|
|
|
|
|
KENNISGEWING VAN TUSSENTYDSE VERKIESING: JvR-BEHEERLIGGAAM
|
Die regulasies in terme van die skolewet vereis dat alle publieke skole ’n voltallige beheerliggaam moet hê. Daar is tans twee (2) vakante poste op ons beheerliggaam beskikbaar aangesien twee ouers se kinders aan die einde van 2022 gematrikuleer het.
|
’n Tussentydse verkiesing sal daarom op Vrydag, 24 Maart plaasvind.
|
Hiermee word kennis gegee dat die nominasie van kandidate vanaf Maandag, 6 Maart 2023, by die skool (ontvangs) beskikbaar sal wees.
|
Die skool het ’n spesifieke behoefte aan ’n persoon met goeie regskennis om die dissiplinêre komitee van die beheerliggaam te lei asook iemand met goeie agtergrond en kennis oor menslike hulpbronnebestuur en kommunikasie.
|
Die volgende persone mag volgens die skolewet nie genomineer word op die BL nie:
|
- Persone met geestelike afwykings soos deur die hof bepaal;
- Ongerehabiliteerde insolvente persone;
- Persone met ’n kriminele rekord;
- Om verkiesbaar te wees, moet die persoon ’n ouer van die skool wees.
Die nominasievorm moet gesametlik voltooi word deur die voorsteller, sekondant en die genomineerde kandidaat. Hierdie vorm moet nie minder nie as een (1) dag voor die nominasievergadering by ontvangs ingedien word.
|
Nominasies kan vanaf 6 tot 22 Maart 2023 daagliks tussen 8:00 en 14:00 ingedien word.
|
Slegs indien daar meer kandidate genomineer word as die aantal ouerlede wat verkies moet word, sal ’n stemming plaasvind.
|
By voorbaat dankie vir u samewerking om hierdie twee belangrike posisies op ons beheerliggaam te vul.
|
***************************************************************************************************
|
Ons kan nie meer wag vir ons Afrikaansweek wat Maandag afskop nie! Die Afrikaans-departement het weer ’n baie indrukwekkende program saamgestel en ons leerders en ouers/voogde kan uitsien na ’n verrykende ervaring. Hierdie week is werklik een van die hoogtepunte op ons skoolkalender!
|
Kliek gerus hier om die oggendprogram af te laai en ook hier om die aandprogram af te laai.
|
Moet ook nie vergeet om kaartjies vir die Elandré-vertoning op 8 Maart te koop nie! Bespreek nou op Quicket: https://qkt.io/apB9Mk
|
Daar sal talle goeie Afrikaanse boeke te koop wees tydens ons boekepraatjie eerskomende Dinsdagoggend. Leerders moet asseblief kontant saambring skool toe om hierdie heerlike leesstof aan te skaf!
|
Dankie by voorbaat vir u ondersteuning van hierdie opwindende inisiatief!
|
Ons skop ons Afrikaansweek op ’n geurige noot af wanneer die verskillende grade Maandag teen mekaar meeding om die Potjiekoskampioen-titel vir 2023.
|
Ouers/Voogde word ook uitgenooi om Maandagaand heerlik te kom saamkuier en jul potjiekos hier by die skool te geniet. U kan ook die etes om 19:00 by die skool kom afhaal indien u nie vir die geselligheid bly nie. Kliek gerus hier vir al die inligting.
|
MATILDA-KAARTJIES NOU BESKIKBAAR!
|
Ons is trots op ons leerders wat baie hard aan die oefen is om ’n trefferverhoogproduksie in Mei te verseker!
|
Baie dankie by voorbaat vir u ondersteuning - die leerders sien baie daarna uit om voor groot gehore in die Baxter Teater op te tree!
|
TAMBOERSKLOOF-GEMEENTE HOU BASAAR!
|
Kom hou saam met Tamboerskloof basaar more, 4 Maart tussen 8:00 en 13:00!
|
Hul verkoop heerlike pannekoek, jaffels, boereworsrolle, varsgebakte brood, sosaties, kerrie-en-rys, poeding en 'n verskeidenheid van varsgebak en deli- produkte. Daar is ook hope pret vir kinders van alle ouderdomme. Ons sien daarna uit om heerlik saam te kuier!
|
Tamboerskloof verkoop ook nektar soet pitlose rooi en wit druiwe. Kontak ds. Scotty by 083 740 6412 om jou bestelling te plaas: R200 vir 5kg (daar is 10 bakkies in 'n 5 kg- boks).
|
Ons redaksie beplan vanjaar weer opwindende uitgawes van die Onze Jan-skoolkoerant.
|
Die span is hard aan die werk onder die bekwame leiding van ons redakteur, Stefan Turkstra in graad 12. Hulle gaan verseker dat hierdie uitgawes aktueel en vars bly en belangrike en positiewe insae het tot ons huidige omgewing.
|
Ons benodig egter adverteerders om publikasiekoste vir die Onze Jan te dek en het weer advertensiegeleenthede om te bied. Kliek gerus hier om al die inligting af te laai. By voorbaat dankie vir u ondersteuning!
|
Proverto-olimpiade (Handelsvakke)
|
Daar het reeds leerders (graad 10 -12) vir dié olimpiade in Rekeningkunde, Ekonomie en Besigheidstudies inskryf. Daar is egter steeds inskrywings beskikbaar! Leerders kan al drie vakke of slegs twee, of slegs een vak skryf en die koste beloop dieselfde. Koste: R120 per leerder en moet teen 10 April via Karri betaal word.
|
Die eerste ronde vind op 10 Mei plaas en leerders skryf direk na skool in me. Meyer se klas. Indien leerders kwalifiseer, vind die tweede ronde op 2 Augustus plaas. Leerders wat belangstel, kan by me. Meyer inskryf. Verdere reëlings sal nader aan die tyd deurgegee word. Ons sien uit na 'n groot aantal inskrywings en moontlike pryswenners hierdie jaar!
|
Onthou asseblief om so spoedig moontlik betalings op KARRI te doen. Sien weer die skrywe wat aan die einde van verlede jaar uitgestuur is, hier.
|
Die jaarlikse hokkiespanboudag vind môre, 4 Maart, by Hartleyvale Astro plaas.
|
30 leerders het geregistreer en gaan van die geleentheid gebruik maak om hul hokkievaardighede vir die komende seisoen te slyp.
|
Die spanboudag begin stiptelik 8:30 en sal teen 11:30 eindig.
|
Leerders word daaraan herinner om asseblief alle nodige hokkietoerusting (stok, mondskerm, skeenbeskermers (shin guards) ens. en genoeg water saam te bring.
|
Alle leerders moet ook die korrekte JvR-sportdrag dra – vlootblou sporthempie en vlootblou rompie of kortbroek. Geen ander kleredrag sal toegelaat word nie.
|
Ons sien uit om die hokkieseisoen op ’n hoë noot te begin!
|
VERRYKINGSPROGRAM & KULTUUR
|
Toneeloudisies vind eerskomende Woensdag, 8 Maart, direk na skool in me. Taljaard se klas plaas. Leerders wat belangstel, moet hul name by me. Taljaard opskryf en dan ’n oudisieteks by me. Van der Walt afhaal.
|
Ons sien vanjaar weer uit na groot opwinding en sukses in ons toneelprogram!
|
Die JanGroen-klub se strandskoonmaakprojek vind Saterdag, 11 Maart om 08:00 by Milnerton-strand (Lagoon Beach) plaas. Alle klublede ontmoet stiptelik om 08:00 op die parkeerterrein van die strand.
|
Bring asseblief 'n swartsak saam (ons sal handskoene verskaf) en dra jou JvR sportdrag, sonroom en ’n hoed.
|
Ons sal teen 09:00 klaar wees en leerders kan dan weer opgelaai word.
|
Almal is welkom om aan hierdie inisiatief deel te neem en Kaapstad se strande skoon te hou.
|
Alle ATKV-debatdeelnemers moet asseblief teen eerskomende Maandag hul bronne by me. Nimmo inhandig. Dit kan 'n harde kopie wees of op 'n geheuestokkie.
|
Alle graad 9-debatleerders oefen Donderdag 9 Maart van 07:00 tot 07:40 in me. Nimmo se klas.
|
Ons sluit die skoolprogram vir ons Afrikaansweek op Vrydag, 10 Maart met ’n opwindende talentkompetisie vir al ons leerders af. Almal word uitgenooi om in te skryf! Kliek gerus hier vir al die inligting en besonderhede oor inskrywings.
|
Moenie hierdie geleentheid misloop nie, Jan van Riebeeckers!
|
Oefening vind oudergewoonte eerskomende Maandag om 14:15 tot 16:00 in die saal plaas.
|
Simfonie- en Koorkonsert in samewerking met Hugo Lambrechts Musieksentrum
|
Ons is baie trots om vanjaar 'n projek aan te pak saam met die Hugo Lambrechts Musieksentrum, wat vernoem is na een van ons voormalige, legendariese skoolhoofde.
|
Hierdie konsert se hoogtepunt bestaan uit 'n uitvoering van die beroemde Suid-Afrikaanse komponis, Peter Louis van Dijk, getiteld "The Selfish Giant". Hierdie werk bestaan uit 'n simfonieorkes, koor, bariton-solis en seuns-solis.
|
Ons is baie opgewonde om ons wonderlike skoolkoor en orkes hiervan deel te hê. Ons skoolkoor en orkes gaan ook hulle eie uitvoerings lewer in die eerste helfte van die konsert.
|
Die konsert vind op Vrydag, 24 Maart om 19:00 by die Hugo Lambrechts Ouditorium plaas met kleedrepetisies op 22 en 23 Maart om 18:00.
|
Kaartjies sal vanaf volgende week op Quicket beskikbar wees. Meer inligting rondom die kleedrepetisies en vervoer sal teen volgende week gefinaliseer wees.
|
Ons sien uit om almal te verwelkom by hierdie besondere projek!
|
Kliek gerus hier om die nuutste repetisieskedule af te laai. Sterkte!
|
Die skoolwinkel is elke Maandag en Woensdag vanaf 13:30 tot 14:30 oop.
|
Langbroeke vir die meisies sal die eerste dag na die skoolvakansie beskikbaar wees.
|
|
|
|
|
|