|
|
|
|
|
Tannie Magriet se Wiskunde-‘magic’
|
Op die oog af lyk tannie Magriet Diedericks soos die meeste van haar tydgenote. Die tipiese ouma met die goeie hart – en kinderlike jeugdelikheid wat uit haar spoel wanneer sy met haar kleinkinders speel. Praat jy met haar, is dit ’n sagte, amper-onhoorbare stemmetjie wat nie ’n enkele slegte ding van ander mense kan uiter nie, wat jou tref.
|
Maar, as jy, soos ek, baie middae by haar sitkamertafel gaan sit het, weet jy dat dié tannie magic is. Ek en menige ander Wiskundesiel het al by haar aangeklop vir ’n reddingspoging van die allerverskriklikste x-en-y-sin-cos-en-tan-beproewinge. Selfs nou nog, tussen grootmense om braaivleisvure, sal tannie Magriet se naam kort-kort opduik as iemand terugverwys na die vervloë wiskundedae. Dan besef ek telkens opnuut hóé verreikend haar invloed in hierdie land is…
|
’n Lewensredder by uitstek – of dit nou die 20%-er is wat net die woordjie slaag langs Wiskunde op hul rapport wil sien, en of dit ’n 90%-er is wat hulle punt so na as moontlik tot by die 100-merk wil stoot. Tannie Magriet-met-die-sagte-stem én warm liefde én koffie én HB-potlood én pragtige hande is die een mens wat jou dit kan help bereik.
|
Sonder dat sy haar dienste bemark, staan almal tou vir ‘n plekkie by haar sitkamertafel. Want tannie Magriet het al soos ’n boereraat in Wiskunde-kringe geword. ’n Doepa wat wérk - élke kéér.
|
Nou kyk, ek was allermins die 100%-wiskundeleerder, maar vir tannie Magriet was ek deel van die énigste kategorie wat sy geken het: Presteerders. En dit sou ek, uit waardering vir haar moeite en begrip ten alle koste bly. Kom wat wil.
|
Ek dink met groot liefde terug hoe sy haar sagte hand so op my regterhand gesit het en dit dan moederlik, nie militaristies soos menige somme-adjudante nie, links en regs help beweeg het op soek na my eie gedagtespoor – en dán eers na die regte, sinmakende waarheid. Sou ek afdraai by die verkeerde hoek, sou sy my weer ‘aan die hand vat’ om by die regte hoek uit te kom.
|
En as die eksamenduiweltjies voor my neergesit word, kon ek genadiglik dink aan ’n sagte landingsplek as die vrae my weer sou onderkry. Word ek vasgevra (en dit was nie moeilik nie!) het ek saggies binnetoe gelag en haar woorde onthou: “Ag, toemaar my kind, jy moet tog nie vir my vra om die 100m so vinnig soos jy te hardloop nie!”
|
Na die klompie jare wat ek al uit die matriekbanke is, hoor ek die ander dag dat tannie Magriet oorlede is. Maar tot kort voor haar afsterwe het sy steeds leerlinge op die regte Wiskunde-pad gehou. Sien, tannie Magriet was amper 90 jaar oud. En op hierdie pad na 90 toe, in die meenthuiskompleks waar sy bly, het sy gegló dis nodig om te werk - as jy kán; het sy geglo in die deel van kennis - as jy dit hét.
|
Dis absoluut verbysterend hoe sy dit kon regkry om by te hou en te bly met die talle veranderinge wat die vakinhoud betref. Selfs universiteitstudente met Chemie- en Fisikakrisisse kon kom aanklop vir hulp. En jaar na jaar het hierdie tannie haar kennis bly deel met dié wat ontvanklik was daarvoor.
|
Tannie Magriet Diedericks sal altyd vir my ’n mooi, kosbare voorbeeld bly van mense wat nie sal skroom om hul talente en aanleg met kinders te deel nie. Vir haar was daar nie siestas en vervolgverhale op RSG smiddae nie - haar kosbare aftredetyd is élke dag van die week tot laat saans aan haar baie Wiskunde-kinders uitgedeel.
|
Stilweg, weet ek, het hierdie kinders veel meer as formules en moets en moenies saam met hulle huis toe geneem. Hulle dra ook die voorbeeld van ’n onblusbare Wiskunde-tannie saam met hulle die toekoms in. En natuurlik haar warm glimlag en sagte hande.
|
Mag ons hierdie soort voorbeeld van opvoeders onthou en respekteer!
|
Ek sien raak hoe me. Serrao en haar span, mnr. Meiring, mnr. Cronje, me. Turkstra en me. Du Plessis ook ons JvR-Wiskundekinders se heel beste belange op die hart dra – en hoe fantasties is dit nie dat dit nou weer ’n jonger geslag onderwysers is wat dié soort reuseverskil maak!
|
Baie dankie vir die heerlike positiewe terugvoer oor ons knap Wiskunde-departement wat ons van ons ouers/voogde ontvang.
|
Die opvoeder en nie-opvoederkomponent van ons beheerliggaamverkiesing is ook nou afgehandel en ons maak dus graag die beheerliggaam bekend.
|
Baie sterkte aan hierdie lede wat vir die volgende drie jaar ’n belangrike rol gaan speel om ons geliefde skool na nóg hoër hoogtes te help lei.
|
Ouerverteenwoordigers: Matthys Combrinck, Yvonne de Lange, Jean Lombard, Samuel Mars, Kees Snijders, Jacques Steyn, Izak Swanepoel
|
Personeelverteenwoordigers: Pieter Rademeyer (Skoolhoof), Lizette Visser, Geruan Geldenhuys (verkies om die opvoeders te verteenwoordig), Lindia Fritz (verkies om die nie-opvoeders te verteenwoordig)
|
OUDSKOLIERE-JAARVERGADERING
|
Dit was vir my besonder aangenaam om die afgelope week die algemene jaarvergadering van die JvR-Alumni-vereniging by te woon. Die vergadering is via die Zoom-platform gehou en dié formaat hou groot belofte in. Ons het oudleerders van regoor die wêreld by die veragdering verwelkom – iets wat nie by ’n fisiese vergadering altyd moontlik is nie. Dankie vir jul belangstelling!
|
Die volgende alumni het hul beskikbaar gestel om vanjaar op die Alumni-komitee te dien: Arno Meyer, Karen Fourie, Elize Binge, Rian Maartens en Louis Boshoff.
|
Baie dankie ook aan die nuwe lede wat hulself beskikbaar gestel het: Jannie de Ridder (1997) en Dylan Keyser (hoofseun 2020) - ons sien uit na jul inisiatief!
|
’n Groot dankie aan ons voorsitter, Arno Meyer, en ons oudleerlingskakelbeampte, Helena le Roux, vir die uitmuntende werk wat hul doen om ons oud-Jan van Riebeeckers betrokke te kry en ons databasisse op datum te hou.
|
Interessante planne wag op ons oudleerders: die seniortee en –ete vir die 1942–1964-groepe, ’n wynproe by Welgemeend, ’n dinee ten bate van Welgemeend en ons Boerneefversameling, die Kunsmaand in Augustus, ’n oudleerdersportdag en reünies. Hou die kommunikasie van die skool dop vir meer inligting!
|
Dit was heerlik om die spesiale Paasfeesgees die afgelope week hier by die skool te kon geniet.
|
Huis Jordaan het vroeg in die week die Welgemeendtuin ingevaar om te gaan soek waar die Paashaas vanjaar die paaseiers weggesteek het - wat 'n opwindende geleentheid was dit nie! Om die Paasnaweek in die regte stemming te begin, is die koshuisinwoners ook met 'n heerlike tradisionele ontbyt, wat paasbolletjies insluit, bederf. Ons hoofleiers en twee oulike Paashase het ons jonger vriende by die laerskool en by Huppelland met paaseiers gaan verras!
|
Mag ons almal die ware betekenis van Paasfees hierdie langnaweek opnuut ervaar.
|
Kom geniet ’n heerlike fliekaand om die (lang) kwartaal af te sluit!
|
Fliek: The Greatest Showman
|
Daar is slegs 220 kaartjies beskikbaar vir graad 8–12 leerders en hekke open om 17:30. Kaartjies sal vanaf Dinsdag, 6 April, op Quicket beskikbaar wees.
|
Ons sal die skakel Dinsdag uitstuur.
|
Baie dankie aan almal wat hierdie projek so getrou ondersteun. Ons vra u volgehoue ondersteuning in die stuur van broodjies, maar ons het die opsie vir finansiële bydraes gesluit. Ons is oorweldig deur die positiewe reaksie en het nou genoeg fondse om vir die res van 2021 leerders te kan ondersteun. Baie, baie dankie!
|
AFHAAL VAN ID-BOEKIES/DEPARTEMENTELE ADMINSAKE
|
Ons vra u samewerking om nie ID-boekies gedurende skoolure te gaan afhaal nie of afsprake vir enige administratiewe sake gedurende skoolure te skeduleer nie. Te veel van ons senior leerders mis skool vir hierdie soort afsprake.
|
Ons vra u samewerking om dit eerder in die Aprilvakansie te skeduleer.
|
Daar is maar steeds uitdagings om ’n finale skoolkalender te publiseer, maar ons het die res van Kwartaal 1 se datums op ons webblad aangebring. Daar is ’n paar veranderings en byvoegings.
|
Jan van Riebeeckers moet hul asseblief te alle tye as goeie ambassadeurs van die skool (en ooreenkomstig die etiekkode van die skool!) gedra.
|
Wanneer ons leerders in die skool se drag, of enige gedeelte daarvan, geklee is -wat voldoende is om hul in die oë van die publiek met die skool te verbind - moet hul hul van enige gedrag weerhou wat die skool, personeel of hul medeleerders in ’n slegte lig kan stel.
|
Ek vra ook die samewerking van ons hele JvR-familie om ons te help om hierdie goeie beeld na buite te verseker. Meld asseblief enige probleme aan sodat ons kan optree teen leerders wat ons goeie naam skade laat ly.
|
Laat ons gerus ook weet wanneer ons leerders beïndruk met hul houding en gedrag – ons spog graag met hul hier by die skool.
|
Elkeen wat op énige manier verbind is aan die skool, het ’n rol te speel in die uitbou van die positiewe beeld en goeie naam van ons geliefde skool – dankie vir u positiewe insette!
|
KOMMUNIKASIE AAN SKOOL OM LEERDERS TE VERSKOON
|
Dit is baie belangrik dat u betyds (ten minste 24 uur voor die tyd) ’n e-pos aan die graadvoog stuur indien u kind vroeër van die skool verskoon moet word. Geen leerder sal verskoon word sonder ’n brief/e-pos van die ouer/voog aan die graadvoog nie. Ons kan ook ongelukkig nie net telefoniese reëlings in hierdie geval aanvaar nie – dit moet skriftelik wees, asb.
|
U moet die skool skriftelik in kennis stel indien u kind afwesig is. Stuur asseblief ’n e-pos op die dag van afwesigheid aan die graadvoog en cc me. Brigitte Eygelaar (Studentesake) in alle korrespondensie. Haar e-posadres is admin@janvanriebeeck.co.za. Doktersertifikate moet ook asseblief gestuur word wanneer formele assesserings gemis is. Ons vra u samewerking om te verseker dat ons leerders getrou skool bywoon.
|
Ons nasorgfasiliteite is tans Maandae tot Donderdae (14:10–15:45) beskikbaar. Leerders wat van hierdie fasiliteit gebruik wil maak, mag net na skool in die navoringstudentesentrum aanmeld.
|
Met die volle wintersportprogram en kultuurprogram wat in die volgende paar weke momentum sal kry, sal ons na opsies kyk om hierdie diens uit te brei.
|
Proverto Handelsvakke-olimpiade
|
Leerders kan vir dié olimpiade in Rekeningkunde, Ekonomie en Besigheidstudies inskryf. Leerders kan al drie vakke, of slegs twee of een vak skryf en die koste beloop dieselfde.
|
Koste: R120 per leerder. Die eerste ronde vind op 12 Mei plaas en leerders skryf direk na skool in me. Gouws se klas. Leerders wat belangstel, kan by hul vakonderwysers, me. Gouws, me. Meyer of mnr. Henning, inskryf. Verdere reëlings sal nader aan die tyd deurgegee word.
|
Taalbond-tweetaligheideksamen
|
Die Taalbond-tweetaligheideksamen word op 19 April tydens skoolure afgeneem. Gesels asseblief met me. Schwartz vir meer inligting.
|
Wiskunde-intervensie vind elke week plaas:
|
Graad 12: Donderdagoggend vanaf 7:00 - 7:45 (me. Serrao se klas) Graad 11: Dinsdagmiddag vanaf 14:30 - 15:15 (me. Serrao se klas) Graad 10: Maandagmiddag vanaf 14:30 - 15:15 (mnr. Cronjè se klas) Graad 9: Maandagmiddag vanaf 14:30 - 15:15 (me. Du Plessis se klas) Graad 8: Woensdagmiddag vanaf 14:30 - 15:15 (mnr. Oosthuizen) Gr 8–12: Me. Serrao is ook op Maandagmiddae vanaf 14:30 - 15:15 per afspraak vir
|
Graad 12-Lewenswetenskappe-intervensie
|
Ons matrieks is welkom om elke Woensdagooggend van 6:30 tot 7:30 dié klasse by te woon. Bespreek asb. ’n plek die dag voor die tyd by me. Steyn.
|
Hou asb. 20 April, oop vir kuiergeleenthede vir al die ouers in elke graad. Ons beplan om dié aand elke graad op ’n verskillende plek op die kampus te akkommodeer. Die graadvoogde sal volgende week alle reëlings op e-pos deurstuur. Ons glo dit sal ’n heerlike afsluiting van die besige kwartaal verseker.
|
Ons gaan voort met die reëlings vir die graad 12-spanboudag op 21 April en dit is ’n verpligte aktiwiteit.
|
Daar is nog heelwat leerders wat hul deelnemersfooi van R350 moet betaal, so ons het weer ‘n Karri-lys geskep. Alle betalings moet asb. teen 16 April gedoen word.
|
STUDIEKURSUS VIR GRAAD 8- EN 9-LEERDERS
|
Ons het baie goeie terugvoer van ons graad 9-ouers ontvang, maar ek moedig ’n laaste keer die graad 8-ouers aan om die Tina Cowley-studiekursus vir u kind te oorweeg!
|
Dié puik kursus word oor twee dae aangebied en sal die leerders help met verskeie aspekte van die studieproses soos motivering, beplanning en hul sal blootstelling aan kreatiewe memoriseringstegnieke ontvang. Dié kursus sal verseker dat ons Jannies hul akademiese toekoms met selfvertroue en selfstandigheid kan aanpak.
|
Die koste beloop R 1000 per leerder sluit ‘n studiejoernaal, peuselhappies en nog ‘n paar verrassings in. Kontak die graad 9-voog, me. Gouws, via e-pos elize.gouws@janvanriebeeck.co.za indien u kind belangstel.
|
Die voorlopige datums vir die kursus is Vrydag, 28 Mei (14:30 –17:30) en Saterdag 29, Mei (09:00–14:00). Me. Gouws sal die ouers/voogde wat reeds hul kinders se name deurgegee het, direk kontak oor die reëlings rondom die betaling van die kursus.
|
Die Geesweek verlede week het op ’n hoogtepunte geëindig met ’n heerlike geessportdag!
|
Reijger het skoonskip gemaak en as wenners van die atletiek, swem en geesafdelings uit die stryd getree!
|
Baie dankie aan elke onderwyser, ouer en belanghebbende vir jul ywer om die dag suksesvol te maak.
|
Atletiek: Reijger (1ste), Drommedaris (2de), De Goede Hoop (3de)
|
Swem: Reiger (1ste), Drommedaris (2de), De Goede Hoop (3de)
|
Kaskar: De Goede Hoop (1ste), Reijger (2de), Drommedaris (3de)
|
Gees: Reijger (1ste), De Goede Hoop (2de), Drommedaris (3de)
|
Ons het die afgelope week baie hard beplan aan die winterseisoen en leerders het vir hul onderskeie sporte geregistreer.
|
Ons is opgewonde oor die belangstelling in nuwe sportmoontlikhede wat ons ondersoek, soos rotsklim, branderplankry, muurbal en tafeltennis.
|
Ons gaan ook stap en algehele fiksheid aanbied.
|
Die belangstelling vir ons tegniese ondersteuningdienste lyk ook belowend. Leerders kan opgelei word in die video-analise van sportwedstryde, skeidsregterkursusse, tellinghouersessies en noodhulp. Ons sal volgende week verdere inligting deurgee.
|
Baie geluk aan Lu-Wyk Steyn, Chanté du Plessis, Aswin Wilson, Jenna Kohler, Andrea Venter en Damian Bosch wat verlede naweek aan die WP-klubatletiekkampioenskappe deelgeneem het. Veral Damian Bosch het puik presteer en 1ste in die 800m en 3de in die 400m geëindig – ons is trots op jou, Damian! Hou dié talentvolle atleet dop.
|
Voorsitter, Dames en Here…
|
Ywerige JvR-redenaars het verlede Saterdag die voorreg gehad om dr. Elbie Adendorff, lektrise aan die Universiteit Stellenbosch, as gasspreker by ons redenaarswerkswinkel aan te hoor. Sy het die leerders touwys gemaak in die skryf en lewer van 'n oorredende toespraak. Daar is omtrent lekker gegons en beplan. Elke redenaar is nou toegerus met die nodige vaardighede, en sien uit daarna om aan verskeie redenaarskompetisies deel te neem.
|
Om te kan dink op jou voete en ander van jou standpunt te kan oortuig, is beslis 'n vaardigheid wat 'n mens daagliks toepas. Hou hierdie leerders dop wat vir goeie uitslae in die redenaarskompetisies gaan sorg!
|
Skryf: die kuns om die geskiedenis van die mens te bewaar.
|
Deur die geskiedenis heen het die mens op verskillende maniere gekommunikeer.
|
Dit was die manier waarop hy daarin geslaag het om kontak op afstand te behou, sy geskiedenis oor te dra en te bewaar.
|
Daarom poog die JvR-joernaliste van die Onze Jan om ook iets vir ons nageslag agter te laat - natuurlik kan ons dit nou met 'n moderne aanslag benader.
|
’n Groep jong joernaliste het verlede week 'n werkswinkel onder leiding van me. Susan van Rooyen bygewoon - om by 'n kundige te leer, bly 'n voorreg.
|
Baie geluk aan ons bestuurspan vir 2021:
|
Redakteur: Anna van Rooyen
|
Sub-redakteur: Mila Fourie
|
Baie geluk, dames! Mag jul invloed en leiding die Onze Jan vir nageslagte ekstra spesiaal maak.
|
So lyk die kultuurprogram:
|
Eksterne Drama: Woensdagmiddag (17:00-18:00 Seniors & 18:00-19:00 Juniors)
|
Die oefeninge vir die ATKV se DigiToneel begin 12 April.
|
Die ATKV se DigiKunskompetisie se sluitingsdatum vir inskrywings is 23 April en die inskrywings vir die Kaapse Afrikaanse Eisteddfod sluit 9 Julie.
|
Leerders kan Maandaemiddae tussen 14:30 en 15:30 in die kunsklas kom werk indien hulle meer tyd en leiding nodig het.
|
Moenie hierdie wonderlike geleenthede misloop nie!
|
Die orkes oefen Dinsdag- en Donderdagoggend om 7:00. Me. Du Toit sal laat weet wie waar oefen.
|
Die Radikale redenaars- en leesvideo's moet voor of op 20 April gelaai wees.
|
Gesels gerus met me. Schwartz vir meer inligting. Sterkte, Jan van Riebeeckers!
|
NAZARETH HOUSE WINE RAFFLE
|
Ons wil graag hierdie organisasie in ons onmiddellike gemeenskap ondersteun en vra dat u dit oorweeg om ’n kaartjie te koop vir hul fondsinsamelingsprojek.
|
Heerlike Jordan Wyne (Stellenbosch) is op die spel: 1ste prys – 8 bottels, 2de prys – 6 bottels en 3de prys – 4 bottels. Kaartjies kos R50 elk en u kan dit via Karri koop. Die skool sal die nodige oorbetaling dan aan die organisasie doen.
|
Inskrywings sluit 30 April en die wenners word 7 Mei aangekondig.
|
Kom ons ondersteun hierdie organisasie wat uitstekende werk vir die bejaardes en jeug in hul sorg doen!
|
Besoek gerus www.welgemeend.com om ons pragtige fasiliteit vir u spesiale geleentheid te bespreek. Gaan loer op ons Facebookblad na ’n pragtige troue wat verlede naweek hier aangebied is:
|
Die klerebank is volgende week Dinsdag en Woensdag (13:00 tot 14:15) oop. Daar is heelwat tweedehandse klere in goeie toestand te koop.
|
Ek hoop u geniet ’n heerlike Paasnaweek. Mag u en u geliefdes vrede en liefde ervaar – en dit aan mekaar bly uitdeel.
|
Baie dankie vir u volgehoue ondersteuning!
|
|
|
|
|
|
|
|