|
|
|
|
|
|
Dit was ’n kort, maar bedrywige week hier by die skool. Dankie aan al die leerders wat hard aan die werk is en ook by die talle sport-, kultuur- en verrykingsgeleenthede betrokke is - ons is trots op die postiewe gees wat in die skool heers!
|
Ons beplan om volgende week ’n paar geesaktiwiteite aan te bied om al ons Jan van Riebeeckers opgewonde te maak vir die Dirkie Uys-naweek wat voorlê.
|
Dit is ’n baie spesiale naweek vir ons skool en ek maak staat op almal se ondersteuning - meer inligting en die program is ook onder ingesluit.
|
Ons sien ook daarna uit om al ons ouers/voogde en oudleerders hier by ons skool te verwelkom!
|
Ek doen ook vandag ’n ernstige beroep op alle ouers/voogde om te help verseker dat ons leerders te alle tye netjies sal lyk en betyds en voorbereid vir die skooldag sal wees. Daar is te veel leerders - veral op Vrydae! - gereeld afwesig.
|
Indien ’n leerder om ’n baie goeie rede afwesig was, is dit ook sy/haar verantwoordelikheid om u te vind wat hul gemis het, op Google Classroom te kyk watter werk gedek is en die werk in te haal. Dankie vir u ondersteuning en samewerking hiermee.
|
Ons is baie opgewonde en trots om aan te kondig dat dr. Sors Joubert pas aangestel is as ons nuwe atletiekhoof. Sors gaan die atletiekprogram bestuur en ook as hoofafrigter verseker dat ons atlete en al ons sportdeelnemers en -spanne op ’n hoë vlak oefen, voorberei en deelneem. Hy gaan ook fokus op die aanbieding van atletiekoefenprogramme binne die LO-vakprogram.
|
Dr. Sors Joubert matrikuleer aan Hugenote Hoërskool in 2002. Hy voltooi sy studies aan CPUT Wellington en behaal ’n B. Ed, B.Ed. Honeurs sowel as M.Ed-graad aan hierdie instansie. Sy Meestersskripsie is getiteld “The influence of a holistic fitness programme on the development of positive attitudes in learners at a multi-grade school”. Hy sit sy studies voort en behaal daarna sy doktorsgraad in Opvoedkunde met die skripsie getiteld: “The influence of gross motor development programme on the lives of learners from rural disadvantage multi-grade schools”.
|
Sors is ’n senior dosent in lewensoriëntering en liggaamlike opvoeding aan CPUT. Hy is ook as hoofafrigter by Maties Atletiek betrokke. Sors spog met ’n besonderse tienkamploopbaan. Hy bereik onder andere die volgende: Boland Atletiek: Kampioen (2004-2007, 2010 en 2011), Suid-Afrikaanse Juniorkampioen (2003), SA- studentekampioen (2003-2006) en SA-seniorkampioen (2006 en 2010).
|
Sy internasionale deelname is ook merkwaardig: Statebondspele 2006 (Melbourne, Australië), Afrika Atletiekkampioenskappe 2006 (Bambous, Mauritius), IAAF Decaster Kring 2006 (Arles, Frankryk), Britse Nasionale Uitnodigingtienkamp 2006 (Londen), SPAR-Baankring 2008 (Breda, Nederland) – Goud, All Africa Combined Challenge 2010 (Reduit, Mauritius) – Silver, Afrika Atletiekkampioenskappe 2010 (Nairobi, Kenia), All Africa Combined Challenge 2011 (Bambous, Mauritius) – Brons, Duitse Atletiek-federasie 2011 (Zehnkankamf Stuttgart, Duitsland), Jedermann Zehnkankampf 2011 (Dillingen, Duitsland), Wêreldstudente spele-pan 2011 (Shenzhen, China).
|
Baie welkom, Sors! Ons is baie opgewonde oor jou nuwe rol by Hoërskool Jan van Riebeeck en sien uit na groot sporthoogtepunte wat op ons leerders en skoolgemeenskap wag!
|
Ons atletiek- en somersportprogram skop op Maandag, 22 Augustus om 14:30 af.
|
Ons is baie opgewonde om volgende Vrydag en Saterdag ons vriende van Dirkie Uys hier op ons kampus en sportgronde te verwelkom. Dis ook ekstra spesiaal om ons eie laerskool en ook Laerskool Dirkie Uys hier te verwelkom.
|
Ons weet die twee dae gaan in die gees van baie goeie sportmanskap geniet word. Kliek gerus hier vir die volledige program en belangrike inligting.
|
Ek hoop dat élke Jan van Riebeecker die dag sal kom ondersteun en geniet - en sal verseker dat ons gaste welkom voel!
|
Baie dankie ook aan al die ouers/voogde wat baie hard werk om van die dag ’n sukses te maak. Ons gaan ’n feesatmosfeer skep met heerlike eet- en drinkgoed te koop. Kom ondersteun ons hiermee ook asb!
|
Ons benodig nog hulp met diensbeurte en produkte. Kliek asb. op hierdie skakel en vul u naam in indien u op enige manier kan help:
|
Die matriekkomitee bied volgende Donderdag, 18 Augustus, ’n winterbal vir ons leerders aan en alle Jan van Riebeeckers is welkom om hierdie spesiale sosiale geleentheid by te woon. Dié geleentheid skop sommer die lekker interskole-naweek op ’n gesellige noot af.
|
Kliek gerus hier vir meer inligting en let asseblief op die reëlings indien u kind ’n metgesel van buite die skool wil saamnooi.
|
Ons tweede aanlyn veiling skop op Dinsdag, 23 Augustus om 12:00 af en u is welkom om vanaf eerskomende Maandag, 15 Augustus op www.bidpro.co.za te registreer.
|
Almal word ook hartlik uitgenooi om die afsluitingsfunksie van vanjaar se veiling in Welgemeend by te woon. Dit vind op Vrydag, 26 Augustus vanaf 18:00 tot 22:00 plaas. Hier kan u vir die laaste vier uur heerlik saamkuier en teen mekaar - en die mense wat aanlyn inskakel - vir oulaas bie. Bespreek gerus u plek deur ’n e-pos te stuur na veiling@janvanriebeeck.co.za. Kliek gerus ook hier vir al die inligting.
|
Dié aanlyn veiling is ons grootste fondsinsamelingpoging vanjaar en ons maak werklik staat op almal se ondersteuning. By voorbaat dankie!
|
Loslitdag vind vanjaar op Vrydag, 2 September, plaas.
|
As leerders ’n plakker koop, kan hul op hierdie dag in civvies skool toe kom.
|
Die tema van vanjaar is #Celebrate SA en almal word gevra om iets tipies Suid-Afrikaans te dra om te wys hul ondersteun die inisiatief.
|
Plakkers is te koop by die finanskantoor en op Karri en die koste beloop R20,00.
|
Die fondse wat ingesamel word, is ten bate van mense met gestremdhede. Ondersteun asseblief hierdie inisiatief deur ’n plakker te koop!
|
Ons is baie opgewonde om ons eerste ouer-lentedans op Vrydag, 2 September aan te bied.
|
Ons sal verseker dat daar heerlike dansmusiek gespeel word, u bring u eie mandjie met eet- en drinkgoed en betaal slegs R20 vir ’n gesellige kuieraand hier in ons skoolsaal. R10 van dié bedrag is ook ten bate van ons 'Loslitdag'-inisiatief.
|
Ons sal ook wyn te koop aanbied. Besprekings kan via Karri gedoen word. Kliek gerus hier vir meer inligting.
|
Ons bied op 28 Oktober weer die JvR-gholfdag aan en nooi alle belangstellendes om so gou as moontlik ’n vierbal vir dié dag in te skryf. Ons het ook heerlike opsies vir borgskappe en bemarking. Kliek gerus hier vir al die inligitng en kontak vir Sampie Griessel by sampie.griessel@janvanriebeeck.co.za vir verdere inligting en besprekings.
|
Die Cambridge Wiskunde AS-eksamens word internasionaal erken.
|
HsJvR word reeds in 2018 deel van hierdie program en vanjaar in Junie het ons vierde groep, bestaande uit sewe graad 11-leerders, hul Wiskunde AS-eksamen afgelê.
|
Die groep het hul baie goed van hul taak gekwyt en is beloon met puik uitslae wat 5 A-simbole en 1 B-simbool insluit. Ons spog graag met al die leerders se harde werk!
|
Adrian Huysamen, Gerard Snijders en Johann Jordaan se uitsonderlike prestasie van 85%+ verdien spesiale melding. Mooi so!
|
Baie geluk aan elkeen van hierdie leerders. Ons is besonder trots op julle!
|
Assesseringsprogram: Kwartaal 3
|
Alle leerders wat verdere akademiese ondersteuning benodig, word aangemoedig om die intervensieklasse by te woon. Kliek gerus hier om die skedule te bestudeer.
|
Baie geluk aan ons netbalspeelsters met baie goeie uitslae teen Reddam House Constantia.
|
Baie geluk aan ons netbalspeelsters met uitstekende uitslae teen Fish Hoek High School gister.
|
Ons eerste span speel eerskomende Maandag om 15:15 teen Fish Hoek High (weg). Die bus vertrek aan die einde van die periode 7 Maandag. Alle ander spanne oefen gewone tye.
|
Woensdag: Alle spanne oefen.
|
Donderdag: Herchel Girls' (weg) - ons wag vir die finale program en stuur dit dan deur.
|
Saterdag: Interskole teen Dirkie Uys (tuis)
|
Ons rugbymanne speel hierdie naweek teen Fish Hoek High School (weg). Sterkte!
|
Busse vertrek moreoggend om 07:00 vanaf die skool.
|
Die busse sal teen 13:30 terug wees by die skool.
|
Ons wedstryde teen Rhodes High vir die seuns en Hoërskool Parow vir die dogters is ongelukkig Woensdag uitgestel as gevolg van gure weerstoestande. Ons sal die veranderende datums so gou as moontlik kommunikeer.
|
Ons wens die volgende spanne alle sterkte toe met hul wedstryde:
|
- Die o.19-seuns speel môre om 10:00 teen CBC St.John’s (weg).
- ’n Moontlike wedstryd vir die o.16-seuns word gereël teen Protea Hoogte volgende Woensdag (weg). Ons wag vir terugvoering en kommunikeer die reelings so gou as moontlik met u.
- Die o.16- en o.19 hokkiedogters speel Woensdag (17de) teen Hoërskool President (tuis). Die o.16’s speel 15:15 en die o.19’s 16:30.
Almal is welkom om ons spanne te kom ondersteun.
|
Oefening vind Maandag plaas. Maak asb. seker dat almal teenwoordig is ter voorbereiding vir ons wedstryde Woensdag asook interskole volgende naweek.
|
WELGEMEEND MAAND VAN KUNS
|
Die Augustus Maand van Kuns-uitstalling sluit in werke uit die Kilbourn Versameling, Die Kunskamer/Schachat Versameling, Wiese Versameling en ander versamelings.
|
Die insameling van fondse vir die restourasie en onderhoud van Welgemeend vorm 'n integrale deel van die Kunsmaand-program. Strauss & Co het weer ingewillig om 'n fondsinsamelings veilings ten bate van Welgemeend op Strauss & Co se platvorm, aan te bied. Dié veiling vind plaas vanaf 15 tot 18 Augustus 2022. Meer besonderhede oor dié spesiale veilings opsies volg.
|
Baie dankie aan Strauss & Co vir hul welwillenheid in die verband.
|
Besoek die webtuiste www.welgemeendart.co.za vir meer inligting oor die Kunsuitstalling | Rondleiding | Fondsinsamelings-veiling | Kunspraatjies | Strauss & Co Kunswaardasies | Klassieke musiek-uitvoering.
|
Kontak ons asseblief direk by info@welgemeendart.co.za of 063 910 0154 indien u besprekings wil maak vir enige van die Kunspraatjies en Klassieke musiekuitvoering deur Gerhard Joubert.
|
Koor: Slegs Woensdag 07:10
|
Orkes: Maandag en Donderdag 07:10
|
Baie geluk aan ons Jan van Riebeeck-tienertoneelgeselskap met hul groot sukses by die Fraserburg Logan-toneelfees verlede naweek.
|
Hierdie fees is die oudste jeugteaterfees in Suid-Afrika en nie minder nie as 33 skoolproduksies van regoor die land het deelgeneem.
|
Ons produksie “wat die water weet”, met teks en regie deur Kanya Viljoen en Nell van der Merwe as hulpregisseur, wen die trofee vir die BESTE ENSEMBLE asook die PIETER FOURIE-TROFEE vir UITMUNTENDE DIENS AAN DIE FEES (SPEL, KARAKTERISERING EN INTENSITEIT).
|
Ons is boonop benoem as een van die TOP 5-produksies van die fees!
|
Die naweek was egter soveel meer as net ‘n kompetisie: elke kerkbasaarpannekoek, koffie by die “Pers Malva” en bak in die sonnetjie op die huis se stoep, vorm deel van ‘n onvergeetlike ervaring!
|
Ons nooi almal uit om hierdie groep in aksie te beleef op 23 Augustus in die Baxter-teater, wanneer ons aan die Wes-Kaapse streeksfees van vanjaar se ATKV-Tienertoneelkompetisie deelneem. Ons is baie trots op jul, Jan van Riebeeckers!
|
Die skoolwinkel is volgende week Woensdag vanaf 13:30 tot 14:30 oop.
|
|
|
|
|
|
|