Wapen (VrydagFiltse)
26 Augustus 2022
facebook instagram custom 
Goeiedag Ouers/Voogde

Ons matrieks vier vandag 40 Days en met ’n skok beself ’n mens die jaar staan einde se kant toe. Hul het nog een week van skool oor en dan skop die rekordeksamen op 5 September af.

Die res van die skool se toetsreeks sal op 19 September begin en 23 September eindig. Volle akademiese onderrig volg in die laaste week van die kwartaal om te verseker dat die laaste nuwe akademiese inhoud behoorlik onderrig word voordat die Oktober/November-eksamens baie vinnig op ons is wanneer die skole weer in Oktober heropen.
Skoolbywoning sal daarom van die uiterste belang wees en ek versoek u nou reeds vriendelik om nie versoeke te rig dat u kind(ers) vroeër as 30 September met vakansie kan gaan nie. Ek maak staat op u samewerking.

Ons 2023-beplanning is ook goed op dreef en ek nooi u ook graag uit om nuwe voorstelle oor enige skoolaspek met my te bespreek. Kontak my gerus by skoolhoof@janvanriebeeck.co.za en ons reël ’n gesprek.

Die bouwerk aan ons studenteplein vorder goed en die projek behoort teen die middel van September afgehandel te wees. Ons wil ook dan baie graag so gou as moontlik ons hele skoolgebou wit verf en beplan ’n opwindende Colour Run (met ’n verskil!) om ons kampus vir vroeg Saterdagoggend, 9 September. Teken asb. die datum aan en nooi solank u vriende.
Die inskrywingfooi is ’n blik verf of ’n donasie vir ’n blik verf. Die soort verf en kleurkode sal vroeg volgende week deurgegee word. Ons sal ook in eerskomende Dinsdag se JvR-Nuus en op sosiale media die advertensie met tye en reëlings plaas.
Dankie by voorbaat vir almal se ondersteuning om te help dat ons skoolgebou ook met ’n nuwe vars voorkoms kan spog.

Geniet die naweek!
***************************************************************************************************
GRAAD 9-VAKKEUSE-INLIGTINGSESSIE
Datum: Dinsdag, 30 Augustus om 18:00 tot 19:30
Kuiergeleentheid vir graad 9-ouers begin om 17:15 tot 18:00

Ons nooi alle graad 9-ouers/voogde uit om vooraf sop en brood saam te geniet. Voltooi asseblief die vorm teen Saterdag om 10:00 indien u die vakkeuseaand wil bywoon.

Ons versoek dat alle graad 9-leerders ook die inligtingsessie in volle skooldrag sal bywoon.

PRYSUITDELING: AANSOEK OM MERIETE
Die aansoeke om meriete vir aktiwiteite buite skoolverband het vandeesweek geopen en sluit op Vrydag, 18 September. Indien u kind enige prestasies buite skoolverband behaal het, bestudeer asseblief die merietebeleid en vul die onderstaande skakel voor 18/09/2022 in om aansoek te doen vir meriete: https://forms.gle/sxFYEoVwyqKoYX876

Die skool se merietebeleid is beskikbaar op die skoolwebtuiste (www.janvanriebeeck.co.za) onder Ouers > Beleide bo regs op die tuisblad.

Kontak gerus me. Annelie Nimmo of me. Lin Olivier vir enige verdere navrae.

JvR-AANLYN VEILING 2022
Baie dankie aan almal wat ons die week ondersteun het in ons veiling-fondsinsamelingpoging - ons waardeer dit!

Die afsluitingsfunksie vanaand begin om 18:00 en vanaf 18:30 se koers kan diegene wat nie kaartjies gekoop het vir die kaas-en-wyn in Welgemeend nie, gereed wees om vanaf die huis teen die gaste hier in Welgemeend ook te bie.

Dié aanlyn veiling is ons grootste fondsinsamelingpoging vanjaar en ons maak werklik staat op almal se ondersteuning. Kliek gerus hier om weer al die lotte te bestudeer. Registreer by www.bidpro.co.za of laai die toepassing op u foon af om ook te bie.

By voorbaat dankie!

LOSLITDAG 2022
Loslitdag vind volgende Vrydag, 2 September, plaas.
As leerders ’n plakker koop, kan hul op hierdie dag in civvies skool toe kom.
Die tema van vanjaar is #Celebrate SA en almal word gevra om iets tipies Suid-Afrikaans te dra om te wys hul ondersteun die inisiatief.

Plakkers is te koop by die finanskantoor en op Karri en die koste beloop R20,00.

Die fondse wat ingesamel word, is ten bate van mense met gestremdhede. Ondersteun asseblief hierdie inisiatief deur ’n plakker te koop!

OUER-LENTEDANS 2022
Ons is baie opgewonde om ons eerste ouer-lentedans volgende Vrydag, 2 September aan te bied.
Ons sal verseker dat daar heerlike dansmusiek gespeel word, u bring u eie mandjie met eet- en drinkgoed en betaal slegs R20 vir ’n gesellige kuieraand hier in ons skoolsaal. R10 van dié bedrag is ook ten bate van ons 'Loslitdag'-inisiatief.
Ons sal ook wyn te koop aanbied.
Besprekings kan via Karri gedoen word. Kliek gerus hier vir meer inligting.

ALUMNI-SPORTDAG 2022
Ons bied weer volgende Saterdag, 3 September, ’n pretsportdag aan waartydens ons Jan van Riebeeckers in spanne teen en saam met die alumni en ouers sport speel. Almal word uitgenooi om deel te neem aan hokkie, raakrugby, netbal, landloop en skaak.

Kliek gerus hier om na die program te kyk en indien u ook wil deelneem, voltooi asb. die vorm hier: https://bit.ly/SportfamilieJvR.

Ons sien uit na ’n pretdag en heerlike samesyn in die klubhuis vanaf 11:30.

JvR-GHOLFDAG 2022
Ons bied op 28 Oktober weer die JvR-gholfdag aan en nooi alle belangstellendes om so gou as moontlik ’n vierbal vir dié dag in te skryf. Ons het ook heerlike opsies vir borgskappe en bemarking. Kliek gerus hier vir al die inligitng en kontak vir Sampie Griessel by sampie.griessel@janvanriebeeck.co.za vir verdere inligting en besprekings.

AKADEMIE
WOW-woorde open wêrelde
Daar sal volgende week uitdunne wees vir graad 8- en 10-leerders wat ons streek in dié spelkompetisie sal verteenwoordig.
Uitdunne sal Dinsdag, 30 Augustus direk na skool, 14:20 tot 15:00 in me. van Rensburg se klas plaasvind.

Leerders moet die eerste vyftig spelwoorde van die WOW-spellys vir die uitdunne voorberei. Lyste is by me. van Rensburg beskikbaar.

Ons is opgewonde oor die moontlike prestasies wat hieruit kan spruit. Sterkte!

Assesseringsprogram: Kwartaal 3
Kliek gerus hier om die volledige assesseringsprogram vir graad 8, graad 9, graad 10, graad 11 en graad 12 af te laai.

Intervensieklasse
Alle leerders wat verdere akademiese ondersteuning benodig, word aangemoedig om die intervensieklasse by te woon. Kliek gerus hier om die skedule te bestudeer.

DISSIPLINE
Ek herinner graag aan die volgende reëls en vra u ondersteuning om dit ook van die huis se kant af te beklemtoon:

* Leerders mag nie oorfone gebruik wanneer hul in skool- of sportdrag geklee is nie.
* Leerders mag slegs hul JvR-reënbaadjie oor hul skaalbaadjie dra indien dit reën;
geen reënbaadjies word toegelaat indien ’n leerder nie ook sy/haar skoolbaadjie aanhet nie.

SPORTSAKE
Somersporte
Kliek gerus hier om die somersportoefenprogram af te laai. Ons sien uit na ’n opwindende seisoen!

Hokkie
Ons wens die volgende spanne alle sterkte toe met hul finale wedstryde vir die seisoen:
  • Ons o.19-hokkiedogters dring deur na die liga-finaal en speel môre om 10:30 vir die goue medalje teen Camps Bay High School op Hoërskool President se velde.
  • Die o.16- en 0.19-seuns speel ook hul finale ligawedstryde more teen Cannons Creek (tuis). Die o.16’s speel om 8:30 en die o.19’s speel om 9:30.
Netbal
Die volgende spanne dring deur na die liga-finaal wat volgende Saterdag, 3 September plaasvind: 0/19B, 0/15A en 0/15B - baie geluk; ons is baie trots op jul!

Hierdie spanne oefen soos gewoonlik Maandag, Woensdag en Donderdag volgende week.

KULTUUR
Oefentye volgende week
Koor: Maandag 16:00 en Woensdag 07:10
Orkes: Maandag en Donderdag 07:10

Tienertoneel
Ons tienertoneelgroep het Dinsdag aan die ATKV-Tienertoneelkompetisie deelgeneem en ons hoor teen vanaand of hul moreaand op die Baxter-verhoog in die Wes-Kaapse streeksfinaal optree. Indien ons deurdring na die finaal, sal ons per WhatsaApp reëlings rondom tye en kaartjieverkope deurgee. Ons hou styf duimvas!

'n Aand van kuns en sang
Aangebied deur die Welgemeend Konsertreeks, in samewerking met die Welgemeend Kunsmaand en Strauss & Co

Kom ervaar die mooi van die besondere kunswerke wat hierdie Augustus in die Welgemeend vertoon word, terwyl u na die mooiste kunsliedere luister.

Die Welgemeend Konsertreeks en Welgemeend Kunsmaand is baie opgewonde om die bekroonde tenoor, Makudu Senaoana en Lisa Engelbrecht, volgende Woensdag, 31 Augustus om 19:30 te verwelkom. Hul program sluit ’n verskeidenheid klassieke kunsliedere in Moenie hierdie besonderse konsert misloop nie.

Kaartjies is teen R200 op Quicket beskikbaar: https://qkt.io/c7FXAE

SKOOLWINKEL
Die skoolwinkel is volgende week Woensdag vanaf 13:30 tot 14:30 oop.

Vriendelike JvR-groete
Pieter Rademeyer
Skoolhoof
facebook instagram custom 
Email Marketing Powered by MailPoet