Wapen (VrydagFiltse)
16 Desember 2022
facebook instagram custom 
facebook instagram custom 
Goeiedag Ouers/Voogde

Ons staan aan die einde van nog ’n skooljaar en dit is met groot trots dat Hoërskool Jan van Riebeeck terugkyk op ’n jaar vol hoogtepunte op alle gebiede van ons skoollewe.

Met die Covid-regulasies steeds in plek, het ons die jaar moedig afgeskop met die hoop dat ons ’n normaler skoolervaring aan ons leerders kan bied. Dit is wonderlik om nou aan die einde van 2022 vir mekaar te kan sê dat ons inderdaad die geleentheid gehad het om ’n héérlike skoolprogram propvol lekkertes te kon aanbied en geniet.

Ek glo dat elke Jan van Riebeecker vanjaar hier uitnemendheid in alle vorme kon beleef. Die personeel het baie hard gewerk om aan leerders die geleentheid te bied om te kon ontwikkel – in die klaskamer, op die sportveld en ook op die kulltuurverhoog – sodat hul eindelik die béste weergawe van húlself kon wees.
By Hoërskool Jan van Riebeeck het ons vanjaar opnuut gepoog om ’n uitstekende balans tussen prestasie en genot te handhaaf: ons wil altyd vir leerders die geleentheid bied om deel te neem, maar ons wil ons leerders verryk en inspireer om ook op die hoogste moontlike vlak te kan presteer.

Die leerder se ménswees bly egter die belangrikste: ons wil eerstens hê ons leerders moet gelukkig wees. En ek glo ons kinders was vanjaar gelukkig.
Ek is geweldig trots op ons Jan van Riebeeckers wat presteer het, maar veral aan elkeen wat deelgeneem het. Jul elkeen help skryf aan die mooi Jan van Riebeeck-storie wat ons nou hier kan lees.

'n Groot dank aan elke ouer en voog wat saam met u kind die afgelope jaar die skoolpad gestap het. Dankie ook vir u volgehoue ondersteuning van dit wat ons hier by Jan van Riebeeck doen. Ek is trots en dankbaar vir al die ouers en voogde wat betrokke is by ons skool en inspring om te help en te ondersteun waar nodig.

'n Spesiale woord van dank aan mnre. Kees Snijders (voorsitter), Izak Swanepoel (ondervoorsitter) en die hele beheerliggaam vir ongelooflike ondersteuning en bystand. Jul bydraes op soveel gebiede is van onskatbare waarde. Dis wonderlik om ’n beheerliggaam te hê wat nie net in raadsale vergader nie; hierdie dames en here rol hul moue op en wérk vir ons skool – baie dankie daarvoor!

Ek lig my hoed vir die knap personeelspan wat bereid is om selfs méér as die spreekwoordelike ekstra myl te loop: in die klaskamer, in die administratiewe- en ondersteuningafdeling, in die koshuise, op die kampus; álmal in elke aspek van ons skool. Dankie, Kollegas, vir u harde werk en baie ekstra myle se loop. Jul ráákvat die afgelope jaar word waardeer.

'n Spesiale woord van dank aan die leierspan en graadhoofde vir die bestuur van u portefeuljes en grade, asook u lojale ondersteuning. Waarnemende adjunkhoof, Huibrecht Steyn, verdien spesiale melding. Dankie vir die saam werk en bestuur: in ’n uitdagende onderwyslandskap staan jy sterk en jou werkywer is verstommend. Dankie vir die lojale ondersteuning!

Ons groet ook drie kollegas: mnr. en mev. Griessel en ook me. Harvey. Baie dankie vir u reusebydrae tot ons akademiese en buitemuurse program. Jul sal beslis gemis word in die personeelkamer, maar veral deur die talle kinders wat jul met jul leiding en menswees aangeraak het. Voorspoed vir die nuwe hoofstuk wat op jul wag!

Daar is ook soveel ander vriende van die skool wat op besondere wyses in die agtergrond betrokke is by die instandhouding en vooruitgang van ons skool. Ek dink hier aan die JvR100-Trust, die alumni-vereniging, OOV, Vriende van Welgemeend en Boerneefversameling, borge en donateurs en talle ander weldoeners en ondersteuners. Dankie vir u baie tyd en omgee vir ons geliefde skool.

By Hoërskool Jan van Riebeeck sal ons altyd aanhou streef na nét die beste en daarom sien ek baie uit na ’n opwindende 2023. Nuwe geleenthede wink en ons gaan elkeen daarvan met oorgawe aanpak.

Tot dan… geniet die welverdiende Desembervakansie saam met u familie en geliefdes!

Mooi wense!

Pieter Rademeyer
Skoolhoof
***************************************************************************************************
2023-SKOOLKALENDER
Vir u beplanning, is die jaarkalender nou op ons webblad beskikbaar.
Kliek gerus hier: https://janvanriebeeck.co.za/kalender/.

BORG ’N JAN VAN RIEBEECKER-PROJEK 2023
Dit is die droom van meninge jongmens om hul hoërskoollopbaan hier by ons trotse skool aan die voet van Tafelberg te geniet.
Die werklikheid is egter dat dit vir baie talentvolle jongmense om finansiële redes nie beskore is nie.

Ons loods graag die Borg ’n Jan van Riebeecker-projek met die hoop dat ons skoolgemeenskap, oudleerders, vriende van die skool en sakeondernemings met ons sal hande vat in ’n poging om aan hierdie uitblinker leerders die geleentheid te bied om tot hul volle potensiaal hier by ons geliefde skool te ontwikkel.

Bied aan ’n leerder die geleentheid om ’n Jan van Riebeecker te word deur gedeeltelik of ten volle sy/haar skoolfonds/koshuisgelde te borg. Enige sodanige borgskap kwalifiseer vir ’n Artikel 18A-belastingsertifikaat. Die aard van u bydrae (betalingwyse/tydsduur/voorwaardes, ens.) sal individueel met weldoeners bespreek word.

Kliek gerus hier en voltooi die vorm. Ons sal dan spoedig met u in verbing tree rondom verdere reëlings.

By voorbaat dankie vir u ondersteuning!

JvR KONTANTLOOS IN 2023
Ons wil baie graag in 2023 nie meer met kontant werk nie - dit beteken dat die skool al hoe minder kontantbetalings gaan aanvaar by funksies en aktiwiteite.
Baie van die insamelings vind op KARRI plaas en ouers het die opsie om die KARRI-toep op hulle fone te laai. Ons sal kaartbetalings en Snapscan by funksies aanvaar.

U moet daarom asseblief begin om ander maniere van betaling, buiten kontant, te ondersoek. Verskeie banke bied ook nou ‘n “prepaid”-kaart opsie.

’n Paar skakels hieronder:
https://www.giftbucks.co.za/prepaid-cards.asp
https://www.mastercard.co.za/en-za/personal/find-a-card/mastercard-prepaid-cards.html
https://www.standardbank.co.za/southafrica/personal/products-and-services/bank-with-us/bank-accounts/our-accounts/(sum)1-account

By voorbaat dankie vir u ondersteuning en samewerking!

JvR-'GARAGE'-VERKOPING
Ons beplan ’n behoorlike JvR-garage-verkoping op Saterdag, 28 Januarie 2023 hier op ons parkeerarea. Ons wil graag alle artikels - vanaf meubels tot klere (en alles tussenin!) verkoop en nooi u nou reeds uit om by te dra tot hierdie inisiatief!

Ons is op soek na alle artikels in en om die huis wat nog in ’n bruikbare/goeie toestand is, maar wat nie meer gebruik word nie.

Met die Desembervakansie om die draai, is hierdie projek dalk ’n goeie aansporing om so ’n bietjie ontslae te raak van die dinge wat net die garage, huis of stoorkamers vol staan.

Sodra die skole volgende jaar heropen, sal ons reëlings deurgee van wanneer en waar die goedere hier by die skool afgelewer kan word (of in spesiale gevalle, by u opgelaai moet word), maar intussen sal ons bly wees indien u solank begin uitsoek aan artikels wat u vir hierdie fondsinsamelingprojek wil skenk - hoe groot of klein ookal; alle artikels is welkom!

Teken dan ook solank 28 Januarie 2023 in u dagboek aan om die oggend heerlik te kom kuier en rondsnuffel tussen die interessante artikels wat verkoop word.

By voorbaat dankie vir u entoesiastiese ondersteuning van hierdie projek!

SLUITKASSIES 2023
Leerders wat nog nie alle artikels uit hul sluitkassies verwyder het nie, moet op 16 en 17 Januarie, wanneeer handboeke afgehaal word, dit doen sodat ons die nuwe sluitkassies kan toeken. Alles wat hierna agterbly, sal deur ons verwyder word vir herwinning of skenkings.

Leerders wat ‘n sluitkassie wil bespreek vir die jaar, kan hul R200.00 direk by me. Nicky Hattingh in die finansieskantoor betaal. Daar is ’n beperkte aantal sluitkassies, so leerders moet flink reageer die eerste skooldag volgende jaar.

PARKOUR BY JvR IN 2023
Parkour is ’n aktiwiteit of sport waar ’n persoon vinnig deur 'n gebied beweeg, gewoonlik in 'n stedelike omgewing, en dan hindernisse moet oorkom deur te hardloop, te spring en te klim.
Ons is opgewonde dat Zack Wright van Moya Movement & Coaching vanaf volgende jaar hierdie nuwe aktiwiteit op Vrydaemiddae hier by die skool sal aanbied. Zack is ook die afrigter van Dominique D'Oliveira, die eerste Suid-Afrikaanse vrou wat sopas vir die Tokio Wêreldkampioenskappe gekwalifiseer het.

Indien u kind belangstel om in 2023 hierby betrokke te raak of net eers meer ui te vind, voltooi asb. die vorm deur op die onderstaande skakel te kliek:
https://docs.google.com/forms/d/e/1FAIpQLSe_wDwuNKjZNST8nhTsCohJlaPnrH2DUeoMGOlXk4N0Lwtkxw/viewform?vc=0&c=0&w=1&flr=0

AKADEMIE
Baie geluk aan ons Jan van Riebeeckers met jul puik uitslae - ons is baie trots op die mooi akademiese prestasies gelewer vanjaar!
Die akademiese presteerders sal tydens ons graad 8-11-prysuitdeling op 1 Februarie 2023 aangekondig word. Meer inligting oor dié seremonie volg in die nuwe jaar.

Ouers/voogde moet asb. daarop let dat die leerders se kwartaal 2-punte aangepas is volgens WKOD-riglyne; daarom sal sommige vakke se punte verskil van ’n vorige rapport. Daar mag ook 'n aanpassing/verskille by ’n ander kwartaalpunt voorkom indien u kind ’n assessering ingehaal het.
Indien u enige verdere navrae het, kan u gerus die akademiese hoof, me. Liza Serrao (liza.serrao@janvanriebeeck.co.za) kontak. Sy sal aan die begin van volgende jaar vir u terugvoering gee.

Handboeke
Boeke wat deur die JvR-boekestoor uitgereik word, word op Maandag, 16 Januarie 2023 (gr.9 & 10) en Dinsdag, 17 Januarie 2023 (gr.11 & 12) tussen 10:00 en 13:00 hier by die skool uitgereik. Die graad 8-handboeke sal uitgereik word tydens die eerste skoolweek.

Die handboeklyste en skryfbehoeftes vir 2023 is nou beskikbaar.
Let asseblief op die volgende:
  • Boeke wat met ‘n * gemerk is, moet u self aankoop (prosedure volg onder).
  • Die ander handboeke word deur die skool se boekestoor aan die begin van die akademiese jaar uitgereik.
  • Leerders moet asseblief ook (ten minste) een eksamenblok hê.
Prosedure om boeke te bestel:
U kan die boeke wat met ‘n * gemerk is (en waarvoor die ISBN-nommer voorsien is) by enige winkel aankoop, bv. Van Schaik, Takealot, Loot of Boeke24. Let asseblief daarop dat die ISBN-nommer sal verskil van die e-boeknommer. Ons moedig u egter aan om eerder die handboeke te koop in die lig van duur elektroniese toerusting.

Die Fisiese Wetenskappe-boeke is reeds deur leerders aangekoop. Indien u enige vrae rakende daardie werkboeke het, is u welkom om me. Turkstra te kontak by lize.turkstra@janvanriebeeck.co.za.

Indien u van Boeke24 se dienste wil gebruik maak, moet u asseblief die volgende stappe volg:
  1. Kliek op “Create an Account”. Registreer en voltooi die nodige inligting.
  2. Aanvaar die “Privacy Policy”.
  3. Kies die skool se naam en u kind se graad (links, bo op die skerm).
  4. Kies die boeke wat u graag wil aankoop en voeg dit in u mandjie voordat u voortgaan na die “checkout”opsie.
  5. Voltooi die betalingsprosedure.
  6. Bevestig u bestelling voordat u die bladsy verlaat.
  7. Indien u reeds op Boeke24 geregistreer is, teken in by “My Account”.
  8. Indien u enige probleme ondervind, skakel asseblief vir Boeke24 by (021) 981 1270 (uitbreiding 2).
Ons wil u vriendelik versoek om u aankope se spoedig moontlik te doen sodat u kind(ers) alle boeke het wanneer die skool op 18 Januarie 2023 heropen.

Indien u enige navrae het, is u welkom om me. Milandré Bezuidenhout by milandre.bezuidenhout@janvanriebeeck.co.za te kontak.

Handboeklyste 2023: Graad 8; Graad 9; Graad 10; Graad 11; Graad 12

SKOOLWINKEL
Die skoolwinkel sal vanaf 9 Januarie 2023 daagliks tussen 8:00 en 13:00 oop wees. Indien u enige navrae het, kontak gerus vir me. Sanette van Loggerenberg by sanette.loggerenberg@janvanriebeeck.co.za.
Email Marketing Powered by MailPoet