan, almal met opregte liefde en medemenslikheid te behandel.

Rus in vrede, Alan.
Jou mooi en besondere menswees sal bly voortleef hier in die gange van Hoërskool Jan van Riebeeck.

REëLINGS VIR DIE LAASTE SKOOLWEEK: 20 TOT 24 JUNIE
Maandag, 20 Junie
Eksamen soos op die rooster aangedui. Leerders verdaag om 12:10

Dinsdag, 21 Junie
Eksamen soos op die rooster aangedui - alle leerders is by die skool.
Na afloop van die eksamensessie, sal ons ’n saalbyeenkoms en dan die interhuis-winterspele hou.
Alle leerders kom netjies in hul Jan van Riebeeck-sportdrag skool toe.
Alle leerders verdaag om 14:05.

Woensdag, 22 Junie
Leerders kan vanaf 11:00 tot 13:00 hul vraestelle by hul vakonderwysers se klasse kom kontroleer. Die volledige memobesprekings sal aan die begin van Kwartaal 3 plaasvind. Die skoolbusse sal om 11:30 by die skool arriveer en om 12:40 weer vertrek.

Donderdag, 23 Junie: VERRYKINGSDAG
Ons bied vanaf 8:00 tot 11:00 verskeie aktiwiteite ter verryking van ons leerders aan. Leerders arriveer om 7:40 en verdaag om 11:00. Die busse vertrek om 11:30.

Ons doel is hoofsaaklik verryking op ’n prettige manier saam met vriende. Kundiges op verskeie vlakke word ook genader vir hulp en uitstappies word beplan vir verdere ontwikkeling en verryking.

Ons gaan ook weer vanjaar deelneem aan die FAK-Internasionale Afrikaansekspo en wil sommer van hierdie geleentheid gebruik maak om ons leerders daarin te ondersteun. Daar is wonderlike pryse op die spel, onder andere vir die skool met die grootste deelname. Kyk gerus na ons advertensie op die FAK se sosiale media.

Elke leerder kan slegs EEN keuse uitoefen en verbind hul dus tot die bywoning daarvan. Slegs die graad 11's word verskoon aangesien hul met werkskadu besig is. Alle ander leerders moet EEN aktiwiteit kies waaraan hul wil deelneem.

Die koste per aktiwiteit beloop R20 en is op Karri betaalbaar tot Dinsdag, 21 Junie.

Voltooi asseblief die Googlevorm hier sodat ons vooraf die groottes van die groepe kan bepaal vir logistieke reëlings.

Vrydag, 24 Junie
Leerders wat skool bywoon, verdaag om 10:00. Rapporte word deur die loop van die oggend per e-pos aan ouers/voogde gestuur.

OOV-VERGADERING
Alle ouers/voogde word uitgenooi om die OOV-vergadering eerskomende Dinsdag, 21 Junie, om 18:00 in die personeelkamer by te woon. Ons beplan hier die derde kwartaal se aktiwiteite. Die verkiesing van die nuwe voorsitter sal ook hier plaasvind.
Almal is baie welkom!

HOëRSKOOL JAN VAN RIEBEECK-KUNSTEFEES
Ons is baie trots om vanaf 1-6 Augustus vanjaar die eerste Hoërskool Jan van Riebeeck-kunstefees vir alle hoër- en laerskole in die Wes-Kaap aan te bied.

Hierdie kunstefees beloof om aan alle leerders in die provinsie die geleentheid te bied om in die onderskeie afdelings voor ’n kundige paneel beoordelaars op te tree.

Ek wil baie graag ons eie leerders aanmoedig om van hierdie kultuurgeleentheid gebruik te maak. Die feesweek vind hier op ons kampus plaas en ek wil baie graag so veel as moontlik Jan van Riebeeckers sien deelneem. Enigiemand is welkom om in te skryf!

Laai gerus die brosjure hier af en bestudeer die dokument om te sien in watter kategorieë u kind(ers) kan deelneem.

Leerders moet dan asseblief by die volgende kontakonderwyser hul naam opskryf:

Afdeling A: Vokaal - Me. Ruthette du Toit
Afdeling B: Instrumentaal - Mnr. Geruan Geldenhuys
Afdeling C: Voordrag en Toneel - Me. Linda van der Walt
Afdeling D: Visuele Kuns - Me. Magda Vrey
Afdeling E: Fotografie - Me. Le-Ray Crous
Afdeling F: Kreatiewe Skryfwerk - Me. Maritha Strydom
Afdeling G - Spelathon - Me. Ella van Rensburg
Afdeling H - Leeskompetisie - Me. Ella van Riensburg
Afdeling I - Talethon - Me. Ella van Rensburg

Inskryffooie kan via Karri betaal word. Verseker egter dat u kind sy/haar naam by die kontakonderwyser opskryf.
Alle skoolinskrywings en betalings moet teen volgende Woensdag, 22 Junie gefinaliseer wees.

Ons sien uit na ’n baie spesiale JvR-kultuurweek!

PERSONEELKONSERT: 23 JUNIE
Ons stel die personeelkonsert na volgende kwartaal uit.
Die voorlopige datum is 29 September. Meer inligting sal vroeg in die nuwe kwartaal deurgegee word.

AKADEMIE
Graad 8–12 eksamen
Ouers word daaraan herinner dat hul die akademiese hoof, me. Serrao, dadelik moet kontak by liza.serrao@janvanriebeeck.co.za indien u kind die dag nie ’n eksamen kan aflê nie. Ouers moet so gou as moontlik ‘n mediese sertifikaat by me. Eygelaar indien. Enige ander navrae rondom die eksamen kan ook aan me. Serrao gerig word.

GRAADSAKE
Graad 12
NSS-eindeksamen
Die graad 12's se eindeksamen begin vanjaar met Engelse vraestelle op 31 Oktober en die musiekleerders eindig op 5 Desember. Alle praktiese eksamens begin egter reeds vroeër. Laai gerus die volledige rooster hier af. Geografie (vraestel 2) is per ongeluk op die vorige weergawe uitgelaat.

Toerisme
Die graad 12-Toerismeleerders se PAT wat hul op 22 en 23 Junie sou voltooi, is deur die onderwysdepartement na volgende kwartaal uitgestel.

Graad 11
Die afskeurstrokies vir die graad 11-werkskaduprogram moet teen Maandag by me. Ananda Visser en me. Janse van Vuuren ingehandig word. Die werkskadu is verpligtend vir alle graad 11-leerders op 23 en 24 Junie en die leerders sal ’n assesseringstaak oor die ervaring voltooi. Enige afwykings van hierdie datums met goeie redes, moet asseblief direk met my gekommunikeer word by skoolhoof@janvanriebeeck.co.za.

SPORTSAKE
Netbal
Programme
Sien die programme vir ons wedstryde teen Westerford en Reddam Constantia.

KULTUUR
Repetisies volgende week
Koor: Woensdag vanaf 8:00 tot 11:00
Orkes: Woensdag vanaf 9:30 tot 11:00 saam met die koor

WELGEMEEND KONSERTREEKS
Welgemeend Konsertreeks: Kaapstad se nuutste, voorste klassieke konsertreeks

Die Welgemeend Konsertreeks is gestig deur die musiekdirekteur van HS Jan van Riebeeck, mnr. Geruan Geldenhuys, met die visie om 'n klassieke konsertreeks van die hoogste professionele gehalte hier in die hart van Kaapstad te vestig. Ons is verheug om die Bright Foundation as erevennoot en eerste borg te hê, sonder wie dié inisiatief nie moontlik sou wees nie.

Die Welgemeend Konsertreeks bied graag die wonderlike Beau Soleil Klavierkwartet aan as die kunstenaars vir die eerste konsert in die reeks.

Die Beau Soleil Klavierkwartet se optrede vind op Woensdag, 22 Junie by die Welgemeend-konsertsaal plaas, waar hulle werke van Schumann, Turina en Piazolla sal speel.

Dié nuwe klavierkwartet bestaan ​​uit huidige personeellede, Grethe Nöthling (klavier), Marina Louw (altviool) en Dané Coetzee (tjello), in samewerking met ’n oudpersoneellid en vryskutmusikant, Valentina Vorster (viool).

Moenie hierdie uitsonderlike konsert met die Beau Soleil Klavierkwartet misloop nie.

Die konsert begin om 19:30. Sitplekke is beperk, so maak seker u koop u kaartjies betyds. Kaartjies is teen R150 op Quicket beskikbaar: https://qkt.io/zGgODb

Kaapse Afrikaanse Eisteddfod: Kuns
Die sluitingsdatum vir inskrywings is 24 Junie. Meer inligting is beskikbaar by me. Vrey.

Shop Talk-reeks
’n Wonderlike reeks werkswinkels oor die vermaaklikheidsindustrie word eerskomende Saterdag by Paul Roos aangebied en is gratis vir alle leerders. Kliek gerus hier vir meer inligting.

SKOOLWINKEL
Die skoolwinkel is volgende week Maandag vanaf 12:00 tot 13:00 en Woensdag vanaf 11:00 tot 12:00 oop. Die serpe en nuwe skooltruie is ook nou beskikbaar.

Geniet die langnaweek en sterkte met die voorbereiding vir die laaste paar eksamenvraestelle volgende week!

Vriendelike JvR-groete
Pieter Rademeyer
Skoolhoof
facebook instagram custom 
Email Marketing Powered by MailPoet