|
|
|
|
|
|
Ons is baie opgewonde om vandag en more ons vriende van Dirkie Uys hier op ons kampus en sportgronde te verwelkom. Dis ook ekstra spesiaal om ons eie laerskool en ook Laerskool Dirkie Uys hier te verwelkom.
|
Ons weet die twee dae gaan in die gees van baie goeie sportmanskap geniet word.
|
Kliek gerus hier vir die volledige program, foto's van die spelers en belangrike inligting. Hou gerus ook ons sosiale media dop vir uitslae en nuus deur die loop van die naweek.
|
Let asseblief daarop dat ons die hoërskoolhokkiewedstryde na St. Cyprians se astro geskuif het vanweë die baie nat grasveld by St. Michaels.
|
Ons sluit vandag se skooldag vanaf 13:00 tot 14:05 met die Big Brag af en hier heers groot opgewondenheid onder die leerders. Ons deel later vandag ook foto's hiervan.
|
Ek hoop dat élke Jan van Riebeecker die naweek sal kom ondersteun en geniet. Ek maak baie staat op almal se goeie gedrag, sportmangees en gasvryheid teenoor ons besoekers. Geniet dit! #JvRTrots!
|
KUNSMAAND: OUDLEERDER, GERHARD JOUBERT TREE SONDAG OP!
|
U word hartlik uitgenooi na Gerhard Joubert, oudleerder van die skool se klavierkonsert op Sondag, 21 Augustus, 11:30 vir 12:00 in Welgemeend.
|
Gerhard Joubert is ’n derdejaar BMus- (klavieruitvoering) student van prof François du Toit aan die Universiteit van Kaapstad. Hy het meermale as solis opgetree met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) deur eerste bewegings van klavierkonserte van Mozart, Schumann en Chopin uit te voer. In September 2021 het hy, met Bernhard Gueller as dirigent, Schumann se volledige klavierkonsert met die KFO opgeneem. Gerhard het ook in dieselfde maand twee uitvoerings van die Schumann klavierkonsert met die Namibiese Nasionale Simfonieorkes (NNSO) gegee.
|
Kom besigtig ook die ongelooflike Homage: Erken/Verken Kunsuitstalling wat tans in Welgemeend te sien is. Dit word gereken as die beste uitstalling van Suid-Afrikaanse Kuns van die afgelope 100 jaar wat al ooit in Suid Afrika gehou is. 'n Eenmaal in 'n leeftyd ervaring!
|
Daarmee saam word heerlike wyn en verversings aangebied. Kom ontspan, verkwik en verryk julself na 'n harde, besige week. Stuur ook asseblief aan vir vriende en familie.
|
Alle gelde wat genereer word tydens kunsmaand word teruggeploeg in die restorasie van Welgemeend en die Boerneefversameling.
|
ATLETIEKINLIGTING- EN KUIERAAND
|
Alle ouers/voogde wat belangstel om graag meer uit te vind omtrent ons opwindende atletiekplanne en ook diegene wat moontlik op die oueratletiekkomitee wil dien, word uitgenooi om ons nuwe hoofafrigter, Sors Joubert, en die atletiekpersoneel te kom ontmoet.
|
Ons kom volgende Donderdag, 25 Augustus, om 17:30 in die klubhuis bymekaar. Heerlike sop en iets te drinke sal aangebied word.
|
Indien u belangstel om die geleentheid by te woon, stuur asseblief ’n e-pos na mnr. Hans-Peter Klink by hans-peter.klink@janvanriebeeck.co.za.
|
Ons tweede aanlyn veiling skop op eerskomende Dinsdag, 23 Augustus om 12:00 af en u is welkom om nou reeds op www.bidpro.co.za te registreer.
|
Almal word ook hartlik uitgenooi om die afsluitingsfunksie van vanjaar se veiling in Welgemeend by te woon. Dié kaas-en-wynfunksie vind volgende Vrydag, 26 Augustus vanaf 18:00 tot 22:00 plaas. Hier kan u vir die laaste vier uur heerlik saamkuier en teen mekaar - en die mense wat aanlyn inskakel - vir oulaas bie.
|
Dié aanlyn veiling is ons grootste fondsinsamelingpoging vanjaar en ons maak werklik staat op almal se ondersteuning. By voorbaat dankie!
|
Loslitdag vind vanjaar op Vrydag, 2 September, plaas.
|
As leerders ’n plakker koop, kan hul op hierdie dag in civvies skool toe kom.
|
Die tema van vanjaar is #Celebrate SA en almal word gevra om iets tipies Suid-Afrikaans te dra om te wys hul ondersteun die inisiatief.
|
Plakkers is te koop by die finanskantoor en op Karri en die koste beloop R20,00.
|
Die fondse wat ingesamel word, is ten bate van mense met gestremdhede. Ondersteun asseblief hierdie inisiatief deur ’n plakker te koop!
|
Ons is baie opgewonde om ons eerste ouer-lentedans op Vrydag, 2 September aan te bied.
|
Ons sal verseker dat daar heerlike dansmusiek gespeel word, u bring u eie mandjie met eet- en drinkgoed en betaal slegs R20 vir ’n gesellige kuieraand hier in ons skoolsaal. R10 van dié bedrag is ook ten bate van ons 'Loslitdag'-inisiatief.
|
Ons sal ook wyn te koop aanbied. Besprekings kan via Karri gedoen word. Kliek gerus hier vir meer inligting.
|
Ons bied weer ’n pretsportdag aan waartydens ons Jan van Riebeeckers in spanne teen en saam met die alumni en ouers sport speel. Almal word uitgenooi om deel te neem aan hokkie, raakrugby, netbal, landloop en skaak.
|
Kliek gerus hier om na die program te kyk. Enige ouer of oudleerder wat belangstel om in een van die spanne deel te neem, is welkom om vir mnr. Jan Henning ’n e-pos te stuur: jan.henning@janvanriebeeck.co.za. Die leerderinskrywings sal tydens skoolure gedoen word.
|
Ons sien uit na ’n pretdag en heerlike samesyn in die klubhuis vanaf 12:00.
|
Ons bied op 28 Oktober weer die JvR-gholfdag aan en nooi alle belangstellendes om so gou as moontlik ’n vierbal vir dié dag in te skryf. Ons het ook heerlike opsies vir borgskappe en bemarking. Kliek gerus hier vir al die inligitng en kontak vir Sampie Griessel by sampie.griessel@janvanriebeeck.co.za vir verdere inligting en besprekings.
|
Assesseringsprogram: Kwartaal 3
|
Alle leerders wat verdere akademiese ondersteuning benodig, word aangemoedig om die intervensieklasse by te woon. Kliek gerus hier om die skedule te bestudeer.
|
Ek herinner graag aan die volgende reëls en vra u ondersteuning om dit ook van die huis se kant af te beklemtoon:
|
* Leerders mag nie oorfone gebruik wanneer hul in skool- of sportdrag geklee is nie.
|
* Leerders mag slegs hul JvR-reënbaadjie oor hul skaalbaadjie dra indien dit reën;
|
geen reënbaadjies word toegelaat indien ’n leerder nie ook sy/haar skoolbaadjie aanhet nie.
|
* Daar is steeds te veel leerders (veral op Vrydae) afwesig. Kontak my asseblief direk by skoolhoof@janvanriebeeck.co.za indien u enige uitdagings beleef om te verseker dat u kind(ers) elke dag skool bywoon - ons help graag planne maak!
|
Somersporte skop Maandag, 22 Augustus af
|
Ons somersportprogram skop eerskomende Maandag af.
|
Alle leerders het gister vir hul somersport geregistreer en ek verwag dat almal asseblief hul oefeninge getrou bywoon. Leerders mag tweede pouse hul sportklere aantrek (met volle skoolsweetpak) om te verseker dat hul betyds is vir hul oefeninge.
|
Slegs die hokkiespelers wat nog volgende week hul laaste wedstryde speel en netbalspelers wat nog moontlik in die finaal van hul onderskeie ligas speel, gaan voort met wintersportoefeninge.
|
Kliek gerus hier om die somersportoefenprogram af te laai. Ons sien uit na ’n opwindende seisoen!
|
Ons wens die volgende spanne alle sterkte toe met hul wedstryde volgende week.
|
- Die o.16- en o.19-hokkiedogters speel Maandag teen Hoërskool Parow (weg). Die o.16’s speel 15:15 en die o.19’s om 16:30.
- Die o.16- en o.19-seuns speel volgende Saterdag teen Cannons Creek (tuis). o.16’s speel 8:30 en die o.19’s speel om 9:30 .
Die finaal van ons dogtersliga vind volgende Saterdag by Hoërskool President plaas. Ons gee terugvoering sodra ons uitslae kry van wie moontlik in die finaal is.
|
Dit is ook ons laaste week van hokkiewedstryde vir die seisoen. Ons vra dat almal hierdie week oefeninge sal bywoon asb.
|
Oefening vind Maandag vir die seuns, en Woensdag vir beide meisies en seuns plaas.
|
Koor: Slegs Woensdag 07:10
|
Orkes: Maandag en Donderdag 07:10
|
Baie sterkte aan ons Tienertoneelgeselskap wat eerskomende Dinsdag, 23 Augustus om 13:00 in die Baxter Teater aan die Wes-Kaapse streeksronde van die ATKV-Tienertoneelkomeptisie deelgeem - ons weet dit sal baie goed gaan en hou styf duimvas vir mooi uitslae. Die streeksfinaal vind volgende Saterdag, 27 Augustus plaas.
|
Die skoolwinkel is volgende week Woensdag vanaf 13:30 tot 14:30 oop.
|
Ons sien mekaar langs die sportveld! Mooi wense.
|
|
|
|
|
|
|