|
|
|
|
|
“Meneer, hoekom jy is ’n onderwyser?” vra een van die Engelsmanne in my klas toe ek destyds by die seunskool, Hoërskool Grey in Port Elizabeth, Afrikaansonderwyser was.
|
Onmiddellik het ek die standaardantwoorde gereed: ek glo in ordentlike opvoeding en opleiding, ek voel veilig in ‘n omgewing waar daar behoorlike strukture is (dis nou my skool; nie noodwendig die wyer onderwyssisteem nie); ek hou daarvan om met jongmense te werk. Alles goeie antwoorde wat beslis bydra tot my liefde vir die onderwys.
|
Maar ek wens ek kon vir hierdie seun sê wat die wérklike dieper redes vir my – en baie ander onderwysers – se onbeskryflike liefde vir die onderwys is. Maar ek weet ook dat wat ek éintlik wil sê, beslis as corny beskou sal word deur die jongelinge voor my. Daarom volstaan ek by die mooi, standaardantwoord wat ek sopas aangebied het.
|
Die knapie knik immers tevrede.
|
En in my kop het my opregte, éérlike antwoord, wat ek eintlik so graag wou gee, begin gestalte kry:
|
Seun, ons onderwysers is gek na die onderwys omdat kinders soos jy – ten spyte van jou onvermoë om behoorlike Afrikaans te praat – steeds genoeg respek vir my vak het om in die klas met my in my taal te probeer praat. Of wanneer jy ons in die gange raakloop, ons behoorlik te groet en aan te spreek. Ongeag die sterk moontlikheid om baie foute te maak, probeer jy dit wat ons vir jou leer, toepas buite die grense van wat nodig is . . .
|
Hoe sê ons, sonder om corny te klink, dat ’n Maandagoggend se eerste skoolklok ons opgewonde maak? Die eerste skoolklok van die week klink ánders: in daardie eerste skrilgeluid lê die baie opwinding wat die week inhou, opgesluit. Dís die tipe dinge van skoolhou wat ons elke dag tevrede laat voel om hiér te wees.
|
Daarmee saam betower die vroegoggendreuk van ‘n skoolgebou ons: die vreemde kombinasie van dou op die varsgesnyde gras en die bietjie stowwerigheid wat in die gange hang nadat die vloere gevee is. En die reuk van die baie houtafwerkings in die gebou, gemeng met handboeke en skooltasse - dis die dinge wat ons tref... en onsigbaar iets binne ons wakker maak - dalk ’n stille wete dat ons in die wieg gelê is om elke dag in hierdie milieu te werk. En te lééf.
|
In ons klasse is dit die vakkennis wat gedeel word en die lewenskennis wat probeer bemeester word, wat uitstaan, maar bowenal ook die stil oomblikke met wit bordkryt (daar is nog nie ’n beter plaasvervanger nie!) of kokipen in die hand en ons gesig dan ’n paar sentimeter weg van die bord, wat ons diep tref. En die wit stowwerigheid van die bordkryt of kokipenmerke wat teen 15:00 nog aan ons hande kleef, laat ons tevrede voel dat ons dagtaak behoorlik gedoen is. Of wanneer ons ’n gedig ontleed of moeiliker werk verduidelik, en ons in die kinders se oë kan sien iets is in hulle koppe aan’t gebeur, weet ons dis hiér waar ons moet wees; dis hoekom ‘ek is ’n onderwyser’.
|
By die atletiekoefening, as Marius en Stuart eers stadiger hardloop en dan heeltemal omdraai om vir Hugh, wat baie ver agter is, te wag sodat hy die laaste rondte saam met hul kan hardloop, word ons geïnspireer deur opregte sportmanskap. Of as ’n topkind op die verhoog staan en sy Hoofseunbalkie word aangesteek en ons die ek-kan-dit-nie-glo-nie-uitdrukking, gemeng met die uit-jou-nate-opgewondenheid in sy oë kan sien, dan weet ons ons is op die regte plek.
|
Of wanneer diegene wat nié opgeroep is om ‘n prefekbalkie te ontvang nie, moedig en sterk aangaan en op ander terreine bydraes lewer, besef ons telkens weer hoe ons as onderwysers help bydra tot die karakterbou van ons kinders.
|
Ons besef elke geesbyeenkoms dat ons op die regte plek is as ons kinders uit volle bors die volks- en veral die skoollied hoor sing; ons weet dat ons geen ander beroep wil hê nie as ons na ’n lang sportdag op pad terug in die skoolbussie hoor hoe die kinders met respek van hulle ouers en vriende praat; ons weet dis ons plek dié as ons sien hoe ons kinders opstaan as volwassenes verbystap en met ’n vinnige handgebaar en behoorlike oogkontak groet. En hulle doen dit omdat hulle wil.
|
Ons raak opgewonde as ons met sakrekenaar en potlood (en die tegnologiese ouens met al die oulike programme!) laataand die rapportpunte vir die kwartaal uitwerk en ons kan sien ’n leerling is amper by sy/haar mikpunt wat ons aan die begin van die jaar gestel het. Selfs die knop op ons maag die aand voor die kinders eksamen skryf, laat ons op ‘n manier lekker voel. Want dis ’n kombinasie van spanning, maar ook opwinding, omdat ons wéét hulle gaan en kan goed doen. Of as hulle dan aan die einde van hulle matriekjaar vinnig by ons klaskamers of kantore inhardloop om te kom vra of ons gesien het hoe goed hulle toe gedoen het... dís tevredenheid en werkvreugde in die allerhoogste graad.
|
Dit, my liewe seun, dít en nog baie ander onsêbare dinge, is hoekom ons ’n onderwyser is. En sal bly.
|
Mag elke Jan van Riebeecker ervaar dat ons onderwyserspan opvoeders is wat hiér wil wees om aan elkeen ’n besondere skoolervaring te gee!
|
Kom geniet ’n heerlike fliekaand om die (lang!) kwartaal af te sluit.
|
Fliek: The Greatest Showman
|
Daar is slegs 220 kaartjies beskikbaar vir graad 8 –12 leerders en hekke open vanaf 17:30.
|
Ons verkies dat u die onderstaande skakel gebruik om die kaartjies aanlyn te koop, maar ons sal ook kontantbetalings aanvaar by die Finanskantoor vir diegene wat nie aanlyn kan koop nie.
|
AFHAAL VAN ID-BOEKIES/DEPARTEMENTELE SAKE
|
Ons vra u samewerking om nie ID-boekies gedurende skoolure te gaan afhaal nie of afsprake vir enige administratiewe sake gedurende skoolure te skeduleer nie. Te veel van ons senior leerders mis skool vir hierdie soort afsprake. Ons vra u samewerking om dit vir die Aprilvakansie te skeduleer.
|
Baie dankie aan alle Jan van Riebeeckers wat die gedragskode van die skool getrou nakom. Dis goed om te sien hoe trots die meeste leerders op die Jan van Riebeeck-uniform is!
|
Ek wil graag ’n paar punte rondom veral die seuns se skooldrag (soos uiteengesit in ons gedragskode, beskikbaar onder Beleide op ons webblad) uitlig en vra u dringende samewerking in die verband:
|
- ’n Wit skoolhemp word met ’n skoolwapen op sak gedra;
- ’n Grys kortbroek/langbroek word met ’n grys/swart gordel gedra;
- ’n Skooldas is verpligtend saam met ’n skoolbaadjie;
- Grys skoolkouse word gedra en te alle tye opgetrek – geen wit sokkies word saam met ons skooldrag toelgelaat nie;
- Swart toerygleerskoene - Bronx, Bata, Grasshopper of Green Cross - wat gereeld gepoets word, word gedra. (Aanglipskoene en skoene met gespes is ontoelaatbaar.);
- Skoolskoene moet sonder Tippex of ander graffiti wees;
- Skoolbaadjies is te alle tye die eerste warm kledingstuk wat ‘n leerder mag dra. Dit beteken dat leerders bykomende warm kleding (skooltruie) mag dra, maar nooit ‘n langmou-skooltrui alleen nie;
- Skoolbaadjies moet te alle tye met korrekte knope toegeknoop wees;
- Geen musse of hoofbedekkings buiten dié wat in die kleredragreëls voorgeskryf word, mag gedra word nie;
- Slegs Hoërskool Jan van Riebeeck-toekennings, -lapelwapens, -aansteekspelde en –balkies mag op skoolbaadjies gedra word.
Soos baie van u bewus is, het daar teen die einde van 2020 ’n onaangename dissiplinêre voorval in een van ons graad 8-klasse plaasgevind.
|
Me. Lizette Visser het die besonderhede van die voorval aan die graad 8-ouers kommunikeer en daar is in ’n nuusbrief ook daarna verwys.
|
Ons het die afgelope week bevestiging ontvang dat die WKOD die skool se aanbeveling vir die permanente uitsetting van die leerder wat by dié insident betrokke was, bekragtig het.
|
Ek wil dit weer baie duidelik stel: daar sal ten sterkste opgetree word teen enige leerder wat die veiligheid van ’n ander leerder in hierdie skool bedreig - dit sal eenvoudig nie geduld word nie.
|
Ons verseker u dat u kind se veiligheid en akademiese prestasie ons nommer 1-prioriteit is.
|
Na jare se beplanning, herskedulering en oorweging is die herstel van ons grensmuur eindelik aan die gang.
|
Dié spreekwoordelike miernes van bedrywighede het amptelik op Woensdag, 24 Maart begin. Die welkome gewoel en werskaf word onderneem deur Mainstruck Construction in opdrag van die Departement Openbare Werke en onder toesig van menere U. Manack (projekbestuurder) en M. Bekker (siviele ingenieur) van Erfenis, wat toesien dat daar aan die uiterse streng spesifikasies voeldoen word.
|
Aan Kampstraatkant word uitgrawings gedoen aan die skoolkant van die muur om die ongewenste druk teen die muur te verlig. Laasgenoemde was oorspronklik ’n vrystaande muur, maar is gedurende 1940–1950 gebruik as ’n keermuur vir grond om die areas waarop die netbalbane gebou is, gelyk te maak. Op dié wyse is die oorsaak wat tot die skade aan die muur gelei het, aangespreek.
|
Die gedeeltes van die muur wat die meeste beskadig is, sal dan ook stellig volgens Erfenisspesifikasies herstel word.
|
Verder meer het Openbare Werke onderneem om 40–80m van die erg vervalle plaveisel van die Hofmeyrstraatkant se muur te vervang. Die basis van die muur sal ook herstel en versterk word om verdere beskadiging te voorkom.
|
’n Reusedankie aan ons Vriende van Welgemeend vir al die insette oor baie jare heen om dié projek eindelik ’n realiteit te maak. ’n Besondere woord van dank ook aan menere Bryan Schwartz (fasiliteitsbestuurder) en Peter Schumann (Vriende van Welgemeend) wat ’n wakende ogie oor die vordering van die projek hou.
|
Kyk gerus hier na ’n paar foto’s van die proses.
|
Ons oggendprogram word aangepas om aan grade die geleentheid te bied om daagliks bymekaar te kom voordat die skooldag begin. Die inligting is op Google Classroom by die onderskeie graadgroepe geplaas, maar ek plaas dit ook hier vir u inligting.
|
Indien daar enige onduidelikhede is, kan u kind dit met die graadhoof bespreek.
|
Kliek hier vir die nuwe oggendreëlings wat van eerskomende Maandag, 12 April, geld.
|
AF- EN OPLAAI VAN LEERDERS SOGGENS EN SMIDDAE
|
Aangesien ons oggendprogram aangepas is en leerders nou bo by die sekuriteitshuisie die siftingproses moet deurgaan, moet leerders in die teerpad van die parkeerarea aantree.
|
Ouers/Voogde moet asseblief vanaf 6:45–8:00 eerskomende Maandag die “ou” UITGANGhek in Hofmeyrstraat gebruik indien u wil inry om u kind af te laai. Die verkeer sal dan in een rigting beweeg en u ry weer by die hek in Stevenstraat agter by Welgemeend uit. Geen motors mag indraai by die personeelparkerings nie.
|
Dieselfde reël sal van 14:00–14:30 geld.
|
Indien u die skool op enige ander tyd besoek, gebruik u steeds die INGANGhek langs die sekuriteitshuisie.
|
Ons sal personeellede aan diens hê om u vir die eerste paar dae met dié nuwe reëling te help. Ons vra u vriendelike samewerking om te verseker dat die verkeer vloei.
|
Ons neem volgende Woensdag, 14 April individuele foto's en versoek u vriendelik om te verseker dat u kind korrek en netjies volgens ons voorskrifte lyk vir die neem van dié foto’s.
|
Indien u kind se hare nie 100% netjies is nie, moet dit asseblief voor Woensdag reggestel wees. Hierdie foto’s sal vir alle amptelike nuus op ons sosiale platforms en in die jaarboek gebruik word, so ons maak staat daarop dat al ons leerders netjies lyk.
|
KOMMUNIKASIE AAN SKOOL OM LEERDERS TE VERSKOON
|
Dit is baie belangrik dat u betyds (ten minste 24 uur voor die tyd) ’n e-pos aan die graadvoog stuur indien u kind vroeër van die skool verskoon moet word. Geen leerder sal verskoon word sonder ’n brief/e-pos van die ouer/voog aan die graadvoog nie. Ons kan ook ongelukkig nie net telefoniese reëlings in hierdie geval aanvaar nie – dit moet skriftelik wees, asb.
|
U moet die skool skriftelik in kennis stel indien u kind afwesig is. Stuur asseblief ’n e-pos op die dag van afwesigheid aan die graadvoog en cc me. Brigitte Eygelaar (Studentesake) in alle korrespondensie. Haar e-posadres is admin@janvanriebeeck.co.za. Doktersertifikate moet ook asseblief gestuur word wanneer formele assesserings gemis is.
|
Ons vra u samewerking om te verseker dat ons leerders getrou skool bywoon.
|
Die nasorgfasiliteite sal vanaf Maandag, 12 April, smiddae tot 16:30 beskikbaar wees sodat leerders in ’n rustige atmosfeer hier by die skool kan werk indien hul moet wag vir sportoefeninge wat eers later begin of vir ’n bus wat moontlik later vertrek. Indien daar enkele leerders is wat later as 16:30 by die skool moet wag, sal ons ’n reëling tref om hul te akkommodeer. Hierdie versoeke moet asseblief aan die graadhoofde gerig word.
|
Ons vra u samewerking om te verseker dat u kind(ers) van dié fasiliteit gebruik maak – en nie onnodig op die kampus rondhang nie.
|
Die matriekraad & VRL vergader eerskomende Dinsdag, 13 April vanaf 6:30 tot 7:30.
|
Die sosiaal-maatskaplike portefeulje sê ’n groot dankie aan al die ouers vir die paaseierdonasies verlede week. Die ondersteuning was oorweldigend: ons kon vir die hele laerskool, Huppelland, al hul onderwysers én al die hoërskoolleerders en –onderwysers paaseiers uitdeel. Dit het gesorg vir groot pret – baie dankie vir u ondersteuning!
|
Leerders wat hulp benodig met vakverwante probleme, kan die volgende MR-lede vir tutorklasse kontak:
|
Maak gebruik van hierdie tutorgeleenthede deur jou medeskoliere, Jan van Riebeeckers. Ek moedig veral die graad 8's en 9's aan om vir Werner en Anna te kontak!
|
Die Groenspan hou môre hul eers strandskoonmaaksessie en dit beloof om ’n heerlike oggend te wees!
|
Die hele familie en jul vriende is welkom – kom ondersteun ons leerders in hierdie baie belangrike taak! Daar is ook ’n bus beskikbaar wat om 9:00 vanaf die skool vertrek, indien u daarin belangstel.
|
Baie dankie aan al ons leerders wat so getrou hul huiwerk doen en betyds opdragte inlewer. Sterkte vir die laaste twee toetsdae volgende week. Die assessering is amper verby – volhard tot die einde!
|
Cambridge A level en IGCSE-inligtingsaand
|
Ons hou volgende Donderdag, 15 April om 18:00, ’n inligtingsaand rakende die Cambridge-program wat buitemuurs deur Hoërkool Jan van Riebeeck aangebied word. Ouers en leerders van huidige graad 10- en graad 9-leerders word uitgenooi.
|
Afhangende van belangstelling, word Wiskunde, Engels, Fisika en Lewenswetenskap aangebied. ’n Minimum van 5 leerders moet inskryf vir die vak om aangebied te word. Leerders moet ‘n minimum van 75% vir hul gekose vak in die eerste kwartaal van graad 10 behaal om te kwalifiseer vir die program. Alle onkostes (onderrig, handboeke en eksamenfooi) moet deur die ouers betaal word.
|
Ons beoog om hierdie jaar ook IGSCE-Wiskunde vir graad 9-leerders aan te bied. Die minimumvereiste is 75% vir Wiskunde aan die einde van die eerste kwartaal in graad 9.
|
Vir verdere inligting, kontak gerus vir me. Sonet Meyer by sonet.meyer@janvanriebeeck.co.za of vir me. Lizette Visser by lizette.visser@janvanriebeeck.co.za.
|
Bemark ook hierdie wonderlike program aan belangstellendes buite ons skool!
|
Proverto Handelsvakke-olimpiade
|
Leerders kan vir dié olimpiade in Rekeningkunde, Ekonomie en Besigheidstudies inskryf. Leerders kan al drie vakke, of slegs twee of een vak skryf en die koste beloop dieselfde. Koste: R120 per leerder.
|
Die eerste ronde vind op 12 Mei plaas en leerders skryf direk na skool in me. Gouws se klas. Leerders wat belangstel, kan by hul vakonderwysers, me. Gouws, me. Meyer of mnr. Henning, inskryf. Verdere reëlings sal nader aan die tyd deurgegee word.
|
Taalbond-tweetaligheideksamen
|
Die Taalbond-tweetaligheideksamen word op 19 April tydens skoolure afgeneem. Gesels asseblief met me. Schwartz vir meer inligting.
|
Wiskunde-intervensie vind elke week plaas. Me. Serrao is ook per afspraak vir lesse beskikbaar.
|
Graad 12-Lewenswetenskappe-intervensie
|
Ons matrieks is welkom om elke Woensdagooggend van 6:30 tot 7:30 dié klasse by te woon. Bespreek asb. ’n plek die dag voor die tyd by me. Steyn.
|
Alle graad 12-ouers word uitgenooi om volgende Donderdagaand, 15 April, om 18:30 (tot 19:30) ’n inligtingaand in die skoolsaal by te woon. Ons sal belangrike graad 12-sake (akademie, dissipline en sosiaal) met u en u kind bespreek.
|
Om die getalle te beperk, vra ons dat slegs een ouer die vergadering bywoon.
|
Dit is ook verpligend vir ons matrikulante om die vergadering in skooldrag by te woon. Ons sien daarna uit om u hier te ontvang.
|
Ons nooi u hartlik uit na ons ouerkuier op Dinsdag, 20 April, in Welgemeend-tuin. Ons sien so uit om saam met julle te kuier! Hierdie luilekkeraand is altyd ‘n wenner – en dit gaan beslis ’n besige kwartaal heerlik afsluit.
|
- U moet asseblief vanjaar u plek bespreek aangesien slegs ’n beperkte aantal gaste geakkommodeer kan word. R.S.V.P. teen Woensdag, 14 April via e-pos by u graadvoog sodat ons streng beheer het oor die getalle.
- Dit is ‘n gratis kuiergeleentheid. Bring u eie piekniekmandjie / pizza of braaivleis, slaai & braaitang / piekniekkombers / kampstoele / eetgery / glase / eie drinkgoed of kontant vir wyn wat hier verkoop sal word.
- Die skool stel die volgende beskikbaar: Braaidromme, hout & vuur en ’n kontantkroeg (wyn) op Welgemeend se stoep indien u daarvan wil gebruik maak. Afgesien van die sekuriteit by die hekke, sal ons ’n verdere wag op die kampus aan diens hê.
- U is ook welkom om ’n piekniekmandjie by Welgemeend te bestel indien u nie u eie wil saambring nie. Alle inligting is hier beskikbaar. U haal dit dan af wanneer u arriveer. Bestel gerus by karin@welgemeend.com.
- Parkering sal by Welgemeend en die boonste parkeerarea beskikbaar wees.
- Sluit by ons aan vanaf 18:00 en kuier saam tot 21:00. (Die leerders se fliekaand op die rugbyveld eindig ook net na 21:00.)
- Streng sekuriteit en protokol sal gevolg word. By beide hekke sal gaste moet inteken, die siftingsproses moet deurgaan en saniteer. Die dra van maskers en sosiale afstand is ook ’n verwagting.
Ons sien daarna uit om u hier op die Welgemeend-grasperk te verwelkom. Alle personeel sal ook die aand se verrigtinge bywoon.
|
Indien enige ouer/voog dalk kontakte het wat ons behulpsaam kan wees met beligting vir die donkerder buitekuierareas op ons kampus die aand, sal ek dit waardeer indien u my laat weet by skoolhoof@janvanriebeeck.co.za.
|
Alle graad 8’s moet asseblief teen 20 April ’n registrasiefooi van R200,00 by die Finanskantoor of via Karri betaal vir die Teambo-spanbougeleentheid wat ons in die laaste week van die kwartaal vir die graad 8-groep gaan aanbied.
|
Die spanbou-aktiwiteit sou tydens die verwelkomingsweek plaasvind, maar is aangeskuif na die einde van die kwartaal as gevolg van die inperkingsreëls.
|
Ons sien baie uit na hierdie geleentheid wat die graad 8’s gaan hê om op ‘n prettige wyse mekaar beter te leer ken en ook samehorigheid as groep te ontwikkel.
|
Ons gaan voort met die reëlings vir die graad 12-spanboudag op 21 April en dit is ‘n verpligte aktiwiteit vir al ons matrikulante.
|
Daar is nog heelwat leerders wat hul deelnemersfooi van R350 moet betaal, so ons het weer ‘n Karri-lys geskep. Alle betalings moet asb. teen 16 April gedoen word.
|
Ons bied nou aan leerders die opsie om smiddae heerlike etes en iets te drinke by die snoepie te bestel – om hulle deur die middagprogram te dra.
|
Alle bestellings moet twee dae voor die tyd via Karri gedoen word (die opsies sal weekliks daar beskikbaar wees) en moet teen 16:00 daagliks by die snoepie afgehaal word.
|
Baie dankie aan Sanette van Loggerenberg wat hierdie nuwe diens vir ons moontlik maak!
|
Die wintersportprogram, wat vanaf eerskomende Maandag, 12 April, gevolg word, is hier beskikbaar.
|
Maak asseblief seker dat u ook die belangrike inligting onderaan die sportrooster noukeurig bestudeer.
|
- Ons verwag dat elke leerder aan ten minste een wintersport deelneem.
- Ouers/Voogde moet asb. ’n skriftelike verskoning ten minste 24 uur voor die oefening aan die afrigter/kontakonderwyser stuur indien u kind nie ’n sportoefening kan bywoon nie.
- Leerders wat nie vir sportoefeninge opdaag nie, sal met detensiepunte gestraf word.
- Die sportdepartemente beoog om in die tweede en derde kwartaal heelwat vriendskaplike wedstryde/aktiwiteite met ander skole te reël in gevalle waar ’n volwaardige liga nie sal plaasvind nie.
- Ons het baie belangstelling ontvang van leerders wat aan rotsklim en tafeltennis en ook muurbal wil deelneem. Hierdie aktiwiteite sal in die eerste week van die tweede kwartaal afskop.
- Ons is besig om die winterkultuurprogram aan te pas en verskeie opsies sal volgende week beskikbaar wees. Die program word rondom dié nuwe sportrooster uitgewerk.
- Die busdienste sal alle leerders se buitemuurse programme akkommodeer. Ons is baie dankbaar dat mnr. Dewald Lombard onderneem het om te verseker dat die busdienste na die beste van hul vermoë aanpas by ons nuwe tye. Daar mag verandering aan tye en reëlings hier wees; dankie vir u begrip. Kontak gerus vir mnr. Lombard by dewald@actdfin.co.za of 073 265 0834 vir meer inligting.
- Let asb. daarop dat die personeel ’n personeelontwikkelingsessie bywoon die middag van Dinsdag, 20 April en aangesien alle personeel betrokke is, sal sommige van die sporte nie kan voortgaan nie. Dit sal duidelik aan die leerders gekommunikeer word.
- Matrikulante word van sport verskoon op Woensdag, 21 April, wanneer hul spanboudag plaasvind.
- Indien daar enige botsings is waar leerders byvoorbeeld aan meer as een aktiwiteit wil deelneem, kan leerders dit met mnr. Henning bespreek. Hy sal dit met die sporthoofde bespreek en reëlings sal dan met die leerder getref word.
- Ouers word versoek om leerders wat op die Buysveld oefen eerder by die Boshoffveld se klubhuis af te laai aangesien konstruksie by die boonste veld plaasvind en parkering skaars is.
Baie geluk aan Elzaan Daniels en Darren Cloete wat deurgedring het na die finale ronde van die Nasionale Toneelspelkompetisie. Hulle tree 6 - 8 Mei in die Artscape Teater hier in Kaapstad op. Ons is baie trots op julle twee!
|
Dit was aangenaam om die FAK se streeksbestuurder, Elizma Smith, gister by die skool te verwelkom. Die FAK is 'n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat 'n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied.
|
Hul het ’n kopie van die 2020-vertaling Bybel aan die skool oorhandig en het ook die Afrikaans-ekspo aan ons Afrikaansdepartement kom bekendstel.
|
Die koor oefen van volgende week af op 'n Dinsdagoggend om 7:00-7:40 en Donderdagmiddag om 16:00-17:30 om aan te pas by die wintersportprogram.
|
Die koor se "kamp" vind volgende naweek, Vrydag, 16 April en Saterdag, 17 April, in ’n oefennaweekformaat plaas. Die oefening vind by die skool plaas en slegs etes word deur die koshuis verskaf.
|
Die tye lyk soos volg: Vrydag 15:00 tot 19:00, Saterdag 10:00 tot 17:00 en leerders gaan dan aan die einde van die dag/oefening huis toe.
|
Die koste beloop R100 per leerder en kan via Karri of by die Finanskantoor betaal word.
|
Oefeninge vind van volgende week af op ’n Maandag- en Woensdagoggend vanaf 7:00 tot 8:00 plaas. Me. Du Toit sal leerders op hoogte hou van wie watter tye oefen.
|
As gevolg van die toetsperiode Maandagoggend, sal daar geen orkesoefening wees nie.
|
Daar sal Maandag 14:15 tot 15:00 ’n debatoefening in me. Nimmo se klas wees.
|
Sterrejag-inskrywings vind vanjaar virtueel plaas. Leerders moet 'n kort video van hul talent maak of 'n foto van hul kunswerk neem en die inskrywingsvorm by die volgende skakel bit.ly/Sterre2021 voltooi.
|
Jan van Riebeeckers kan vir die volgende afdelings inskryf:
|
1. Sang 2. Dans 3. Kuns en fotografie 4. Instrumentaal en 5. Ope (alle items wat nie by enige van die ander afdelings inpas nie). Leerders kan in 'n groep of as individu inskryf.
|
Alle inskrywings sluit op 22 April en die finaliste sal volgende kwartaal bekend gemaak word. Indien leerders sukkel met die inskrywingsvorm kan hul vir Elzaan Daniels, Liam Stevens of me. Nimmo kontak om te help.
|
Sterkte, Jan van Riebeeckers – gryp hierdie wonderlike kultuurgeleentheid aan!
|
Leerder wat nog hulp met hul toesprake/aanbieding benodig, kan gerus me. Schwartz nader. Onthou die sluitingsdatum vir die laai van die video's is 20 April.
|
NAZARETH HOUSE WINE RAFFLE
|
Ons wil graag hierdie organisasie in ons onmiddellike gemeenskap ondersteun en vra dat u dit oorweeg om ’n kaartjie te koop vir hul fondsinsamelingsprojek.
|
Heerlike Jordan Wyne (Stellenbosch) is op die spel: 1ste prys – 8 bottels, 2de prys – 6 bottels en 3de prys – 4 bottels. Kaartjies kos R50 elk en u kan dit via Karri koop. Die skool sal die nodige oorbetaling dan aan die organisasie doen. Inskrywings sluit 30 April en die wenners word 7 Mei aangekondig.
|
Kom ons ondersteun hierdie organisasie wat uitstekende werk vir die bejaardes en jeug in hul sorg doen!
|
Die klerebank is volgende week Maandag en Donderdag (12:45 tot 14:15) oop. Daar is heelwat tweedehandse klere in goeie toestand te koop.
|
Ek het oor die afgelope vyf weke heerlike gesprekke met baie van ons ouers en vriende van die skool gehad - baie dankie daarvoor! Idees word gebore en so bou ons saam aan ons geliefde skool.
|
Ek nooi almal vriendelik uit om met my kontak te maak indien u op enige wyse by die skool betrokke wil raak of gedagtes het rondom nuwe moontlikhede wat ontgin kan word - ek gesels baie graag met u!
|
Ek hoop u geniet ’n heerlike naweek. Hou goeie moed: die vakansie is in sig!
|
|
|
|
|
|
|
|