Wapen (VrydagFiltse)
10 Maart 2023
facebook instagram custom 
facebook instagram custom 
Goeiedag Ouers/Voogde

Afrikaansweek hier by Jan van Riebeeck was ’n groot sukses!

Hierdie baie belangrike week op ons skoolkalender raak net elke jaar beter en beter en ons is besonder trots op dit wat ons leerders vandeesweek hier by ons skool beleef het.
Die Afrikaansvakspan het gesorg vir puik verrykingsgeleenthede: van musiek, tot boeke, klasaktiwiteite, heerlike kos en nog hope ander vermaak en lekkertes. Loer gerus na ons Facebook-blad om foto's van al die gebeure te sien.

Ek wil graag vir ons vakhoof van Afrikaans, me. Roosmaryn Schwartz, en die hele vakspan bedank vir ’n puik aanbieding vanjaar. Dit is so indrukwekkend en inspirerend om te kon sien hoe alles wat beplan is, seepglad verloop het.

So baie ander rolspelers in die skool het ook tot die sukses van die week bygedra: dankie aan me. Razelle Hanekom, me. Sanette van Loggerenberg, asook Roline en tannie Hannie, mnr. Bryan Schwartz en sy terreinspan, die tegniese span met Lisa Best wat voorgeloop het en ons ondersteuningpersoneel. Die hulp van baie ander kollegas in ander departemente word ook opreg waardeer.

Baie ouers het ook ingespring om te verseker dat die reëlings agter die skerms vlot verloop. 'n Groot dankie veral aan me. Kirstin van Tonder Pieterse wat as skakelpersoon in die OOV vir hierdie projek leiding geneem het.

Mag hierdie trotse Jan van Riebeeck-Afrikaansweek jaarliks die groot hoogtepunt bly wat dit vanjaar vir elkeen van ons was. Afrikaans lééf hier by ons skool!
**************************************************************************************************OMGEEWEEK 2023
Dis volgende week Omgeeweek hier by Jan van Riebeeck!
Ons wil graag hierdie week gebruik om soveel as moontlik terug te gee aan die gemeenskap om ons.

Ons wil graag wegspring en vra dat elke graad iets sal skenk vir ons om aan ander uit te deel:

Gr. 8 - hondekombersies / enige kombersies
Gr. 9 - skryfbehoeftes vir kinders
Gr. 10 - honde- en katkos
Gr. 11 - badgoed / toiletware vir kinders
Gr. 12 - enige kinderklere

Hierdie items sal onderskeidelik aan die WOOF-projek en SA Kinderhuis geskenk word. Leerders kan die items soggens by die rye inhandig.

Ons gaan ook elke dag 'n aktiwiteit geniet om geld in te samel vir onsliefdadigheidswerk vanjjaar asook die Omgeetee volgende Vrydag.

Leerders betaal R35 vir die hele week se bedrywighede en dit is betaalbaar op Karri.

Maandag: pienk bykomstighede vir borskankerbewusmaking. ’n Prys word vir die kreatiefste bykomstigheid toegeken.
Dinsdag: kaalvoetdag
Woensdag: Snaakse hoed-dag.
Donderdag: Karaoke elke pouse in die saal
Vrydag: Sivviedag in die kleur van jou skoolhuis (wit, blou, goud). Die huis met die beste gees onder sy lede, ontvang 10 bonuspunte in vanjaar se interhuiskompetisie.

Baie dankie by voorbaat aan al ons Jan van Riebeeckers vir jul ondersteuning van hierdie spesiale week!

DIE VRYEVERS - JAN VAN RIEBEECK SE SKRYFBUNDEL
Ons het die heel eerste uitgawe van 'Die Vryevers' tydens 'n besondere funksie Woensdagaand bekendgestel. In hierdie splinternuwe bundel verskyn die beste opstelle en gedigte wat in 2022 uit die penne van ons Jan van Riebeeckers gevloei het.

Dit was vir ons leerders en die uitgenooide gaste 'n groot voorreg om te hoor hoe die Jan van Riebeeckers se werk deur die bekende liedjieskrywer, woordkunstenaar en sangeres, Lize Beekman, en ons eie me. Sanet Taljaard voorgelees word.

Kliek gerus hier om die elektroniese weergawe van hierdie spesiale bundel af te laai. Ons het slegs 50 eksemplare van die bundel in gedrukte formaat beskikbaar. Indien u graag hierdie bundel wil aanskaf, kan u gerus vir me. Roosmaryn Schwartz ’n e-pos stuur by roosmaryn.schawartz@janvanriebeeck.co.za. Die koste beloop R200 per bundel.

Baie geluk aan al die Jan van Riebeeckers wie se werk in die 2022-uitgawe ingesluit is!

TENNISRAKETTE BENODIG VIR BEGINNERS
Die skool bied nou op Donderdae tennislesse vir alle leerders wat graag wil leer tennis speel, aan. Ons benodig egter nog rakette vir sommige van die leerders en sal dit baie waardeer indien u enige rakette wat u nie meer gebruik nie, aan die skool sal skenk. Kontak gerus vir Helena le Roux by helena.leroux@janvanriebeeck.co.za indien u ons in hierdie projek kan ondersteun.

MATILDA-KAARTJIES NOU BESKIKBAAR!
Die kaartjieverkope vir 8 tot 13 Mei se aanbieding van Mathilda vorder besonder flink op Webtickets nadat dit verlede week geopen het.
Bespreek so gou as moontlik u kaartjies om teleurstelling te voorkom. Kliek gerus hier: https://www.webtickets.co.za/v2/Event.aspx?itemid=1526075243

Baie dankie by voorbaat vir u ondersteuning - die leerders sien baie daarna uit om voor groot gehore in die Baxter Teater op te tree!

ONZE JAN-BORGVORMS
Ons benodig nog R4000 in advertensie-inkomste om te verseker dat elke Jan van Riebeecker ’n harde kopie van die eerste uitgawe van die Onze Jan kan ontvang.
Kliek gerus hier om al die inligting af te laai indien u of u maatskappy ons hierin kan ondersteun. By voorbaat dankie!

AKADEMIE
Vorige eksamenvraestelle aanlyn beskikbaar
Toegang tot vorige NSS-eksamenvraestelle en nasienmemoranda kan verkry word by https://wcedonline.westerncape.gov.za/documents/Matric/matricn/index.html.

GRAADSAKE
Graad 12
Inskrywings vir eindeksamen
Ons vra asseblief u samewerking om te verseker dat geen graad 12-leerder eerskomende Maandag of Dinsdag afwesig is nie aangesien ons die finale inskrywings vir die NSS-eksamen moet finaliseer en nagaan. Dit is baie belangrik dat alle inligting korrek is en elke leerder sy/haar eie inskrywing nagaan.

Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) het die Wenke vir Sukses-boekie vir elk van die Wes-Kaapse Nasionale Senior Sertifikaat-kandidate van 2023 saamgestel om hul met hul eksamenvoorbereiding te help.
Die boekie bevat studiewenke, eksamenwenke, beursinligting, ’n kursusoorsig van alle vakke, VR-kodes vir telematikavideo’s en ander nuttige inligting. Die digitale weergawe van die boekie kan via die volgende skakel verkry word: https://wcedonline.westerncape.gov.za/tips-success .

Graadkampe
Ons sien baie uit na die graadkampe wat op 30 en 31 Maart plaasvind. Ons vra ook u samewerking om nou alle betalings vir die kampe te begin finaliseer. Betalings moet asseblief teen 20 Maart op Karri gedoen word.

Neem ook kennis van die skrywe wat vandag saam met u kind huis toe gestuur is. Voltooi asseblief die afskeurstrokie en stuur dit volgende week terug skool toe.

Kliek gerus ook hier om die onderskeie grade se briewe af te laai:
graad 8-9; graad 10-11, graad 12.
Dankie by voorbaat vir u ondersteuning van hierdie inisiatief!

SPORT
Wintersportprogram
Die meeste sportspanne is reeds aan die oefen en ons sien uit na ’n opwindende wintersportprogram.
Die volledige oefenprogram sal vroeg volgende week op die WhatsApp-groepe uitgestuur word, maar leerders is deur afrigters en organiseerders ingelig omtrent all spesifieke oefentye.

Hokkie
Ons wil graag alle leerders bedank wat verlede Saterdag die hokkiespanboudag bygewoon het. Almal het waardevolle vaardighede geleer; dit alles terwyl hul vet pret gehad het.

Hokkie-oefeninge vir beide seuns en dogters begin amptelik eerskomende Dinsdag, 14 Maart stiptelik om 14:20. Ons ontmoet mekaar by die boonste rugbyveld.
Onthou dat leerders asb. amptelike Jan van Riebeeck-sportdrag moet dra.

Seuns moet asb. ’n e-pos rig aan mnr. Claassen (renier.claassen@janvanriebeeck.co.za) en dogters aan me. Van Rensburg (ella.vanrensburg@janvanriebeeck.co.za) indien hul om geldige redes nie oefeninge kan bywoon nie. Dit moet asb. 24 uur voor die oefeninge plaasvind, gestuur word.

Ons sien daarna uit om al die spelers terug op die hokkieveld te verwelkom.

VERRYKINGSPROGRAM & KULTUUR
#JanGroen
Die JanGroen-klub se strandskoonmaakprojek vind more om 08:00 by Milnerton-strand (Lagoon Beach) plaas. Alle klublede ontmoet stiptelik om 08:00 op die parkeerterrein van die strand.
Bring asseblief 'n swartsak saam (ons sal handskoene verskaf) en dra jou JvR sportdrag, sonroom en ’n hoed.
Ons sal teen 09:00 klaar wees en leerders kan dan weer opgelaai word.

Drama
Eistddedfod-oefening vind vanaf Donderdag, 16 Maart vanaf 14:15 tot 15:15 in me. Taljaard se klas plaas. Sterkte!

MUSIEK & MUSIEKTEATER
Koor
Oefening vind weer eerskomende Maandagmiddag plaas, maar ons oefen van 14:15 tot 17:00. Hierdie repetisie is baie belangrik en almal moet dit bywoon omdat ons oefen vir die Hugo Lambrechts-konsert. Verseker asseblief dat die nodige vervoerreëlings getref word.

Simfonie- en Koorkonsert in samewerking met Hugo Lambrechts Musieksentrum
Ons is baie trots om vanjaar 'n projek aan te pak saam met die Hugo Lambrechts Musieksentrum, wat vernoem is na een van ons voormalige, legendariese skoolhoofde.
Hierdie konsert se hoogtepunt bestaan uit 'n uitvoering van die beroemde Suid-Afrikaanse komponis, Peter Louis van Dijk, getiteld "The Selfish Giant". Hierdie werk bestaan uit 'n simfonieorkes, koor, bariton-solis en seuns-solis.

Ons is baie opgewonde om ons wonderlike skoolkoor en orkes hiervan deel te hê. Ons skoolkoor en orkes gaan ook hulle eie uitvoerings lewer in die eerste helfte van die konsert.

Die konsert vind op Vrydag, 24 Maart om 19:00 by die Hugo Lambrechts Ouditorium plaas met kleedrepetisies op 22 en 23 Maart om 18:00.
Skoolbussies sal die leerders na die sentrum en terug skool toe vervoer op hierdie betrokke dae.
Kaartjies is vanaf hierdie week op Quicket beskikbaar: https://qkt.io/puLPg4.

Ons sien daarna uit om almal by hierdie besondere aand te verwelkom!

Matilda
Ons herinner aan die baie belangrike choreografiesessie wat more vanaf 9:00 tot 16:00 plaasvind - almal moet asseblief teenwoordig wees.
Kliek gerus hier om die volledige repetisieskedule af te laai.

Skoolwinkel
Die skoolwinkel is elke Maandag en Woensdag vanaf 13:30 tot 14:30 oop.
Langbroeke vir die meisies sal die eerste dag na die skoolvakansie beskikbaar wees.

Geniet die naweek!

Pieter Rademeyer
Skoolhoof
Email Marketing Powered by MailPoet