|
|
|
|
|
|
Ons is besonder trots om hierdie week ons heel eerste Hoërskool Jan van Riebeeck-Kunstefees vir skole in die Wes-Kaap te kon aanbied. Dit was heerlik om so baie leerders van laer- en hoërskole hier by Jan van Riebeeck te verwelkom!
|
Baie dankie en geluk aan al ons Jan van Riebeeckers wat ook van die geleentheid gebruik gemaak het om hulop die verhoog uit te leef in sang, ’n wye verskeidenheid van instrumente, drama, onvoorbereide lees en selfs in die spelathon-afdeling.
|
Ons kuns- en fotografieleerders het hul werke kon uitstal en ons het pragtige inskrywings in die kreatiewe skryfwerk-afdeling ontvang. Ek sal volgende week die volledige uitslae in die nuusbrief publiseer.
|
’n Groot dankie ook aan me. Sanette van Loggerenberg en ons span ouers wat gehelp het dat alles glad verloop!
|
Ons Tafelberg-koorfees in die Groote Kerk Dinsdagaand was iets om te beleef. Die gehoor in die volgepakte kerkgebou kon hul verluister aan die uitstekende koormusiek en verkyk aan die entoesiastiese sangers.
|
Dankie aan ons musiekvriende wat saam met ons kom optree het. Ons maak volgende jaar weer so!
|
Ek wil u baie graag uitnooi om die Welgemeend Maand van Kuns te ondersteun. Frank en Lizelle Kilbourn en die veilingshuis Strauss & Co verseker vanjaar weer ’n unieke aanbieding en ons is ongelooflik dankbaar vir hul besondere insette, en ondersteuning van die kunste, Welgemeend en ons skool. Dis merkwaardig wat hul al oor die jare met hierdie kunsmaand (en vele ander projekte!) vir ons skool beteken het - en ons koester die verbintenis en samewerking met hul.
|
Welgemeend is vir die volgende maand daagliks oop vanaf 9:00 tot 15:00 vir besigtiging van die kunswerke.
|
U hoef nie vir besoeke te bespreek nie, maar kyk asseblief na die aangehegte kalender hier watter dae Welgemeend toe is vir die publiek. Toegangsgeld beloop R50 per persoon.
|
WELGEMEEND MAAND VAN KUNS SKOP AF!
|
Die 2022 Welgemeend Maand van Kuns word vanaf vandag tot 31 Augustus deur Frank en Lizelle Kilbourn en die veilingshuis Strauss & Co in samewerking met die Vriende van Welgemeend en die ondersteuning van Hoërskool Jan van Riebeeck aangebied.
|
Welgemeend Maand van Kuns is 'n jaarlikse geleentheid wat die waardering van kuns en kultuur in die groter Kaapstadse gemeenskap bevorder.
|
Vanjaar se uitstalling is getiteld “Homage: Erken/Verken” en bring hulde aan die stigters van Die Kunskamer, ’n baanbrekende Kaapstadse kunsgalery wat in 1971 deur kunsmark-pionier Louis Schachat en sy vrou, Charlotte gestig is. Louis is in 2013 oorlede.
|
Charlotte het vriendelik ingestem om betrokke te wees by 2022 se Maand van Kuns en speel 'n aktiewe rol deur sleutelkunswerke uit hul versameling vir die uitstalling te leen en waardevolle inligting en argiefmateriaal te verskaf oor Die Kunskamer en oor die kunstenaars wat dit oor die jare verteenwoordig het.
|
Louis en Charlotte het deur Die Kunskamer ’n platform geskep vir die bemarking en verkoop van werke deur die heel beste Suid-Afrikaanse kunstenaars van hul tyd. Boonop het hulle dit as hul plig beskou om die publiek in te lig oor die waarde en die skoonheid van werke van ontwikkelende kunstenaars. Baie van hierdie kunstenaars het bekend geword en word vandag erken as van die voorste kunstenaars wat ons land opgelewer het.
|
Die Augustus Maand van Kuns-uitstalling sluit in werke uit die Kilbourn Versameling, Die Kunskamer/Schachat Versameling, Wiese Versameling en ander versamelings.
|
Die insameling van fondse vir die restourasie en onderhoud van Welgemeend vorm 'n integrale deel van die Kunsmaand-program. Strauss & Co het weer ingewillig om 'n fondsinsamelings veilings ten bate van Welgemeend op Strauss & Co se platvorm, aan te bied. Dié veiling vind plaas vanaf 15 tot 18 Augustus 2022. Meer besonderhede oor dié spesiale veilings opsies volg.
|
Baie dankie aan Strauss & Co vir hul welwillenheid in die verband.
|
Besoek die webtuiste www.welgemeendart.co.za vir meer inligting oor die Kunsuitstalling | Rondleiding | Fondsinsamelings-veiling | Kunspraatjies | Strauss & Co Kunswaardasies | Klassieke musiek-uitvoering.
|
Kontak ons asseblief direk by info@welgemeendart.co.za of 063 910 0154 indien u besprekings wil maak vir enige van die Kunspraatjies en Klassieke musiekuitvoering deur Gerhard Joubert.
|
Die matriekkomitee bied op 18 Augustus ’n winterbal vir ons leerders aan en alle Jan van Riebeeckers is welkom om hierdie spesiale sosiale geleentheid by te woon. Dié geleentheid skop sommer die lekker interskole-naweek op ’n gesellige noot af.
|
Kliek gerus hier vir meer inligting en let asseblief op die reëlings indien u kind ’n metgesel van buite die skool wil saamnooi.
|
Ons tweede aanlyn veiling skop op Dinsdag, 23 Augustus om 12:00 af en u is welkom om vanaf 15 Augustus op www.bidpro.co.za te registreer.
|
Almal word ook hartlik uitgenooi om die afsluitingsfunksie van vanjaar se veiling in Welgemeend by te woon. Dit vind op Vrydag, 26 Augustus vanaf 18:00 tot 22:00 plaas. Hier kan u vir die laaste vier uur heerlik saamkuier en teen mekaar - en die mense wat aanlyn inskakel - vir oulaas bie. Bespreek gerus u plek deur ’n e-pos te stuur na veiling@janvanriebeeck.co.za. Kliek gerus ook hier vir al die inligting.
|
Dié aanlyn veiling is ons grootste fondsinsamelingpoging vanjaar en ons maak werklik staat op almal se ondersteuning. By voorbaat dankie!
|
Ons is baie opgewonde om ons eerste ouer-lentedans op Vrydag, 2 September aan te bied.
|
Ons sal verseker dat daar heerlike dansmusiek gespeel word, u bring u eie mandjie met eet- en drinkgoed en betaal slegs R20 vir ’n gesellige kuieraand hier in ons skoolsaal. R10 van dié bedrag is ook ten bate van ons 'Loslitdag'-inisiatief.
|
Ons sal ook wyn te koop aanbied. Besprekings kan via Karri gedoen word. Kliek gerus hier vir meer inligting.
|
Ons bied op 28 Oktober weer die JvR-gholfdag aan en nooi alle belangstellendes om so gou as moontlik ’n vierbal vir dié dag in te skryf. Ons het ook heerlike opsies vir borgskappe en bemarking. Kliek gerus hier vir al die inligitng en kontak vir Sampie Griessel by sampie.griessel@janvanriebeeck.co.za vir verdere inligting en besprekings.
|
Assesseringsprogram: Kwartaal 3
|
Alle leerders wat verdere akademiese ondersteuning benodig, word aangemoedig om die intervensieklasse by te woon. Kliek gerus hier om die skedule te bestudeer.
|
Onderwysers sê dikwels dat daar in die meeste gevalle groot verbetering opgemerk word by leerders wat gereeld die intervensieklasse bywoon.
|
Ons maak staat op ons ouers/voogde om u kinders aan te moedig om dié klasse soggens by te woon.
|
Ons bied volgende Vrydag, 12 Augustus asook 2 September aan al ons graad 12-RTT-leerders hulpklasse aan om verdere ondersteuning in die teorie- en praktiese aspek van die vak te kry. Dié sessies word deur ’n vakspesialis aangebied wat baie betrokke is by die vak se ssessering op provinsiale vlak.
|
Die klasse sal vanaf 15:00 tot 18:00 in die RTT-klas aangebied word.
|
Verdere eksamenafrondingsessies sal ook gedurende die lenteskool aangebied word. Soortgelyke sessies word ook vir ons graad 10- en 11-leerders beplan.
|
Vyf Jan van Riebeeckers het puik gevaar in vanjaar se nasionale Afrikaanse olimpiade!
|
Stefan Turkstra (graad 11) behaal die 13de plek in die Wes-Kaap en hoofdogter, Liné Vorster, eindig 16de in die provinsie. Hulle haal beide ook die nasionale Top 100-presteerderlys (onder die top 50).
|
Drie ander Jan van Riebeeckers se name spog ook op die Suid-Afrikaanse Top 100-presteerderlys: Zazzie Henderson (graad 10), Ella Basson (graad 12) en Peet Karsten (graad 10). Ons is baie trots op dié puik prestasie!
|
Die bestelling van die matriektruie het op Karri gesluit. Indien enige leerder nog ’n trui wil bestel, moet hul die R300 volgende week by Finansies gaan betaal.
|
Baie geluk aan ons netbalspelers met pragtige uitslae teen St. Cyprian's en Rustenburg Girls' High!
|
Volgende week se program:
|
Ons dogters speel ook volgende Donderdag, 11 Augustus teen Fish Hoek High School (tuis) en nie meer op 13 Augustus nie. Kliek gerus hier vir die program.
|
Die dogters het verlede Vrydag teen Herschel Girls' High gespeel en 3-0 verloor.
|
Die dogters het ook verlede Saterdag teen Hoërskool Grootte Schuur gespeel.
|
- o.16’s wen 1-0
- o.19’s wen 3-0
Die seuns het Woensdag teen Bishops High gespeel.
|
- o.16A vs o.16C wen 3-0
- o.19A vs o. 19C speel gelykop 3-3
Ons wens die volgende spanne alle sterkte toe met hulle wedstryde volgende week:
|
- Die o.16- en o.19 hokkiedogters speel Woensdag teen Parow (weg). Die o.16’s speel 15:15 en die o.19’s 16:30.
- Die o.16-seuns speel Woensdag teen Rhodes High (tuis)15:40 en Saterdag speel die o.19’s teen CBC St. Johns (weg).
Almal word vriendelik uitgenooi om ons hokkie te kom ondersteun.
|
Die seuns sal steeds Woensdag ’n oefening hê. Die wedstryd sal na die oefening plaasvind.
|
Hoërskool Jan van Riebeeck is vanjaar die top skaakskool in Metro-Sentraal.
|
Ons klop verlede Saterdag al die Kaapse spanne oortuigend en dan eindelik ook die sterk span van Rondebosch Boys' High School 4-2!
|
Baie geluk aan Jan Karsten, Gerard Snijders (k), Peet Karsten, Nicholas de Jongh, Cuthan Winter en Simon van den Berg. Ons is baie trots op dié puik prestasie!
|
Die span het ook verlede Vrydag die sterk span van Herzlia 4-2 geklop. Mooi so!
|
Baie geluk aan Scarlett van der Merwe wat ’n eerste plek behaal het by die week se landloopliga by Rondebosch Boys; High. Ons is trots op jou!
|
Alle leerders is welkom om aan te sluit by die tennisoefeninge.
|
Ons spanspelers oefen Dinsdae 14:30 tot 15:30 en die res van die spelers oefen Donderdae 14:30 tot 15:30.
|
Nuwe spelers is altyd welkom! Kom gesels gerus met me. Bezuidenhout indien jy meer inligting wil hê.
|
Baie geluk aan ons rugbymanne met mooi uitslae teen Fairbairn College, Wynberg Boys' High en Settlers High School die afgelope week!
|
o.17A wen Fairbairn o.19B 22-0
|
o.19A wen Fairbairn o.19A 36-15
|
o.15A wen Wynberg o.15B 29-12
|
o.19A wen Settlers o.19A 31-19
|
Baie geluk aan ons toppresteerders in die tweede JvR-algemene kennisvasvra!
|
Graad 9: Johan Theunissen
|
Luca, Johann en Obed het gesamentlik die hoogste punte in die skool behaal. Mooi so!
|
Die Jan van Riebeeck ATKV-tak nooi al die Jan van Riebeeckers om hul DENIMDAG ten bate van persone met gestremdehede te ondersteun.
|
Trek jou denim met iets geel of goud of wit of blou aan op Vrydag, 12 Augustus. Betaal R 10 op Karri en wees deel van ‘n span wat ’n verskil wil maak.
|
Baie geluk aan ons ATKV-Tienertoneelgroep wat verlede Vrydag- en Saterdagaand die gehoor op 'n emosionele kragtoer soos min geneem het!
|
'wat die water weet' is 'n werkswinkelstuk waar die jong Jan van Riebeeckers se stemme duidelik in Kanya Viljoen se teks gehoor word. Tienerkwessies word inderdaad met durf aangespreek.
|
Die groep het gister na Fraserburg waar hul aan die Logan Toneelfees gaan deelneem. Ons weet daar wag groot dinge op dié akteurs en produksiespan!
|
Die Jan van Riebeeck-kunstefees het Maandag op 'n hoogtepunt afgeskop met 'Sterrejag', ons jaarlikse talentkompetisie. Die program het gespog met 'n verskeidenheid items deur ons mees talentvolle leerders.
|
Die gehoor is vermaak met dansitems, sang, instumente, voordrag en 'n spesiale vertoning deur Nadine Blom. Ons beoordelaars was Janu Engelbrecht, Keanu Abrahams en Nadine Blom en hul het vir Seth Louw in graad 12 as wenner van die aand gekroon. Seth se roerende weergawe van 'In the Stars', wat aan al die slagoffers van die Covid-pandemie opgedra is, het beslis die hartsnare geroer.
|
Die indrukwekkende dansbewegings van Clarize Strydom in graad 8 het aan haar die tweede plek besorg!
|
Wel gedaan, Jan van Riebeeckers!
|
Komediant, Schalk Bezuidenhout tree op by Jan van Riebeeck
|
Moenie die skreeusnaakse Schalk Bezuidenhout vanaf 14 tot 24 Desember hier by Hoërskool Jan van Riebeeck misloop nie! Sy splinternuwe eenmanvertoning, Keeping Up, beloof om Kaapse gehore te laat lê van die lag! Bespreek so gou as moontlik by schalkbezuidenhout.com.
|
Die skoolwinkel is volgende week Woensdag vanaf 13:30 tot 14:30 oop.
|
|
|
|
|
|
|