Wapen (VrydagFiltse)
21 Oktober 2022
facebook instagram custom 
Goeiedag Ouers/Voogde

Baie dankie vir nog ’n opwindende week hier by ons skool. Ons is besig met die beplanning vir die 2023-skooljaar en ons sal binnekort ’n paar interessante brokkies nuus oor nuwe verwikkelinge, onderwysers en projekte met u begin deel.

Die graad 10's het gisteraand die lentebal aangebied en het so gesorg vir ’n laaste sosiale kuiergeleentheid vir ons leerders voordat die eksamens oor drie weke afskop. Baie geluk met ’n mooi geleentheid.

Ek vertrou dat alle leerders nou hul volle aandag op hul akademiese werk sal rig om te verseker dat hul die beste moontlike uitslae aan die einde van die jaar behaal. Die onderwysers doen hul bes om leerders behoorlik voor te berei en daarom is die verwagting ook dat leerders getrou sal skool bywoon. Dankie vir u samewerking in die verband!

Erekleure
Ons is altyd trots op Jan van Riebeeckers wat presteer en beskou die toekenning van kleure en erekleure as ’n besondere hoë eer en voorreg. Ons ken dit graag toe wanneer uitsonderlike leerders uitsonderlike prestasies bereik.

Volgehoue en gesonde belangstelling in die aktwiteit waarin leerders presteer is egter ook belangrik en daarmee saam verwag ons van leerders om ’n bewese rekord van goeie gedrag, lojale ondersteuning van die skoolprogram en entoesiastiese deelname te openbaar.

Dit is om hierdie rede dat ons van mening is dat ’n leerder hom/haar eers moet inwortel in die skoollewe alvorens hy/sy die besondere hoogste eer geniet om ’n erekleurebaadjie van hierdie skool te dra.

Die merietebeleid is aangepas dat leerders eers vanaf die derde kwartaal van hul graad 10-jaar die JvR-erekleurebaadjie mag dra. Hul is dan volwaardige senior leerders van die skool.
Indien ’n leerder in graad 8 of 9 vir volle of spesiale erekleure kwalifiseer, mag hy/sy egter as bewys van die mooi prestasie, reeds die kleure-das dra; die baadjie volg later.
Leerders moet egter bewus bly dat die kleurekomitee leerders wat in graad 8 of 9 volle erekleure ontvang en dan besluit om die spesifieke aktwiteit te staak (mediese en geldige ander redes wat bespreek sal word, uitgesluit) die dra van ’n Jan van Riebeeck-erebaadjie mag weier. Hierdie is ’n spesiale skooltoekenning en daarom moedig ek leerders aan om hul ten volle in die skoollewe uit te leef.

Die leerders wat vanjaar vir erekleure kwalifiseer sal vroeg volgende week hul amptelike skrywes ontvang wat hul in staat sal stel om hul dasse/baadjies aan te koop. Hierdie bewys moet by me. Van Loggerenberg ingehandig word.

Die kleurekomitee sal ook gedurende die November-eksamen ’n behoorlike dinkskrum hou om die kleurebeleid indringend te bestudeer om te verseker dat alle aspekte van die skoollewe regverdig beoordeel word. Ek nooi u ook uit om u bydraes en kommentaar vir bespreking na my te stuur by skoolhoof@janvanriebeeck.co.za.

Geniet die naweek!
***************************************************************************************************
RADIKALE REDENAARS
Baie sterkte aan Phillip Herbst in graad 12 wat more in Boksburg die Wes-Kaap as provinsiale wenner by die nasionale finale ronde van hierdie redenaarskomeptisie verteenwoordig. Ons is baie trots op jou, Phillip - en hou duimvas vir mooi uitslae. Geniet dit!

JvR-ALUMNI-WYNSKOU 2022
Ons alumni bied more in Welgemeend die jaarliks JvR-Alumni-Wynskou aan waar wynlandgoedere met ’n Jan van Riebeeck-verbintenis hul wyne kom uitstal en laat proe.
Die Jan van Riebeeck alumni-organisasie nooi graag alle Jan van Riebeeckers na dié geleentheid waar u topgehalte wyne kan proe, bestel vir latere gebruik en saam met vriende verkeer.
Die wynproe sluit ’n wynglas en die proe van 'n verskeidenheid wyne in.

Van die wynlandgoedere betrokke, is: Paul Clüver/ Van Loveren/Groot Constantia / Zorgvliet / Kleinood / Blaauwklippen.

Toegang is R130 per persoon. Klik gerus op die Quicket-skakel https://qkt.io/Gm1TRp om kaartjies te koop. Verversings word ook te koop aangebied

Navrae: wynskou.jvralumni@gmail.com. / Tel: 0824619753
Parkering by Kloofstraat 129, Tuine. Kliek hier vir meer besonderhede.

Ons sien daarna uit om u by hierdie besondere geleentheid te ontvang!

’n Musiekteater-skouspel: Kom Laat ons Dans en Sing (vol. 2)
Na verlede jaar se uiters suksesvolle vertoning van Kom Laat Ons Sing, bied Hoërskool Jan van Riebeeck die nuwe “verbeterde” musiekteaterbelewenis van 2022: Kom laat ons Dans en Sing, vol. 2 aan!
Hierdie besondere musiekteateraand vind eerskomende Dinsdag, 25 Oktober in ons skoolsaal plaas.

Kom laat ons Dans en Sing, vol. 2 is propvol bekende treffers van The Sound of Music, Les Misérables, Dreamgirls, The Greatest Showman, asook ’n paar nuwe musiekteateruittreksels van Hamilton, In the Heights en die geliefde ENCANTO.
Met soveel meer as net musiek, dans en teateruitbeeldings, beloof hierdie om ’n prettige en genotvolle aand vir die hele gesin te wees.

Kom geniet dus kultuur op sy beste en vertrek op ’n avontuur van teaterspel saam met die musiekteaterklub van die Hoërskool Jan van Riebeeck.

Kaartjies beloop R50 vir sitplekke op die galery, R100 vir ’n kaartjie in die skip van die Hoërskool Jan van Riebeeck-skoolsaal en R150 vir ’n kaartjie by ’n tafel (wat ook ’n verwelkomingsdrankie insluit). Bring gerus u eie piekniekmandjie en geniet versnaperings gekombineer met mooi musiek en teaterspel. Daar sal ook ’n kontantsnoepie beskikbaar wees.

Met choreografie deur Rushney Ferguson en ons talentvolle me. Regina Malan as musiekregisseur, is hierdie nog ’n produksie deur die regisseurs van die onlangse suksesvolle opvoering van Hairspray in die Baxter-teater.

Moenie hierdie vertoning misloop nie! Onthou: Dit is “One Night Only”!
Besprekings kan via Quicket gedoen word: https://qkt.io/mlmpFF.

AKADEMIE
Assesseringsprogram en intervensie: kwartaal 4
Hier aangeheg is die assesserings- en intervensieprogram vir hierdie kwartaal. Ons sal die eksamenrooster binnekort publiseer.

Die eindeksamen vir graad 8 tot 11 skop op Maandag, 14 November af. Skole sluit eers amptelik op Woensdag, 14 Desember en rapporte en jaarblaaie sal daardie dag by die skool afgehaal word.
U word vriendelik versoek om geen vakansiereëlings te tref voordat die skole nie amptelik gesluit het nie.

Afrikaans
Ons is baie opgewonde om eersdaags ons eie JvR-skryfkunsboekie te publiseer met die beste opstelle en gedigte wat ons leerders vanjaar geskryf het!

Ons sien daarna uit om Jan van Riebeeckers se beste werke teen Maandag, 31 Oktober te ontvang. Daar is ook R500 op die spel vir die leerder wat die kreatiefste naam uitdink vir hierdie nuwe bundel wat voortaan jaarliks sal verskyn.
Inskrywingsvorms is by die Afrikaansonderwysers beskikbaar. Sterkte!

SPORT
Netbal
Proewe vir ons o.19-oefengroep vind volgende Donderdag, 27 Oktober plaas.
Alle leerders in graad 9 tot 11 wat meen hul staan ’n kans om in dié oefengroep ingesluit te word, is welkom om die proewe by te woon!

Waar: Boonste netbalbane
Tyd: 14:30 – 16:00
Drag: JvR-sportdrag

Ons het ook eksterne keurders genooi om die proewe by te woon. Hierdie oefengroep sal dan uit 18 spelers bestaan: 10 spelers vir o.19A en 8 spelers vir o.19B. Hulle sal nou reeds en ook in die eerste kwartaal volgende jaar al op sekere dae (tussendeur hul somersportverpligtinge) oefen. Sterkte!

KULTUUR
Koor
Die koor oefen Maandagmiddag om 14:05 tot 15:45. Leerders word verskoon van atletiek. Dit is reeds met mnr. Klink bevestig, so koorlede hoef hul nie van die oefening te verskoon nie.
Die koor oefen ook Woensdagoggend 7:10.

Die oefeninge is baie belangrik vir die opkomende konsert van 26 Oktober. Almal se bywoning en betrokkenheid is kardinaal om ons laaste optrede van die jaar suksesvol af te handel.

Orkes
Die orkes oefen Maandagoggend en Woensdagoggendom om 7:10.

JvR-DRAMA-AAND
Ons bied op Woensdag, 2 November ’n drama-afsluitingsaand aan waar ouers/voogde en ondersteuners die geleentheid sal hê om die beste 2022-drama-oomblikke te beleef. Ons leerders wat deelgeneem het aan kompetisies, eisteddfods, kunstefeeste, nasionale eksamens en in die dramaklas, sal hul beste werke met die gehoor deel. Die koste beloop R50 per persoon en sluit ligte happies en iets te drinke in. Die geleentheid word in ons klubhuis aangebied. Ons stuur binnekort die Quicket-skakel vir kaartjieverkope aan u.

Vriendelike JvR-groete
Pieter Rademeyer
Skoolhoof
facebook instagram custom 
Email Marketing Powered by MailPoet