Wapen (VrydagFiltse)
25 November 2022
facebook instagram custom 
Goeiedag Ouers/Voogde

Ons beplan ’n behoorlike JvR-garage-verkoping op Saterdag, 28 Januarie 2023 hier op ons parkeerarea. Ons wil graag alle artikels - vanaf meubels tot klere (en alles tussenin!) verkoop en nooi u nou reeds uit om by te dra tot hierdie inisiatief!

Ons is op soek na alle artikels in en om die huis wat nog in ’n bruikbare/goeie toestand is, maar wat nie meer gebruik word nie.

Met die Desembervakansie om die draai, is hierdie projek dalk ’n goeie aansporing om so ’n bietjie ontslae te raak van die dinge wat net die garage, huis of stoorkamers vol staan.

Sodra die skole volgende jaar heropen, sal ons reëlings deurgee van wanneer en waar die goedere hier by die skool afgelewer kan word (of in spesiale gevalle, by u opgelaai moet word), maar intussen sal ons bly wees indien u solank begin uitsoek aan artikels wat u vir hierdie fondsinsamelingprojek wil skenk - hoe groot of klein ookal; alle artikels is welkom!

Teken dan ook solank 28 Januarie 2023 in u dagboek aan om die oggend heerlik te kom kuier en rondsnuffel tussen die interessante artikels wat verkoop word.

Indien enigiemand nou reeds voor die vakansie enigiets wil bydra, kan u gerus met Sanette van Loggerenberg skakel (sanette.loggerenberg@janvanriebeeck.co.za) om dit solank hier by die skool te stoor.

By voorbaat dankie vir u entoesiastiese ondersteuning van hierdie projek!

Geniet die naweek.
***************************************************************************************************
BELANGRIKE REëLINGS NA DIE EKSAMEN
Vraestelkontrole
Op Maandag, 5 Desember gaan alle leerder hul vraestelle kontroleer.
Leerders meld om 07:40 by hul registerklas aan om afwesighede te kontroleer en die instruksies rondom die verloop van die dag te ontvang.

Die periodes sal 30 minute lank wees en die skool sal om 14:00 verdaag.
Op 6 Desember kan die leerders wat op 5 Desember by die skool was, enige verdere regstellings/aanpassings kontroleer. Personeellede sal vanaf 08:00 tot 10:00 in hul klaskamers beskikbaar wees.

Rapporte
Leerders ontvang op Woensdag, 14 Desember hul rapporte, asook die jaarblad.
Hul kan die rapporte in die rooiplein afhaal tussen 7:30 en 9:00 die oggend. Die busroetes sal self met leerders reël vir die tye waarop die busse loop.

Leerders / ouers wat nie die rapporte kan kom afhaal nie, kan reël dat iemand dit namens hul kom afhaal. U moet asb. hiervoor skriftelike toestemming per e-pos aan me. Sonet Meyer (sonet.meyer@janvanriebeeck) verskaf.

RUGBY-KLINIEK 2022
Hoërskool Jan van Riebeeck bied op Maandag, 5 Desember tot Dinsdag, 6 Desember 2022 'n rugbykliniek aan.
Die verrigtinge begin Maandag 14:30 en sal Dinsdag om 11:00 afsluit.

Alle rugbyspelers en voornemende rugbyspelers van alle ouderdomme moet die kliniek bywoon.

Kostes beloop R150 per speler en is op Karri betaalbaar teen Vrydag, 2 Desember 2022. Drie etes is by die koste ingesluit.

Bring die volgende saam:
Kussing en slaapsak
Stortsakkie
Handdoek
Swembroek en swemhanddoek
Waterbottel

Ons sien uit na 'n lekker oefengeleentheid. Dit is ook ’n heerlike geleentheid vir ons spelers om ons nuwe rugbyhoof, mnr. CJ velleman en die afrigtingspan vir 2023 te ontmoet!

KERSFEESFEES: LANGTAFELKUIER OP ONS NUWE STUDENTEPLEIN
Alle ouers/voogde word vriendelik uitgenooi om volgende Vrydagaand die 2022-skooljaar op ’n sosiale noot af te sluit by ons Kersfeesfees-langtafel op ons nuwe studenteplein!

Bring u eie mandjie met eetgoed en drinkgoed en kom kuier saam om die JvR-jaar op ’n hoë noot af te sluit. Gaste moet ook hul eie breekgoed en glase bring.

’n Kersmark met pragtige Kersgeskenke asook spesiale Kersmusiek sal bydra tot ’n feestelike atmosfeer.

Toegang is gratis, maar ons versoek graag alle gaste om ’n Mr Price Home-geskenkbewys van enige bedrag saam te bring wat ons aan instansies sal uitdeel om vir kinders spesiale Kersfeesvreugde te bring!

Datum: Vrydag, 2 Desember 2022
Plek: JvR-Studenteplein
Tyd: Vanaf 18:00
Drag: Gemaklik

Bespreek asseblief u sitplek(ke) op Quicket: https://qkt.io/pNyRln sodat ons weet vir hoeveel gaste ons moet voorberei.

Geniet vir oulaas vanjaar die JvR-gees en vier saam met ons die opening van die nuwe studenteplein!

KLUBUITREIK
Die #JanOMGEE en ATKV-Strepiestak beoog 'n uitreik na die SA-kinderhuis op 7 Desember om 10:00.

Ons wil geskenkpakkies saamstel en benodig die volgende produkte:
Deodorant
Tandepasta
Waslappie
Koekieseep
Pakkie sneesdoekies
Handeroom
Enige pakkie koekies
Enige pakkie lekkers
Enige sjokolade
Niebederfbare produkte soos blikkies kos en pakkies pasta.

Dit sal wonderlik wees as die Jan van Riebeeckers die produkte @ Vrydag, 2 Desember 2022 skool toe kan bring.

Kom sluit die jaar met omgee af.

JAARBLAD 2022
Ons publiseer vanjaar weer ’n jaarblad, Die Jan van Riebeecker, met al ons skool se 2022-hoogtepunte ingesluit.

Leerders/Ouers/Voogde kan ’n harde kopie van hierdie glansblad teen R120 per eksemplaar bestel – dit beloof om ’n pragtige boek te wees: iets wat ’n mens graag sal wil hou om weer en weer deur te blaai.

Die elektroniese weergawe sal gratis aan alle ouers/leerders/voogde gestuur word. Bestellings vir die harde kopie kan op Karri gedoen word.

BESONDERE UITSTALLING BY WELGEMEEND: JAN VERMEIREN-UITSTALLING
Jan Vermeiren is bekend in Suid-Afrika en België en hy woon en werk sedert die vroeë 70's in Kaapstad. Jan en Kristien het ook jaarliks ​​besoeke gebring aan België, en veral Antwerpen - sy werk het 'n sterk aanhang daar.

Soos daardie Vader Claerhout, 'n mede-België, word sy werk sterk beïnvloed deur sy lewe in Afrika. Jan se unieke en lewendige kleure het oor die jare vreugde aan baie huise en uitstallings gebring.
Tydens Covid het Jan geëksperimenteer en nuwe werke geskep deur 'n digitale tegniek te gebruik.
Kom besigtig hierdie besondere uitstalling vanaf 2 tot 4 Desember. Kliek gerus hier vir meer inligting.

ONTMOET ONS NUWE PERSONEEL - ME. WIENKAS JOOSTE: RTT
Me. Wienkas Jooste sê sy is só opgewonde om by Hoërskool Jan van Riebeeck te begin werk, want sy wou nog altyd by 'n skool met soveel trots en diep gegronde tradisies werk.

Me. Jooste het 25 jaar ondervinding in rekenaaropleiding, en ja, spot sy... sedert die eerste uurglasie al op die rekenaarskerm verskyn het! Sy het haar onderwysdiploma in 1990 verwerf en wou eers in rekenaars opleiding gee. Toe het sy by die dinamiese groep opleiers by Ou Mutual aangesluit om die hele maatskappy rekenaarvaardig te kry, daarna is sy Sanlam toe en toe het sy by skole begin werk. Wat 'n goeie kombinasie, meen sy: jongmense en haar passie, rekenaars!

Die afgelope 12 jaar het me. Jooste by Reddam House Atlantic Seaboard RTT en IT aangebied. Sy was ook vakhoof van IT by Curro en in 2002/2004 aan Monument Park en toe die Hoërskool Stellenberg verbonde.

Me. Jooste sien baie daarna uit om op ons Jan van Riebeeckers se lewenspad na volwassenheid 'n positiewe rol te speel om hul leergierigheid aan te steek met haar liefde vir rekenaars... en hul voor te berei vir 'n blink toekoms - wat heel waarskynlik 'n digitale beroep sal wees.

Baie welkom, me. Jooste - ons is baie opgewonde dat u deel raak van ons JvR-familie!

BEGROTING
Die 2023-begroting en skoolfooie is gisteraand tydens die ouervergadering goedgekeur. Baie dankie aan die ouers wat die vergadering bygewoon het en deelgeneem het aan die begrotingsgesprek.

Kliek gerus hier om die dokument met ons 2023-fooie af te laai.

AKADEMIE
Eksamenhulpklasse: Wiskunde
Ons wiskunde-departement bied in al die grade en vir al die vraestelle eksamenhulpklasse aan.
Alle leerders word aangemoedig om van hierdie wonderlike afronding- en leergeleentheid gebruik te maak! Kliek gerus hier om die rooster af te laai.

SKOOLWINKEL
Die skoolwinkel is nie tans smiddae oop nie aangesien die matriekeksamens in die saal langsaan afgelê word. U is egter welkom om ’n afspraak met me. Sanette van Loggerenberg te maak indien u enige items benodig.
Stuur gerus ’n e-pos na sannette.loggerenberg@janvanriebeeck.co.za, om afspraak te maak.

ONDERSTEUN DIE SA KINDERHUIS
Die SA Kinderhuis, hier in die hart van die stadgemeenskap, het ons hulp nodig. Afgesien van die daaglikse kostes wat groot uitdagings bied, het hul ook nou met ’n opknappingsprojek begin. Kliek gerus hier om uit te vind hoe u hul kan ondersteun.

Vriendelike JvR-groete
Pieter Rademeyer
Skoolhoof
facebook instagram custom 
Email Marketing Powered by MailPoet