|
|
|
|
|
Die praktyk kan ’n mens deur hoepels laat spring
|
Dis als goed en wel om die kreatiwiteitskrane wyd oop te draai wanneer ’n mens ’n funksie beplan, maar die doel kan soms die middele ontheilig, wanneer iets wat fabelagtig in die raadkamer geklink het, platval in die praktyk.
|
Jare gelede, op ’n dorp in die Vrystaat, het die graad 11-leerlinge van die plaaslike skool ’n onvergeetlike – en min het hulle geweet hoe reg hulle was – matriekafskeid beplan. Soos hul voorgangers, wou daardie jaar se graad 11’s – wat die funskie tradisioneel vir die matrieks aanbied – ook ‘anders’ wees.
|
Basta met die vervelige, voorspelbare temas, het hulle die vorige jaar reeds by die beplanningsvergadering in die tennisklubhuis besluit. Die prag en praal van ‘Die Victoriaanse Era’ sou hulle van hul voorgangers onderskei (en tot hul berou ook van hul opvolgers).
|
Die kreatiwiteit het gevloei. Groot, groter, grootste was aan die orde van die dag. Van die dekor tot die kelners se uitrustings sou die tema ondersteun. Die tannies op die dorp se Elnas het gedreun onder swaar materiale vir die kleners se uitrustings.
|
Agtergronddoeke is geverf, die spyskaart dateer uit dié era, en selfs die breek- en glasware is gekies om Victoriaans te lyk. Met die fynste oog is daar seker gemaak die saal is prentjiemooi.
|
So breek die spogaand toe aan. Dinge het nie goed begin nie. Die matrikulante was boos, want g’n mens kon hul pers en pienk en rooi skeppings of ‘Julia Roberts se Oscarrok’-nommertjie raak sien nie.
|
Die graad 11’s se skeppings het die aand – op meer as een manier – oorheers. Sover die oog kon sien was daar net swierige graad 11-balrokke. Die gasvroue was van toontjie tot kroontjie in goud gedoop met reusekapsels en vlegsels en period costume jewellery.
|
En toe dié ‘kelnerinne’ hul takies vir die aand moes begin verrig – en hier het die beplanningskomitee die voetjie lelik verkeerd gesit – was daar chaos. Hulle het gou besef dat nie een van hulle eintlik kon vorentoe of agtertoe tussen tafels deur om die kos te bedien nie. Die rokke was te groot.
|
Die meeste van die gaste se kos het iewers in ’n kelnerin se mou verdwyn of is deur ‘n swaar moubeweging van die bord gevee. Marie Antoinette, die gasvrou van die aand, kon nie die verhoog bestyg om haar toespraak te lewer nie. Knieë buig of trappe klim in haar skepping was eenvoudig buite die kwessie.
|
Nadat die program effe vertraag is – omdat die matrieks maar hul eie borde in die kombuis moes gaan haal en terugbesorg ná die ete – kon die dansery begin. Dit was die gebruik dat die graad 11’s die baan open met ‘n spesiaal-gechoreografeerde dansie. Nou kyk, hulle het maande hieraan geoefen, maar nooit tred gehou met hul uitrustings se beperkinge toe hulle die op-en-af-vorentoe-en-agtertoe-danse uitgewerk het nie. Sou hulle nog by ‘n mooi klassieke nommer gehou het wat ‘n ligte draai en swaai behels het, sou dit moontlik net-net kon werk.
|
Maar in hul amper obsessiewe soeke na ‘anders-wees’, het die meisies ‘n moderne, vinnige remix van ‘n klassieke nommer gekies wat veel meer as net ‘n draai en ‘n swaai geverg het.
|
Dit was blykbaar heel koddig om die meisies in aksie te sien. Want die sirkelvormige draadhoepels – wat deur die tannies op die dorp met groot moeite ‘ingebou’ is om die rokke wydte te gee – het stadig maar seker begin afsak.
|
Eers het dit gelyk of hulle perdry – vorentoe en agtertoe is die draad gebuig soos hulle probeer het om die draad stewig en in plek te hou – later het hulle glo gelyk soos mense wat op besemstokke vlieg, want die draadwerk het ‘n skerp punt na voor en na agter begin maak totdat die hele draadwerk sy pad ondertoe gevind het.
|
Nog later was die dekor en al die moeite vergete, want op die vloer van die stadsaal het daar 75 draadhoepels gelê.
|
Die volgende jaar se graad 11’s het op ‘n klassieke swart-en-wit tema besluit.
|
Kom ondersteun ons graad 11's in hul fondsinsamelingspogings vir vanjaar se matriekafskeid! Hulle beplan baie opwindende geleenthede vir die tweede kwartaal - en ek weet me. Serrao en haar span sal aan elke stukkie detail dink om vanjaar se matriekafskeid ’n groot sukses te maak - met die matrieks as eregaste!
|
Hul eerste fondsinsamelingpoging skop Dinsdag af:
|
Fliek: The Greatest Showman
|
Daar sal kosverkope wees; dus mag leerders geen eet- of drinkgoed saambring na die geleentheid toe nie. Leerders kan komberse saamneem, maar wees asseblief bewus dat sakke om veiligheidsredes deursoek sal word.
|
Leerders moet asseblief by die parkeerarea (by Zama) aanmeld waarna hulle met busse (vanaf 17:30-18:45) na die boonste rugbyveld vervoer word. Geen ouer/voog moet leerders by die veld kom aflaai nie, as gevolg van die beperkte parkering bo.
|
Leerders sal dan na afloop van die fliekaand (21:00) vanaf die rugbyveld na die skool toe vervoer word.
|
Jan van Riebeeckers: kom ons geniet hierdie aand as skool en maak dit ’n positiewe; ontspanne geleentheid vir almal. Geniet dit!
|
Ons het vandag ons eerste verrykingsperiode gedurende register geniet om ons waardegedrewe onderrigprogram af te skop.
|
Die onderwysers het inleidend met die leerders gesels oor die doelstellings van hierdie nuwe program in ons skool - en die terugvoer was so positief.
|
Plakkate wat die JvR-waardes uitbeeld is in elke klaskamer en kantoor aangebring en my hoop is dat ons leerders en onderwysers ’n besondere pad saam sal stap om hierdie kernwaardes in ons skool te laat groei.
|
Baie dankie aan me. Lin Olivier wat hierdie program lei.
|
Elke personeellid het ook vir hom/haar ’n waarde-ambassadeur kon aanstel wat deur mentorskap en wedersydse gesprekke hierdie waardes oral in ons skoollewe gaan laat saakmaak.
|
Ek vra ons ouers/voogde se ondersteuning in hierdie proses ook. Gesels met u kind oor ons JvR-waardes: Integriteit, Respek, Eerlikheid, Trots, Betroubaarheid, Regverdigheid, Medemenslikheid, Volharding, Verantwoordelikheid.
|
Kyk ook hier na die Powerpoint-aanbieding waarna die leerders vanoggend gekyk het.
|
Ons sal die bevestigde tweede kwartaal-datums in volgende week se nuusbrief aan u kommunikeer.
|
Ons eerste beheerliggaamvergadering het die afgelope week plaasgevind en die volgende ampsdraers is verkies:
|
Voorsitter: Kees Snijders
|
Ondervoorsitter en Tesourier: Izak Swanepoel
|
Sekretaris: Yvonne de Lange
|
Baie geluk aan dié ouerlede. Dankie ook vir jul bereidwilligheid om hierdie poste te vul en sterkte met die groot taak wat op julle wag!
|
BLOEDSKENK: MAANDAG, 19 APRIL
|
Ons Jan van Riebeeckers skenk eerskomende Maandag bloed. Dankie aan almal wat reeds aangedui het dat hul bloed sal skenk - dit word opreg waardeer!
|
Ouderdom van bloedskenkers: vanaf 16 jaar
|
Bloedskenkmaatreëls: volgens Covid-19-protokol
|
Leerders moet onthou om ’n goeie ontbyt te eet voordat hul bloed skenk.
|
JAN VAN RIEBEECK TOEKA-TENNISDAG
|
Ons nooi alle tennisspelers bo 60 jaar wat nog jonk van gees is om volgende Donderdag, 22 April, saam met ons tennisspelers aan ’n rondomtalie-tennisdag te kom deelneem. Die oueres en jonges sal in verskeie rondes in spanne saam met mekaar speel. Almal moet aantrek soos die spelers van ouds - en daar is heerlike pryse en nog verrassings wat op die spelers wag!
|
JvR-spelers wat belangstel, kan hul name aan me. Bezuidenhout deurgee.
|
Nooi asseblief u ouers/kennisse/vriende om die dag te kom geniet!
|
Loer na die advertensie op ons facebookblad by https://www.facebook.com/HSJanvanRiebeeck.
|
BESOEKE OP DIE PLATTELAND
|
Ek beplan om vroeg in die tweede kwartaal ’n besoek op die platteland en Namibië af te lê om te gesels met ouers/voogde wat graag aan hul kinders die besondere voorreg wil gee om hier by die mooiste skool aan die voet van Tafelberg te kom skoolgaan. Indien u my op enige manier in hierdie verband behulpsaam kan wees (met kontakbesonderhede van vriende/kennisse/oudleerders, ens.), kontak my asseblief by skoolhoof@janvanriebeeck.co.za. Ek hoop dat veral ons oudleerders my in hierdie poging sal ondersteun. Ons koshuise staan gereed om leerders van regoor die land te verwelkom!
|
ROOSHEININGPROJEK: BORG ’n ERFENISROOS
|
Ons nooi alle leerders, oudleerders en ouers uit om ons in ons roosheiningprojek te ondersteun! Ons beplan om ’n besondere roosheining langs die balustrade tussen Kampstraat en die netbalbane te plant om die kantaansig van die kampus te verfraai.
|
Raak deel van hierdie wonderlike projek deur ’n roosboom te borg en sodoende u naam te verewig by u skool. Ons sal naamplaatjies aanbring van almal wat ’n roosboom geborg het. Stuur asb. u naam/versoeke deur na roos@janvanriebeeck.co.za. Hierdie adres kan ook vir enige navrae rondom dié projek gebruik word.
|
Die borgskap beloop R200 per roosboom. Betalings kan via Karri gedoen word of in die Vriende van Welgemeend se rekening gedeponeer word:
|
Friends of Welgemeend and Boerneef Collection Standard Bank Rekening no: 67 671 2339 Bankkode: 020009 Verwysing: Roos_naam en van Betalingsbewys kan per e-pos gestuur word na roos@janvanriebeeck.co.za.
|
Ons is so dankbaar vir ons Vriende van Welgemeend en Boerneefversameling wat hierdie projek vir ons gaan administreer.
|
Baie dankie solank vir u ondersteuning!
|
Ons beplan ’n reeks kort kursusse waarin ons leerders puik nuwe lewensvaardighede gaan aanleer. Wanneer die kultuurprogram gefinaliseer is, sal leerders verdere opsies kan sien in grafiese ontwerp, grimeerkuns, mode-ontwerp, motorsake, tuinmaak, produksie, media, animasie ... en my gusteling tot dusver: Tannie Katinka se tafel- en ander maniere (aangebied deur ’n kleurvolle 80-jarige tannie wat haar storie kén!). Meer daaroor volgende week...
|
Hier is ons eerste geleentheid vir ons Jan van Riebeeckers:
|
Kelneropleiding by die Welgemeend Herehuis
|
Alle Jan van Riebeeckers word uitgenooi om in te skryf vir ’n besondere kelneropleidingprogram, gefasiliteer deur Karin Koch wat Welgemeend bestuur.
|
Die kursusse sal bestaan uit vier klasse van twee uur elk en daarna sal ’n praktiese eksamen volg.
|
Koste: R250 per student (minimum van 6 studente en maksimum van 10 studente per groep)
|
Wat gaan die Jan van Riebeeckers leer?
|
Die basiese vaardighede wat elke kelner moet bemeester:
|
- Kliëntediens en lyftaal – hoe hanteer ons ons gaste, maar ook die mense wat saam met ons werk?
- Hoe dek ek ’n tafel – basiese eetgerei / basiese breekware / watter glase gebruik ek vir watter drankies?
- Hoe neem ek ’n bestelling by ’n tafel en watter vrae om te vra...
- Wyn en Vonkelwyn
- Hoe skink en bedien ek basiese drankies?
- Hoe bedien ek kos en dek borde af op ’n professionele manier?
- Verskillende soorte bediening – skemerkelkie / aansitete / buffet
- Silver service
Indien u kind vir hierdie kort kursus wil inskryf, stuur asseblief ’n e-pos na karin@welgemeend.com teen volgende Vrydag, 23 April. Ons sal dan die groepindelings doen en meer inligting deurstuur.
|
Na afloop van die kursus sal ons leerders toegerus wees om ook as kelners hier by ons eie pragtige Welgemeend te werk - en selfs ’n mooi bedraggie te verdien...
|
Ek moedig al ons leerders aan om hierdie geleentheid aan te gryp!
|
REëLINGS VIR VOLGENDE WEEK EN HEROPENING VAN SKOLE
|
Die skool sluit volgende Vrydag, 23 April, om 10:00. Die eerste drie akademiese periodes sal gevolg word. U kind se rapport sal ook Vrydag beskikbaar wees.
|
Wanneer die skole op 3 Mei open, sal leerders volle somersdrag of volle wintersdrag mag dra vir die oorgangstydperk totdat dit koud genoeg is vir wintersdrag alleenlik.
|
Ons sal volgende kwartaal die datum deurgee wanneer almal volle wintersdrag moet dra. Somer- en wintersdrag mag nie gemeng word nie.
|
Besoek gerus ons klerebank volgende week (sien tye onder) om die nodige aankope te doen.
|
Baie dankie aan alle Jan van Riebeeckers wat die gedragskode van die skool getrou nakom. Dis goed om te sien hoe trots die meeste leerders op die Jan van Riebeeck-uniform is!
|
Ek wil graag ’n paar punte rondom die dogters se skooldrag (soos uiteengesit in ons gedragskode, beskikbaar onder Beleide op ons webblad) uitlig en vra u dringende samewerking in die verband:
|
• Wit enkelsokkies wat een keer omgevou kan word, is verpligtend; • ’n Donkerblou lint, rekkies, knippies of bruin kammetjies vir hare - waar van toepassing - word gedra; • ’n Wit haarlint is slegs vir matriekraadslede; • Geen breë kopbande word toegelaat nie.
|
AF- EN OPLAAI VAN LEERDERS SOGGENS EN SMIDDAE
|
Baie dankie vir almal se samewerking met ons nuwe oggendreëling - die verkeer vloei baie goed en die leerders het genoeg ruimte vir die skanderingproses.
|
Ek herhaal net weer die reëling:
|
Ouers/Voogde moet asseblief vanaf 6:45–8:00 die “ou” UITGANGhek in Hofmeyrstraat gebruik indien u wil inry om u kind af te laai. Die verkeer sal dan in een rigting beweeg en u ry weer by die hek in Stephenstraat agter by Welgemeend uit.
|
U kan dan links draai na Kampstraat of weer regs om in Hofmeyrstraat terug te kom Kloofstraat se kant toe.
|
Geen motors mag indraai by die personeelparkerings nie.
|
Dieselfde reël sal van 14:00–14:30 geld.
|
Indien u die skool op enige ander tyd besoek, gebruik u steeds die INGANGhek langs die sekuriteitshuisie.
|
Ek vra u dringende samewerking om te verseker dat ons leerders getrou skool bywoon. Ons gaan volgende week normaal voort met ons akademiese program en leerders kan nie besluit om by die huis te bly nie.
|
U moet die skool skriftelik in kennis stel indien u kind afwesig is. Stuur asseblief ’n e-pos op die dag van afwesigheid aan die graadvoog en cc me. Brigitte Eygelaar (Studentesake) in alle korrespondensie. Haar e-posadres is admin@janvanriebeeck.co.za.
|
Die nasorgfasiliteite is nou tot 16:30 beskikbaar sodat leerders in ’n rustige atmosfeer hier by die skool kan werk indien hul moet wag vir sportoefeninge wat eers later begin of vir ’n bus wat moontlik later vertrek.
|
Ons vra u samewerking om te verseker dat u kind(ers) van dié fasiliteit gebruik maak – en nie onnodig op die kampus rondhang nie.
|
Kom geniet die natuurskool saam met ons!
|
Tyd: 6:15 ontmoet by die skool in die parkeerarea
|
13:00-13:30 terug by skool
|
Leerders het ’n keuse tussen twee roetes op Tafelberg. Die moeiliker roete vir die fikser leerders is op by Platteklip. Me. Steyn vergesel die leerders op laasgenoemde roete.
|
Kontak Francois Roux, Sophia Pienaar (MR) of me. Steyn (huibrecht.steyn@janvanriebeeck.co.za) vir enige vrae. Daar is ook volwasse toesig op beide roetes.
|
Leerders wat hulp benodig met vakverwante probleme, kan die volgende MR-lede vir tutorklasse kontak:
|
Maak gebruik van hierdie tutorgeleenthede deur jou medeskoliere, Jan van Riebeeckers. Ek moedig veral die graad 8's en 9's aan om vir Werner en Anna te kontak!
|
Ons is baie trots op al ons leerders wat hard gewerk het die afgelope kwartaal - jul harde werk sal met uitstekende rapportpunte beloon word.
|
Cambridge A Level en IGCSE-inligtingsaand
|
Ons het gisteraand 'n Cambridge en IGCE-inligtingsaand aangebied vir die graad 9- en 10-leerders wat belangstelling getoon het - dankie vir almal se teenwoordigheid!
|
Indien daar enige verdere vrae rondom die programme is, skakel gerus vir me. Meyer of me. Visser of stuur 'n e-pos aan sonet.meyer@janvanriebeeck.co.za om die inligtingspakket te ontvang.
|
Afhangende van belangstelling, word Wiskunde, Engels, Fisika en Lewenswetenskap aangebied. ’n Minimum van 5 leerders moet inskryf vir die vak om aangebied te word. Leerders moet ‘n minimum van 75% vir hul gekose vak in die eerste kwartaal van graad 10 behaal om te kwalifiseer vir die program. Alle onkostes (onderrig, handboeke en eksamenfooi) moet deur die ouers betaal word.
|
Bemark ook hierdie wonderlike program aan belangstellendes buite ons skool!
|
Taalbond-tweetaligheideksamen
|
Die Taalbondeksamen begin Maandagoggend 8:00 in die saal. Leerders sal eers Engels skryf en daarna Afrikaans. Elke vraestel duur 2 uur en daar sal 'n 20 minute pouse tussenin wees. Sterkte, Jan van Riebeeckers!
|
Wiskunde-intervensie vir volgende week vind as volg plaas: Graad 12: Maandagmiddag vanaf 14:10 - 14:55 (Me. Serrao se klas) Graad 11: Woensdagmiddag vanaf 14:10 - 14:55 (Me. Serrao se klas) Graad 10: Maandagmiddag vanaf 14:10 - 14:55 (Mnr. Cronjè se klas) Graad 9: Donderdagmiddag vanaf 14:10 - 14:55 (Me. Du Plessis se klas) Graad 8: Woensdagmiddag vanaf 14:10 - 14:55 (Mnr. Oosthuizen)
|
Graad 12-Lewenswetenskappe-intervensie
|
Ons matrieks is welkom om elke Woensdagooggend van 6:30 tot 7:30 dié klasse by te woon. Bespreek asb. ’n plek die dag voor die tyd by me. Steyn.
|
Baie dankie aan al ons graad 12's en hul ouers/voogde wat gisteraand die graad 12-inligtingaand bygewoon het - die opkoms was puik! Ons is baie trots op hierdie groep JvR-matrieks. Hou aan om 'n goeie voorbeeld vir die res van die skool te stel. Jul harde werk sal ook met puik uitslae beloon word!
|
Ons sien daarna uit om u Dinsdagaand (20 April) hier op ons kampus te verwelkom!
|
- Sluit by ons aan vanaf 18:00 en kuier saam tot 21:00. (Die leerders se fliekaand op die rugbyveld eindig ook net na 21:00.)
- Streng sekuriteit en protokol sal gevolg word. By beide hekke (boonste parkeerterrein of aan Welgemeend se kant) sal gaste moet inteken, die siftingsproses moet deurgaan en saniteer. Die dra van maskers en sosiale afstand is ook ’n verwagting.
Alle graad 8’s moet asseblief teen Dinsdag die registrasiefooi van R200 by die Finanskantoor of via Karri vir die Teambo-spanbougeleentheid betaal.
|
Ons gaan voort met die reëlings vir die graad 12-spanboudag Dinsdagl en dit is ‘n verpligte aktiwiteit vir al ons matrikulante. Betaal die R350 teen Dinsdag, asseblief.
|
Die leerders het die week heerlike etes in die middag begin geniet - en ons nooi almal uit om van hierdie diens gebruik te maak!
|
Alle bestellings moet twee dae voor die tyd via Karri gedoen word (die opsies sal weekliks daar beskikbaar wees) en moet teen 16:00 daagliks by die snoepie afgehaal word.
|
Die wintersportprogram is volstoom aan die gang en ek is baie trots op dit wat ek die afgelope week op die sportveld sien gebeur het. Dankie aan die leerders vir die positiewe gees waarin proewe en oefeninge plaasgevind het.
|
Nadia van Antwerpen het Woensdag saam met die WP 480kg-damestoutrekspan na Swellendam vetrek om voor te berei vir die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe wat vir 24 April by Hoërskool Oakdale beplan word. Baie sterkte, Nadia!
|
Mienke Herbst en Mia Nortje is tans besig om aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Junior Swemkampioenskappe by Coetzenburg, Stellenbosch, deel te neem. Die kampioenskappe loop Sondag ten einde.
|
Ons Jan van Riebeeck-swemmers het die afgelope Maandag en Woensdag die kouer water hier in ons swembad trotseer. Mooi so!
|
Daniel Grutter, Gerard Snijders, Johann Jordaan en Stef Mostert het verlede naweek aan die Stellenbosch xco Bergfietsuitdaging deelgeneem. Al vier kon daarin slaag om dié baie tegniese baan te voltooi.
|
Die hokkieproewe het goed gelyk die week.
|
Die seuns oefen volgende week Maandag van 14:30 tot 15:30 en Donderdag 15:30 tot 16:30.
|
Die meisies oefen Maandag 15:30 tot 16:30 en Donderdag14:30 tot 15:30.
|
Die Hokkiehoofde beplan ook ‘n opwindende hokkiedag op 8 Mei.
|
Rugbyoefeninge het weer volstoom afgeskop, maar ons kort nog hier en daar bietjie getalle om nog spanne vol te kry. Ons affiliasie en registrasie is ingedien by die WP-Rugbyunie en ons sien uit om in die nuwe kwartaal met ligawedstryde te begin.
|
Die bepalings is egter nog nie deurgegee nie. Ons nooi alle rugbyspelers uit om te kom oefen!
|
Tennisoefeninge het normaal voortgegaan die week. Ons het nuwe leerders by die tennis verwelkom, so ons is opgewonde dat die sport nog kan groei in die toekoms.
|
Die skaakoefeninge het hierdie week afgeskop... of eerder 'n paar openingskuiwe gemaak!
|
Oefening is op Dinsdae- en Donderdaemiddae net na skool tot 15:30 in mnr. Cronjé se klas. Diegene wat aan ander spansporte op hierde middae deelneem, kan ook op Woensdae kom speel.
|
Die skaakklub sal deur Google Classroom funksioneer.
|
Enigeen wat nog wil aansluit, kan die klaskode cvurgj gebruik en volg dan die instruksies onder Administrasie. Elke skaakleerder sluit ook aan by chess.com waar hulle oefeninge kan doen en teen mekaar in die kuberruimte kan speel.
|
Ons het baie ywerige gholfspelers wat nie kan wag om hul vaardighede verder te slyp nie. Indien daar iewers by die huis ’n paar verlore stokke of ou toerusting lê, maak gerus kontak met mnr. Sampie Griessel by sampie.griessel@janvanriebeeck.co.za.
|
Die spelers wat nie onmiddellik nuwe toestusting kan aankoop nie, sal dit baie waardeer.
|
Me. Steyn het Woensdag die fiksheid-/stapgroep vir ‘n uitstappie Leeukop toegeneem. Die getalle is aan die toeneem - ons moedig almal aan om by hierdie groep aan te sluit. ’n Lekker drafstap en vars lug doen wondere vir die gees!
|
Netbalproewe die afgelope week was baie suksesvol - en die netbaldepartement is baie opgewonde oor die nuwe seisoen! Die tweede ronde O/16-proewe sal Donderdag, 6 Mei, voortgaan.
|
Die geskeduleerde proewe en fiksheid van Dinsdag word dus uitgestel weens die personeelverrykingsgeleentheid (sien inligting onder).
|
Die O/14's het steeds eerskomende Maandag om 15:30 – 16:30 hul tweede ronde-proewe, die O/15's se tweede ronde is Woensdag (21ste) om 14:30 – 15:30 en die O/19's Donderdag (22ste) tussen 14:30 en 15:30.
|
Die week het die Landlopers paaie verken teen Seinheuwel asook die geliefde Leeukoppad gehardloop. Die groep tel steeds spoed op en skrik nie vir n 5 km-draffie nie!
|
Ons beplan ’n byeenkoms by ons sportvelde op 12 Mei en nooi sewe ander skole na dié landloopdag toe.
|
Daar sal eerskomende Dinsdag, 20 April, geen hokkie-, rugby- of netbaloefeninge wees nie aangesien al die personeellede by ’n personeelontwikkelingsessie betrokke is. Die ander sporte behoort normaal voort te gaan.
|
Maak asseblief seker dat u ook die belangrike inligting onderaan die sportrooster noukeurig bestudeer.
|
- Ons verwag dat elke leerder aan ten minste een wintersport deelneem.
- Ouers/Voogde moet asb. ’n skriftelike verskoning ten minste 24 uur voor die oefening aan die afrigter/kontakonderwyser stuur indien u kind nie ’n sportoefening kan bywoon nie.
- Leerders wat nie vir sportoefeninge opdaag nie, sal met detensiepunte gestraf word.
- Ons het baie belangstelling ontvang van leerders wat aan rotsklim en tafeltennis en ook muurbal wil deelneem. Hierdie aktiwiteite sal in die eerste week van die tweede kwartaal afskop.
- Die busdienste sal alle leerders se buitemuurse programme akkommodeer. Ons is baie dankbaar dat mnr. Dewald Lombard onderneem het om te verseker dat die busdienste na die beste van hul vermoë aanpas by ons nuwe tye. Daar mag verandering aan tye en reëlings hier wees; dankie vir u begrip. Kontak gerus vir mnr. Lombard by dewald@actdfin.co.za of 073 265 0834 vir meer inligting.
- Matrikulante word van sport verskoon op Woensdag, 21 April, wanneer hul spanboudag plaasvind.
- Indien daar enige botsings is waar leerders byvoorbeeld aan meer as een aktiwiteit wil deelneem, kan leerders dit met mnr. Henning bespreek. Hy sal dit met die sporthoofde bespreek en reëlings sal dan met die leerder getref word.
- Ouers word versoek om leerders wat op die Buysveld oefen eerder by die Boshoffveld se klubhuis af te laai aangesien konstruksie by die boonste veld plaasvind en parkering skaars is.
Die koor hou die naweek hul eerste oefennaweek waar hul hard gaan oefen aan hul repetorium vir die komende jaar. Hulle oefen vandag vanaf 15:00-19:00 en more tussen 10:00 en 17:00.
|
Volgende week se oefeninge vind dan weer Dinsdag 7:00-8:00 en Donderdag 16:00-17:30 plaas.
|
Die volle orkes oefen eerskomende Maandagoggend in die skoolsaal. Leerders moet asseblief hul instrument, musiek en energie saambring! Me. Du Toit sal laat weet wie Woensdag oefen.
|
Kuns Die ATKV Digi-kuns aanlyn inskrywings sluit 23 April. Gesels met me. Vrey vir meer inligting.
|
Die debatteerders oefening eerskomende Maandag om 14:15 tot 15:00.
|
Radikale redenaars en deelnemers aan die voorbereide lees word herinner daaraan dat hul video's teen eerskomende Dinsdag, 20 April, gelaai moet wees. Me. Schwartz kan enige tyd genader word vir hulp.
|
Enige leerder wat belangstel om vanjaar aan die drama-eisteddfod deel te neem, moet so gou moontlik hul name vir me. Taljaard gee.
|
Ons moedig leerders aan om vanjaar aan die Netwerk 24-Blitsbreinkompetisie deel te neem. Hierdie aanlyn algemene kenniskompetisie is vir leerders in graad 8-12 en heerlike pryse is op die spel! Gesels met me. Potgieter vir meer inligting.
|
Ons nooi alle leerders uit om saam te kom gesels, God se woord te bespreek en te lees. Jan van Riebeeckers is welkom om te kom inloer by die laboratorium langs me. Turkstra se klas op Dinsdae- en Donderdaeoggende vanaf 7:15.
|
Sterrejag-inskrywings vind vanjaar virtueel plaas. Leerders moet 'n kort video van hul talent maak of 'n foto van hul kunswerk neem en die inskrywingsvorm by die volgende skakel bit.ly/Sterre2021 voltooi.
|
Jan van Riebeeckers kan vir die volgende afdelings inskryf:
|
1. Sang 2. Dans 3. Kuns en fotografie 4. Instrumentaal en 5. Ope (alle items wat nie by enige van die ander afdelings inpas nie). Leerders kan in 'n groep of as individu inskryf.
|
Alle inskrywings sluit op 22 April en die finaliste sal volgende kwartaal bekend gemaak word. Indien leerders sukkel met die inskrywingsvorm kan hul vir Elzaan Daniels, Liam Stevens of me. Nimmo kontak om te help.
|
NAZARETH HOUSE WINE RAFFLE
|
Ons wil graag hierdie organisasie in ons onmiddellike gemeenskap ondersteun en vra dat u dit oorweeg om ’n kaartjie te koop vir hul fondsinsamelingsprojek.
|
Heerlike Jordan Wyne (Stellenbosch) is op die spel: 1ste prys – 8 bottels, 2de prys – 6 bottels en 3de prys – 4 bottels. Kaartjies kos R50 elk en u kan dit via Karri koop. Die skool sal die nodige oorbetaling dan aan die organisasie doen. Inskrywings sluit 30 April en die wenners word 7 Mei aangekondig.
|
Kom ons ondersteun hierdie organisasie wat uitstekende werk vir die bejaardes en jeug in hul sorg doen!
|
Die klerebank is volgende week Dinsdag en Donderdag (12:45 tot 14:15) oop. Daar is heelwat tweedehandse klere in goeie toestand te koop.
|
Ek hoop u geniet ’n heerlike naweek. Dankie vir u wonderlike ondersteuning van ons geliefde skool!
|
|
|
|
|
|
|
|