|
|
|
|
|
Nog ’n bedrywige week hier by Hoërskool Jan van Riebeeck is verby en ons begin al uitsien na die vakansie wat om die draai is.
|
Daar is egter nog heelwat wat moet gebeur en ek moedig almal aan om voluit deel te neem, betrokke te wees en getrou skool by te woon totdat ons op 30 Maart op die graadkampe vertrek.
|
Ons sê vandag vir eers tot siens aan me. Elize von Versen wat tot aan die einde van die tweede kwartaal met kraamverlof is. Ons wens haar en haar man, Rudi, alles wat mooi is toe vir die spesiale familietyd wat voorlê en bid saam met hul dat hul babadogtertjie eersdaags veilig haar opwagting sal maak. Baie seën vir julle, Elize!
|
Mnr. Herman Kruger sal vanaf volgende Woensdag in me. Von Versen se pos waarneem - ons sien ook uit na sy betrokkenheid in die Besigheidstudie-klaskamer en ook op die rugbyveld waar hy betrokke gaan wees.
|
Ek vertrou dat u ’n heerlike langnaweek sal geniet!
|
**************************************************************************************************OMGEEWEEK 2023
|
Baie dankie aan almal wat bygedra het tot ’n suksesvolle en betekenisvolle #Omgeeweek. ’n Groot dankie aan me. Janet Lotriet vir haar inisiatief en kreatiwiteit!
|
TENNISRAKETTE BENODIG VIR BEGINNERS
|
Die skool bied nou op Donderdae tennislesse vir alle leerders wat graag wil leer tennis speel, aan. Ons benodig egter nog rakette vir sommige van die leerders en sal dit baie waardeer indien u enige rakette wat u nie meer gebruik nie, aan die skool sal skenk. Kontak gerus vir Helena le Roux by helena.leroux@janvanriebeeck.co.za indien u ons in hierdie projek kan ondersteun.
|
MATILDA-KAARTJIES NOU BESKIKBAAR!
|
Die kaartjieverkope vir 8 tot 13 Mei se aanbieding van Mathilda vorder besonder flink op Webtickets nadat dit verlede week geopen het.
|
Hier volg die indeling van die onderskeie geselskappe se optredes:
|
Maandag, 8 Mei (middag - finale kleedrepetisie) - Hofmeyr
|
Maandag, 8 Mei (aand - finale kleedrepetisie) - Welgemeend
|
Dinsdag, 9 Mei (openingsaand) - Hofmeyr
|
Woensdag, 10 Mei - Welgemeend
|
Donderdag, 11 Mei - Hofmeyr
|
Vrydag, 12 Mei - Welgemeend
|
Saterdag, 13 Mei (middag) - Hofmeyr
|
Saterdag, 13 Mei (aand) - Welgemeend
|
Baie dankie by voorbaat vir u ondersteuning - die leerders sien baie daarna uit om voor groot gehore in die Baxter Teater op te tree!
|
Leerders moet asseblief verseker dat hul die langnaweek behoorlik voorberei vir die drie laaste toetsdae volgende Woensdag, Donderdag en Vrydag. Veral die koorlede moet onthou dat hul ’n vol program het volgende week en eers laat terugkeer na afloop van hul repetisies by Hugo Lambrechts. Geen leerder sal verskoon word nie. Baie sterkte!
|
U kind se eerste kwartaal-rapport word op Vrydag, 31 Maart per e-pos aan u gestuur. Die Jan van Riebeeckers het hard gewerk die kwartaal en ons sien uit na mooi uitslae!
|
Baie dankie vir almal se samewerking om die kampvorms en inligting die afgelope week te kon ontvang. Ons sien baie uit na die graadkampe wat op 30 en 31 Maart plaasvind!
|
Indien u enige verdere navrae in die verband het, is u welkom om u kind se graadhoof te kontak of met me. Huibrecht Steyn te gesels:
|
huibrecht.steyn@janvanriebeeck.co.za.
|
Kliek gerus hier om die volledige 2023-winterprogram af te laai.
|
Onthou asseblief dat die skoolreël vereis dat elke leerder in die skool aan ten minste een somer- en wintersport deelneem. Enige uitsonderings (mediese redes, ens.) moet dringend met mnr. Van Heerden bespreek word en skriftelike bewyse moet gelewer word. Leerders verdien ook sportpunte as deel van hul MBK-punt vir LO.
|
KULTUUR EN VERRYKINGSPROGRAM
|
Eistddedfod-oefening vind weer volgendeDonderdag, 23 Maart vanaf 14:15 tot 15:15 in me. Taljaard se klas plaas.
|
Simfonie- en Koorkonsert in samewerking met Hugo Lambrechts Musieksentrum
|
Ons is baie trots om vanjaar 'n projek aan te pak saam met die Hugo Lambrechts Musieksentrum, wat vernoem is na een van ons voormalige, legendariese skoolhoofde.
|
Hierdie konsert se hoogtepunt bestaan uit 'n uitvoering van die beroemde Suid-Afrikaanse komponis, Peter Louis van Dijk, getiteld "The Selfish Giant". Hierdie werk bestaan uit 'n simfonieorkes, koor, bariton-solis en seuns-solis.
|
Ons is baie opgewonde om ons wonderlike skoolkoor en orkes hiervan deel te hê. Ons skoolkoor en orkes gaan ook hulle eie uitvoerings lewer in die eerste helfte van die konsert. Vind hier aangeheg die bladmusiek en 'n opname om verdere voorbereiding hiervoor te kan doen. https://on.soundcloud.com/oeFWGcBWHBKQ16CPA
|
Die konsert vind volgende Vrydag, 24 Maart om 19:00 by die Hugo Lambrechts Ouditorium plaas met kleedrepetisies op 22 en 23 Maart om 18:00.
|
Skoolbussies sal die leerders na die sentrum en terug skool toe vervoer op hierdie betrokke dae. Die bus sal direk na skool (14:10) na Hugo Lambrechts vertrek op Woensdag en Donderdag om die verkeer te vermy en om 16:00 volgende Vrydag.
|
Ons sal dan by Hugo Lambrechts die middae van Woensdag en Donderdag op ons eie repeteer waarna ons dan saam met die orkes sal oefen. Die busse sal terugkeer skool toe na 20:00 op Woensdag en Donderdag en na die vertoning op Vrydag om 21:00.
|
Die busvervoer vir al die genoemde datums en tye beloop R80 per leerder.
|
Ons sien daarna uit om almal by hierdie besondere aand te verwelkom!
|
Ons raak nou baie opgewonde oor die musiekblyspel wat vroeg volgende kwartaal op die planke is.
|
Kliek gerus hier om die nuutste volledige repetisieskedule af te laai. Die volledige rolverdeling is ook hier beskikbaar: Hofmeyr en Welgemeend.
|
Die skoolwinkel is elke Maandag en Woensdag vanaf 13:30 tot 14:30 oop.
|
Langbroeke vir die meisies sal die eerste dag na die skoolvakansie beskikbaar wees.
|
Ons rugbyseuns neem deel aan die Wynberg-rugbyfees, die netbaldogters speel in die HMS Paarl-netbaltoernooi en ons atlete is ook die Paarl in aksie by die Wes-Kaapse kampioenskappe. Mag dit met almal baie goed gaan!
|
|
|
|
|
|