Nuusbrief-header
13 Maart 2020

Belangrike Datums



>> Besoek die volledige kalender op die webtuiste <<

NB Inligting oor die Corona-virus

Ons is baie bewus van die paniek wat die Corona-virus wêreldwyd saai. Baie van die gerugte wat u op sosiale media lees is onwaar of verkeerd, maar dat die pandemie wél ‘n rede tot kommer is, is ongelukkig ‘n feit. Ons wil u egter toerus met ‘n paar belangrike feite en praktiese raad, want die siekte is voorkombaar en die skade kan beperk word.

Higiëne
Die beste voorsorgmaatreël, soos voorgeskryf deur die Wêreldgesondheidsorganisasie, is om dikwels u hande met seep en water of met behulp van alkoholgebaseerde saniteermiddel te was. Maak seker u was vir ten minste 20 sekondes lank. Moet ook glad nie aan jou neus, mond of oë met ongewasde hande raak nie en vermy naby kontak met enigiemand wat hoes of nies.
Ons het spesiale skoonmaakmiddels bestel om ons skool mee toe te rus en ons sal seker maak dat die badkamers gereeld skoongemaak word om higiëne so ver doenlik aan te help.

Oorsese reise
Indien jy en/of jou gesin enige oorsese reise beplan of gedurende die skoolvakansie oorsee gaan, moet u asseblief die volgende prosedure volg:
  1. Stuur asseblief ‘n e-pos na admin@janvanrieebeeck.co.za om te bevestig waarheen en hoe lank u reis. Ons wil graag ‘n register hou van almal wat die land verlaat.
  2. Ons versoek dat u self-kwarantyn sal toepas vir tot 14 dae na u terugkeer na Suid-Afrika en dat u gedurende die tydperk uself sal monitor vir enige moontlik simptome van die virus. Die simptome sluit in koors, hoes en asemhalingsprobleme. Kontak egter dadelik u geneesheer of die Corona “hotline” (0800 029 9990) indien u onseker is.
Die geaffekteerde lande verander ongelukkig daagliks. Vir korrekte inligting oor die virus en die lande waar gevalle aangemeld is, besoek gerus https://www.who.int/health-topics/coronavirus
Toetsing en kommunikasie
Indien iemand in u gesin Coronavirus-simptome wys, kontak dadelik u geneesheer. Moet egter onder geen omstandighede die dokter gaan besoek nie, want u kan moontlik op die manier die virus verder versprei. (LW Tygerberg Hospitaal is spesiaal toegerus om pandemiese gevalle te hanteer en het kamers waar pasiënte onder kwarantyn geplaas kan word.)

Maak asseblief seker dat u kind eerder tuis bly indien daar onsekerheid is oor die toestand, selfs al lyk dit na normale verkoue of griep. Stel ons egter in kennis van die moontlikheid van ‘n infeksie.

Indien u of u kind postief getoets is, moet u ons ook asseblief onmiddellik in kennis stel.

(FEDSAS het ook dokumentasie uitgestuur wat u kan lees.)

Belangrike Sake

  • Ons herinner u aan ons skoolhoof se afskeidsfunksie volgende Donderdagoggend tussen 08:00 en 09:00. U is baie welkom om na afloop van die verrigtinge 'n koppie koffie of tee saam met ons te geniet.
  • Let asseblief daarop dat die leerders reeds Donderdag 19 Maart hulle rapporte sal ontvang.
  • Alle personeellede begin Maandag reeds met die tweede kwartaal se werk. Dit is dus baie belangrik dat die leerders volgende week klas bywoon.
  • Die Laerskool se Kaperjolle vind op 4 April op die skoolterrein plaas. Sien die advertensie vir meer inligting.
  • My Future 4.0 bied 'n beraad aan gemik op hoёrvlakvaardighede en loopbane. Die beraad is vir ouers én leerders. Kliek hier vir meer inligting.
  • Sien asseblief hier meer inligting oor die Alpha-kursus wat Sondagaand plaasvind.
  • Alle sport- en kultuurbepalings is op die kalender aangedui. (Let op dat die netbalproewe en -oefeninge eers na die vakansie hervat.)
  • Die koor oefen komende Maandag weer tot 17:00.
  • Kamers/Makers word weer aan die einde van die vakansie by ons skool aangebied. Kom maak gerus 'n draai. Daar is fantastiese uitstallers en lekker kos!

OOV/ Ouer Kuierkomitee

  • Baie dankie aan mev Ibeth Toerien en haar bekwame span vir die afgelope termyn se harde werk. Ons is julle ewig dankbaar vir al die funksies wat julle sonder moeite vir ons gereël het.
  • Dankie ook aan al die ouers wat hierdie week die vergadering bygewoon het. Al die grade was goed verteenwoordig en daar is verskeie belangrike besluite geneem.
  • Die OOV sal van nou af as die Ouer Kuierkomitee bekendstaan.
  • Die komitee se bestuur is as volg: Marelise Snijders (voorsitter), Susan van Rooyen (ondervoorsitter), Elna du Preez (sekretaris en tesourier) en Adele Strydom (snoepie-voorsitter).
  • Die graadverteenwoordigers is Debra Liebenberg (graad 8), Jolene van As (graad 9), Adele Strydom (graad 10) en Gretha Joubert (graad 11).
  • Die graadvoorsitters sal met alle ouers in kontak tree oor graadverwante projekte vir die res van die jaar.

Koshuis

  • In die lig van die Corona-virus is dit veral nou baie belangrik dat u asseblief nie enige siek leerders koshuis toe stuur nie. Hulle moet asseblief eers tuis aansterk voor hulle weer koshuis toe kom.
  • Die uitnaweke vir die tweede kwartaal:

    10-13 April (Paasnaweek)
    24-27 April (Langnaweek)
    1-3 Mei (Werkersdag)

Vakatures by JvR

Ons het twee vakatures by Hoërskool Jan van Riebeeck wat gevul moet word.
  1. Skoolhoof se sekretaresse / ontvangsdame (Sien asseblief hier vir meer inligting oor dié betrekking.)
  2. Fondsinsamelaar (Sien asseblief hier vir meer inligting oor dié betrekking.)
Beide aansoeke sluit om 31 Maart 2020. Stuur asseblief die advertensies aan na enige belangstellendes.

Lees verder

Rugbymanne leer meer

Van ons skool se senior rugbyspelers en -afrigters het in die week 'n BokSmart-kursus, wat deur Thando Mandla aangebied is, voltooi. Baie dankie aan Francois Therons Snr en Rugby Legends, wat dié inisiatief moontlik gemaak het!

Lees verder
facebook instagram custom 
MailPoet