|
|
|
|
|
Dit was ’n groot vreugde toe ons graad 8-leerders eindelik vandeesweek die groenlig ontvang het dat hul deur die matrieks en skool aanvaar is as ware en trotse Jan van Riebeeckers.
|
Die baadjieplegtigheid vir die groep het vanoggend plaasgevind en dit was heerlik dat soveel ouers/voogde ook die saalbyeenkoms bygewoon het. Dankie daarvoor!
|
Dis vir ons ’n belangrike geleentheid, want ons wil graag hê dat die nuwe Jan van Riebeeckers moet besef dat hul met die dra van ons trotse skoolbaadjie ook nou deel word van die ryke geskiedenis van een van die bekendste skole in Suid-Afrika.
|
Ons is besonder trots op ons skooldrag en ek doen weer ’n beroep op elke ouer/voog om te verseker dat u kind netjies volgens die skool se gedragskode lyk wanneer hul die huis verlaat of uit u motor klim soggens.
|
Klere moet altyd vars en skoon vertoon. Geen bykomstighede en juwele word saam met die skooldrag gedra nie.
|
Ouers, verseker ook dat u kinders nie grimering skool toe dra nie - dis nie toelaatbaar nie!
|
Elke Jan van Riebeecker het die verantwoordelikheid om die skoolbaadjie en -drag met trots te dra omdat dit die waardes simboliseer waarvoor ons hier staan.
|
Help ons om hierdie gedagte by u kind(ers) te bly beklemtoon.
|
***************************************************************************************************
|
SPESIALE AANBIEDINGE BY SHIFT - OORKANT ONS HOOFINGANG!
|
Ons koffievriende oorkant die pad nooi graag alle Jan van Riebeeckers en hul familie uit om by hulle aan te klop vir heerlike drink- en eetgoed. Noem ook gerus dat u deel is van die Jan van Riebeeck-familie, en u ontvang dan 10% afslag op die totaal van u rekening. Maandae sal daar voortaan hoenderburgers teen slegs R70 beskikbaar wees. Ondersteun hul gerus!
|
Ons wil u en u kind(ers) graag uitnooi om ons te ondersteun met ons Liefdesbroodjieprojek deur ’n ekstra toebroodjie skool toe te stuur sodat ons dit aan leerders kan gee wat soms nie pousekos skool toe te kan bring nie.
|
Indien u kind bereid is om deel te wees van dié inisiatief, vra ons dat u u daartoe sal verbind om dit dan ten minste vir ’n kwartaal lank elke week getrou skool toe te stuur sodat ons kan verseker dat ons altyd genoeg broodjies het.
|
Elke graad het ’n spesifieke dag waarop hul hul liefdesbrooedjies kan bring:
|
U kind handig die broodjies by sy/haar graadhoof in tydens rye of hul kan dit ook by ontvangs afgee.
|
Indien u eerder graag ’n finansiële bydrae tot hierdie projek wil maak, is u welkom om dit via Karri te doen.
|
Baie dankie by voorbaat vir almal se omgee en ondersteuning!
|
Individuele foto-pakkette kan via Karri bestel en betaal word.
|
Die koste vir die A4-pakkette beloop R50.00 elk en daar kan tussen 5 (Pakket A-E) gekies word. Pakket 6 is slegs ’N enkel foto (A5-grootte) en die koste daarvan is R30.00. Kliek gerus hier om die voorbeelde van die pakkette te sien.
|
Die sluitingsdatum vir bestellings is 17 Februarie 2023. Enige navrae kan aan me. Vrey gerig word.
|
Ouers en leerders vanaf 16 jaar oud word hartlik uitgenooi om ook saam te kom bloedskenk op Valentynsdag, 14 Februarie! Plek: Skoolsaal Tyd : 10:00-14:00
|
Leerders wat EERSTE skenkers is, moet asb. ‘n vorm by mev. Turkstra kry wat deur hul ouers onderteken moet word.
|
Baie dankie vir u ondersteuning met hierdie baie belangrike naastediens!
|
Alle leerders word hartlik uitgenooi na vanjaar se Valentynsbal volgende Donderdag, 16 Februarie. Sien gerus die kaartjie hier vir al die inligting. Kaartjies kan op Karri gekoop word.
|
Geniet dit, Jan van Riebeeckers!
|
Kom kuier en braai saam volgende Donderdagagaand, 16 Februarie, en bring jou valentyn! Ouers gaan heerlik in die Welgemeendtuin kuier terwyl die leerders in die skoolgebou hul Valentynsbal geniet.
|
Die koste beloop R180.00 per persoon en sluit vleis, slaaie, brood en nagereg in.
|
Ons sien uit om saam met u gesellig te verkeer. Betalings kan op Karri gemaak word.
|
OPEDAE VIR NUWE LEERDERS IN 2024
|
Ons is besig om ’n opwindende program vir ons besoekers van ons opedae te beplan en vra u ondersteuning om dié uitnodiging ook wyd en syd te versprei. Ons nooi graag alle graad 6- en 7-laerskoolleerders uit om ’n unieke kykie in die lewe van Hoërskool Jan van Riebeeck te kom geniet.
|
Ons bied vanjaar ook ’n gratis busdiens aan om leerders en hul ouers oral oor die Wes-Kaap na ons skool te vervoer (almal woonagtig verder as 50km vanaf die middestad) om ons opedae by te woon en veral koshuistoere te onderneem. Voorlopige roetes sluit in vanaf Swellendam via die N2 en alle dorpe langs die pad asook die roetes via die N1. Verder sal daar ook vir die Bolandroetes, Swartlandroetes en Weskusroetes voorsiening gemaak word.
|
Kliek gerus hier om die uitnodiging af te laai en nooi u kenisse uit om die Jan van riebeeck-uitnemendheid te kom beleef!
|
Alle graad 10-12 leerders het die afgelope week hul inteken-inligting ontvang om toegang te kry tot die Telematiese Platform. Hier kan leerders toegang kry tot talle lesse, aangebied in Afrikaans, in elke vak.
|
Ons moedig leerders aan om asb. gebruik te maak van dié waardevolle hulpbron.
|
Kliek gerus op die skakels om die gebruikersgids en tye van waanneer lesse aanlyn aangebied word, af te laai.
|
Ons moedig leerders aan om deel te neem aan die MathArt-kompetisie wat deur Nelson Mandela Universiteit aangebied word. Kliek gerus hier vir al die inliging.
|
Toetsdag 1 en assesseringsrooster
|
Die eerste toetsdag begin volgende Woensdag, 15 Februarie. Die onderskeie toetsdae is op die assesseringsrooster (in vetgedruk) getik. Alle formele assesserings vir kwartaal 1 asook die intervensiedae is ook op die program aangedui.
|
Let asseblief daarop dat as gevolg van die WKOD-Roadshow wat op 7 Februarie plaasgevind het, het van die assesserings verskuif na die tweede kwartaal. Dit het 'n impak op die graad 12-Wiskundeleerders en die graad 10- en 11-FW-leerders. Hierdie assesserings is in rooi aangedui en deurgehaal op die aangepaste assesseringsprogram. Kliek gerus hier om die aangepaste rooster af te laai.
|
Ouers word daaraan herinner dat hul die akademiese hoof, me. Serrao, dadelik moet kontak by liza.serrao@janvanriebeeck.co.za indien u kind die dag nie ’n toets kan aflê nie. Ouers moet dan ook so gou as moontlik ’n mediese sertifikaat by me. Sterrenberg (studentesake) indien.
|
Leerders moet op toetsdae dadelik by hul registerklas aanmeld tensy ander reëlings aan ’n spesifieke groep deurgegee is.
|
Alle ouers/voogde moet verseker dat die skool die nuutste inligting ten opsigte van u kind se konsessies vir eksamens en toetse het. Alle opgedateerde dokumente moet teen Maandag 13 Februarie aan me. Annelie Nimmo (annelie.nimmo@janvanriebeeck.co.za) gestuur word.
|
Graad 8's wat in graad 7 vir konsessies gekwalifiseer het, se inligting moet ook aan me. Nimmo gestuur word.
|
Proverto-olimpiade (Handelsvakke)
|
Leerders in graad 10 -12 kan vir dié olimpiade in Rekeningkunde, Ekonomie en Besigheidstudies inskryf. Leerders kan al drie vakke of slegs twee of slegs een vak skryf en die koste beloop dieselfde.
|
Koste: R100 per leerder indien teen 20 Februarie betaal word.
|
Andersins R120.00. Betalings geskied via Karri.
|
Die eerste ronde vind op 10 Mei plaas en leerders skryf direk na skool in me. Meyer se klas. Indien leerders kwalifiseer, vind die tweede ronde op 2 Augustus plaas.
|
Leerders wat belangstel, kan by me. Meyer inskryf. Verdere reëlings sal nader aan die tyd deurgegee word. Ons sien uit na 'n groot aantal inskrywings en moontlike pryswenners hierdie jaar!
|
UK-Wiskundekompetisie 2023
|
Die Universiteit van Kaapstad se jaarlikse Wiskundekompetisie skop weer vanjaar op Donderdag, 25 April af. Die kompetisie vind die aand op die kampus plaas en leerders sal per bus vanaf die skool vertrek. Inskrywings kan by mnr. Klink gedoen word of by leerders se Wiskundeonderwysers. Inskrywings sluit Maandag, 27 Februarie en is gratis vir alle leerders.
|
SAMF-Wiskundeolimpiade 2023
|
Ronde een vind plaas op 9 Maart en alle graad 8-12 Wiskundeleerders kan deelneem.
|
Ons wil vanjaar graag alle ouers/voogde vra om u kind aan te moedig om aan die Wiskundeolimpiade deel te neem. Hierdie olimpiade fokus op Wiskunde en die waarde van probleemoplossing en ontdekking. Dit bied ook vir u kind blootstelling aan alternatiewe Wiskunde-probleme.
|
Die inskrywingsfooi is betaalbaar op Karri. Die koste per inskrywing is R30 per leerder en die sluitingsdatum is volgende Vrydag, 17 Februarie. Daar is weer vanjaar ’n opsie om ’n donasie te maak. Die skool benodig R8500 om vir alle Wiskundeleerders die wonderlike geleentheid te bied - ondersteun ons gerus ons om vir alle leerders dié geleentheid te bied!
|
Ons is baie opgewonde oor die graadkampe wat aan die einde van die kwartaal plaasvind (30 en 31 Maart). Sien weer die skrywe wat aan die einde van verlede jaar uitgestuur is, hier. Onthou asseblief om so spoedig moontlik betalings op KARRI te doen.
|
Privaatswemlesse vir leerders en ook vir ouers
|
Ons swemspanafrigter, Corlette Heyns, bied ook nou op Vrydae vanaf 14:30 tot 15:30 by ons swembad privaatswemlesse vir leerders aan.
|
Sy bied ook voortaan op Dinsdae en Donderdae vanaf 17:15 tot 18:00 vir volwassenes privaatlesse aan. Die koste beloop R90 per persoon.
|
Enige belangstellendes kan gerus vir Corlette via WhatsApp op 084 350 7830 kontak.
|
VERRYKINGSPROGRAM & KULTUUR
|
Hier is ’n klompie heerlike kultuurgeleenthede waarvoor ons Jan van Riebeeckers hierdie kwartaal kan inskryf: Poort-skryfkompetisie, Taalbond-tweetaligheidseksamen, Senior ATKV-Afrikaanse Olimpiade, debat en die Paul Roos Gimnasium-debatkompetisie. Kliek gerus hier vir die inligting en sluitingsdatums. Gryp hierdie wonderlike verrykingsgeleenthede aan!
|
Ons hou vanjaar weer Afrikaansweek! Die program sal binnekort beskikbaar wees, maar dis lekker om reeds aan te kondig dat die baie gewilde Elandré ons gaskunstenaar by die afsluitingkonsert op Donderdag, 9 Maart, is. Kliek gerus hier om die advertensie af te laai en bespreek u kaartjies so gou as moontlik via Quicket:
|
https://qkt.io/apB9Mk. Die sitplekke is onbespreek en daar is slegs 500 kaartjies beskikbaar, so spring gou om teleurstelling te voorkom!
|
Oefening vind oudergewoonte eerskomende Maandag om 14:15 tot 16:00 plaas in die saal.
|
Ons jaarlikse oefennaweek vind weer volgende Vrydag en Saterdag, 17 en 18 Februarie plaas. Die koste beloop R200 per leerder en dit sluit alle etes en verversings in vir die volle duur van die naweek.
|
Die tye vir die naweek verloop soos volg: Vrydag 14:30 tot 20:00, Saterdag 9:00 tot 13:00.
|
Leerders ontvang genoegsame vrye tyd, etes en versnaperings gedurende hierdie tye. Bring ook jul swemklere saam as dit baie warm is Vrydagmiddag; ons moet dalk gou vinnig ’n bietjie afkoel.
|
Simfonie- en Koorkonsert in samewerking met Hugo Lambrechts Musieksentrum
|
Ons is vanjaar baie opgewonde om 'n projek aan te pak saam met die Hugo Lambrechts Musieksentrum, wat vernoem is na een van ons voormalige, legendariese skoolhoofde. Hierdie konsert se hoogtepunt gaan 'n uitvoering wees van werke van die beroemde Suid-Afrikaanse komponis, Peter Louis van Dijk, getiteld "The Selfish Giant".
|
Hierdie werk bestaan uit 'n simfonieorkes, kinderkoor, baritonsolis en seunsolis. Ons versoek dan graag enige leerder wat wil deel vorm van die projek as 'n lid van die koor om met mnr. Geldenhuys kontak te maak om verdere inligting te bekom.
|
Hierdie konsert is eenmalige projek apart van die skoolkoor se gewone program en lede gaan dus op Dinsdae om 17:30 tot 19:00 repeteer, asook Vrydae om 15:00 tot 16:30. Die konsert vind op Vrydag 24 Maart by die Hugo Lambrechts Ouditorium plaas.
|
Ons sien uit om almal te verwelkom vir hierdie besondere projek.
|
Kliek gerus hier om die nuutste repetisieskedule af te laai. Sterkte!
|
Geniet die naweek - sterkte aan ons tennisdogters wat vandag en more aan die Dirkie Uys-toernooi op Morreesburg deelneem. Ons hou duimvas vir mooi uitslae!
|
|
|
|
|
|