|
|
|
|
|
|
|
Baie dankie aan al ons Jan van Riebeeckers vir ’n aangename en baie suksesvolle kwartaal hier by ons skool.
|
Ons het groot rede om baie trots te wees op uitstekende akademiese-, kultuur- en sportprestasies gelewer die afgelope drie maande. Ek weet dit verg baie harde werk, toewyding en dikwels ekstra deursettingsvermoë en daarom is ons trots op ons leerders wat wil deelneem en te alle tye hul bes doen.
|
’n Groot dankie aan ons personeel vir hul baie harde werk die kwartaal. Die verwagtinge in die onderwys en in ’n skool soos Jan van Riebeeck bly ongelooflik hoog en ek is dankbaar vir puik kollegas wat bereid is om baie ekstra myle vir ons leerders te stap. ’n Spesiale dankie aan die leierspan en ons waarnemende adjunkhoof, me. Huibrecht Steyn, vir jul ondersteuning, saamwerk en die uitstekende bestuur van jul protefeuljes.
|
Mag almal ’n heerlike vakansieweek geniet - en wanneer ons mekaar weer op 11 Oktober sien, gaan ons met groot entoesiasme voort om op die vele terreine van ons skoollewe geleenthede te skep vir ons leerders om te leer en tot gebalanseerde jongmense te ontwikkel.
|
***************************************************************************************************
|
Die graad 8-12's se sport- en kultuurprysuitdeling asook die graad 12-akademiese prysuitdeling vind op Donderdag, 13 Oktober om 18:30 in die skoolsaal plaas.
|
Ons nuwe 2023-hoofleiers word ook tydens dié geleentheid aangekondig.
|
Leerders sal op Dinsdag, 11 Oktober die geleentheid ontvang om hulle toekennings te kontroleer en die pryswenners en hul ouers/voogde sal ook op 11 Oktober per SMS in kennis gestel en uitgenooi word na hierdie geleentheid.
|
U word dus versoek om u boodskappe dop te hou vir hierdie uitnodiging indien u verwag dat u kind vir enige toekennings sal kwalifiseer.
|
Ons neem op Vrydag, 14 Oktober afskeid van ons matrieks tydens die jaarlikse Witrokdag en alle ouers/voogde van ons matrikulante word vriendelik uitgenooi om hierdie spesiale geleentheid by te woon.
|
Kliek gerus hier vir die uitnodiging en hier vir ’n skrywe van die organiseerders.
|
Ons sien daarna uit om u hier te ontvang!
|
#JanVOGEL/#JanNATUUR-FOTOKOMPETISIE
|
Die natuur is tans op sy mooiste en diere en voëls doen alles in hulle vermoë om maats te kry. Daar is 'n vakansie op hande... daarom loods JanVogel/JanNatuur 'n fotokompetisie vir al ons leerders.
|
- Diere
- Voëls
- Insekte en plante
- Landskappe/weerpatrone
Inskrywings beloop R10 per foto en leerders kan soveel foto's inskryf as wat hulle wil. Instruksies is op die inskrywingsvorm wat u hier kan aflaai.
|
Die kompetisie sluit 17 Oktober 2022. Laat die sluiters sing!
|
Die graad 10's bied op Woensdag, 19 Oktober ’n heerlike lentesokkie hier by die skool aan! Alle besonderhede volg aan die begin van die nuwe kwartaal, maar leerders kan solank kennis neem hiervan.
|
Buite-metgeselle is ook welkom, maar leerders sal weer volledige besonderhede van dié gaste moet verskaf. Ons sien uit na ’n gesellige aand!
|
Dis die maand Oktober en in dié mooiste maand hou ons weer op 22 Oktober, in Welgemeend, die jaarliks JvR-Alumni-Wynskou waar wynlandgoedere met ’n Jan van Riebeeck-verbintenis hul wyne kom uitstal en laat proe.
|
Die Jan van Riebeeck alumni-organisasie nooi graag alle Jan van Riebeeckers na dié geleentheid waar u topgehalte wyne kan proe, bestel vir latere gebruik en saam met vriende verkeer.
|
Die wynproe sluit ’n wynglas en die proe van 'n verskeidenheid wyne in.
|
Van die wynlandgoedere betrokke, is: Paul Clüver/ Van Loveren/Groot Constantia / Zorgvliet / Kleinood / Blaauwklippen.
|
Toegang is R130 per persoon. Klik gerus op die Quicket-skakel https://qkt.io/Gm1TRp om kaartjies te koop. Verversings word ook te koop aangebied
|
Ons sien daarna uit om u by hierdie besondere geleentheid te ontvang!
|
Die Groote Kerk hou op 22 Oktober ’n heerlike kermis. Die feestelikhede begin om 9:00 die oggend - ondersteun hul gerus. Kliek hier vir al die inligting!
|
Ons bied op 28 Oktober weer die JvR-gholfdag aan en nooi alle belangstellendes om so gou as moontlik ’n vierbal vir dié dag in te skryf. Ons het ook heerlike opsies vir borgskappe en bemarking. Kliek gerus hier vir al die inligitng en kontak vir Sampie Griessel by sampie.griessel@janvanriebeeck.co.za vir verdere inligting.
|
Leerders se rapporte is vroeër vanoggend per e-pos aan ouers/voogde gestuur.
|
Rig asseblief enige navrae rondom punte aan u kind se graadhoof.
|
Baie geluk aan ons leerders wat uitstekende uitslae behaal het. Ons is baie trots op die mooi prestasies! U moet asseblief ook in gedagte hou dat leerders slegs geassesseer is ten opsigte van kwartaal 3-inhoud.
|
Graad 12's se kwartaal 2-punte is ook intussen aangepas volgens die WKOD-riglyne; daarom mag van die vakpunte nou van vorige rapporte verskil.
|
Ons volg dieselfde somersportprogram soos in kwartaal 3. Kliek hier om dit weer af te laai.
|
Die o.19-netbaloefengroep sal ook in die nuwe kwartaal op Donderdae vanaf 14:30 tot 15:30 oefen.
|
Ons bied op 22 Oktober 'n opwindende bergfietsaflos en vaardigheidsgeleentheid vir hoërskoolleerders aan. Enigiemand wat wil betrokke raak of meer inligting verlang, kan gerus met mnr. Jan Henning gesels: jan.henning@janvanriebeeck.co.za.
|
Kliek hier vir al besonderhede! Ons sien daarna uit om al die bergfietsryers in ons gemeenskap by hierdie geleentheid te verwelkom!
|
ATKV-Tienertoneel in die nasionale finaal die vakansie
|
Ons is baie trots om vanjaar weer een van die top 10-produksies in die land te wees!
|
Moenie ons Jan van Riebeeckers volgende week in die ATKV-Tienertoneelfinaal op die Kunstekaapverhoog misloop nie! Bespreek gou.
|
Welgemeend Skool vir Musiek hou gala-aand!
|
Die Welgemeend Skool vir Musiek is trots om op Donderdag, 20 Oktober 'n gala-aand aan te bied vir alle leerders wat tans buitemuurse musiekonderrig by ons uitnemende musiekskool geniet.
|
Meer inligting volg vroeg in die nuwe kwartaal - teken asseblief solank die datum aan! Die konsert beloof om 'n sielsverrykende ervaring te wees wanneer leerders van regoor die stad hier in aksie gaan wees.
|
’n Musiekteater-skouspel: Kom Laat ons Dans en Sing (vol. 2)
|
Na verlede jaar se uiters suksesvolle vertoning van Kom Laat Ons Sing, bied Hoërskool Jan van Riebeeck die nuwe “verbeterde” musiekteaterbelewenis van 2022: Kom laat ons Dans en Sing, vol. 2 aan!
|
Hierdie besondere musiekteateraand vind op Dinsdag, 25 Oktober in ons skoolsaal plaas.
|
Kom laat ons Dans en Sing, vol. 2 is propvol bekende treffers van The Sound of Music, Les Misérables, Dreamgirls, The Greatest Showman, asook ’n paar nuwe musiekteateruittreksels van Hamilton, In the Heights en die geliefde ENCANTO.
|
Met soveel meer as net musiek, dans en teateruitbeeldings, beloof hierdie om ’n prettige en genotvolle aand vir die hele gesin te wees.
|
Kom geniet dus kultuur op sy beste en vertrek op ’n avontuur van teaterspel saam met die musiekteaterklub van die Hoërskool Jan van Riebeeck.
|
Kaartjies beloop R50 vir sitplekke op die galery, R100 vir ’n kaartjie in die skip van die Hoërskool Jan van Riebeeck-skoolsaal en R150 vir ’n kaartjie by ’n tafel (wat ook ’n verwelkomingsdrankie insluit). Bring gerus u eie piekniekmandjie en geniet versnaperings gekombineer met mooi musiek en teaterspel. Daar sal ook ’n kontantsnoepie beskikbaar wees.
|
Met choreografie deur Rushney Ferguson en ons talentvolle me. Regina Malan as musiekregisseur, is hierdie nog ’n produksie deur die regisseurs van die onlangse suksesvolle opvoering van Hairspray in die Baxter-teater.
|
Moenie hierdie vertoning misloop nie! Onthou: Dit is “One Night Only”!
|
Ons bied op Woensdag, 2 November ’n drama-afsluitingsaand aan waar ouers/voogde en ondersteuners die geleentheid sal hê om die beste 2022-drama-oomblikke te beleef. Ons leerders wat deelgeneem het aan kompetisies, eisteddfods, kunstefeeste, nasionale eksamens en in die dramaklas, sal hul beste werke met die gehoor deel. Teken asseblief die datum aan - meer inligting volg vroeg in die nuwe kwartaal!
|
|
|
|
|
|
|