|
|
|
|
|
Dit was heerlik om die afgelope week die skoolgees hier in die gebou te kon beleef. Die dirigente en huisleiers het mekaar vroeg reeds die stryd aangesê om sake uit te spook om as die wenners van die gesogte gees- en atletiekbeker by ons interhuisatletiekbyeenkoms aangekondig te word. Baie geluk aan De Goede Hoop wat vandag met die geesbeker weggestap het! Dankie ook aan elke leerder se samewerking, uitstekende dissipline en voorkoms en jul entoesiastiese deelname gister en vandag!
|
Ek is baie beïndruk met ons matriekgroep wat vroeg reeds voorloop en wys dat hul die '2023-tema' van skoolgees en skooltrots wil ondersteun. Hul is kreatief, entoesiasties en dinamies. Dankie hiervoor!
|
Ons huisprogram beloof om vanjaar nuwe lewe te kry met me. Janet Lotriet aan die stuur en die huisouers se ondersteuning en harde werk verseker dat die leerders inkoop in die 'gesonde kompetisie' en gees in die skool. Baie geluk met 'n goeie wegspringpoging, Jan van Riebeeckers!
|
Dis wonderlik om die borrelende energie in die skool te beleef. Dinge gebeur (en spesiale oomblikke vloei dan spontaan daaruit!) omdat almal inkoop in die nuwe energie wat ons op alle gebiede van die skoollewe wil inblaas. Daar is soveel opwindende geleenthede vir elke leerder in hierdie skool en ek is veral trots dat ons leerders self inisiatief neem en voorstelle maak om die skooldag vir hul lekkerder te maak.
|
Ons leerders werk ook reeds hard in die klaskamers en die akademiese program is nou goed op dreef. Moedig asseblief u kind saam met ons aan om nie agter te raak met hul akademie nie; die skoolprogram is net te vol om later te probeer inhaal. Doen elke dag net die klein stukkie wat verwag word en sukses later is verseker.
|
Mag ons die gees van spontane jonkwees, entoesiastiese deelname en aansteeklike energie dwarsdeur 2023 ervaar!
|
***************************************************************************************************
|
Baie dankie vir die oorweldigende reaksie op ons versoek om gebruikte goedere skool toe te stuur vir more se katterbakeverkope. Hier is werklik iets van alles waaruit u kan kies en keur. Kom kuier moreoggend vanaf 8:30 tot 12:00 op ons parkeerterrein saam en skaf ’n winskopie of twee aan. Hier gaan ook heerlike ontbytbroodjies en goeie koffie te koop wees.
|
Die graad 8-11 akademiese prysuitdeling vir prestasies wat in 2022 behaal is, vind volgede Woensdag, 1 Februarie om 08:00 in die skoolsaal plaas.
|
Pryswenners en hul ouers sal eerskomende Maandag, 30 Januarie per SMS in kennis gestel en uitgenooi word na hierdie geleentheid. U word dus versoek om u boodskappe dop te hou vir hierdie uitnodiging indien u verwag dat u kind vir enige toekennings sal kwalifiseer.
|
BUITEMUURSE-PROGRAM: kWARTAAL 1
|
Laai gerus die buitemuurse-program vir die eerste kwartaal hier af. Sterkte aan elke leerder wat by hierdie aktiwiteite betrokke is.
|
Vir u beplanning, is die jaarkalender op ons webblad beskikbaar.
|
SAMF-Wiskundeolimpiade 2023
|
Ronde een vind plaas op 9 Maart en alle graad 8-12 Wiskundeleerders kan deelneem.
|
Ons wil vanjaar graag alle ouers/voogde vra om u kind aan te moedig om aan die Wiskundeolimpiade deel te neem. Hierdie olimpiade fokus op Wiskunde en die waarde van probleemoplossing en ontdekking. Dit bied ook vir u kind blootstelling aan alternatiewe Wiskunde-probleme.
|
Die inskrywingsfooi is betaalbaar op Karri. Die koste per inskrywing is R30 per leerder en die sluitingsdatum is 17 Februarie. Daar is weer vanjaar ’n opsie om ’n donasie te maak. Die skool benodig R8500 om vir alle Wiskundeleerders die wonderlike geleentheid te bied - ondersteun ons gerus ons om vir alle leerders dié geleentheid te bied!
|
Ons is baie opgewonde oor die graadkampe wat aan die einde van die kwartaal plaasvind (30 en 31 Maart). Sien weer die skrywe wat aan die einde van verlede jaar uitgestuur is, hier. Onthou asseblief om so spoedig moontlik betalings op KARRI te doen.
|
VERRYKINGSPROGRAM & KULTUUR
|
Hier is ’n klompie heerlike kultuurgeleenthede waarvoor ons Jan van Riebeeckers hierdie kwartaal kan inskryf: Poort-skryfkompetisie, Taalbond-tweetaligheidseksamen, Senior ATKV-Afrikaanse Olimpiade, debat en die Paul Roos Gimnasium-debatkompetisie. Kliek gerus hier vir die inligting en sluitingsdatums. Gryp hierdie wonderlike verrykingsgeleenthede aan!
|
Ons hou vanjaar weer Afrikaansweek! Die program sal binnekort beskikbaar wees, maar dis lekker om reeds aan te kondig dat die baie gewilde Elandré ons gaskunstenaar by die afsluitingkonsert op Donderdag, 9 Maart, is. Kliek gerus hier om die advertensie af te laai en bespreek u kaartjies so gou as moontlik via Quicket:
|
https://qkt.io/apB9Mk. Die sitplekke is onbespreek en daar is slegs 500 kaartjies beskikbaar, so spring gou om teleurstelling te voorkom!
|
Parkour by Jan van Riebeeck
|
Ons bied volgende Vrydag, 3 Februarie, ’n gratis les met Zack Wright aan vir alle leerders wat belangstel om aan hierdie nuwe aktiwiteit deel te neem. Ons ontmoet om 14:15 in die Rooiplein en sal dan die kampus op ’n dinamiese bewegingtog verder verken.
|
Zack is ’n sportwetenskaplike en die hoof van jeug- en atletiekontwikkeling by ParkourSA. Hierdie Vrydagsessies sal fokus op die dinamiese beweging en verkenning van verskeie omgewings en voorwerpe in en om die skool. Vir meer inligting, kontak Zack gerus op 063 693 9516.
|
Uitruilgeleentheid vir Jan van Riebeeckers
|
Die uitruilprogram vir leerlinge tussen Duitsland en Suid-Afrika bied die volgende:
|
Hier is ’n unieke geleentheid om vir 4, 6 of 10 weke in Duitsland saam met ’n gesin te woon en daar skool te gaan.
|
- Junie/Julie (4 weke) 22/06/2023 tot 21/07/2023
- November/Januarie (10 weke) 02/11/2023 tot 11/01/2024
- November/Januarie (6 weke) 30/11/2023 tot 11/01/2024
- Desember/Januarie (4 weke) 14/12/2023 tot 11/01/2024
Belangstellendes moet voor die volgende datums aansoek doen:
|
- Junie 2023/Julie 2023 (4 weke) 3 Maart 2023
- Nov 2023/Jan 2024 (10 weke) 31 May 2023
- Nov 2023/Jan 2024 (6 weke) 30 Junie 2023
- Des 2023/Jan 2024 (4 weke) 31 Julie 2023
Vir meer inligting, besoek gerus ook:
|
Baie geluk aan die leerders wat vanjaar deel is van ons skoolkoor. Kliek gerus hier om die name te sien. Daar wag opwindende dinge op jul: koorkamp, talle optredes, ons Tafelberg Koorfees, ’n plaaslike toer in die derde kwartaal en dan hoop ons om volgende jaar ’n kultuurtoer oorsee te onderneem. Kooroefeninge vind elke Maandag vanaf 14:15 tot 16:00 plaas en die eerste oefening skop eerskomende Maandag, 30 Januarie, in die skoolsaal af. Geniet dit!
|
Ons leerders wat deel is van die Matilda-produksie is hard aan die repeteer. Ons sien uit na die eindproduk in Mei wanneer dié groep leerders op die Baxter-verhoog hul buiging maak. Kliek gerus hier om die nuutste repetisieskedule af te laai. Sterkte!
|
Geniet die naweek - sien julle by die kattebakverkope. Sterkte ook aan ons bergfietsryers wat more aan hul eerste kompetisie deelneem.
|
|
|
|
|
|