Nuusbrief-header
29 Julie 2022
facebook instagram custom 
Geagte Ouers / Voogde

Nog ’n opwindende JvR-week is verby en ek is werklik trots op al ons leerders se positiewe bydraes en mooi prestasies! Dis heerlik om elke Vrydag soveel dinge te hê om oor te spog - en om oor dankbaar te wees!

Liewe meneer Rademeyer, me. Steyn, Medeleerders en Personeel

Ek skryf vir julle uit ‘n koue Argentinië!

Ek is tans op ‘n uitruilprogram in die kultuurryke Mendoza aan die hange van die Andes-bergreeks en ek deel graag met julle my ervaring tot dusver.

Ek word gehuisves in die hartjie van Mendoza en ek is verwelkom in ‘n huis met my twee jonger “susters”, Agostina en Mickayla, sowel as my “ouers”, Juan Pablo en Belen. Die Spaanssprekende gemeenskap het my met ope arms verwelkom en ek het gou tuis gevoel.

Die taalgrens is sonder twyfel my grootse uitdaging, maar ek vorder vinnig en begin die Spaans al beter snap!

Ek het twee weke by die skool, Colegio Universitario Central(lCUC ), geniet en my tipiese skooldag begin om 13:30 en eindig on 18:40.
Ek het tans, tydens ons skoolvakansie, daaglikse Spaanse klasse vanaf 8:00 tot 13:00.

‘n Paar van die aktiwiteite wat ek al aangepak het, sluit in bergfietsry, rolskaats, 'zipline', die uitklim van ‘n paar staproetes, perdry en vele meer! Ons beplan om binnekort te gaan kamp en aan die einde van my program gaan ons ski.

Alhoewel ek my gate uit geniet, mis ek my Jan van Riebeeck-familie! Ek hou jul fyn dop en ek is trots om vir die mense hier te vertel van my tuiste en van my spesiale Afrikaanse skool met die “nombre muy raro” (vreemde naam).

Baie liefde en groete!
Liezel Snijders

wat die water weet - Tienertoneelproduksie 2022!
Die Wêreldnatuurfonds (WWF) het voorspel dat daar ’n sterk moontlikheid is dat Kaapstad teen 2032 onder water sal wees indien daar niks aan die huidige klimaatskrisis gedoen word nie. Voorspellings soos die fluister oor ‘n toekoms wat kom, ’n toekoms wat wag, ’n toekoms wat weet dat ons nie so kan voortbestaan nie...

Wanneer drie tieners op ‘n uitgespoelde vis afkom, word iets binne die water, en binne hulself, wakker. ‘n Onrustigheid word opgeroep, ‘n kreet word geskree en nes die see woed, worstel die tieners self oor wat die water weet.

Moenie ons ATKV-Tienertoneelgeselskap se eerste publieke optrede more- en Saterdagaand hier in ons skoolsaal misloop nie - dit beloof om iets besonders te wees. Die vertonings begin om 19:00 saans en kaartjies is teen R50 op Quicket beskikbaar: https://qkt.io/iDjgM7. Daar sal ook kaartjies by die deure te koop wees.

Ons is ongelooflik trots op hierdie jongmense wat baie ure se harde werk ingesit het om ’n trefferproduksie te verseker - kom ons ondersteun hul die naweek!

DF MALAN-NAWEEK 2022
Ons kyk terug op 'n heerlike interskole-naweek teen Hoërskool DF Malan verlede naweek. Vrydag se sport- en kultuuraktiwiteite het hier by JvR plaasgevind en die spansporte Saterdag op die DF-kampus.

Baie dankie aan die hele JvR-skoolgemeenskap vir jul entoesiastiese deelname en ondersteuning! Ons bedank ook graag mnr. Conradie en sy hele skool vir 'n besondere skakeling en hul gasvryheid. Ons is ook baie beïndruk met die pragtige voorbeeld van jul sportmangees en optrede!

Ons maak beslis volgende jaar weer so - ek weet hierdie is die begin van 'n opwindende nuwe kultuur-, akademie- en sportnaweek tussen ons twee skole.
Alle uitslae is op ons sosiale media-bladsye beskikbaar.

WELGEMEEND MAAND VAN KUNS SKOP VOLGENDE WEEK AF!
Die 2022 Welgemeend Maand van Kuns word vanaf 5 tot 31 Augustus deur Frank en Lizelle Kilbourn en die veilingshuis Strauss & Co in samewerking met die Vriende van Welgemeend en die ondersteuning van Hoërskool Jan van Riebeeck aangebied.
Welgemeend Maand van Kuns is 'n jaarlikse geleentheid wat die waardering van kuns en kultuur in die groter Kaapstadse gemeenskap bevorder.

Vanjaar se uitstalling is getiteld “Homage: Erken/Verken” en bring hulde aan die stigters van Die Kunskamer, ’n baanbrekende Kaapstadse kunsgalery wat in 1971 deur kunsmark-pionier Louis Schachat en sy vrou Charlotte gestig is. Louis is in 2013 oorlede.
Charlotte het vriendelik ingestem om betrokke te wees by 2022 se Maand van Kuns en speel 'n aktiewe rol deur sleutelkunswerke uit hul versameling vir die uitstalling te leen en waardevolle inligting en argiefmateriaal te verskaf oor Die Kunskamer en oor die kunstenaars wat dit oor die jare verteenwoordig het.

Louis en Charlotte het deur Die Kunskamer ’n platform geskep vir die bemarking en verkoop van werke deur die heel beste Suid-Afrikaanse kunstenaars van hul tyd. Boonop het hulle dit as hul plig beskou om die publiek in te lig oor die waarde en die skoonheid van werke van ontwikkelende kunstenaars. Baie van hierdie kunstenaars het bekend geword en word vandag erken as van die voorste kunstenaars wat ons land opgelewer het.

Die Augustus Maand van Kuns-uitstalling sluit in werke uit die Kilbourn Versameling, Die Kunskamer/Schachat Versameling, Wiese Versameling en ander versamelings.

Welgemeend open Vrydag 5 Augustus om 11:00 met 'n rondleiding deur Frank Kilbourn en Wilhelm van Rensburg (Senior Kunskenner by Strauss & Co).
Saterdag 6 Augustus om 11:00 fasiliteer Wilhelm van Rensburg 'n paneelbespreking met verskeie Kunsversamelaars.
U moet asseblief vir alle praatjies bespreek by info@welgemeendart.co.za (verwys aangehegde program).
U kan ook op Vrydag 5 Augustus kunswerke bring om waardeer te word deur Strauss & Co se kundiges (R20 per item).
Skakel asseblief 021 683 6560 om 'n afspraak te maak.

Die insameling van fondse vir die restourasie en onderhoud van Welgemeend vorm 'n integrale deel van die Kunsmaand-program.
Strauss & Co het weer ingewillig om 'n fondsinsamelings veilings ten bate van Welgemeend op Strauss & Co se platvorm, aan te bied. Dié veiling vind plaas vanaf 15 tot 18 Augustus 2022. Meer besonderhede oor dié spesiale veilings opsies volg.
Baie dankie aan Strauss & Co vir hul welwillenheid in die verband.

Besoek ons webtuiste www.welgemeendart.co.za vir meer inligting oor die Kunsuitstalling | Rondleiding | Fondsinsamelings-veiling | Kunspraatjies | Strauss & Co Kunswaardasies | Klassieke musiek-uitvoering.

Kontak ons asseblief direk by info@welgemeendart.co.za of 063 910 0154 indien u besprekings wil maak vir enige van die Kunspraatjies en Klassieke musiek-uitvoering deur Gerhard Joubert.

Welgemeend is daagliks oop vanaf 9:00 tot 15:00 vir besigtiging van die kunswerke.
U hoef nie vir besoeke te bespreek nie, maar kyk asseblief na die aangehegte kalender hier watter dae Welgemeend toe is vir die publiek. Toegangsgeld beloop R50 per persoon.

EDUVELOPMENT-BEROEPSVOORLIGTING
Die registrasie van alle leerders is nou afgehandel en u behoort toegang te hê tot hierdie indrukwekkende aanlyn platform wat beroepsvoorligting aan u kind bied. Kliek gerus hier vir meer inligting.

JAN VAN REIBEECK & GREENFISH-PROJEK
Greenfish is begin deur twee broers, Ryan en Andrew, met die visie om die restaurant- en groothandelbedryf van hoë gehalte, seisoenale en plaaslike vars vis te voorsien. Hierdie hoë gehalte produkte is vir jare deur sjefs geheim gehou en nou het die allerdaagse huiskok ook toegang tot dieselfde gehalte en varsheid.

As 'n deel van die JVR-familie, sal alle bestellings wat JVR22 gebruik tydens aankope, gratis aflewering ontvang. 'n Persentasie van alle verkope word aan die skool oorbetaal en sal aangewend word vir leerderuitgawes en nodige inisiatiewe en projekte by JvR.

In samewerking met JvR beplan Greenfish verskeie projekte met #JanSee: van boot-tot-bordsessies, praatjies oor entrepreneurskap, besoeke by die fabriek en nog vele meer.

Besoek gerus die webtuiste (greenfish.co.za), bestel voor 11vm. daaglks en ontvang jou bestelling dieselfde dag! Aflewering is Maandag tot Vrydae.

Dankie by voorbaat vir u ondersteuning van hierdie inisiatief! Kyk gerus ook na die kort video: https://youtu.be/NCJ0SUJkUYE

JvR-GHOLFDAG 2022
Ons bied op 28 Oktober weer die JvR-gholfdag aan en nooi alle belangstellendes om so gou as moontlik ’n vierbal vir dié dag in te skryf. Ons het ook heerlike opsies vir borgskappe en bemarking. Kliek gerus hier vir al die inligitng en kontak vir Sampie Griessel by sampie.griessel@janvanriebeeck.co.za vir verdere inligting en besprekings.

AKADEMIE
TOPPRESTEERDERS NA AFLOOP VAN DIE JUNIE-EKSAMEN
Baie geluk aan ons toppresteerders na afloop van die tweede kwartaal-eksamen. Ons is baie trots op jul harde werk en puik uitslae!

GRAAD 8
1. MIA SYMINGTON (94.63%)
2. CARLA SNIJDERS
3. LUCA ZULCH
4. FREDRICH ERASMUS
5. XENA DU TOIT
6. JAN KARSTEN
7. HENDRIK BREDENKAMP
8. MIA FOUCHÈ
9. MIA VAN DEN BERG
10. KATE HEYNS
11. DANIEL WASSERMAN
12. VIDA ENGELS
13. LUMARIÈ FOURIE
13. ELLE NORTJE
15. TIAAN LUYT
16. ABIGAIL ELS
17. LARA PIETERSE
18. SEBASTIAN MAREE
18. FAMKE SCHWARTZ
20. LILY LE ROUX (81,22%)

GRAAD 9
1. STELLA MALAN (91,44%)
2. LARA-LISA SENEKAL
3. EMMA BARTEL
4. LIELA SIMPSON
5. CATHERINE SHAW
6. ZAHEER MARNEY
7. CAYLE STOLTZ
8. CHRISTIAN VILJOEN
8. ANJA LIEBENBERG
10. RUBEN FOURIE
11. KEIRA HEYNS
12. PIERRE BECKER
13. ALEXANDER DE JONG
14. KLARA VON LIERES
15. AMURAN BESTER
16. ROELF VAN DER MERWE
17. STEPHAN GRIESEL
18. CARLA VAN DEN BERG
19. HERCHELLE CHRISTIANS
20. ONELA MNYENGEZA

GRAAD 10
1. MARI SWANEPOEL (93,86%)
2. PEET KARSTEN
3. LAYLA ERASMUS
4. MARIANNE NEL
5. ANDRÉE VAN ZYL
6. ZAZZIE HENDERSON
7. LIEZEL SNIJDERS
8. TOBY DE RUITER
9. MIENKE HERBST
10. AMBER ROBERTS
10. JANA VAN ROOYEN
12. JEANETTE GROENEWALD
13. DANIELLA COETZEE
14. OWEN VAN DER LINDE
15. DARREN CLOETE
16. LEILA LONTE
16. LISA BEST
18. LISA SCHOEMAN
20. MIA NORTJE
20. ISABEL OOSTHUIZEN

GRAAD 11
1. JENNA KOHLER (92,86%)
2. ADRIAN HUYSAMEN
3. STEFAN TURKSTRA
4. CARA BEYER
5. DANIELA NIKIFOROS
6. ANNABEL DE JAGER
7. HANLI THERON
8. ALBERT MATTHEE
9. ETHAN STEVENS
10. JOHANN JORDAAN
11. WILLEM VAN AS
11. TIMONÉ JOUBERT
13. ZIA MEINTJES
14. NIKOLAAS BERGH
15. GERARD SNIJDERS
16. STEPHAN MARAIS
17. DANIËL GRUTTER
18. SIMON VAN DEN BERG
20. STEF MOSTERT
20. NICOLE PRINSLOO

GRAAD 12
1. CAVAN MCKEOWN
2. ELLA BASSON
3. DAWID AGENBAG
4. THEA DE LANGE
5. LENE VORSTER
6. KAYLA SMIT
7. MIA HOLMES
7. EDMUND VAN ROOYEN
9. MILA FOURIE
10. LINELLE DU TOIT
11. PHILLIP HERBST
12. ARNO VAN DER MERWE
13. JOSHUA HARVEY
14. LUCAS WILDENBOER
15. ELMARIE COMBRINK
16. KARLA LUYT
16. OBED BAM
18. RYAN-WILL PRETORIUS
19. EMMA RAY
20. MARI VAN DER MERWE
20. CHRISTIAAN PRINSLOO

EYEBRAINGYM-leesprogram vir al ons graad 8's
Ons is baie trots om nou aan al ons graad 8-leerders die eyebraingym-leesprogram as deel van hul weeklikse Afrikaanslesse te bied.

eyebraingym gebruik die wetenskap van neuromodulasie, die fisika van spieroefening en geheue deur die prosesse van lees om visuele intelligensie te oefen, verbeter en ontwikkel. Al ons leerders is geassesseer en het hul individuele verslae ontvang en werk nou teen hul eie pas om hul lees- en begripvaardighede te verbeter.

Nie alleen sal hul met dié program hul leesspoed verbeter nie, maar beter begrip, taalgebruik, woordeskat, geheue en konsentrasie is van die aspekte wat verder ontwikkel word.
Ons sien daarna uit om ons graad 8's se vordering en prestasie dop te hou!

Landswye Graad 11 FW-kompetisie
Sewe van ons leerders het die afgelope Woensdag deelgeneem aan die eerste ronde van hierdie opwindende nuwe kompetisie. Ons hou duime vas vir die finale ronde op 7 September.

SAASTA Science Debate
Vyf leerders neem op Saterdag, 6 Augustus, 08:30 tot 14:00 deel aan die provinsiale werkswinkel, ter voorbereiding van die provinsiale kompetisie.
Ons ontmoet 08:00 by die FW-laboratorium in volle skooldrag, asseblief. Sterkte!

Akademiese vasvra-aand
Die eerste akademiese vasvra-aand, aangebied deur ons matriekraad, was ‘n reuse sukses en die Jan van Riebeeckers het dit baie geniet!
Die wenners van die aand was Luca Zulch en Daniël Wasserman van Huis Reijger, asook Stefan Turkstra en Adrian Huysamen van De Goede Hoop.
Ons is baie bevoorreg om pryse vir die wenners van Die Burger te kon ontvang.
Die pryse sluit twee R500-geskenkbewyse in. Ons maak vinnig weer so!

GRAADSAKE
Graad 11-spanboudag: 29 September
‘n Buite maatskappy sal die graad 11-spanbou fasiliteer en daar gaan op leierskap, groepidentiteit en skoolwaardes gefokus word.

Die twee dae se kostes beloop R 300 per leerder en sluit etes, vervoer, verlyf, asook die fasiliteerderkoste in. Alle betalings geskied via Karri. Ons wil graag alle betalings afhandel teen die einde van Augustus.

Daar is ook ’n opsie om 'n leerder te borg. Indien u 'n spesifieke leerder wil borg, kan u die leerder se naam en van aan mev Steyn e-pos: huibrecht.steyn@janvanriebeeck.co.za .

Truie vir 2023-matrieks
Ons wil vanjaar reeds die 2023-matriektruie bestel, sodoende kry die leerders meer tyd om die truie te dra. Ons wil graag sien dat ons matrieks volgende jaar uitstaan en ’n eenheid vorm.

Die wit matriektrui gaan weer soos in die verlede lyk: ’n wit trui met knope, blou moue, die skoolwapen en MX 2023 op die rug geborduur.
Ons het reeds die leerders gedurende skooltyd laat aanpas en groottes is aandui.

Die volle bedrag moet asseblief teen die einde van Julie betaal wees. Kostes bly dieselfde as wat ons huidige matrieks betaal het, nl. R300 en alle betalings geskied via Karri. Daar gaan vanjaar slegs EEN bestelling geplaas word, so indien u kind ’n trui bestel, moet hy/sy daarvoor betaal en dit neem.

SPORTSAKE
Sportbepalings: Saterdag, 30 Julie
Baie sterkte aan ons rugby- en netbalspelers wat more (weg) sake uitspook teen Fairbairn College. Ons hou duimvas vir goeie uitslae. Kliek gerus hier vir die volledige program.

Hokkie
Ons wens die volgende spanne alle sterkte toe met hulle wedstryde hierdie naweek:
  • Die o.19-hokkiedogters speel teen Herschell Girls High vandag (weg) om 14:40.
  • Die o.16- en o.19-hokkiedogters speel more teen Grootte Schuur (tuis). Die o.16’s speel 9:00 en die o.19’s 10:15.
Almal word vriendelik uitgenooi om ons hokkie te kom ondersteun.

Wedstryde vir volgende week:
  • Die o.19-dogters speel Woensdag, 3 Augustus (weg) teen Hoërskool Zwaanswyk –15:15.
  • Die o.16- en o.19-seuns speel Woensdag, 3 Augustus (weg) teen Bishops High. Die o.16’s speel 17:00 en die o.19’s speel 16:00.
Oefening gaan Maandag soos normaal (14:20 – 15:45) voort.

Enige verskonings moet asseblief 24 uur vooraf gekommunikeer word: dogters e-pos me. Van Rensburg (ella.vanrensburg@janvanriebeeck.co.za) en die seuns e-pos asseblief mnr. Claassen (renier.claassen@janvanriebeeck.co.za).

Ons is werklik trots op al ons hokkiespelers se toewyding en mooi prestasies!

Landloop
Baie geluk aan Scarlett van der Merwe wat ’n tweede plek behaal het by die week se landloopliga by Westerford. Ons is trots op jou!

Tennis
Alle leerders is welkom om aan te sluit by die tennisoefeninge.
Ons spanspelers oefen Dinsdae 14:30 tot 15:30 en die res van die spelers oefen Donderdae 14:30 tot 15:30.
Nuwe spelers is altyd welkom! Kom gesels gerus met me. Bezuidenhout indien jy meer inligting wil hê.

Netbal
Ons netbal is aan die brand!

Ons eerste netbalspan het Dinsdag 'n uitstekende 53-16 oorwinning oor die span van St. Cyprian's School behaal. Ons tweede span wen ook 21-11. Baie geluk, Jan van Riebeeckers - ons is baie trots op dié puik uitslae!

Kyk gerus hier na belangrike inligting vir die kwartaal: die kwartaalprogram, wedstrydreëlings teen St. Cyprians op 1 Augustus by Good Hope Seminary High School se bane, Rustenburg op 4 Augustus en Reddam op 10 Augustus.

VERRYKINGSPROGRAM
JvR-Junior Leierskap
JVR se #juniorleierskapklub het Dinsdag 'n opwindende sessie onder leiding van Carli van Wyk geniet.Leerders het meer oor die politiek en veral die waarde van aktiewe burgerskap geleer.
Die onderskeie groepe is uitgedaag om die energiekrisis op te los en elke groep het nuttige insig gedeel.Carli van Wyk, wyksraadslid van Stellenbosch en voormalige voorsitter van Universiteit Stellenbosch se studenteraad, het vir 'n opvoedkundige ervaring soos min gesorg.
Ons sien uit om te sien wat dié jongklomp uitrig!

AkwaJANnika
Die klub ontmoet vir dr. Dina eerskomende Dinsdagoggend, 2 Augustus, in me. Bezuidenhout se klas.
Die leerders gaan haar help om ’n groei- en plantkalender te ontwerp, wat gelamineer sal word en in die akwaponikatuin gebruik sal word. Sodoende kan daar deeglik rekord gehou word van die verskillende plantsiklusse en plantvoeding wat benodig word.
Moenie dié opwindende verrykingsgeleentheid misloop nie, Jan van Riebeeckers!

KULTUUR
Oefentye
Koor: Maandae 16:00 tot 17:30 en Woensdae 07:10
Orkes: Maandae en Donderdae 07:10

Tafelberg Koorfees 2022
Die Hoërskool Jan van Riebeeck is baie opgewonde om die TAFELBERG KOORFEES op Dinsdag, 2 Augustus, as deel van ons JvR-Kunstefeesweek aan te bied.

Na die baie suksesvolle koorfees in 2019 was ons baie opgewonde om weer hierdie besondere konsert aan te bied, maar die impak van die pandemie het ons ongelukkig in 2020 en 2021 gekniehalter. Daarom is ons baie opgewonde om hierdie koorfees vanjaar weer te kan aanbied!

Kom geniet 'n aand van puik koorsang met die kore van Laerskool Jan van Riebeeck, Laerskool Mikro, Laerskool Courtrai Primary School en natuurlik Hoërskool Jan van Riebeeck. in die Groote Kerk, Kaapstad. Kaartjies beloop R80 per persoon. Volg die skakel omkaartjies op Quicket te koop: https://qkt.io/4oqNBE

Sterrejag
Ons jaarlikse talentkompetisie, Sterrejag, skop ons JvR-Kunstefeesweek volgende week af en ons wil almal aanmoedig om hierdie spoggeleentheid te ondersteun. Kaartjies is op Karri beskikbaar of kan by die finanskantoor gekoop word.

Datum: eerskomende Maandag, 1 Augustus
Tyd: 18:30
Plek: Skoolsaal
Koste: R50 op Karri of by die finanskantoor, R70 by die deure

Die program beloof om baie opwindend te wees met ons skool se beste talent wat ten toon gestel word. Een van ons beoordelaars, Nadine Blom, gaan ons ook met haar sangtalent vermaak. Kom geniet die aand saam met ons en ondersteun ons talentvolle leerders!

Komediant, Schalk Bezuidenhout tree op by Jan van Riebeeck
Moenie die skreeusnaakse Schalk Bezuidenhout vanaf 14 tot 24 Desember hier by Hoërskool Jan van Riebeeck misloop nie! Sy splinternuwe eenmanvertoning, Keeping Up, beloof om Kaapse gehore te laat lê van die lag! Bespreek so gou as moontlik by schalkbezuidenhout.com.

SKOOLWINKEL
Die skoolwinkel is volgende week Maandag en Woensdag vanaf 13:30 tot 14:30 oop.

Baie dankie vir u volgehoue ondersteuning van ons geliefde skool. Mooi naweek!

Vriendelike JvR-groete
Pieter Rademeyer
Skoolhoof
facebook instagram custom 
Email Marketing Powered by MailPoet