|
|
|
|
|
Die onderwysers was die afgelope week hard aan die werk om die punte te finaliseer en die laaste vakadministrasie af te handel. Baie dankie, Kollegas vir jul deeglike en harde werk. Die WKOD het Woensdag ons punte afgeteken, die rapporte is (tussendeur beurtkrag!) gedruk en ons is gereed om dit volgende Woensdagoggend uit te deel.
|
Baie geluk aan elke Jan van Riebeecker wat sy/haar beste gelewer het hierdie kwartaal en jaar. Ons het ook opnuut die waarde van die intervensieprogram besef. Dit is baie duidelik dat leerders wat getrou hier betrokke was, groot verbeteringe in uitslae sal sien.
|
Dit is vir ons baie belangrik dat u na Woensdag saam met u kind deur die puntestaat werk en ’n aksieplan vir 2023 opstel: stel mikpunte vir die nuwe akademiese jaar op en gesels met mekaar oor beplanning, tydsbestuur en betrokkenheid by die skoolprogram. Ons wil graag hê dat alle leerders volgende jaar ’n gesonde balans handhaaf tussen die akademiese verpligtinge en hul betrokkenheid by al die ander skoolaspekte en -projekte.
|
Ons het 11 personeellede wat vanaf gister hard aan die werk is by die onderskeie graad 12-nasiensentrums in die provinsie. Ons is trots op hul aanstellings en dankbaar dat hul bereid is om by hierdie belangrike proses betrokke te wees. Die nasienproses behoort teen 21 Desember afgehandel te wees en die punte word op 20 Januarie bekendgemaak.
|
Die onderwysers is Annelie Nimmo, hoofnasiener by Geskiedenis, Huibrect Steyn, Rhonda Jansen van Vuuren en Roosmaryn Schwartz wat senior merkers is en Lize Turkstra, Werner Cronje, Elize Gouws, Liza Serrao, Geruan Geldenhuys, Ruthette du Toit en Sanet Taljaard wat as merkers aangestel is. Baie sterkte met die groot werk.
|
***************************************************************************************************
|
BELANGRIKE REëLINGS VIR VOLGENDE WEEK
|
Leerders ontvang volgende Woensdag, 14 Desember hul rapporte, asook die jaarblad.
|
Hul kan die rapporte in die rooiplein afhaal tussen 7:30 en 9:00 die oggend. Die busroetes sal self met leerders reël vir die tye waarop die busse loop.
|
Leerders / ouers wat nie die rapporte kan kom afhaal nie, kan reël dat iemand dit namens hul kom afhaal. U moet asb. hiervoor skriftelike toestemming per e-pos aan me. Sonet Meyer (sonet.meyer@janvanriebeeck) verskaf.
|
Ons beplan ’n behoorlike JvR-garage-verkoping op Saterdag, 28 Januarie 2023 hier op ons parkeerarea. Ons wil graag alle artikels - vanaf meubels tot klere (en alles tussenin!) verkoop en nooi u nou reeds uit om by te dra tot hierdie inisiatief!
|
Ons is op soek na alle artikels in en om die huis wat nog in ’n bruikbare/goeie toestand is, maar wat nie meer gebruik word nie.
|
Met die Desembervakansie om die draai, is hierdie projek dalk ’n goeie aansporing om so ’n bietjie ontslae te raak van die dinge wat net die garage, huis of stoorkamers vol staan.
|
Sodra die skole volgende jaar heropen, sal ons reëlings deurgee van wanneer en waar die goedere hier by die skool afgelewer kan word (of in spesiale gevalle, by u opgelaai moet word), maar intussen sal ons bly wees indien u solank begin uitsoek aan artikels wat u vir hierdie fondsinsamelingprojek wil skenk - hoe groot of klein ookal; alle artikels is welkom!
|
Teken dan ook solank 28 Januarie 2023 in u dagboek aan om die oggend heerlik te kom kuier en rondsnuffel tussen die interessante artikels wat verkoop word.
|
Indien enigiemand nou reeds voor die vakansie enigiets wil bydra, kan u gerus met Sanette van Loggerenberg skakel (sanette.loggerenberg@janvanriebeeck.co.za) om dit solank hier by die skool te stoor.
|
By voorbaat dankie vir u entoesiastiese ondersteuning van hierdie projek!
|
Parkour is ’n aktiwiteit of sport waar ’n persoon vinnig deur 'n gebied beweeg, gewoonlik in 'n stedelike omgewing, en dan hindernisse moet oorkom deur te hardloop, te spring en te klim.
|
Ons is opgewonde dat Zack Wright van Moya Movement & Coaching vanaf volgende jaar hierdie nuwe aktiwiteit op Vrydaemiddae hier by die skool sal aanbied. Zack is ook die afrigter van Dominique D'Oliveira, die eerste Suid-Afrikaanse vrou wat sopas vir die Tokio Wêreldkampioenskappe gekwalifiseer het.
|
Zack het gister in ons saalperiode die leerders kortliks van die inisiatief vertel. Indien u kind belangstel om in 2023 hierby betrokke te raak of net eers meer ui te vind, voltooi asb. die vorm deur op die onderstaande skakel te kliek:
|
Die handboeklyste en skryfbehoeftes vir 2023 is nou beskikbaar.
|
Let asseblief op die volgende:
|
- Boeke wat met ‘n * gemerk is, moet u self aankoop (prosedure volg onder).
- Die ander handboeke word deur die skool se boekestoor aan die begin van die akademiese jaar uitgereik.
- Leerders moet asseblief ook (ten minste) een eksamenblok hê.
Prosedure om boeke te bestel:
|
U kan die boeke wat met ‘n * gemerk is (en waarvoor die ISBN-nommer voorsien is) by enige winkel aankoop, bv. Van Schaik, Takealot, Loot of Boeke24. Let asseblief daarop dat die ISBN-nommer sal verskil van die e-boeknommer. Ons moedig u egter aan om eerder die handboeke te koop in die lig van duur elektroniese toerusting.
|
Die Fisiese Wetenskappe-boeke is reeds deur leerders aangekoop. Indien u enige vrae rakende daardie werkboeke het, is u welkom om me. Turkstra te kontak by lize.turkstra@janvanriebeeck.co.za.
|
Indien u van Boeke24 se dienste wil gebruik maak, moet u asseblief die volgende stappe volg:
|
- Kliek op “Create an Account”. Registreer en voltooi die nodige inligting.
- Aanvaar die “Privacy Policy”.
- Kies die skool se naam en u kind se graad (links, bo op die skerm).
- Kies die boeke wat u graag wil aankoop en voeg dit in u mandjie voordat u voortgaan na die “checkout”opsie.
- Voltooi die betalingsprosedure.
- Bevestig u bestelling voordat u die bladsy verlaat.
- Indien u reeds op Boeke24 geregistreer is, teken in by “My Account”.
- Indien u enige probleme ondervind, skakel asseblief vir Boeke24 by (021) 981 1270 (uitbreiding 2).
Ons wil u vriendelik versoek om u aankope se spoedig moontlik te doen sodat u kind(ers) alle boeke het wanneer die skool op 18 Januarie 2023 heropen.
|
Boeke wat deur die JvR-boekestoor uitgereik word, word op Maandag, 16 Januarie 2023 (gr.9 & 10) en Dinsdag, 17 Januarie 2023 (gr.11 & 12) tussen 10:00 en 13:00 hier by die skool uitgereik. Die graad 8-handboeke sal uitgereik word tydens die eerste skoolweek.
|
U is welkom om ’n afspraak met me. Sanette van Loggerenberg te maak indien u vanjaar nog enige items benodig. Stuur gerus ’n e-pos na sannette.loggerenberg@janvanriebeeck.co.za, om afspraak te maak. Die skoolwinkel sal op 16 Januarie 2023 heropen.
|
HUPPELLAND-KERSPROJEK VIR SA KINDERHUIS
|
Ons ondersteun met groot trots Huppelland se Kesprojek ten bate van die SA Kinderhuis. Pragtige kaartjies en unieke geskenkpapier geskep uit die Huppellanders se kreatiewe Kunsprente is te koop. Bestellings kan via Karri gedoen word. Kliek gerus hier vir al die inligting.
|
|
|
|
|
|