|
|
|
|
|
|
|
Ons matrieks wat RTT en IT neem, het die afgelope week reeds hul praktiese eksamens afgelê, maar die hele groep skop eerskomende Maandag hul finale eksamen met Engels (vr.1) af. Baie sterkte, Jan van Riebeeckers - ons weet dat jul harde werk van die afgelope jaar beloon sal word. Vasbyt tot die einde!
|
Die res van die skool is ook in die pylvak van die akademiese jaar en ek vertrou dat die leerders in die volgende twee weke skouer aan die wiel sal sit om hul behoorlik voor te berei vir die belangrike eindeksamen wat op 14 November begin.
|
Baie sterkte aan ons atlete wat more in Bredasdorp deelneem - ons is opgewonde oor die goeie momentum by ons atletiek en ek weet daar wag groot dinge op ons atlete. Dankie aan ons hoofafrigter, Sors Joubert, vir die groot impak in ’n kort tydjie en ook aan ons atletiekhoof, mnr. Hans-Peter Klink, vir sy baie goeie werk hier.
|
Dankie ook aan me. Janet Lotriet en haar #JanDier-span wat more ’n brakstap (Brakkenjan) op die Boshoff-velde aanbied. Almal is welkom om vanaf 8:30 saam met jul vierbeenvriende te kom stap. Dit beloof om ’n baie lekker oggend te wees - kom geniet dit saam met ons!
|
Ons 2023-leerderleiers is ook die naweek aan die beplan om te verseker dat volgende jaar se graad 8's ’n behoorlike verwelkomingsweek kan geniet. Sterkte aan me. Huibrecht Steyn en die leiers wat hard gaan werk die naweek.
|
***************************************************************************************************
|
Die 2023-begroting is nou gefinaliseer en deur die beheerliggaam goedgekeur.
|
Die begrotingsvergadering vir ouers/voogde vind op Donderdag, 24 November 2022 om 18:00 in die skoolsaal plaas. Kliek gerus hier om die skrywe te lees wat reeds vroeër die week per e-pos aan u gestuur is.
|
Die begroting sal ook vir 14 dae voor die vergadering, m.a.w. vanaf 11 November 2022, by die skool ter insae beskikbaar wees.
|
Baie dankie aan ons finansiële bestuurder, me. Nicky Hattingh, vir haar baie harde en deeglike werk aan die nuwe begroting! Ek bedank ook graag ons tesourier op die beheerliggaam, mnr. Izak Swanepoel, vir sy beplanning, insette en ondersteuning gedurende dié proses.
|
Ons bied volgende Woensdag, 2 November ’n drama-afsluitingsaand aan waar ouers/voogde en ondersteuners die geleentheid sal hê om die beste 2022-drama-oomblikke te beleef.
|
Ons leerders wat deelgeneem het aan kompetisies, eisteddfods, kunstefeeste, nasionale eksamens en in die dramaklas, sal hul beste werke met die gehoor deel.
|
Die koste beloop R50 per persoon en sluit ligte happies en iets te drinke in. Die geleentheid word in ons klubhuis aangebied. Ons sien uit na ’n mooi aand!
|
Kliek gerus hier om kaartjies op Quicket te koop: https://qkt.io/A8g1D3.
|
BESONDERE UITSTALLING IN WELGEMEEND
|
Ons nooi baie graag alle ouers en vriende van die skool uit om vanaf more tot 9 November in te loer by Welgemeend om die besondere juweliersuitstalling, aangebied deur die Italiaanse ambassade, te besigtig. Kyk gerus hier na wat op besoekers van die DIVA!-uitstalling wag: https://fb.watch/gnt1dQJzOL.
|
Heelwat van ons netbalspeelsters is betrokke by die For the Love of Netball-fondsinsamelingprojek en ons nooi almal in ons skoolgemeenskap ook uit om hul heerlike familiedag op 4 Desember te ondersteun. Kliek gerus hier vir al die inligting.
|
November-eksamen 2022: Graad 8-11
|
Die eksamen skop op 14 November af. Kliek gerus hier om die eksamenrooster af te laai. Elke leerder sal ook Maandag ’n harde kopie van die rooster ontvang.
|
Sterkte, Jan van Riebeeckers!
|
Alle ouers/voogde moet asseblief verseker dat die skool die nuutste inligting t.o.v. u kind se konsessies het. Alle dokumente kan aan me. Annelie Nimmo (annelie.nimmo@janvanriebeeck.co.za) gestuur word.
|
Met die oog op die komende eksamen moet u asseblief ook voor of op 7 November 2022 per e-pos aan me. Nimmo bevestig of u kind tydens die eksamen van 'n leser gebruik gaan maak of die skool se klankopnames.
|
Indien die leerder 'n leser gebruik, moet u ook bevestig wat die persoon se kontakbesonderhede is en vir watter vraestelle die leerder van die leser gebruik gaan maak.
|
Assesseringsprogram en intervensie: kwartaal 4
|
Hier aangeheg is die assesserings- en intervensieprogram vir hierdie kwartaal.
|
Ons is baie opgewonde om eersdaags ons eie JvR-skryfkunsboekie te publiseer met die beste opstelle en gedigte wat ons leerders vanjaar geskryf het!
|
Ons sien daarna uit om Jan van Riebeeckers se beste werke teen eerskomende Maandag, 31 Oktober te ontvang. Daar is ook R500 op die spel vir die leerder wat die kreatiefste naam uitdink vir hierdie nuwe bundel wat voortaan jaarliks sal verskyn.
|
Inskrywingsvorms is by die Afrikaansonderwysers beskikbaar. Sterkte!
|
Leerders ontvang vanjaar hul uitslae per persoonlike e-pos.
|
Ons wil egter graag ons leerders by die skool vereer met hul uitslae; daarom moet leerders asseblief hul uitslae by hul Afrikaansonderwyser gaan ingee.
|
Meld jou graad, watter kategorie en jou punt. Ons wil veral opstelle en gedigte wat Goud of Dubbelgoud verwerf het, in ons nuwe boekie plaas. Ons sien uit om van julle te hoor.
|
Akademie is vir die Hoërskool Jan Van Riebeeck ‘n top prioriteit en die skool bied graag aan leerders die geleentheid om in ’n baie wye vakkeuse hul ideale vakke te kies.
|
Graad 9-leerders moet asseblief hul vakke vir graad 10 tot 12 teen 31 Oktober elektronies kies. Gebruik asseblief hierdie skakel: Vakkeuses.
|
Ons seunspan is goed op dreef in hul nuwe, hoër liga. Hulle het verlede week gewen teen SACS, asook hierdie week teen Bishops. Mooi so, Manne - ons sien uit na 'n opwindende seisoen!
|
Die dogterspanne moet nog behoorlik op dreef kom en ek moedig graag alle meisies wat reeds tennis kan speel, maar nog nie hul name opgeskryf het vir tennis nie, om asseblief vir me. Bezuidenhout te gaan spreek of 'n e-pos te stuur na milandre.bezuidenhout@janvanriebeeck.co.za. Ons soek nog ’n paar staatmakers om hul staal op die baan te wys.
|
Oefeninge vind op Dinsdae en Donderdae om 14:30 tot 15:30 plaas. Ons sien uit daarna om vol bane te sien in die komende week!
|
Die skoolwinkel sal vanaf volgende week nie oop wees nie aangesien die matriekeksamens in die saal langsaan afgelê word. U is egter welkom om ’n afspraak met me. Sanette van Loggerenberg te maak indien u enige items benodig.
|
|
|
|
|
|
|