Wapen (VrydagFiltse)
11 November 2022
facebook instagram custom 
Goeiedag Ouers/Voogde

Ek nooi vandag baie graag al ons ouers/voogde uit om die 2022-skooljaar op ’n sosiale noot af te sluit by ons Kersfeesfees-langtafel op ons nuwe studenteplein!

Bring u eie mandjie met eetgoed en drinkgoed en kom kuier saam om die JvR-jaar op ’n hoë noot af te sluit. Gaste moet ook hul eie breekgoed en glase bring.

’n Kersmark met pragtige Kersgeskenke asook spesiale Kersmusiek sal bydra tot ’n feestelike atmosfeer.

Toegang is gratis, maar ons versoek graag alle gaste om ’n Mr Price Home-geskenkbewys van enige bedrag saam te bring wat ons aan instansies sal uitdeel om vir kinders spesiale Kersfeesvreugde te bring!

Datum: Vrydag, 2 Desember 2022
Plek: JvR-Studenteplein
Tyd: Vanaf 18:00
Drag: Gemaklik

Bespreek asseblief u sitplek(ke) op Quicket: https://qkt.io/pNyRln sodat ons weet vir hoeveel gaste ons moet voorberei.

Geniet vir oulaas vanjaar die JvR-gees en vier saam met ons die opening van die nuwe studenteplein!
***************************************************************************************************
JvR-KLUBUITREIK

Die #JanOMGEE- en #JanAFRIKAANS-klubs beoog 'n uitreik in die eerste week van Desember.

Ons wil geskenkpakkies saamstel en benodig die volgende produkte:
Deodorant
Tandepasta
Waslappie
Koekieseep
Pakkie sneesdoekies
Handeroom
Enige pakkie koekies
Enige pakkie suiglekkers
Enige sjokolade
Onbederfbare produkte soos blikkies kos en pakkies pasta.

Dit sal wonderlik wees as die Jan van Riebeeckers vir die volgende twee weke produkte skool toe kan bring.

Om die jaar op 'n omgee-noot af te sluit sal 'n hoogtepunt wees!

NUWE JvR-SKOOLSWEETPAK
Ons skoolsweetpak spog met ’n nuwe ontwerp en is nou teen R750 by die skoolwinkel beskikbaar.
Dié nuwe sweetpak word ingefaseer en dis daarom nie verpligtend vir ons huidige leerders om dit aan te skaf nie, maar enigiemand is welkom om dit nou te dra.
Die nuwe graad 8's van 2023 sal almal hierdie sweetpak dra.

Kliek gerus op die foto's hier onder om te sien hoe trots Johann Jordaan die nuwe skoolsweetpak aangepas het: Foto 1; Foto 2; Foto 3

JAARBLAD 2022
Ons publiseer vanjaar weer ’n jaarblad, Die Jan van Riebeecker, met al ons skool se 2022-hoogtepunte ingesluit.

Leerders/Ouers/Voogde kan ’n harde kopie van hierdie glansblad teen R120 per eksemplaar bestel – dit beloof om ’n pragtige boek te wees: iets wat ’n mens graag sal wil hou om weer en weer deur te blaai.

Die elektroniese weergawe sal gratis aan alle ouers/leerders/voogde gestuur word. Bestellings vir die harde kopie kan teen Vrydag, 25 November op Karri gedoen word.

GRAADKAMPE 2023
In ons poging om ’n holistiese en gebalanseerde skoolervaring aan ons leerders te bied, probeer ons voortdurend nuwe verrykingsgeleenthede skep waarin leerders meer omtrent hulself, hul maats en die wêreld waarin hul leef, kan leer.

Ons het ’n verdere doelwit vir 2023 geïdentifiseer: om in Hoërskool Jan van Riebeeck op skooleenheid en skooltrots te fokus – iets wat ons meen nodig is ­– veral na die afgelope klompie jare met die Covid-uitdagings en beperkings.

Een inisiatief wat ons in 2023 aanpak wat hierdie skoolaspek wil aanspreek, is graadkampe vir al ons leerders en personeel.

Die doel van die graadkampe is veelvoudig: die plek waar elke graadkamp gehou word en die aanbieding daarvan, is spesifiek gekies om sekere doelwitte in daardie spesifieke graad te bereik. Verder kry leerders ook tydens dié kamp die geleentheid om in die buitelewe aktiwiteite aan te pak en kan so op ’n informele wyse ook hul klasmaats beter leerken.

Die hele skool sal op Donderdag, 30 Maart 2023 om 7:00 die oggend vertrek en op Vrydag, 31 Maart om 10:30 terug wees by die skool. Vervoerreëlings sal in die nuwe jaar gekommunikeer word.

Ons besoek die volgende kampterreine:
Graad 8 & 9: Kamp Taaibosch, Phisantekraalplaas, Durbanville
Hier is twee kampterreine – een vir elke graad.

Graad 10 & 11: Wemmershoek (tussen Franschoek en Paarl) in die pragtige Wemmershoekberge
Hier is twee kampterreine – een vir elke graad.

Graad 12: Noordhoek Kampterrein, Village-Steeg met pragtige staproetes in aangrensende berge

Die koste per leerder beloop R600 en verskeie betaalopsies word op Karri gelaai. U kan ’n eenmalige betaling maak of nou reeds begin om kleiner betalings te doen soos dit u pas. Alle betalings moet asseblief teen Maandag, 20 Maart 2023 gefinaliseer wees.

Ons sien baie uit na hierdie verrykingsgeleentheid vir ons leerders en hoop dat hierdie graadkampe ook ’n jaarlikse instelling sal word.

By voorbaat dankie vir u ondersteuning van hierdie inisiatief.

ONTMOET ONS NUWE PERSONEEL - MNR. ABRé VAN HEERDEN: SPORTHOOF
Van ’n Weskusklong tot Kapenaar, toe ’n Bolandman en nou weer terug na waar hy sy hoërskoolloopbaan voltooi het...
Mnr. Abré van Heerden, ons nuwe sporthoof, is ‘n oud-Jan van Riebeecker wat in 2010 gematrikuleer het. Hy is oorspronklik van die Weskus en het sy laerskooljare by Laerskool Vredenburg geniet. Hy sê hy was bevoorreg om in die beste laer- én hoërskool in die land te kon wees!Op skool neem mnr. Van Heerden deel aan al die aktiwiteite wat JvR hom bied en jy kon hom op die sportveld by krieket, tennis, atletiek, landloop en rugby en daarna selfs by kultuur vind.
Mnr. Van Heerden was op skool ’n prefek en ook huiskomiteelid van Huis van der Merwe.Hy behaal op skool provinsiale kleure in atletiek, padwedlope en 7’s rugby.

Na skool gaan studeer mnr. Van Heerden onderwys by CPUT en behaal sy B.ED (VOO)-graad met Wiskunde en Rekeningkunde as hoofvakke. Hy neem ook op provinsiale en nasionale vlak aan atletiek en rugby deel. Hy het ook gedurende hierdie tyd op verskillende leierskapstrukture en rade gedien, waaronder HK: Sport, Studenteraad (Sport, Kunste en Kultuur) en sportforumhoof. Hier kon hy sy passie vir sport nog meer uitleef en leer wat dit verg om as administrateur in verskeie sportsoorte op te tree.

Na sy studies betree hy die onderwys en dien as organiseerder van verskeie sportsoorte, onderskeidelik by Paarl Boys' High, Hoërskool Hugenote en Paarl Gimnasium. Hy bevind hom ook in kondisioneringsposte vir senior rugbyspanne sowel as skoolspanne. Binne ‘n paar jaar verkry hy sy ASA-vlak 2-afrigtingkwalifikasie in atletiek, sy IRB-vlak 2 in rugby en vorm ook in 2019 deel van die SARU EPD-afrigtersisteem en lewer heelwat provinsiale en nasionale atlete op.

Mnr. Van Heerden se passie vir sport en kinders laat hom dan nou terugkeer na sy alma mater. Hy is opgewonde om terug te gee; hy bly nederig oor sy sukses en sê dis juis te danke aan JvR dat hy die sportman is wat hy vandag is.
Sy droom vir JvR-sport is om soveel geleenthede vir leerders te skep soos wat hy destyds gehad het en om kinders te ontwikkel om beter sportmanne en -vroue te wees - en eindelik tot op hul volle potensiaal te ontwikkel en te presteer.

Baie welkom, mnr. Van Heerden - ons is baie opgewonde dat u by ons personeelspan aansluit!

BEGROTING
Die 2023-begroting is nou gefinaliseer en deur die beheerliggaam goedgekeur.

Die begrotingsvergadering vir ouers/voogde vind op Donderdag, 24 November 2022 om 18:00 in die skoolsaal plaas. Kliek gerus hier om die skrywe te lees wat reeds verlede week per e-pos aan u gestuur is.
Die begroting sal vanaf vandag by die skool ter insae beskikbaar wees.

NETBALFONDSINSAMELING
Heelwat van ons netbalspeelsters is betrokke by die For the Love of Netball-fondsinsamelingprojek en ons nooi almal in ons skoolgemeenskap ook uit om hul heerlike familiedag op 4 Desember te ondersteun. Kliek gerus hier vir al die inligting.

AKADEMIE
November-eksamen 2022: Graad 8-11
Die eksamen skop eerskomende Maandag af. Die skool sal Maandag om 14:05 verdaag aangesien ons ’n dubbelsessie inpas, maar vanaf Dinsdag verdaag die skool om 12:15. Die busse sal ook dan vertrek.

Die huiswerklokaal sal gedurende die eksamentydperk daagliks tot 14:00 oop wees indien u kind daar wil sit en studeer.

Leerders sal op 5 en 6 Desember hul antwoordstelle kan nagaan en dié twee dae is vir almal verpligte skooldae. Die skool sal om 14:05 verdaag.
Rapporte en jaarblaaie word dan op 14 Desember afgehaal. Finale reëlings word later deurgegee.

Indien u enige verdere navrae oor die eksamen het, kan u gerus die eksamenhoof, me. Roosmaryn Schwartz, kontak: roosmaryn.schwartz@janvanriebeeck.co.za.

Kliek hier om die eksamenrooster af te laai. Sterkte, Jan van Riebeeckers!

EKSAMENHULPKLASSE: WISKUNDE
Ons wiskunde-departement bied in al die grade en vir al die vraestelle eksamenhulpklasse aan.
Alle leerders word aangemoedig om van hierdie wonderlike afronding- en leergeleentheid gebruik te maak! Kliek gerus hier om die rooster af te laai.

Gr. 10, 11 en 12 Fisiese Wetenskappe Handboeke 2023
Alle leerders wat volgende jaar Fisiese Wetenskappe neem, moet die Fisika- en Chemiewerksboeke aankoop.
Vir u gerief is die betaling op Karri gelaai teen ’n spesiale afslagprys vir skole, direk vanaf die uitgewer.
Bestellings sluit vroegoggend 14 November 2022, om te verseker dat ons voorraad betyds kry.
Beide Fisika- en Chemieboeke is by die bedrag van R435 ingesluit (2 boeke).
Indien u verkies om die werksboeke self aan te koop, is die ISBN-nommers beskikbaar by mev. Turkstra lize.turkstra@janvanriebeek.co.za.

Gr. 10-Toerisme-handboeke 2023
Alle graad 9-leerders wat volgende jaar Toerisme gaan neem, sal die werkboek moet aanskaf. Dié boek is in volkleur wat leer aangenaam maak vir die leerder. Die studiemateriaal is ten volle op die KABV en ATP’s van 2022-2023 gebaseer. Klaswerkaktiwiteite word onder leiding van die onderwyser voltooi en ekstra interessante inligting oor die betrokke tema word uitgelig.

Alle voornemende Toerisme-leerders moet asseblief hul werkboeke vir volgende jaar teen R280 op Karri koop. Daar sal betalingsopsies beskikbaar wees.

SKOOLWINKEL
Die skoolwinkel is nie tans smiddae oop nie aangesien die matriekeksamens in die saal langsaan afgelê word. U is egter welkom om ’n afspraak met me. Sanette van Loggerenberg te maak indien u enige items benodig.
Stuur gerus ’n e-pos na sannette.loggerenberg@janvanriebeeck.co.za, om afspraak te maak.

Vriendelike JvR-groete
Pieter Rademeyer
Skoolhoof
facebook instagram custom 
Email Marketing Powered by MailPoet