|
|
|
|
|
|
|
Die eerste week van die graad 8 tot 11's se eksamen is verby en die leerders wat hard aan die werk is, is positief dat sake glad verloop het. Volhard, Jan van Riebeeckers! Jul harde werk sal beloon word.
|
Die matrieks het ook ’n goeie week agter die rug. Die meerderheid het met groot glimlagte by die eksamenlokaal uitgestap. Die tweede vraestel van Lewenswetenskappe lê vir Maandag voor.
|
Ons neem kennis van die beplande SANTACO-staking eerskomende Maandag en Dinsdag. Ons koshuis staan egter gereed om enige leerder te akkommodeer wat moontlik uitdagings rondom vervoer mag hê. Dankie aan me. Steyn en haar span wat reeds sowat 30 leerders met verblyf en etes gaan akkommodeer.
|
Indien u enige probleme met vervoer voorsien en nog nie meer u graadhoof geskakel het nie, moet u asseblief vandag of op die laatste moreoggend direk met me. Steyn skakel om reëlings te tref. U kan haar op 076 738 2290 kontak.
|
Leerders wat van die koshuisverblyf gebruik wil maak, moet asseblief Sondagaand tussen 18:00 en 20:00 aanmeld.
|
Geen leerder moet asseblief ’n eksamenvraestel misloop as gevolg van vervoeruitdagings nie. Ons kinders se veiligheid is vir ons die eerste prioriteit en ons wil graag help om te verseker dat hul hier by die skool rustig en veilig kan wees om hul eksamen suksesvol te voltooi.
|
***************************************************************************************************
|
KERSFEESFEES: LANGTAFELKUIER OP ONS NUWE STUDENTEPLEIN
|
Bring u eie mandjie met eetgoed en drinkgoed en kom kuier saam om die JvR-jaar op ’n hoë noot af te sluit. Gaste moet ook hul eie breekgoed en glase bring.
|
’n Kersmark met pragtige Kersgeskenke asook spesiale Kersmusiek sal bydra tot ’n feestelike atmosfeer.
|
Toegang is gratis, maar ons versoek graag alle gaste om ’n Mr Price Home-geskenkbewys van enige bedrag saam te bring wat ons aan instansies sal uitdeel om vir kinders spesiale Kersfeesvreugde te bring!
|
Datum: Vrydag, 2 Desember 2022
|
Bespreek asseblief u sitplek(ke) op Quicket: https://qkt.io/pNyRln sodat ons weet vir hoeveel gaste ons moet voorberei.
|
Geniet vir oulaas vanjaar die JvR-gees en vier saam met ons die opening van die nuwe studenteplein!
|
Aan die einde van 2021 is die ATKV-STREPIESTAK in Hoërskool Jan van Riebeeck gestig.
|
Ons eerste uitreik was na ‘n aftree-oord waartydens ons geskenkbokse aan die bestuur oorhandig het. As gevolg van Covid kon ons nie die geskenbokse self aan die bejaardes oorhandig nie. Ons het reeds beplan om in die eerste week van Desember 2022 weer uit te reik.
|
Tydens die Afrikaansweek in Maart 2022 is daar verskeie projekte met groot sukses aangepak. Die JvR-blokraaister-aand & die JvR-talentoggend sal lank nog onthou word.
|
Die Strepiestak beplan GROOT projekte vir 2023 en nooi alle Jan van Riebeeckers uit om aan te sluit by ons aktiewe tak / klub. Entoesiasme, blink planne beding en omgee vir ander is ‘n vereiste!
|
Ons kan nie wag om saam met jou ‘n verskil in ander se lewens te maak nie!
|
Leerders word uitgenooi om hul name by me. Schwartz te gaan opskryf indien hulle belangstel.
|
Die #JanOMGEE- en #JanAFRIKAANS-klubs beoog 'n uitreik in die eerste week van Desember.
|
Ons wil geskenkpakkies saamstel en benodig die volgende produkte:
|
Onbederfbare produkte soos blikkies kos en pakkies pasta.
|
Dit sal wonderlik wees as die Jan van Riebeeckers vir die volgende twee weke produkte skool toe kan bring. Alle artikels kan in die houer by ontvangs geplaas word.
|
Om die jaar op 'n omgee-noot af te sluit sal 'n hoogtepunt wees!
|
Ons skoolsweetpak spog met ’n nuwe ontwerp en is nou teen R750 by die skoolwinkel beskikbaar.
|
Dié nuwe sweetpak word ingefaseer en dis daarom nie verpligtend vir ons huidige leerders om dit aan te skaf nie, maar enigiemand is welkom om dit nou te dra.
|
Die nuwe graad 8's van 2023 sal almal hierdie sweetpak dra.
|
Kliek gerus op die foto's hier onder om te sien hoe trots Johann Jordaan die nuwe skoolsweetpak aangepas het: Foto 1; Foto 2; Foto 3
|
Ons publiseer vanjaar weer ’n jaarblad, Die Jan van Riebeecker, met al ons skool se 2022-hoogtepunte ingesluit.
|
Leerders/Ouers/Voogde kan ’n harde kopie van hierdie glansblad teen R120 per eksemplaar bestel – dit beloof om ’n pragtige boek te wees: iets wat ’n mens graag sal wil hou om weer en weer deur te blaai.
|
Die elektroniese weergawe sal gratis aan alle ouers/leerders/voogde gestuur word. Bestellings vir die harde kopie kan teen Vrydag, 25 November op Karri gedoen word.
|
ONTMOET ONS NUWE PERSONEEL - CJ VELLEMAN: TEGNOLOGIE EN SOSIALE WETENSKAPPE & RUGBYHOOF EN WATERPOLO
|
Mnr. CJ Velleman matrikuleer in 2013 as onderhoofseun aan Grey High School in Port Elizabeth. Hy geniet 'n ongelooflike skoolloopbaan en presteer op talle vlakke: kaptein van die eerste rugbyspan én OP-Cravenweekspan.
|
Hy verwerf ook provinsiale kleure in swem en waterpolo. Hy dien op talle studenteleierskapstrukture en word vereer vir dienslewering en leierskap.
|
Na skool skop mnr. Velleman sy professionele rugbyloopbaan by die EP Kings (superrugby), wat later na die Southern Kings verander het, af. Hy kry gou die geleentheid om vaardighede en mensekennis op te doen deur sport en sy reise regoor die wêreld. Hy het ook die voorreg gehad om in 2015 in die Junior Springbokspan ingesluit te word.
|
Mnr. Velleman studeer aan die Nelson Mandela Universiteit en behaal sy B.Sc-graad in Konstruksie-ekonomie (bourekenaarkunde). Gedurende sy studentejare lei hy as kaptein die Madiba en OP se o.20-rugbyspanne.
|
In 2020/2021 speel hy vir die Griekwas en ook die EP Elephants in die Vodacom-beker.
|
Na sy graadstudie skryf mnr. Velleman in vir Sielkunde aan SACAP. Hy doen in hierdie tyd ernstige beserings op en besluit om vir eers professionele rugby vaarwel te roep en op sy langtermyndoelwitte te begin fokus: mnr. Velleman het 'n passie vir mense, kinders en onderwys en daarom studeer hy verder in die onderwys (PGCE) met hoofvakke in Tegnologie en Ingenieursgrafika.
|
Hy voltooi ook vroeër vanjaar 'n lewensafrigter-diploma deur Action Factory en is tans onderwyser by Wynberg Boys' High School.
|
Mnr. Velleman is 'n buitelewemens wat gek is oor branderplankry, visvang, kajak, spiesvisvang en oefening. Hy verkies dit om kaalvoet buite met sportaktiwiteite besig te wees en is passievol daaroor om met ander mense te werk en veral om ander mense te motiveer.
|
Berading en sportsielkunde is areas wat hy veral verder wil ontwikkel - veral die uitleef daarvan binne 'n akademiese instelling. Mnr. Velleman is ook opgewonde om waterpolo hier by Jan van Riebeeck te begin afrig.
|
Hy sien baie daarna uit om by Hoërskool Jan van Riebeeck aan te sluit om sy passie vir sport en kennis met ons leerders te deel - en veral om waarde toe te voeg tot elke leerder se menswees. Hy en sy vrou, Lumari, sal ook in Huis Jordaan woon en diens doen.
|
Ons is baie opgewonde om hierdie talentvolle en inspirerende onderwyser in die Jan van Riebeeck-familie te verwelkom!
|
Die 2023-begroting is nou gefinaliseer en deur die beheerliggaam goedgekeur.
|
Die begrotingsvergadering vir ouers/voogde vind op Donderdag, 24 November 2022 om 18:00 in die skoolsaal plaas. Kliek gerus hier om die skrywe te lees wat reeds verlede week per e-pos aan u gestuur is.
|
Die begroting sal vanaf vandag by die skool ter insae beskikbaar wees.
|
Heelwat van ons netbalspeelsters is betrokke by die For the Love of Netball-fondsinsamelingprojek en ons nooi almal in ons skoolgemeenskap ook uit om hul heerlike familiedag op 4 Desember te ondersteun. Kliek gerus hier vir al die inligting.
|
Eksamenhulpklasse: Wiskunde
|
Ons wiskunde-departement bied in al die grade en vir al die vraestelle eksamenhulpklasse aan.
|
Alle leerders word aangemoedig om van hierdie wonderlike afronding- en leergeleentheid gebruik te maak! Kliek gerus hier om die rooster af te laai.
|
Gr. 10-Toerisme-handboeke 2023
|
Alle graad 9-leerders wat volgende jaar Toerisme gaan neem, sal die werkboek moet aanskaf. Dié boek is in volkleur wat leer aangenaam maak vir die leerder. Die studiemateriaal is ten volle op die KABV en ATP’s van 2022-2023 gebaseer. Klaswerkaktiwiteite word onder leiding van die onderwyser voltooi en ekstra interessante inligting oor die betrokke tema word uitgelig.
|
Alle voornemende Toerisme-leerders moet asseblief hul werkboeke vir volgende jaar teen R280 op Karri koop. Daar sal betalingsopsies beskikbaar wees.
|
Die skoolwinkel is nie tans smiddae oop nie aangesien die matriekeksamens in die saal langsaan afgelê word. U is egter welkom om ’n afspraak met me. Sanette van Loggerenberg te maak indien u enige items benodig.
|
|
|
|
|
|
|