Nuusbrief-header
28 Mei 2021
Geagte Ouers / Voogde

Die volgende woorde was in my Engelsjuffrou se klaskamer opgeplak:
“A Poet must write; a Musician must make his music; an Artist must paint – if he is to ultimately be at peace with himself”.

Al verstaan ’n 14-jarige nog nie regtig dié tipe woorde nie, het ek dit neergeskryf omdat iets vir my gesê het dis wáár woorde.
Vandag maak dit my hartseer as ek dink daar is baie jongmense, selfs volwassenes, wat nog nie die kuns bemeester het om wáár woorde in ’n hartskamer êrens toe te sluit nie.

Ons kry elke dag met moeilike mense te doen wat nie destyds met aandag na die stemmetjie in hul hart geluister het nie en net blindelings in ’n beroepslewe ingeduik het – sonder om die water te toets.

Die resultaat van dié besluite maak van baie mense swak swemmers: hulle druk stempels hard en aggressief op ons dokumente in die bank; hulle stuur ons spoedpos met ’n gesukkel; hulle verskree kinders onnodig in klaskamers; hulle sit ’n bord kos neer asof dit iets is waaraan hulself nie hul mond sal sit nie; hulle ignoreer jou as jy hulle aandag in ’n winkel probeer kry – en dit skeel hul min of jy tevrede is met hul diens of gebrek daaraan.
As kind was ek te bang om ’n boek in ons biblioteek uit te neem, want die tannie agter die toonbank met die baie plooie en ’n ingekerfde frons, was hopeloos te kwaai en het gedink almal wat deur boeke blaai se hande is vetterig.

En so ontneem dié mense ons van ons reg op klein plesiertjies.

Ek is vasoortuig dat swak diens, luiheid, laksheid en ledigheid grootliks te make het met verydelde drome . . . en nou moet die klant of kliënt maar tevrede wees met die dik en stywe lip, die skrefies-oë wat vrees inboesem en ’n algehele belangeloos- en traak-my-nie-agtigheid.

Ons matrieks is hard aan die woeker met aansoeke vir universiteite en nagraadse studies, die graad 9's begin al dink aan vakke vir volgende jaar. Baie graad 10's en 11's het ander vakkeuses oorweeg na hul Aprilrapport... almal is maar die hele tyd op pad na die beroepslewe waarvoor hul nou hier by JvR voorberei word.

Moenie die dink, en die weer-dink, en die nog-’n-keer-dink hiervan onderskat nie, Jan van Riebeeckers.

Ouers en Voogde, help jul kinders soek en soek en soek na die béste moontlikhede vir hom of haar daar buite; na die onkonvensionele, kreatiewe en miskien minder bekende opsies ook! ’n Wêreld vol moontlikhede lê en wag en dit is vir my altyd jammer as kinders studiekeuses uitoefen om ouers gelukkig te maak of te hou, of om iets te wil bewys - of nie te bewys nie.

Ek sal nooit vergeet nie hoe ’n ouer van ’n baie akademies-intelligente kind jare gelede by ’n oueraand teenoor my kla dat haar seun ’n onderwyser wil word. Haar woorde was ’n bak koue water in my gesig:" Sê tog vir Jan-Koos-Piet dat hy Medies moet doen en nie Onderwys nie - dit sal so ’n waste van ’n brein wees!"
Nou, ja... Jan-Koos-Piet het in sy derde jaar opgeskop en na baie draaie en dinge is hy vandag ’n uiters knap Lewenswetenskappe-onderwyser by ’n wonderlike skool... besig om die volgende geslag dokters te inspireer om Medies te gaan swot!

Dink groot; dink wys; dink wyd...
Jan van Riebeeckers, wees ’n entrepreneur met jou beroepsdrome!

WAARDEGEDREWE-ONDERWYS: VRAELYS VIR OUERS
Ons is nou al ’n paar weke besig met die skool se waardes en hoe ’n waardegedrewe onderrig ’n verskil kan maak in ons elkeen se lewe.

Die skool se waardes en waarop ons graag al ons besluite wil baseer, is as volg:
Trots, Regverdig, Eerlik, Betroubaar, Medemenslik, Verantwoordelik, Respek, Volharding en Integriteit.

Ons het aan elke leerder en personeellid die geleentheid gegee om die volgende vraelys te voltooi en ek nooi u as ouer/voog ook nou uit om dit te voltooi.

Ek het vanoggend opsommend na ’n paar van die sake gekyk waarop die Jan van Riebeeckers kommentaar gelewer het - en dis belangrik dat ons hele Jan van Riebeeck-familie saam sal werk om positiewe waardes uit te leef.
Ek sal u insette ook baie waardeer!

Kies asseblief een van ons waardes en dink dan aan gewone, op-die-man-af voorbeelde van dinge in die skool wat moet STOP en moet BEGIN.

Bv. Leerders moet ophou rommelstrooi (respek vir eiendom) - STOP
Leerders moet begin om getrou sport by te woon (volharding) – BEGIN

Maak ‘n lysie van wat u dink moet STOP en BEGIN gebeur by die skool ten opsigte van hierdie waardes.

U kan dit anoniem by hierdie skakel voltooi: https://bit.ly/3wCRpag

PILATES BY JvR
Ons ondersoek tans die moontlikheid om pilates by die skool aan te bied.
Ons dink voorlopig aan Woensdae om 18:00 in die skoolsaal. Heelwat leerders en onderwysers het reeds aangedui hul stel belang en ons nooi graag ook ons ouers, oudleerders en vriende van die skool uit om hieraan te kom deelneem!
Stuur gerus ’n e-pos aan mnr. Jan Henning by jan.henning@janvanriebeeck.co.za indien u belangstel.

SINCHRONISEER JOU KALENDERS
Ons webblad is nou so opgestel dat al u kalenders outomaties gesinchroniseer bly en op u rekenaar en ander elektroniese toestelle beskikbaar is. Dit word ook outomaties op datum gehou wanneer inskrywings bygewerk word.
Volg gerus die instruksies by hierdie skakel: https://janvanriebeeck.co.za/sinchroniseer-kalenders/

HEERLIKE OGGENDKOFFIE NOU OP ONS KAMPUS BESKIKBAAR
Die Courage-koffietrok is nou soggens tussen 06:30 en 08:00 hier om heerlike koffie by ons deurrit te verkoop. Ouers en leerders word uitgenooi om hul oggendkoffie hier op ons kampus te kom koop! 'n Gedeelte van die inkomste word aan die skool betaal, so kom deel in ons fondsbevorderingsinisiatiewe.

WELKOM, BIOKINETIKUS PIETER LOMBARD
Pieter Lombard is die nuwe biokinetikus by Hoërskool Jan van Riebeeck en het onlangs sy privaatpraktyk hier by ons swembadkompleks geopen.
Hy spesialiseer in chroniese en ortopediese rehabilitasie asook algemene kondisionering.
Leerders en ouers is baie welkom om hom te besoek.
Hy werk ook graag sportprogramme vir individue uit met die oog op algehele sportprestasie of vir rehabilitasie.
Ons sien ook uit na Pieter se betrokkenheid by ons sportspanne!

Pieter is van Kwa-Zulu Natal en nadat hy in 2009 gematrikuleer het, het hy by die Sharks-rugbyakademie aangesluit. Dis hier waar hy sy passie vir biokinetika ontdek het. Hy voltooi sy honneursgraad in Biokinetika aan die Universiteit van Stellenbosch.

Kontak gerus vir Pieter by 072 276 6556 of biokinetics@ultimateperformancetherapy.co.za.

TENDERGELEENTHEID: BOUPROJEK
Tenders word ingewag vir die volgende projek by ons skool:

Die opgradering en voltooiiing van ’n historiese traparea (Welgemeend-trap)
tussen die skool en die historiese Welgemeend-herehuis:
    1. Bouwerk van ’n nuwe prieel met Balauhout bo-op kolomme, handgemaakte Kleiteëls op die trappe met n BOE-plaveisteentraptreetjies
    2. Nuwe ingangsbooghek aan die bokant van die trappe (aan die skool se kant, bopunt van die skakeltrap)
    3. Begindatum middel-Junie 2021 (ons skat tussen 4-6 weke boutyd); voltooiing einde-Julie 2021
    4. Dis binne die skoolterrein gedurende skooltyd en die bouarea word afgekordon.
Kliek gerus hier vir ’n visuele voorstelling.

Belangstellende partye kan gerus by my navraag doen by skoolhoof@janvanriebeeck.co.za.

KRIEKET: DIE TOEKOMS - UITNODIGING NA INLIGTINGSESSIE
Ek nooi graag alle krieketliefhebbers en hul ouers uit om te kom luister na ons drome oor die JvR-kriekettoekoms, onder die leiding van ons nuwe krieket- en sportkonsultant, Ryan Maron.
Kliek hier om die uitnodiging te lees.
Moenie die geleentheid misloop nie - kom gesels saam!

YOUTH FOR UNDERSTANDING-UITRUILPROGRAM
Lena Gronbach van Youth for Understanding het die afgelope week met ons leerders oor internasionale studenteuitruilmoontlikhede gesels. Die program bied wonderlike geleenthede vir leerders om jongmense van regoor die wêreld te leerken en ook interkulturele ervarings te geniet.
Lees gerus hier vir meer inligting oor hul program en kliek hier om te sien watter leerders graag in Augustus vanjaar dalk by Jan van Riebeeck kan aansluit indien hul ’n gesin vind wat bereid sal wees om hul te huisves.

JvR-BERGFIETSFEES
Ons stel ons splinternuwe bergfietsbaan volgende Saterdag, 5 Junie, bekend met ’n heerlike bergfietsfees vir oud en jonk! Kliek hier vir meer inligting!

Kaartjies is te koop op Quicket by die volgende skakel: https://qkt.io/JvRFiets

Die aflosformaat werk so:
  • Die aflos duur 4 uur.
  • 4 spanlede skryf in spanverband in en elke spanlid ry individueel.
  • Die span wat die meeste rondes op ons nuwe 1.5 km-baan voltooi, wen.
  • Die uiteensetting en aflosformaat kan self deur elke span bepaal word, byvoorbeeld:
elke fietsryer kan ‘n uur aaneen ry OF
elke fietsryer kan in sessies van 30 minute elk ry, wat dus 2 beurte elk beteken OF
elke fietsryer kan in sessies van 15 minute elk ry, wat dus 4 beurte elk beteken: dit
strek dus oor die 4 uur tydperk.

Ons vertrou dat goeie sportmangees sal heers en ’n regverdige uiteensetting sal plaasvind.

Huidige Covid19-protokol sal streng toegepas word om die voorgeskrewe beperkte getalle te handhaaf. Gratis toegang vir toeskouers wat in gekontroleerde hoeveelhede toegelaat sal word.

Inskrywings sluit Woensdag, 3 Junie.

Rig asseblief enige navrae aan Karien Zulch by karien.zulch@janvanriebeeck.co.za.

Ons versoek ook alle ouers om die volgende skakel te voltooi sodat ons ons beplanning rondom getalle, beamptes en algemene hulp kan doen.
https://forms.office.com/r/VTwRqAB9YW

WELGEMEEND SE POP UP/ OPWIP-MARK
Welgemeend bied vanaf 10 tot 12 Junie ’n unieke ouwêreldse uitstalling van kuns en mooigoed aan - ’n eerste waarna ons baie uitsien!
Vertel solank vir al u vriende en teken die datum in u dagboek aan.
Kliek hier vir meer inligting.

#MyJanvanRiebeek in MEI
Ons spog in Mei-maand met ons trotse oudleerders - geniet die reeks tot Maandag nog saam met ons! Loer gerus elke dag na ons Facebookblad om te sien watter merkwaardige oudleerders eens in die JvR-skoolbanke gesit het: https://www.facebook.com/HSJanvanRiebeeck

DISSPILINE EN VOORKOMS
Dankie aan almal wat die voorkomsreëls gehoorsaam - hou so aan!

Let asseblief daarop dat geen buffs as masker toegelaat word nie, want dit is meestal te dun. ’n Dubbellaagmasker moet asseblief te alle tye gedra word.

Leerders mag ook geen musse, pette of sweetpakbaadjies saam met hul skooldrag dra nie. Dankie vir jul samewerking hiermee!

JvR-WHATSAPP
Ouers en leerders word versoek om die skool se Whatsapp-nommer op hul fone te stoor sodat alle kennisgewings ontvang kan word. Die nommer is 066 448 4881.

Ouers wat probleme ondervind met die skool se Whatsapp-groep of e-posse, kan gerus vir mnr. Alan Gericke by help@janvanriebeeck.co.za of by alan.gericke@janvanriebeeck.co.za kontak.

HERMIEN VAN DER MERWE SOLO-KUNSUITSTALLING BY WELGEMEEND
Welgemeend, Hs Jan van Riebeeck, Kaapstad
27 Mei – 12 Junie 2021
Sy vind uitbundige inspirasie waar sy skuil in Tafelberg se skaduwee

Hermien van der Merwe kry haar inspirasie uit die rykdom van flora op die verfdoek Tafelberg waar sy die skadukant van hierdie unieke berg opsoek omdat die lig hier meer gedemp is en die kleure van haar onderwerp baie dieper.
Dit is hierdie skadukant van die berg wat haar die meeste inspireer en waaruit haar solo-uitstalling se diep palet ontwikkel het. “Shelter in the shadow” is die naam wat sy gekies het vir haar nuwe reeks unieke skilderye wat hul oorsprong in 2020 se grendeltyd gehad het.
“Ek het sterk, diep kleure gekies en met uitbundige kwashale die diep gevoelens van vrees en onsekerheid wat ek ‘n jaar gelede ervaar het, probeer uitbalanseer. Ek wou in my kuns “oorvloed” uitroep in tye van nood en gebrek – ‘n skrille kontras in onsekere tye.
Vir Hermien was haar motivering om aan elkeen wat na haar skilderye kom kyk, plesier, kleur, skoonheid en uitbundigheid in hul lewens te gee. “Om aan hulle wat daarna kyk, hoop te gee,” sê sy.

Soos altyd, is die Kaapse fynbos haar inspirasie waar sy gereeld die berg se vele stappaadjies verken – opsoek na nuwe kleure, teksture en kontraste vir haar volgende verfdoek wat altyd gereed staan. In haar jongste uitstalling het sy effe afgewyk van die presiese kleure en vorms van fynbos omdat sy vryheid wou uitbeeld met lewendige kleure en sterk kontraste.
Die uitstalling het ook op geestelike vlak vir Hermien groot betekenis. “In die afgelope jaar het ‘n diepe waarheid in my weerklink: ‘wie in die skuiling van die Allerhoogte woon, sal rus vind in die skadu van die Almagtige’. Ek skuil in die skaduwee, daar waar ek kan stadiger loop en dinge van naderby kan aanskou.”

Hermien se solo-uitstalling het vanjaar ’n splinternuwe formaat. Die uitstalling – wat op 27 Mei 2021 in Welgemeend geopen het – strek oor 17 dae om kleiner groepe mense te akkommodeer.

Die uitstalling sluit af met ‘n kuns- en kunsflytmark by Welgemeend.

Kliek hier vir meer inligting en volg die skakels: http://www.hermien-art.co.za/solo-exhibition-shelter-in-the-shadow/

ROOSHEININGPROJEK: BORG ’n ERFENISROOS
Ons nooi alle leerders, oudleerders en ouers uit om ons in ons roosheiningprojek te ondersteun! Ons beplan om ’n besondere roosheining langs die balustrade tussen
Kampstraat en die netbalbane te plant om die kantaansig van die kampus te verfraai.

Raak deel van hierdie wonderlike projek deur ’n roosboom te borg en
sodoende u naam te verewig by u skool. Ons sal naamplaatjies aanbring van almal wat ’n roosboom geborg het. Stuur asb. u naam/versoeke deur na roos@janvanriebeeck.co.za. Hierdie adres kan ook vir enige navrae rondom dié projek gebruik word.

Die borgskap beloop R200 per roosboom. Betalings kan via Karri gedoen word of in die Vriende van Welgemeend se rekening gedeponeer word:

Friends of Welgemeend and Boerneef Collection
Standard Bank Rekening no: 67 671 2339
Bankkode: 020009
Verwysing: Roos_naam en van
Betalingsbewys kan per e-pos gestuur word na roos@janvanriebeeck.co.za.

Ons is so dankbaar vir ons Vriende van Welgemeend en
Boerneefversameling wat hierdie projek vir ons gaan administreer.
Baie dankie solank vir u ondersteuning!

AKADEMIE
Na vier weke terug is die akademiese program behoorlik op dreef en ons leerders is baie hard aan die werk. Dankie aan elkeen wat so getrou hul akademiese verpligtinge nakom!

Cambridge-program
'n Groep gr. 9- en gr.10-leerders begin volgende week amptelik met die Cambridge Wiskunde AS-Level en IGCSE-program - baie sterkte aan elkeen van julle!
Daar is vandag 'n brief aan alle ouers gestuur rakende die programverloop volgende week.

Junie-eksamen 2021
Die Junie-eksamen begin Maandag, 21 Junie en duur tot Woensdag 7 Julie. Die eksamenrooster word tans gefinaliseer en sal volgende week beskikbaar wees.

Dis ’n geleentheid vir alle leerders, maar veral matrieks, om hul eksamenvaardighede te oefen. Finale eksamenreëlings sal ook in die nuusbrief van 11 Junie ingesluit word.

Fisiese Wetenskappe-intervensie
* Graad 12-FW gaan elke Maandag voort met onderrig na hul dubbelperiode FW, vanaf
14:05 – 15:15.
* Graad 12-FW-hulpklas: Vrydagoggend vanaf 07:00 tot 07:30
* Graad 11-FW-hulpklas: Leerders kan kies tussen Dinsdagmiddag en
Woensdagmiddag 14:04 tot 15:00, soos dit hul buitemuurse program pas.
* Graad 10-FW-hulpklas: Donderdagmiddag 14:04 tot 15:00

Wiskunde-intervensie v
Graad 12: Maandagmiddag vanaf 14:15 – 15:00 (Me. Serrao se klas)
Graad 12: ­­­­­­­­­­Woensdagoggend vanaf 06:55 – 7:25 (Mnr. Cronjè se klas)
Graad 11: Maandagmiddag vanaf 15:15 – 16:00 (Me. Serrao se klas)
Graad 11: Donderdagmiddag 14:30 – 15:30 (Mnr. Oosthuizen - nasorglokaal)
Graad 10: Maandagmiddag 15:15 – 16:00 (Mnr. Klink se klas)
Graad 10: ­­­­­­­­­­Maandag 14:15 – 15:00 (Mnr. Cronjè se klas)
Graad 9: Woensdag 14:15 – 15:00 (Mnr. Klink se klas)
Graad 9: ­­­­­­­­­­Dinsdagmiddag 14:15 – 15:00 (Me. Du Plessis se klas)
Graad 8: Woensdagmiddag 14:30 – 15:30 (Mnr. Oosthuizen)
Graad 8: ­­­­­­­­­­Maandagmiddag 14:15 – 15:00 (Mnr. Klink se klas)

Graad 12-Lewenswetenskappe-intervensie
Ons matrieks is welkom om elke Woensdagooggend van 6:30 tot 7:30 dié klasse by te woon. Bespreek asb. ’n plek die dag voor die tyd by me. Steyn.
MATRIEKRAAD
Akademiese Tutors
Leerders wat hulp benodig met vakverwante probleme, kan die volgende MR-lede vir tutorklasse kontak:
Werner Voges – 083 459 4630 of werner.voges@janvanriebeeck.org
Anna van Rooyen – 082 061 9159 of anna.vanrooyen@janvanriebeeck.org
Maak gebruik van hierdie tutorgeleenthede deur jou medeskoliere, Jan van Riebeeckers.
GRAADSAKE
Graad 12
Die spanbouaktiwiteit wat aan die einde van die eerste kwartaal uitgestel is, sal hopelik in die eerste week van die derde kwartaal plaasvind. Die maatskappy wat hierdie diens aan ons verskaf, is ongelukkig nie beskikbaar voor Julie nie. Ons hou u op hoogte wanneer reëlings gefinaliseer is.

Ons merk dat baie graad 12's die afgelope paar weke afwesig is, veral op dae wat assesserings plaasvind of take ingehandig moet word. Leerders verlaat ook die skool vroeër vir privaat afsprake.

Ouers/Voogde, ondersteun ons asseblief in ons pogings om die matrieks hier by die skool te hê vir die baie belangrike kontaktyd. Die Junie-eksamen is om die draai en ons leerders wat hul gewoonlik aan dié soort optrede skuldig maak, het juis elke bietjie akademiese ondersteuning nou nodig!

SPORTSAKE
Baie dankie aan die matriekraad wat ’n uitstekende Kapteine-aand gereël het. Elna Engelbrecht en Gregory Barends het hul puik van hul taak gekwyt!
Die spreker, Dillon Jearey het ’n baie inspirerende praatjie gelewer. Mag ons kapteine hul sportspanne veral nou in ’n baie uitdagende seisoen as span bymekaar hou!

Alle kontak in sporte word tans verbied. Oefening gaan egter steeds voort met een oefening per week in spanverband. Donderdae oefen alle spanne saam op die Boshoff- en Buysvelde. Mnr Klink neem saam met van die buiteafrigters beheer van dié kondisioneringsessie.

Shaun Genesis van die Gardens RFC het op baie goedgunstige wyse sy gimnasium aan ons beskikbaar gestel. Die O/16- en O/19-seuns sal Woensdae en Donderdae hierdie fasiliteite gebruik in plaas van die normale veldoefeninge.

Bergfietsry
Ons het verlede Saterdag, 22 Mei, aan ons eerste Spur-Bergfietsreekskompetisie deelgeneem. Dit was lekker om ons skool se naam tussen al die groot skole in die Wes-Kaap te sien presteer!
Die meisiespan, bestaande uit Mari Swanepoel en Liezel Snijders, kon daarin slaag om 12de te eindig. JvR het algeheel 16de geëindig - ’n goeie eerste poging!

Ons wil ons dank betuig aan Karen Muller, Izak Swanepoel en Phillip Grutter wat deurgery het en raad en leiding kon gee.
Phillip het die pragtige nuwe hemde ontwerp en verseker dat elke deelnemer dit betyds ontvang. Dankie ook aan Siegfried Rousseau wat die inskrywings behartig het.

Verbeterings aan die fietsrybaan vorder goed ter voorbereiding van die opening op 5 Junie. Meer inligting en inskrywings is beskikbaar by qkt.io/JvRFiets.

Skaak
Daar word hard gewerk om aanlyn skaak te organiseer.

Ons agt beste spelers speel 3 Junie tussen 14:30 en 16:00 teen Rondebosch. Alhoewel die formaat aanlyn is, het ons dit goed gedink om al die spelers in een lokaal te hê om groepsatmosfeer te skep.

Rotsklim
Rotsklimmers gaan elke Donderdag na skool na CityRock waar hul hul vaardighede kan verbeter. Ons nooi alle Jan van Riebeeckers uit om by ons aan te sluit!

Branderplank
Die branderplankryers vertrek Vrydae direk na skool om die heerlike Kaapse branders aan te durf.

Tafeltennis
Tafeltennisoefeninge gaan steeds voort op Woensdae. Ongelukkig is alle wedstryde tot volgende kwartaal uitgestel.

KULTUURSAKE
Fotografieklub
DIe Internasionale Afrikaans Ekspo se tema is vanjaar BOEKE en ons fotograwe neem deel.
Geen moeite is die afgelope week ontsien om die perfekte foto's te neem nie.

Ons pragtige skoolterrein het hierdie klub geïnspireer om as agtergrond te dien.
Juf. Crous het ook sommer self 'n paar foto's geneem met haar selfoon om leerders te wys "die kamera maak nie die fotograaf nie". Ons sien uit daarna om die finale kunswerke te sien!

A Boarding Line
Ons eie me. Regina Malan, SK-musiek- en sangonderwyser, sal eersdaags iin die produksie, A Boarding Line, te sien wees.

As jy lief is vir jazzhande soos Fosse, kwartette soos Lloyd Webber en puik sang soos LuPone, hoef jy nie verder te soek nie - dié produskie is wat jy dan in jou lewe nodig het! Hul dansende, singende en musikale ekstravaganza bevat al die Broadway-treffers wat jy ken, asook 'n paar nuwes. Moet dit nie misloop nie!

Kaartjies is nou beskikbaar by Computicket. Bespreek jou sitplekke om teleurstelling te voorkom: https://bit.ly/33BhOsw.
Die vertoning is van 10 tot 19 Junie in die Masque Theatre South Africa te sien.

Drama-eisteddfod
Oefeninge vind Woensdag, 14:15 tot 15:15, plaas.

Tienertoneel
Oefeninge vind Dinsdag en Donderdag, 16:00 tot 19:00, plaas.

Orkes
Die orkes is weer aan die oefen op Maandag- en Woensdagoggend van 7:00 tot 8:00.

Kuns
Die Afrikaans-ekspo se kunskompetisie-inskrywings sluit 12 Julie. Al die inligting is op die “Kunskompetisies Google-klaskamer” beskikbaar. Leerders kan tye reël om in die kunsklas aan hul inskrywings te kom werk. Gesels met me. Vrey.
Klerewinkel
Die klerewinkel sal volgende week Maandag en Woensdag vanaf 12:45 tot 14:15 oop wees.
Ongelukkig is al die kleiner groottes van die winterbroeke reeds uitverkoop. Daar is nou net vanaf grootte-36 beskikbaar.

Hier is heerlike en opwindende dinge by die skool aan die gebeur - baie dankie vir u volgehoue ondersteuning! Mooi naweek!

Vriendelike JvR-groete
Pieter Rademeyer
Skoolhoof

VERJAARDAE: 29 MEI TOT 4 JUNIE 2021
Baie geluk aan al ons Jan van Riebeeckers wat volgende week verjaar!

30 MEI
Me. Sanet Taljaard
Leila Lonte (9R)
Neena Lonte (9R)

3 JUNIE
Mickaylah Japhta (11J)

ONTMOET ONS ONDERWYSERS: ME. JEAN-MARI DU PLESSIS
Jean-Mari is ń passievolle Wiskunde Geletterdheid- en Lewenswetenskapjuffrou, wat in 2019 haar NOS aan die Universiteit van Stellenbosch ontvang het nadat sy in 2018 ń BSc in Menslike Lewenswetenskappe-graad behaal het. Gedurende haar tyd op Stellenbosch het sy haar graag besig gehou met universiteits- en koshuissport, hoofsaaklik judo en hokkie, Asook die vele studenteleierskapsgeleenthede wat oor haar pad gekom het.
In 2020 verruil Jean-Mari Coetzenburg vir Tafelberg en skop sy haar onderwysloopbaan by HS Jan van Riebeeck af.
Omdat leer 'n lewenslange proses is, pak Jean-Mari hierdie jaar haar BEd Honeurs in onderwysleierskap en -bestuur aan. Daar is natuurlik altyd tyd vir die buitemuurse aktiwiteite en Jean-Mari geniet elke oomblik as afrigter van die eerste seunshokkiespan asook die tafeltennisoefeninge waarmee ons onlangs begin het.
JEANMARIE
facebook instagram custom 
MailPoet