Wapen (VrydagFiltse)
20 Januarie 2023
facebook instagram custom 
facebook instagram custom 
Goeiedag Ouers/Voogde

Baie welkom terug aan al ons Jan van Riebeeckers en ons ouers/voogde! Ek vertrou dat almal goed uitgerus is en gereed is om die nuwe skooljaar met groot entoesiame aan te pak. Ons sien uit na ’n baie opwindende jaar!

’n Spesiale welkom aan ons nuwe graad 8's en hul ouers/voogde. Ons is reeds baie beïndruk met dit wat ons van dié groep die afgelope week beleef het - ons weet dat die 'soutkorrels' beslis ’n nuwe geur aan ons skool gaan gee. Mag die verbintenis oor die volgende klompie jare heerlik en positief wees!

Ons het ook tydens ons eerste saalbyeenkoms Woensdag die nuwe personeel aan die leerders voorgestel. Baie welkom, kollegas; mag die nuwe hoofstuk by Jan van Riebeeck vir julle opwindend wees:

Me. Carlie Reinecke - IGO & Geografie
Mnr. Adriaan Potgieter - Afrikaans & Engels
Me. Wienkas Jooste - RTT
Mnr. CJ Velleman - Geografie, Geskiedenis, Tegnologie, LO, rugbyhoof
Mnr. Abré van Heerden - Sporthoof
Me. Razelle Hanekom - Projekbestuurder: Sport & Kultuur en bemarking
Mnr. Freddie Moyo - IT-bestuurder
Me. Rolene van Zyl - Klavier
Mnr. Paul Richard - Saksofoon

Dit was heerlik om vanoggend die uitstekende matriekuitslae van die 2022-klas bekend te maak. Ons spog met ’n 100% slaagsyfer - dit wil gedoen wees. Ons is baie trots op elke leerder!

Ses leerders slaag met 7A's en nog 6 leerders slaag met 6A's. 37% van die matriekklas behaal ook 3 of meer A's!

Baie geluk ook aan al ons onderwysers - jul harde werk is ook beloon.
Ons vakgemiddeldes is uitstekend: uit die 21 vakke wat ons aanbied, het 17 vakke ’n klasgemiddeld bo 60%, 7 vakke is bo 70% - LO (70%), Engels Eerste Addisionele Taal (71%), Wiskunde (71%), Fisiese Wetenskappe (74%), Rekeningkunde (75%), Ekonomie 76% en Musiek 79%.
4 vakke spog vanjaar met ’n klasgemiddeld bo 80%: Visuele Kunste (82%), Engels Huistaal (83%), Inligtingstegnologie (83%) en Ontwerp (89%).

24% van ons matriekklas het ’n A-gemiddeld behaal en 9 van ons top tien-leerders het boonop ’n gemiddeld bo 85% behaal. 42% van al ons leerders slaag met ’n gemiddeld van 70% of hoër.

Baie geluk aan ons toppresteerder: Phillip Herbst! Phillip spog met puik punte in veral Rekeningkunde (97%), Inligtingstegnologie (94%) en Wiskunde (90%).

Ons is baie trots op almal se harde werk en puik uitslae!

Mooi wense vir 2023!
***************************************************************************************************
FOTODAG EERSKOMENDE MAANDAG, 23 JANUARIE
Ons neem eerskomende Maandag individuele foto's van al ons leerders, wat gebruik word vir publikasie deur die loop van 2023. Verseker asb. dat u kind netjies lyk en dus aan die skool se gedragskode ten opsigte van voorkoms voldoen. Alle leerders moet asseblief ook ’n das en baadjie dra.

FOTO'S EN RAPPORTE 2022
Indien u kind nog nie sy/haar 2022-foto's en die harde kopie van hul finale rapport ontvang het nie, moet hul dit asseblief vroeg in volgende week by me. Sterrenberg by Studentesake kom afhaal.

GRAAD 12-INLIGTINGSAAND
Ek herinner graag alle ouers/voogde en matrikulante aan die graad 12-inligtingsaand eerskomende Maandag, 23 Januarie om 18:30 in die skoolsaal. Leerders woon die funksie in netjiese skooldrag (met skoolbaadjie) by. Ons sien daarna uit om met u oor dié belangrike jaar te gesels.

OOV-INLIGTINGSAAND
Almal word vriendelik uitgenooi na die OOV-inligtingsaand eerskomende Woensdag, 25 Januarie, om 18:30 in die personeelkamer. Kom luister gerus en raak sommer vroeg in die jaar reeds betrokke by al die opwindende bedrywighede van ons skool.

JvR-KATTEBAK-VERKOPE
Ons beplan ’n behoorlike JvR-kattebak-verkope vir volgende Saterdag, 28 Januarie hier op ons parkeerarea. Ons wil graag alle artikels - vanaf meubels tot klere (en alles tussenin!) verkoop en nooi u nou reeds uit om by te dra tot hierdie inisiatief!

Ons is op soek na alle artikels in en om die huis wat nog in ’n bruikbare/goeie toestand is, maar wat nie meer gebruik word nie.

Alle items kan teen volgende Vrydag, 27 Januarie, om 12:00 by sekuriteit afgelewer word. Ons hoop dat almal volgende Saterdag heerlik sal kom kuier en rondsnuffel tussen die interessante artikels wat verkoop word.

By voorbaat dankie vir u entoesiastiese ondersteuning van hierdie projek!

PRYSUITDELING
Die graad 8-11 akademiese prysuitdeling vir prestasies wat in 2022 behaal is, vind op Woensdag, 1 Februarie om 08:00 in die skoolsaal plaas.

Pryswenners en hul ouers sal op Maandag, 30 Januarie per SMS in kennis gestel en uitgenooi word na hierdie geleentheid. U word dus versoek om u boodskappe dop te hou vir hierdie uitnodiging indien u verwag dat u kind vir enige toekennings sal kwalifiseer.

AANSOEKE OM MERIETE VIR BUITESKOOLSE AKTIWITEITE
Die aansoeke om meriete vir aktiwiteite buite skoolverband het vandeesweek geopen en sluit op Donderdag 26 Januarie. Indien u kind enige prestasies buite skoolverband tussen 13 Oktober 2022 en 20 Januarie 2023 behaal het, bestudeer asseblief die merietebeleid en vul die onderstaande skakel voor 26/01/2023 in om aansoek te doen vir meriete: https://forms.gle/1eivTAgrJ79ZWfrv7

Slegs leerders wat ’n aansoekvorm voltooi het, sal vir hierdie tipe meriete-toekennings in aanmerking kom. Kontak gerus me. Annelie Nimmo vir enige verdere navrae.

JvR-KOMMUNIKASIE 2023
Stoor asb. hierdie nommer in u selfoon as HsJvR WhatsApp om boodskappe van die skool te ontvang: 064 775 0803.
Ons gaan vanaf vanjaar 'n nuwe WhatsApp-funksie "Community" gebruik.

Volg die onderstaande skakels om by die onderskeie gemeenskappe (communities) aan te sluit waar jou kind/ers betrokke is.
Elke gemeenskap (community) het onderskeie onderafdelings (groepe) waar julle kan kies om by aan te sluit.
  1. Hs JvR: ALGEMEEN (Ouers) - almal moet asb. deel wees vir alle algemene nuus vanaf die skool: https://chat.whatsapp.com/DnhvcTT7WlHGlntsh4iKYM
  2. Hs JvR: SPORT (Ouers) https://chat.whatsapp.com/EQn0N2nYhxAJz3h2CEcTn0
  3. Hs JvR: KULTUUR (Ouers) https://chat.whatsapp.com/ENHDMBeVyRL0c6TW1IqPHA
Die gemeenskappe beskerm steeds almal se inligting en dit sal nie aan ander lede sigbaar wees nie. Skakels sal ook op die webtuiste beskikbaar wees indien u later daarby wil aansluit. Dankie vir almal se samewerking!

2023-SKOOLKALENDER
Vir u beplanning, is die jaarkalender nou op ons webblad beskikbaar.
Kliek gerus hier: https://janvanriebeeck.co.za/kalender/.

JvR KONTANTLOOS IN 2023
Ons wil baie graag in 2023 nie meer met kontant werk nie - dit beteken dat die skool al hoe minder kontantbetalings gaan aanvaar by funksies en aktiwiteite.
Ons sal steeds kontant aanvaar, maar sal ongelukkig nie kleingeld kan gee nie.

Baie van die insamelings vind op KARRI plaas en ouers het die opsie om die KARRI-toep op hulle fone te laai. Ons sal kaartbetalings en Snapscan by funksies aanvaar.

By voorbaat dankie vir u ondersteuning en samewerking!

AKADEMIE
SAMF-Wiskundeolimpiade 2023
Ronde een vind plaas op 9 Maart en alle graad 8-12 Wiskundeleerders kan deelneem.

Ons wil vanjaar graag alle ouers/voogde vra om u kind aan te moedig om aan die Wiskundeolimpiade deel te neem. Hierdie olimpiade fokus op Wiskunde en die waarde van probleemoplossing en ontdekking. Dit bied ook vir u kind blootstelling aan alternatiewe Wiskunde-probleme.

Die inskrywingsfooi is betaalbaar op Karri. Die koste per inskrywing is R30 per leerder en die sluitingsdatum is 17 Februarie. Daar is weer vanjaar ’n opsie om ’n donasie te maak. Die skool benodig R8500 om vir alle Wiskundeleerders die wonderlike geleentheid te bied - ondersteun ons gerus ons om vir alle leerders dié geleentheid te bied!

VERRYKINGSPROGRAM
Buite-drama
Leersders wat belangstel om buite-drama te neem, is welkom om die opeklas eerskomende Woensdag, 25 Januarie in me. Taljaard se klas by te woon:
Gr 8-9 16:00 -17:00
Gr 10-12 17:00-18:00

Bespreek jou plek vir die opeklas via WhatsApp: 082 964 9352 met die leerder se naam, van, graad en skool.

Lees ook gerus hier meer oor Alma Nel se drama-ateljee hier in Kaapstad en laai die inskrywingvorm hier af indien u kind belangstel om deel te word van die buite-dramagroep.

KULTUUR
Kooroudisies
Die eerste ronde kooroudisies vind eerskomende Maandag, 23 Januarie tussen 14:05 en 15:00 in die musiekdepartement plaas. Die Matilda-repetisie sal om 15:00 begin. Gesels gerus met mnr. Geldenhuys indien daar enige vrae is.

Baie dankie vir almal se ondersteuning en die heerlike skoolgees wat die afgelope week hier by Jan van Riebeeck geheers het. Geniet die naweek!

Pieter Rademeyer
Skoolhoof
Email Marketing Powered by MailPoet