Nuusbrief-header
24 Junie 2022
facebook instagram custom 
facebook instagram custom 
Geagte Ouers / Voogde

Ek blaai vroeër die week ’n bietjie terug op die Facebook-inskrywings van die afgelope ses maande by Hoërskool Jan van Riebeeck en is besonder trots op dit wat reeds vanjaar hier in ons skool gebeur het - daar is talle hoogtepunte wat ons kon vier!
En baie van die grootste oomblikke haal nie die sosiale media-bladsye nie, want dit was persoonlike oorwinnings van leerders of onderwysers. Die grootste suksesse het ook dikwels in die klein, stil oomblikke gelê.

Baie dankie aan elke Jan van Riebeecker, ouer/voog en ondersteuner wat bygedra het tot die 2022-storie tot dusver.

Ons kinders bly beïndruk en dis heerlik om te sien hoe hul geleenthede aangryp vir verryking en ontwikkeling. Ons hooffokus bly altyd op die viering van elkeen in ons skool se ménswees - die skoolleuse lei ons immers hierin!

’n Reuse dankie aan die personeel wat bereid is om die ekstra myl te stap - ek het groot waardering vir elkeen se unieke bydraes. Ek is ook besonder trots op dié span! Ek hoop dat julle heerlik sal rus die volgende drie weke.

Ons sê vandag tot siens aan ons RTT-onderwyser, me. Le-Ray Crous, wat ’n betrekking in die rekenaarwese aanvaar het. Baie dankie vir die uitstekende werk hier by JvR, me. Crous. Mag die nuwe loopbaanuitdaging en die toekoms net mooi dinge inhou!

Ek bedank ook graag die beheerliggaam en JvR-trust vir die ongelooflike ondersteuning van als wat ons hier by ons geliefde skool doen. Ek waardeer elkeen se kundigheid, tyd en toegewydheid baie!

Die Junie-vakansie bied aan ons die geleentheid om ’n bietjie te reflekteer op die eerste ses maande. Ek hoop u gaan die geleentheid gebruik om dit saam met u kind ook te doen: hoe gaan dit met die akademie, hul betrokkenheid en bydraes by die skool en wat wil elkeen (nog) beter doen? Stel saam nuwe mikpunte vir die res van die jaar op.

Mag die wintervakansie heerlik gesins- en kuiertyd inhou en ek hoop almal kom uitgerus terug vir ’n opwindende tweede helfte van die skooljaar.

Mooi wense!

ONS GROET ME. LIZETTE VISSER
Dit was baie hartseer om ons adjunkhoof, me. Lizette Visser, Dinsdag tydends ’n spesiale saalbyeenkoms te groet. Me. Visser is vanaf 1 Julie aangestel as skoolhoof van Gordon High School in Somerset-Wes en ons is saam met haar trots en opgewonde oor dié nuwe hoofstuk in haar loopbaan.
Baie dankie vir die afgelope 7 jaar se puik diens aan die Hoërskool Jan van Riebeeck-familie, me. Visser - jou besondere voorbeeld en menswees bly altyd hier en in ons harte! Ons allermooiste wense vergesel jou op hierdie nuwe onderwyspad!

EDUVELOPMENT-AANLYNBEROEPSVOORLIGTING VIR JvR!
Ons is trots om deel te wees van hierdie opwindende nuwe aanlyn voorligtinginisiatief vir al ons leerders. Kliek gerus hier om al die inlgting te kry!

ONZE JAN
Baie geluk aan Mila Fourie en haar redaksie met ’n heerlike tweede uitgawe van die Onze Jan-skoolkoerant - ons is trots op jul! Kliek gerus hier om dié kwartaal se skoolnuus en menings te lees.

JAN VAN REIBEECK & GREENFISH-PROJEK
Greenfish is begin deur twee broers, Ryan en Andrew, met die visie om die restaurant- en groothandelbedryf van hoë gehalte, seisoenale en plaaslike vars vis te voorsien. Hierdie hoë gehalte produkte is vir jare deur sjefs geheim gehou en nou het die allerdaagse huiskok ook toegang tot dieselfde gehalte en varsheid.

As 'n deel van die JVR-familie, sal alle bestellings wat JVR22 gebruik tydens aankope, gratis aflewering ontvang. 'n Persentasie van alle verkope word aan die skool oorbetaal en sal aangewend word vir leerderuitgawes en nodige inisiatiewe en projekte by JvR.

In samewerking met JvR beplan Greenfish verskeie projekte met #JanSee: van boot-tot-bordsessies, praatjies oor entrepreneurskap, besoeke by die fabriek en nog vele meer.

Besoek gerus die webtuiste (greenfish.co.za), bestel voor 11vm. daaglks en ontvang jou bestelling dieselfde dag! Aflewering is Maandag tot Vrydae.

Dankie by voorbaat vir u ondersteuning van hierdie inisiatief! Kyk gerus ook na die kort video: https://youtu.be/NCJ0SUJkUYE

OUERAAND: KWARTAAL 2
Die oueraand vind volgende kwartaal op Woensdag, 20 Julie vanaf 17:30 tot 19:30 in die skoolsaal plaas. Volg gerus hierdie skakel om u afsprake met onderwysers te maak: https://www.picktime.com/JvRoueraand22.
Alle afsprake moet teen 19 Julie om 20:00 gemaak word. Stuur gerus ’n e-pos na Hans-Peter.Klink@janvanriebeeck.co.za vir enige navrae of veranderinge.

SPORT- EN KULTUURNAWEEK VS DF MALAN
Ons is baie opgewonde oor die skakeling tussen ons twee skole die eerste naweek van volgende kwartaal. Kliek gerus op die betrokke dag om na die program van Vrydag en Saterdag te kyk. Alle Vrydag-aktiwiteite vind by JvR plaas en die Saterdag-aktiwiteite by DF Malan.
Ons versoek leerders om self hul vervoerreëlings vir die Saterdag te tref - ons wil ook baie graag al ons ouers/voogde in jul massas daar hê vir ondersteuning.
Bussies sal slegs vir koshuisleerders en in uitsonderlike gevalle beskikbaar wees.

ANNA DAVEL KUIER BINNEKORT BY HOëRSKOOL JAN VAN RIEBEECK
Ons bied op 23 Julie by Welgemeend ’n heerlike kuieraand saam met die talentvolle Anna Davel aan! Anna sing haar mooiste treffers en stal ook haar eie kuns uit. Die aand word met heerlike kos en wyn gekombineer.

Anna doen ‘n program van gunstelingmusiek uit haar repertoire. Saam met haar op die verhoog is o.a. die talentvolle klavierspeler J.J. Petersen.
Die program sluit ook Jazz-Swing-musiek in, soos voorheen gesing deur Frank Sinatra, Nat King Cole e.a., en afgestof en opgejazz deur Anna.

Dus... ’n vertoning met ’n verskeidenheid so reg in Anna se styl; jazzy, smokey latino ritmes, swing Bossa Novas en dan natuurlik ‘n paar heuningsoet ballades vir die somber siele!

Kaartjies beloop R280 per persoon en daar is slegs 70 plekke beskikbaar.
Besprekings kan via Quicket gedoen word. Moenie dié besondere geleentheid misloop nie! Kliek gerus hier vir al die inligting!

JvR-GHOLFDAG 2022
Ons bied op 28 Oktober weer die JvR-gholfdag aan en nooi alle belangstellendes om so gou as moontlik ’n vierbal vir dié dag in te skryf. Ons het ook heerlike opsies vir borgskappe en bemarking. Kliek gerus hier vir al die inligitng en kontak vir Sampie Griessel by sampie.griessel@janvanriebeeck.co.za vir verdere inligting en besprekings.

OUER-ONDERWYSER-VERENIGING (OOV)
Die OOV trek ’n nuwe baadjie aan!

Ons het by die afgelope week se vergadering die struktuur en werkwyse bespreek en besluit dat daar voortaan ’n verteenwoordiger/'voorsitter' per graag leiding sal neem eerder as om net een voorsitter vir die vereniging aan te stel.

Ons wil ook baie graag die 'OOV' na iets anders herdoop, want die gevoel is dat dit nie ’n vereniging is waaraan sekere ouers/voogde moet behoort nie. Almal met kinders in die skool is outomaties deel van hierdie 'vereniging' en daarom is ons op soek na ’n vars naam wat alle ouerbetrokkenheid sal benoem. Indien u enige voorstelle het, stuur dit asseblief na my by skoolhoof@janvanriebeeck.co.za.

Ek sal in die nuwe kwartaal ook inligting deurgee oor ouersportkomitees wat ons baie graag wil stig. Hierdie komitees (ook ’n deel van die JvR-ouerbetrokkenheidspan) sal saam met die skakelonderwysers planne maak en idees uitruil, vanaf die bepalings, klere, borgskappe tot die uitbou van die onderskeie sportkodes. Meer hieroor vroeg in die nuwe kwartaal.

Baie dankie en geluk aan die volgende verteenwoordigers wat verkies is om leiding te neem tot die einde van die jaar. Hulle sal ook direk met hul graad se ouers/voogde via e-pos skakel om u te nader vir hulp met funksies in die derde en vierde kwartaal.

Graad 8 - Sonja Strydom
Graad 9 - Emmy Stoltz
Graad 10 - Elmarie Erasmus en Susan van Rooyen
Graad 11 - Janine Hattingh en Jolene van As
Grad 12 - Nana Erasmus

GESOEK: GESIN OM UITRUILSTUDENTE TE HUISVES
As deel van ons samewerkingooreenkoms met Youth for Understanding South Africa, het Jan van Riebeeckers onlangs die geleentheid gekry om as uitruilstudent oorsee skool te gaan. Ons verwelkom ook in Augustus ander oorsese leerders hier by ons skool.

Twee seuns, Loic (17) en Gian (15) van Switzerland is egter ook op soek na gesinne hier wat hul moontlik kan huisves sodat hul die Jan van Riebeeck-skoollewe kan ervaar. Indien u belangstel om hierdie leerder(s) vir 'n paar maande te huisves, is u welkom om met Lena Gronback kontak te maak byLena@yfu.org.za.

AKADEMIE
Kwartaal 2-rapportpunt
Rapporte is vandag vie e-pos aan alle ouers/voogde gestuur.
In graad 10–12 het leerders ’n volledige eksamen afgelê ten einde hulle beter voor te berei vir hul eindeksamen. Hul rapportpunt reflekteer hul prestasie in die eksamen, d.w.s. meer as een assessering het bygedra tot die leerder se rapportpunt.

Leerders het ook reeds in verskeie vakke assesserings vir kwartaal 3 voltooi.

IT- en RTT-PATS
Die IT-lab sal vanaf 9:00 tot 15:00 oop wees (as daar genoeg belangstelling is) op Dinsdag, 28 Junie, die eerste Dinsdag van die vakansie, en 18 Julie, die laaste Maandag van die vakansie, vir IT- en RTT-leerders in graad 12 wat aan hul PATs wil werk.
Die derde kwartaal het tradisioneel baie aktiwiteite: matrieks sal dus daarby baat om hierdie twee dae te benut aangesien PATs in Augustus afgehandel moet word.
Leerders wat hierdie geleentheid wil gebruik, moet mnr. Werner Cronje per e-pos in kennis stel by werner.cronje@janvanriebeeck.co.za.

SAASTA-olimpiades
Die drie SAASTA-olimpiades is uitgestel - teken asseblief die nuwe datums aan:
NW (Gr. 8-9) sou wees op 27 Julie 2022, nou op 6 Sep.
LW (Gr.10-12) sou wees op 26 Julie 2022, nou op 28 Sep.
FW (Gr.10-12) sou wees op 28 Julie 2022, nou op 27 Sep.

GRAADSAKE
Graad 12
NSS-eindeksamen
Die graad 12's se eindeksamen begin vanjaar met Engelse vraestelle op 31 Oktober en die musiekleerders eindig op 5 Desember. Alle praktiese eksamens begin egter reeds vroeër. Laai gerus die volledige rooster hier af. Geografie (vraestel 2) is per ongeluk op die vorige weergawe uitgelaat.

Afrikaans Huistaal-mondelingmoderering
Die vakadviseur besoek ons skool vroeg in kwartaal 3 vir die mondelingmoderering.
Die graad 12’s het dus reeds geleentheid om gedurende die vakansie voor te berei vir hul laaste mondelingopdrag. Die voorbereide toespraaktaak met onderwerpe sal op Google Classroom geplaas word.

Alle graad 12-leerders sal vanaf Donderdag, 21 Julie in die Afrikaansklas geassesseer word en moet voorbereid wees om die toespraak ook tydens die moderering voor die vakadviseur te lewer. Ons sien uit daarna om na julle te luister.

Graad 11
ID-DOKUMENTE
Alle graad 11-leerders moet ’n gesertifiseerde afskrif van hulle ID-dokument aan die begin van die eerste kwartaal van 2023 indien.
Ons versoek graag ouers/voogde om asb. reeds hierdie Junie-vakansietydperk te gebruik om die nodige reëlings hiervoor te tref, want dit bly maar ‘n proses om dit betyds af te handel.
Ons wil graag vanjaar reeds verseker dat al ons graad 11-leerders vanaf die eerste dag van 2023 reg is vir die inskrywings vir die Nasionale Seniorsertifikaateksamen (NSS) en daarom kan graad 11's nou reeds begin om hul dokuemnte by me. Steyn in te handig. Dankie by voorbaat vir u samewerking.

WAT HET JY NODIG OM DIE SLIM ID-KAART TE KRY?
Tieners van 16 jaar en ouer wat vir die eerste keer om ’n identiteitsdokument aansoek doen:
  • benodig ’n geboortesertifikaat.
  • benodig beide ouers se ID-dokumente.
  • benodig ’n bewys van jou woonadres.
Jy kan aansoek doen vir jou slim ID-kaart by uitgesoekte kantore van die Departement van Binnelandse Sake of aanlyn via die departement se eHomeAffairs-portaal. Jou eerste identiteitskaart is gratis.

WAAR KAN JY NOG AANSOEK DOEN OM ’N SLIM ID-KAART?
Jy kan aanlyn aansoek doen op die departement se eHomeAffairs-portaal waar dit moontlik sal wees om jou aansoekvorm aanlyn in te vul en die ondersteunende dokumente in te dien.
Om by ’n bank vir jou slim ID-kaart aansoek te doen, moet jy ’n kliënt wees by daardie betrokke bank. Die volgende handelsbanke bied dié diens by uitgesoekte takke aan: ABSA, FNB, Nedbank en Standard Bank.

Graad 11-spanboudag: 29 September
‘n Buite maatskappy sal die graad 11-dag fasiliteer en daar gaan op leierskap, groepidentiteit en skoolwaardes gefokus word.

Die dag se kostes beloop R 300 per leerder en sluit etes en vervoer, asook die fasiliteerderkoste in. Alle betalings geskied via Karri. Ons wil graag alle betalings afhandel teen die einde van Augustus.

Daar is ook ’n opsie om 'n leerder te borg. Indien u 'n spesifieke leerder wil borg, kan u die leerder se naam en van aan mev Steyn e-pos: huibrecht.steyn@janvanriebeeck.co.za .

Truie vir 2023-matrieks
Ons wil vanjaar reeds die 2023-matriektruie bestel, sodoende kry die leerders meer tyd om die truie te dra. Ons wil graag sien dat ons matrieks volgende jaar uitstaan en ‘n eenheid vorm.

Die wit matriektrui gaan weer soos in die verlede lyk: ’n wit trui met knope, blou moue, die skoolwapen en MX 2023 op die rug geborduur.
Ons het reeds die leerders gedurende skooltyd laat aanpas en groottes is aandui.

Die volle bedrag moet asseblief teen die einde van Julie betaal wees. Kostes bly dieselfde as wat ons huidige matrieks betaal het, nl. R300 en alle betalings geskied via Karri. Daar gaan vanjaar slegs EEN bestelling geplaas word, so indien u kind ’n trui bestel, moet hy/sy daarvoor betaal en dit neem.

SPORTSAKE
Rugby
Daar is ‘n verpligte rugbyoefenkamp vir senior rugbyspelers (0.17 en 0.19) vanaf Vrydag, 15 Julie vanaf 9:00 tot 12:00 op Saterdag, 16 Julie 2022.
Die kostes beloop R150 per speler en die seuns sal oorslaap in Huis van der Merwe.
  • Benodighede: Oefenklere vir 2 dae, badkamerbenodighede, slaapsak, kussing en ekstra kombers
  • Gelde moet in kontant betaal word met aankoms op Vrydag, 15 Julie by die veld.
Rugbyoefeninge die eerste week van die nuwe kwartaal:
Dinsdag, 19 Julie 14:30 tot 17:00
Woensdag, 20 Julie 14:30 tot 17:00
Donderdag, 21 Julie 14:30 tot 17:00
Daar sal ‘n laatbus beskikbaar wees vir rugbyspelers.

Netbal- en Hokkieoefeninge gaan voort soos deur die onderskeie afrigters gereël.

Netbal
Programme
Sien die programme vir ons wedstryde teen Westerford en Reddam Constantia.

KULTUUR
Sterrejag
Ons jaarlikse talentkompetisie, Sterrejag, vind vroeg in volgende kwartaal plaas en ons wil almal aanmoedig om hierdie spoggeleentheid te ondersteun. Kaartjies is op Karri beskikbaar of kan by die finanskantoor gekoop word.

Datum: Maandag, 1 Augustus
Tyd: 18:30
Plek: Skoolsaal
Koste: R50 op Karri of by die finanskantoor, R70 by die deure

Inskrywings vir deelnemers sal vanaf 19- tot 22 Julie oop wees.Kom geniet die aand saam met ons en ondersteun ons talentvolle leerders!

Vriendelike JvR-groete
Pieter Rademeyer
Skoolhoof
Email Marketing Powered by MailPoet