|
|
|
|
|
|
|
Die eerste week van die matriekeksamen is verby en die terugvoer van al die vraestelle is oorwegend positief. Daar lê nog vier weke voor en die laaste vraestel (Musiek) word op Maandag, 5 Desember geskryf. Ons dink aan julle, Matrieks - volhard!
|
Ons is hard aan die beplan om ’n goeie 2023-skoolervaring vir ons Jan van Riebeeckers te verseker. Opwindende nuwe inisiatiewe word beplan. Een hiervan is dat ons ons musiekblyspelsukses van vanjaar voortsit met ’n volgende aanbieding.
|
Ons is baie opgewonde dat ons die opvoerregte kon verkry van Roald Dahl se Matilda - The Musical. Ons is terug in die Baxter Teater vanaf 8 tot 13 Mei 2023! Teken solank hierdie datum aan - ons wil die teater (die keer sonder COVID-beperkings) volpak met entoesiastiese teatergangers. Sterkte aan ons regisseur, me. Regina Malan en vervaardiger, mnr. Geruan Geldenhuys en jul span wat weer ’n trefferproduksie beplan. Die oudisieproses is tans aan die gang - alle leerders is welkom om deel te neem!
|
’n Paar van ons onderwysers verlaat ons ongelukkig aan die einde van die jaar. Ons is baie hartseer om totsiens te moet sê vir mnr. en mev. Griessel (Geografie en Sport) en ook me. Liesl Harvey (IGO). Hierdie opvoeders het met baie ervaring, passie en toewyding die leerders van Hoërskool Jan van Riebeeck se lewens verryk. Ons is baie dankbaar vir jul ongelooflike bydraes hier by ons skool. Die leerders gaan hul geweldig mis!
|
Ons het ook heelwat nuwe aanstellings gemaak in poste van hierdie opvoeders en ook in sleutelareas van die skoollewe waar ons nog verdere groei en ontwikkeling wil sien. Oor die volgende klompie weke sal ons u van al hierdie nuwe verwikkelinge vertel.
|
Ek stel ook graag hier ons eerste nuwe onderwyser aan u voor. Noudat ons vanjaar Dramatiese Kunste in graad 10 begin aanbied het, sal me. Sanet Taljaard (wat tans Afrikaans onderrig) haar fokus meer na dié departement skuif. Me. Lizette Visser wat ons vroeër vanjaar verlaat het, was deel van die Engelsdepartement en met hierdie twee skuiwe het ons nog ruimte vir sterk vaardighede in die twee taaldepartemente.
|
Groot was ons geluk om mnr. Adriaan Potgieter in dié twee departemente te kon aanstel. Die mooi familiegeskiedenis maak hierdie aanstelling nog meer besonders.
|
Lees gerus hier ’n kort bekendstelling van ons nuwe Afrikaans- en Engelsonderwyser:
|
Mnr. Adriaan Potgieter – gebore en getoë in Kaapstad – is deur en deur ‘n ware Jan van Riebeecker. As agterkleinseun van J.J. Jordaan (die eerste skoolhoof van Hoërskool Jan van Riebeeck, 1926 – 1936), kleinseun van Hugo Lambrechts (skoolhoof 1962 – 1968) en seun van Jeanne Potgieter (Engelsonderwyser 2002 – 2022) begin en voltooi hy natuurlik sy skoolloopbaan by Laer- en Hoërskool Jan van Riebeeck.
|
Van jongs af kweek hy onder die leiding van die menige taalonderwysers in sy familie ‘n sterk passie vir tale en die letterkunde aan.
|
Daarna studeer hy oefeningsfisiologie en anatomie aan die Exercise Teachers Academy en gradueer met onderskeiding as professionele fiksheidsafrigter. Na ‘n suksesvolle loopbaan in die fiksheidsbedryf besluit hy om sy familieberoep aan te pak en begin hy sy studies vir ‘n baccalaureusgraad in Onderwys (Senior- en VOO-fase) met Engels en Afrikaans as hoofvakke by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie. Hier ontvang hy die ETDP SETA-beurs, behaal die dekaan se merietelys, en word as toppresteerder gekenmerk vir sy akademiese uitmuntendheid. Hy is tans op koers om summa cum laude te gradueer (punte word 9/12/2022 gepubliseer).
|
Tydens die 2020-COVID-inperking staan hy as Engels-Huistaalonderwyser by Hoërskool Jan van Riebeeck in en begin ‘n sterk band met die skool, leerders en personeel te smee wat daarna tydens verskeie proefonderwystydperke by die skool versterk word.
|
Mnr. Potgieter sien met groot trots en opgewondenheid daarna uit om sy onderwysloopbaan in 2023 as Engels- en Afrikaansonderwyser by Hoërskool Jan van Riebeeck af te skop en die skool te verryk met sy kennis, ervaring in die fiksheidsbedryf en entoesiasme vir die tale, onderwys en die jeug. As vierde generasie van die Jordaan-Lambrechts-Potgieter geslag wat in taalonderrig aan die skool verbonde is, streef hy daarna om die nodige taalvaardighede en -kennis vir sukses in die Vierde Industriële Rewolusie in die leerders te ontwikkel.
|
Baie welkom, mnr. Potgieter - ons is baie opgewonde dat u deel word van die JvR-personeelspan!
|
***************************************************************************************************
|
BELANGRIKE REëLINGS: 7 TOT 11 NOVEMBER 2022
|
Die graad 10's en 11's skryf eerskomende Maandag en Dinsdag hul skryfwerkvraestelle (vr.3). Alle reëlings is vanoggend in die saalperiode deurgegee. Die juniors sal Maandag soos normaal voortgaan met akademiese lesse.
|
Graad 10's en 11's moet asseblief Maandag hul boeke vir periode 5 tot 8 saambring skool toe.
|
Ons het nog ’n paar groepfoto's om te neem en dit sal eerskomende Dinsdag, 8 November, na afloop van die graad 10's en 11's se skryfvraestelle geneem word. Leerders sal in registerklasse bly en eksamenstudie doen. Ons volg geen akademiese periodes nie, maar leerders moet asseblief genoeg werk saambring skool toe om eksamenvoorbereiding te doen.
|
Leerders moet Dinsdag asseblief weer formele wintersdrag dra (alle dogters asseblief vlootblou sykouse) sodat al die foto's vir die jaarblad dieselfde lyk.
|
Die praktiese eksamens is geskeduleer vir eerskomende Woensdag, Donderdag en Vrydag. Let asseblief daarop dat hierdie drie dae normale skooldae is. Die musiekleerders word net van hul akademiese les verskoon wanneer hul hul eksamen aflê. Die res van die skool gaan soos normaal voort met hul akademiese werk.
|
Die 2023-begroting is nou gefinaliseer en deur die beheerliggaam goedgekeur.
|
Die begrotingsvergadering vir ouers/voogde vind op Donderdag, 24 November 2022 om 18:00 in die skoolsaal plaas. Kliek gerus hier om die skrywe te lees wat reeds verlede week per e-pos aan u gestuur is.
|
Die begroting sal vanaf 11 November 2022 by die skool ter insae beskikbaar wees.
|
BESONDERE UITSTALLING IN WELGEMEEND
|
Ons nooi baie graag alle ouers en vriende van die skool uit om nog tot eerskomende Woensdag in te loer by Welgemeend om die besondere juweliersuitstalling, aangebied deur die Italiaanse ambassade, te besigtig.
|
Heelwat van ons netbalspeelsters is betrokke by die For the Love of Netball-fondsinsamelingprojek en ons nooi almal in ons skoolgemeenskap ook uit om hul heerlike familiedag op 4 Desember te ondersteun. Kliek gerus hier vir al die inligting.
|
Gr. 10-Toerisme-handboeke 2023
|
Alle graad 9-leerders wat volgende jaar Toerisme gaan neem, sal die werkboek moet aanskaf. Dié boek is in volkleur wat leer aangenaam maak vir die leerder. Die studiemateriaal is ten volle op die KABV en ATP’s van 2022-2023 gebaseer. Klaswerkaktiwiteite word onder leiding van die onderwyser voltooi en ekstra interessante inligting oor die betrokke tema word uitgelig.
|
Hierdie boek is modern, gebruiksvriendelik en informatief. Dit is in die praktyk getoets en "DIT WERK!"
|
Alle voornemende Toerisme-leerders moet asseblief hul werkboeke vir volgende jaar teen R280 op Karri koop. Daar sal betalingsopsies beskikbaar wees.
|
November-eksamen 2022: Graad 8-11
|
Die eksamen skop op 14 November af. Die skool sal op die 14de om 14:05 verdaag aangesien ons ’n dubbelsessie inpas, maar vanaf 15 November tot 2 Desember verdaag die skool om 12:15. Die busse sal ook dan vertrek.
|
Die huiswerklokaal sal gedurende die eksamentydperk daagliks tot 14:00 oop wees indien u kind daar wil sit en studeer.
|
Leerders sal op 5 en 6 Desember hul antwoordstelle kan nagaan en dié twee dae is vir almal verpligte skooldae. Die skool sal om 14:05 verdaag.
|
Rapporte en jaarblaaie word dan op 14 Desember afgehaal. Finale reëlings word later deurgegee.
|
Indien u enige verdere navrae oor die eksamen het, kan u gerus die eksamenhoof, me. Roosmaryn Schwartz, kontak: roosmaryn.schwartz@janvanriebeeck.co.za.
|
Kliek hier om die eksamenrooster af te laai. Sterkte, Jan van Riebeeckers!
|
Alle ouers/voogde moet asseblief verseker dat die skool die nuutste inligting t.o.v. u kind se konsessies het. Alle dokumente kan aan me. Annelie Nimmo (annelie.nimmo@janvanriebeeck.co.za) gestuur word.
|
Met die oog op die komende eksamen moet u asseblief teen eerskomende Maandag, 7 November per e-pos aan me. Nimmo bevestig of u kind tydens die eksamen van 'n leser gebruik gaan maak of die skool se klankopnames.
|
Indien die leerder 'n leser gebruik, moet u ook bevestig wat die persoon se kontakbesonderhede is en vir watter vraestelle die leerder van die leser gebruik gaan maak.
|
Welgemeend Skool vir Musiek: Jaareindkonsert - Aangebied deur die Hoërskool Jan van Riebeeck
|
Na afloop van 'n baie bedrywige en suksesvolle jaar, is die Welgemeend Skool vir Musiek baie opgewonde om ons jaareindkonsert aan te bied.
|
Hierdie konsert bied die geleentheid vir al die leerders van ons besondere musiekskool om hul talente met die publiek te deel.
|
Kom geniet hierdie wonderlike aand om die jaar mee af te sluit eerskomende Woensdag, 9 November, om 18:00.
|
Die konsert vind in die Laerskool Jan van Riebeeck se skoolsaal plaas, as gevolg van die eindeksamens wat by HSJvR plaasvind. Kaartjies is teen R50 op Karri beskikbaar: https://qkt.io/Yn8y8Y
|
Die skoolwinkel is nie tans smiddae oop nie aangesien die matriekeksamens in die saal langsaan afgelê word. U is egter welkom om ’n afspraak met me. Sanette van Loggerenberg te maak indien u enige items benodig.
|
|
|
|
|
|
|