Wapen (VrydagFiltse)
16 September 2022
facebook instagram custom 
Goeiedag Ouers/Voogde

Die amptelike inhuldiging van ons nuwe matriekraad het vanoggend in Welgemeend plaasgevind. Baie geluk aan ons leerderleiers wat hul op so ’n wyse voor hul maats, ouers/voogde en personeel verbind het tot die verwagtinge wat ons van ons leerderleiers koester.
Ons is baie trots op hierdie groep jongmense wat in die volgende jaar die skool met groot entoesiasme wil lei.

Dit was ook my groot voorreg om die drie graad 11-VRL-lede aan te kondig. Baie geluk aan Cara Beyer, Timoné Joubert en Simon van den Berg!

Hierdie drie leerders is deur die graad 11-groep verkies en verteenwoordig ook die leerders op die skool se beheerliggaam.
Een van hierdie drie leerders sal tydens ons prysuitdeling op 13 Oktober as die JvR-Hoofleier aangekondig word. As hoofleier sal hy/sy die Verteenwoordigende Raad van Leerders (met die matriekraad ook onder hul) lei.

Die vier hoofleiers uit die matriekraad (hoofseun en -dogter en onderhoofseun en-dogter) word deur die graad 10- tot 12-leerders verkies en lei die matriekraad.
Hierdie vier leerders sal ook by ons prysuitdeling aangekondig word.
***************************************************************************************************
#JanOMGEE HOU INSAMELING
Alle Jan van Riebeeckers word uitgenooi om vanaf eerskomende Maandag alle ongebruikte sportklere, -skoene of sporttoerusting (bv. ’n ou hokkiestok) skool toe te bring en te skenk aan leerders in minderbevoorregte omstandighede.

#JanOMGEE beplan om hierdeur uit te reik na die verskeie organisasies waar ons vanjaar betrokke is om aan belowende sportleerders ook so ondersteuning te bied.

Allle items moet asseblief in ’n netjiese en bruikbare toestand wees. Ons sal dit baie waardeer indien die klere en items gewas kan wees en in ’n sak geplaas word met ’n nota by wat die grootte, itemsoort en geslag aandui (bv. medium hokkiehemp/ nr. 7-seunrugbytoks). Let asseblief ook daarop dat geen klere met ons skool se naam of wapen op vir hierdie projek geskenk kan word nie.

Plaas asseblief alle bydraes in die groen dromme voor me. Lotriet se klaskamer.
By voorbaat dankie aan almal wat ons in hierdie projek gaan ondersteun - ons waardeer dit!

#JanVOGEL/#JanNATUUR-FOTOKOMPETISIE
Die natuur is tans op sy mooiste en diere en voëls doen alles in hulle vermoë om maats te kry. Daar is 'n vakansie op hande... daarom loods JanVogel/JanNatuur 'n fotokompetisie vir al ons leerders.

Daar is 4 kategorieë:
  • Diere
  • Voëls
  • Insekte en plante
  • Landskappe/weerpatrone
Inskrywings beloop R10 per foto en leerders kan soveel foto's inskryf as wat hulle wil. Instruksies is op die inskrywingsvorm wat u hier kan aflaai.
Die kompetisie sluit 17 Oktober 2022. Laat die sluiters sing!

JAPANDAG EERSDAAGS HIER OP ONS KAMPUS GEVIER
Ons is trots om volgende Saterdag (24 September) die tuiste te wees van die Japannese ambassade se Japandagvieringe.

Hier volg meer besonderhede rondom die dag en die aanbiedinge: die verrigtinge vind dié dag tussen 09:00 en 15:00 plaas en toegang is gratis.

Daar is gratis werkswinkels vanaf 09:30 tot 14:00 en sluit die volgende in:
  • Origami
  • Ikebana
Daar sal ook optredes in die Jubeleumsaal (by ons swembadkompleks) wees vanaf 10:00 tot 13:00 en dit sluit die volgende vegkuns in:
  • Kentjutsu (swaardkuns)
  • Karate
  • Kyudo (pyl en boog)
  • Judo
  • Aikido
Die program word om die uur herhaal en daar sal ook iligtingstalletjies buite die saal wees waar die publiek navraag sou kon doen oor die verskeie sportsoorte.

Die volgende uitstallings is vanaf 10:00 tot 14:00 beskikbaar:
  • Mokuhanga - houtblokdruk
  • Koi
  • Bonsai - miniatuur bome
  • Bonsan- miniatuur mostuine
Die volgende stalletjies is vanaf 10:00 tot 14:00 beskikbaar:
  • Shiba Inu - Japannese honde
  • Fuji film-fotohoekie waar die feesvangers foto's van hulself kan neem teen 'n foto-agtergrond van verskeie Japannese landmerke
  • Japannese taalklasse
Die volgende vertonings sal vanaf 10:00 tot 15:00 op die hoofverhoog aangebied word:
  • Shakuhachi - fluit
  • Koto- Harp
  • Cosplay-kompetisie
Verder is daar gratis demonstrasies wat die volgende Japannese drankies insluit:
  • Sake (vir persone van 18 en ouer)
  • Whisky (vir persone van 18 en ouer)
  • Tee-demonstrasie waar verskeie Japannese tees bekendgestel word
  • Mochi tsuki - die kap van rys totdat dit ’n ryskoek vorm. Hierdie demonstrasie sal om 14:30 op die verhoog plaasvind en 300 mochi's sal aan die publiek uitgedeel word. COVID-regulasies word streng toegepas.
Daar is verskeie kosstalletjies beskikbaar wat die volgende insluit:
Yakitori, karaage, shochu, sushi, ramen, taiyaki, mochi en onigiri

Items wat in die kombuis gebruik word, soos messe en vatdoeke, is ook beskikbaar. Daar sal ook verskeie vegetariese opsies, asook halaalopsies en bier beskikbaar wees. Café Jan sal pannekoek verkoop vir so ’n ietwat van ’n Suid-Afrikaanse geur op Erfenisdag.

Die volgende werkswinkel is die enigste een waarvoor vooraf by Tjing Tjing bespreek kan word:
Tjing Tjong het as verkoper geregistreer en hul bied ’n groep van 16 die geleentheid om eg Japannese sushi te kan maak o.l.v. sjef Ryan Reys. Die koste beloop R400.00 per persoon en dit sluit n sushimat en alle bestanddele in.

Om te bespreek, sakel gerus direk met Tjing Tjing by: info@tjingtjing.co.za

Moenie hierdie besondere kultuurervaring hier op ons kampus misloop nie!

FLANEUR-OPWIPMARK BY WELGEMEEND
’n Opwindende opwipmark by Welgemeend wag op Kapenaars aan die einde van die maand. Daar gaan werklik iets vir elke smaak wees: van mooigoed tot plaasprodukte. Die opwipmark skop op 28 September met ’n aandmark af en is op 29 en 30 September deur die dag oop. Kliek gerus hier vir die besonderhede en kom kuier saam!

JvR-GHOLFDAG 2022
Ons bied op 28 Oktober weer die JvR-gholfdag aan en nooi alle belangstellendes om so gou as moontlik ’n vierbal vir dié dag in te skryf. Ons het ook heerlike opsies vir borgskappe en bemarking. Kliek gerus hier vir al die inligitng en kontak vir Sampie Griessel by sampie.griessel@janvanriebeeck.co.za vir verdere inligting en besprekings.

DISSIPLINE
Baie dankie vir u samewerking om te verseker dat u kind betyds is vir skool - dit het vandeesweek uitstekend gegaan met slegs enkele gevalle waar leerders effe laat was. Alle ingange word om 7:40 gesluit en leerders wat laat is moet asseblief by ontvangs aanmeld.

AKADEMIE
Toetsreeks: Graad 8-11
Die toetsreeks vir ons graad 8-11-leerders skop eerskomende Maandag, 19 September af en eindig volgende Vrydag, 23 September. Kliek gerus weer hier om die rooster af te laai.

Leerders meld soggens om 7:40 in hul registerklasse aan en sal daar ingelig word waar hul skryfsessie op die dag plaasvind. In die meeste gevalle skryf leerders twee toetse per dag. Die skool verdaag steeds om 14:05.

Die sportprogram gaan soos normaal voort, maar onderwysers sal nie volgende week strafpunte toeken vir leerders wat nie oefeninge bywoon nie. Ons moedig tog al ons leerders aan om steeds getrou sport by te woon - dis goed om na die toetsdag ’n bietjie vars lug en goeie oefening te kry!

Die studielokaal sal ook smiddae tot 16:30 oop wees waar leerders rustig kan werk en studeer. Daar sal toesig wees.

Kontak gerus me. Roosmaryn Schwartz wat aan die stuur van die toetsweek se sake staan by roosmaryn.schwartz@janvanriebeeck.co.za indien u enige navrae het.

Indien u kind om mediese redes nie ’n toets kan aflê nie, moet die mediese sertifikaat asseblief onmiddellik aan me. Brigitte Eygelaar by admin@janvanriebeeck.co.za asook die graadhoof gestuur word. Dankie vir u samewerking in die verband.

Sterkte aan al ons leerders - ons sien uit na mooi uitslae aan die einde van die kwartaal!

GRAADSAKE
Graad 12-Lenteskool 2022
Alle graad 12-leerders word uitgenooi om gedurende die Oktober-skoolvakansie ’n lenteskool hier by Jan van Riebeeck by te woon. Kliek gerus hier vir al die nodige inligting. Moedig asb. u kind aan om van hierdie geleentheid gebruik te maak.
Matrieks moet teen 22 September aandui watter sessies hul wil bywoon.

Graad 11-kamp
Ons is opgewonde om op 29 en 30 September aan ons graad 11-leerders die geleentheid te bied om as graadgroep saam te gaan kamp. Die doel hiervan is geesbou en om die groepseenheid te versterk noudat hul die nuwe seniors en leiers in die skool is wanneer die vierde kwartaal aanbreek.

Kliek gerus hier vir al die nodige inligting. Die lys met benodighede is ook hier beskikbaar.

Ouers/Voogde moet asseblief die vrywaringvorm voltooi alvorens leerders op die kamp mag gaan. Dit moet asseblief teen volgende week aan me. Steyn of mnr. Geldenhuys gestuur word. Kliek gerus hier om dit af te laai.

KULTUUR
Daar sal volgende week geen koor- of orkesoefeninge wees nie.

SKOOLWINKEL
Die skoolwinkel sal tot die einde van die kwartaal gesluit wees.
Indien u dringend items benodig, kontak asseblief vir me. Sanette van Loggerenberg by sannette.loggerenberg@janvanriebeeck.co.za.

Vriendelike JvR-groete
Pieter Rademeyer
Skoolhoof
facebook instagram custom 
Email Marketing Powered by MailPoet