Nuusbrief-header
22 Julie 2022
facebook instagram custom 
Geagte Ouers / Voogde

Baie welkom terug aan al ons Jan van Riebeeckers! Ons hoop dat u die wintervakansie geniet het en reg is vir ’n opwindende derde kwartaal.

Baie welkom ook aan me. Jeanne Potgieter wat terug is by ons om die graad 12-Engels Eerste Addisionele Taalklasse te onderrig totdat hul vroeg volgende kwartaal met die eindeksamen begin. Die matrieks se mondelingmoderering vir Engels (Huistaal en Eerste Addisionele Taal) het ook die week plaasgevind en ons Jan van Riebeeckers het die vakadviseurs beïndruk met uitstekende mondelinge werk.

Mnr. Hanno van der Merwe los af in die RTT-pos en ons is dankbaar dat hy op kort kennisgewing bereid is om in te staan. Mnr. Van der Merwe behartig ook die Digitale Geletterdheidklasse vir die graad 8- en 9-leerders. Mnr. Van der Merwe is werksaam in die argief waar hy me. Le Roux bystaan met onder andere die digitalisering van skoolrekords en veral foto's. Baie welkom en dankie by voorbaat vir u bydraes!

Baie dankie aan al die ouers wat Woensdagaand die oueraand bygewoon het om u kind se akademiese vordering met die onderwysers te bespreek. Indien u nie die betrokke onderwyser tydens dié sessie kon spreek nie, is u altyd welkom om kontak te maak en ’n afspraak te reël - die onderwysers se deure staan oop vir ons ouers/voogde om enige bekommernisse te bespreek.
Ek wil u ook aanmoedig om te verseker dat u kind(ers) gebruik maak van die talle intervensieklasse wat ons soggens voor skool aanbied indien hul verdere akademiese hulp benodig.

Ek was geweldig beïndruk met die graad 12-Gasvryheidstudieklas wat gisteraand in Welgemeend hul finale praktiese eksamen afgelê het. Die gaste kon aansit vir ’n feesmaal en die standaard van die hele aanbieding - van die smaaklike disse tot die kelners se diens - was uitstekend. Wel gedaan aan me. Olivier en die matrieks!

Ons bied weer ’n propvol kwartaalprogram aan al ons Jan van Riebeeckers en ek hoop werklik dat almal ywerig en met groot entoesiasme sal deelneem. Geniet dit!

PUIK NUUS: JAN KARSTEN IS O.14-AFRIKA-SKAAKKAMPIOEN!
Ons Jan van Riebeecker, Jan Karsten in graad 8, is gekroon as die o.14-Afrika-skaakkampioen tydens die 'African Youth'-skaakkampioenskappe in Zambië!
Jan het vanaf 2 Julie in Lusaka saam met sowat 245 deelnemers (en 55 Suid-Afrikaners) aan dié uitdagende toernooi deelgeneem.
Die kompetisie was baie straf tussen al die lande en Suid-Afrika en Egipte het eindelik die beste gevaar. Beide lande wen 13 medaljes, met Egipte wat die beste vaar en 9 van die moontlike goue medaljes wen. Jan se goue medalje was die enigste een vir Suid-Afrika!

Jan speel al van jongs af skaak en het die groot ambisie om eendag Suid-Afrika se tweede GM ('Grand Master') te word. Met dié oorwinning neem hy immers een tree nader aan die droom deurdat hy sy FM ('Fide Master')- titel ingepalm het - ’n merkwaardige prestasie vir dié 14-jarige!
Jan is ook gekies om Suid-Afrika later vanjaar in baie ander kompetisies te verteenwoordig, met die wêreldjeugkampioenskappe (September) en die o.16- 'Olympiad' (Oktober) volgende op die lys. Dié kompetisie gaan beslis uitdagend wees, want Jan ding nou mee teen die bestes in die wêreld... maar hy sien baie daarna uit!

Ons bars van die trots, Jan! Baie geluk met dié puik prestasie!

JAN VAN REIBEECK & GREENFISH-PROJEK
Greenfish is begin deur twee broers, Ryan en Andrew, met die visie om die restaurant- en groothandelbedryf van hoë gehalte, seisoenale en plaaslike vars vis te voorsien. Hierdie hoë gehalte produkte is vir jare deur sjefs geheim gehou en nou het die allerdaagse huiskok ook toegang tot dieselfde gehalte en varsheid.

As 'n deel van die JVR-familie, sal alle bestellings wat JVR22 gebruik tydens aankope, gratis aflewering ontvang. 'n Persentasie van alle verkope word aan die skool oorbetaal en sal aangewend word vir leerderuitgawes en nodige inisiatiewe en projekte by JvR.

In samewerking met JvR beplan Greenfish verskeie projekte met #JanSee: van boot-tot-bordsessies, praatjies oor entrepreneurskap, besoeke by die fabriek en nog vele meer.

Besoek gerus die webtuiste (greenfish.co.za), bestel voor 11vm. daaglks en ontvang jou bestelling dieselfde dag! Aflewering is Maandag tot Vrydae.

Dankie by voorbaat vir u ondersteuning van hierdie inisiatief! Kyk gerus ook na die kort video: https://youtu.be/NCJ0SUJkUYE

SPORT- EN KULTUURNAWEEK VS DF MALAN
Ons is baie opgewonde oor die skakeling tussen ons twee skole die naweek!

Leerders wat van busvervoer gebruik maak, moet asseblief teen 6:00 moreoggend by die skool wees. Die busse behoort teen 14:30 terug te wees by die skool. Die finale program is weer hier beskikbaar.

ANNA DAVEL KUIER BY HOëRSKOOL JAN VAN RIEBEECK
Daar is nog enkele kaartjies beskikbaar vir Anna Davel se optrede moreaand hier in die Welgemeend!
Kaartjies beloop R280 per persoon en besprekings kan via Quicket gedoen word. Moenie dié besondere geleentheid misloop nie! Kliek gerus hier vir al die inligting!

Anna sing haar mooiste treffers en stal ook haar eie kuns uit. Die aand word met heerlike kos en wyn gekombineer.

JvR-GHOLFDAG 2022
Ons bied op 28 Oktober weer die JvR-gholfdag aan en nooi alle belangstellendes om so gou as moontlik ’n vierbal vir dié dag in te skryf. Ons het ook heerlike opsies vir borgskappe en bemarking. Kliek gerus hier vir al die inligitng en kontak vir Sampie Griessel by sampie.griessel@janvanriebeeck.co.za vir verdere inligting en besprekings.

AKADEMIE
SAMO
Baie geluk aan drie Jan van Riebeeckers wat deurdring na die 3de ronde van die baie uitdagende Suid-Afrikaanse Wiskundeolimpiade! Dit is werklik ’n groot eer om in uitgesoekte geselskap aan die finale ronde deel te neem.

Sterkte aan Fredrich Erasmus, Jan Karsten (beide in graad 8) en Johann Jordaan (graad 11) wat eerskomende Donderdag aan dié finale ronde deelneem.

SAASTA-olimpiades
Die drie SAASTA-olimpiades is uitgestel - teken asseblief die nuwe datums aan:
NW (Gr. 8-9) sou wees op 27 Julie 2022, nou op 6 Sep.
LW (Gr.10-12) sou wees op 26 Julie 2022, nou op 28 Sep.
FW (Gr.10-12) sou wees op 28 Julie 2022, nou op 27 Sep.

GRAADSAKE
Graad 12
NSS-eindeksamen
Die graad 12's se eindeksamen begin vanjaar met Engelse vraestelle op 31 Oktober en die musiekleerders eindig op 5 Desember. Alle praktiese eksamens begin egter reeds vroeër. Laai gerus die volledige rooster hier af. Geografie (vraestel 2) is per ongeluk op die vorige weergawe uitgelaat.

Graad 11
ID-DOKUMENTE
Alle graad 11-leerders moet ’n gesertifiseerde afskrif van hulle ID-dokument aan die begin van die eerste kwartaal van 2023 indien.

Ons wil graag vanjaar reeds verseker dat al ons graad 11-leerders vanaf die eerste dag van 2023 reg is vir die inskrywings vir die Nasionale Seniorsertifikaateksamen (NSS) en daarom kan graad 11's nou reeds begin om hul dokuemnte by me. Steyn in te handig.

Graad 11-spanboudag: 29 September
‘n Buite maatskappy sal die graad 11-spanbou fasiliteer en daar gaan op leierskap, groepidentiteit en skoolwaardes gefokus word.

Die twee dae se kostes beloop R 300 per leerder en sluit etes, vervoer, verlyf, asook die fasiliteerderkoste in. Alle betalings geskied via Karri. Ons wil graag alle betalings afhandel teen die einde van Augustus.

Daar is ook ’n opsie om 'n leerder te borg. Indien u 'n spesifieke leerder wil borg, kan u die leerder se naam en van aan mev Steyn e-pos: huibrecht.steyn@janvanriebeeck.co.za .

Truie vir 2023-matrieks
Ons wil vanjaar reeds die 2023-matriektruie bestel, sodoende kry die leerders meer tyd om die truie te dra. Ons wil graag sien dat ons matrieks volgende jaar uitstaan en ’n eenheid vorm.

Die wit matriektrui gaan weer soos in die verlede lyk: ’n wit trui met knope, blou moue, die skoolwapen en MX 2023 op die rug geborduur.
Ons het reeds die leerders gedurende skooltyd laat aanpas en groottes is aandui.

Die volle bedrag moet asseblief teen die einde van Julie betaal wees. Kostes bly dieselfde as wat ons huidige matrieks betaal het, nl. R300 en alle betalings geskied via Karri. Daar gaan vanjaar slegs EEN bestelling geplaas word, so indien u kind ’n trui bestel, moet hy/sy daarvoor betaal en dit neem.

SPORTSAKE
Moenie die sportaksie teen DF Malan more misloop nie!
Kyk gerus om 11:00 na die eerste netbalspanne se wedstryd hier: https://www.youtube.com/watch?v=z5xfonbDlD8 en die rugbywedstryd word om 12:10 hier uitegesaai: https://www.youtube.com/watch?v=mGfZi0tEK4g.

Sportbepalings: Saterdag, 30 Julie
Ons rugby- en netbalspanne speel (weg) teen Fairbairn College en die dogtershokkiespanne speel (tuis) teen Grootte Schuur.
Die seunswedstryde sal vroeg in die week gefinaliseer en deurgegee word.

Rugby
Stefan Griesel en Ruben Fourie was die afgelope vakansie deel van die WP-o.15 winterspelerugbyspan wat as wenners aangewys is tydens die SA-Winterspele in Pretoria. Ruben was ook die onderkaptein van dié wenspan - baie geluk, Manne!

Obi Ramadann (eerstespan stut) is ingesluit in die WP se o.18-akademie span wat die vakansie aan interprovinsiale toernooi in Wellington deelgeneem het. Ons is trots op jou, Obi!

Swem
Baie geluk aan Mia Nortjé wat gedurende die vakansie aan die
Cape Town Aquatics (CTA)-uitnodigingbyeenkoms deelgeneem het en in die dogters o.16-afdeling puik gevaar het:
  • 200m-borsslag: 1ste plek
  • 400m-IM: 1ste plek
  • 100m-borsslag: 2de plek
  • 50mm-borsslag: 3de plek
Netbal
Belangrike kennisgewing!
Maandag se wedstryde teen St. Cyprians is uitgestel.
0.19A en B speel Dinsdag (tuis): 0.19B: 15:30; 0.19A: 16:10.
Die res van die spanne speel 2 Augustus (weg). Die program volg.

Wat 'n lekkerte om Kwartaal 3 mee af te skop: Hoërskool Jan van Riebeeck wen Woensdag ál ons netbalwedstryde teen Westerford High School!
O.14B wen 9-5
O.14A wen 21-4
O.15B wen 11-9
O.15A wen 34-6
O.16A wen 12-8
O.19B wen 27-14
O.19A wen 53-22

Baie geluk aan al ons netbalspeelsters - ons is baie trots op julle!

Baie geluk aan Leila Lonte en die O/16-Westelike Provinsie-netbalspan wat by die onlangse provinsiale kampioenskappe die silwer medalje verower het! Sowat 22 spanne het mekaar die stryd aangesê. Ons is baie trots op jou, Leila!

Ons is ook baie trots op Lameez Booysen in graad 8 wat die afgelope vakansie as deel van die 0.14-Disaspan van die Kaapse Hoërskolenetbalspan (CTHSN-span) die goue medalje by die interdistriktoernooi in Wellington verower het! Mooi so, Lameez!

Dodgeball
Ons is baie trots op Albert Mathee se internasionale deelname aan koesbal (dodgeball)! Albert het vier jaar gelede 'dodgeball' begin speel. Sy klub is Milnerton Mammoths, onder leiding van Nicholas Oebell.
Albert het die afgelope vakansie as deel van die SA-o.21-span (en onderkaptein) by Somerset College teen die sterk span van Egipte in die Afrika-beker te staan gekom. Albert leef vir sy 'dodge ball' en was taamlik teleurgesteld dat hul nie toernooi kon wen nie, maar hy het sy hart uitgespeel. Mooi so, Albert!

KULTUUR
Oefentye
Koor: Maandae 16:00 tot 17:30 en Woensdae 07:10
Orkes: Maandae en Donderdae 07:10

Tafelberg Koorfees 2022
Die Hoërskool Jan van Riebeeck is baie opgewonde om die TAFELBERG KOORFEES op Dinsdag, 2 Augustus, as deel van ons JvR-Kunstefeesweek aan te bied.

Na die baie suksesvolle koorfees in 2019 was ons baie opgewonde om weer hierdie besondere konsert aan te bied, maar die impak van die pandemie het ons ongelukkig in 2020 en 2021 gekniehalter. Daarom is ons baie opgewonde om hierdie koorfees vanjaar weer te kan aanbied!

Kom geniet 'n aand van puik koorsang in die Groote Kerk, Kaapstad. Kaartjies beloop R80 per persoon. Volg die skakel omkaartjies op Quicket te koop: https://qkt.io/4oqNBE

Sterrejag
Ons jaarlikse talentkompetisie, Sterrejag, skop ons JvR-Kunstefeesweek af en ons wil almal aanmoedig om hierdie spoggeleentheid te ondersteun. Kaartjies is op Karri beskikbaar of kan by die finanskantoor gekoop word.

Datum: Maandag, 1 Augustus
Tyd: 18:30
Plek: Skoolsaal
Koste: R50 op Karri of by die finanskantoor, R70 by die deure

Kom geniet die aand saam met ons en ondersteun ons talentvolle leerders!

wat die water weet
Ons tienertoneelproduksie beloof om vanjaar weer gehore regop te laat sit en die tema beloof vele stof tot nadenke. Die eerste publieke optrede vir ons toneelgeselskap is volgende Vrydag en Saterdag, 29 en 30 Julie om 19:00 hier in ons skoolsaal. Kaartjies beloop R50 per persoon en sal op Quicket beskikbaar wees. Die skakel sal op sosiale media gedeel word.

Komediant, Schalk Bezuidenhout tree op by Jan van Riebeeck
Moenie die skreeusnaakse Schalk Bezuidenhout vanaf 14 tot 24 Desember hier by Hoërskool Jan van Riebeeck misloop nie! Sy splinternuwe eenmanvertoning, Keeping Up, beloof om Kaapse gehore te laat lê van die lag! Bespreek so gou as moontlik by schalkbezuidenhout.com.

SKOOLWINKEL
Die skoolwinkel is volgende week Maandag en Woensdag vanaf 13:30 tot 14:30 oop.

Geniet die naweek!

Vriendelike JvR-groete
Pieter Rademeyer
Skoolhoof
facebook instagram custom 
Email Marketing Powered by MailPoet