|
|
|
|
|
’n Kollega sê eendag vir my sy is só agter met haar werk dat dit eintlik vir haar voel of sy vóór is...
|
En hoe waar beskrywing is dít nie van daardie aaklige gevoel wanneer jy (soms uit jou eie toedoen; soms as gevolg van te veel ysters in die vuur) so agter geraak het met jou werktaak dat jy glad nie weet waar om te vat en waar om te los nie.
|
Almal weet hoe uitdagend dit dan is om jouself gelig te kry uit die emosionele wanhoop waarin jy verval het... en om dan maar moedig die stukke een vir een te probeer optel, is beslis nie maklik nie.
|
Dis oor twee weke weer eksamentyd en menige leerder ervaar nou die druk van die baie werk wat nog gedoen en hersien moet word in die baie kort tydjie. Voeg nog al die baie ektra verpligtinge en aktiwiteite wat ons jongmense tot laat besig hou, in, en dis ’n uitdaging wat groot hoofpyne veroorsaak - maar meer nog so as jy nie op datum is met jou huiswerk, take én eksamenvoorbereiding nie.
|
Moedig asseblief u kind aan om vroegtydig ’n hersieningsprogram op te stel sodat hy/sy die eksamen met selfvertroue kan aanpak. Die verwagting is ook dat die afbakening van alle leerwerk in u kind se boek geplak moet wees.
|
Ek vertrou dat daar nou ’n sterk akademiese fokus sal wees, maar ook dat alle ander verpligtinge steeds nagekom sal word. Ons sport- en kultuurprogram gaan voort en ek maak staat op almal se getroue deelname en betrokkenheid. Vasbyt!
|
Kliek hier om die Junie-eksamenrooster af te laai.
|
In die week voor die eksamen vind enkele praktiese assesserings plaas. Dit het geen invloed op die akademiese klasse nie, wat volstoom tot Vrydag, 18 Junie voortgaan.
|
Enkele vakke in graad 12 skryf ’n vraestel wat eers in kwartaal 3 vir hulle rapport en SBA (skoolgebaseerde assessering) tel, of bloot gerig is op eksamenvaardighede.
|
Dis egter belangrik dat graad 12’s in hierdie stadium van hulle skoolloopbaan oefening kry om dag na dag vir ’n eksamenvraestel voor te berei en veerkragtigheid op te bou vir die NSS-eksamen aan die einde van die jaar.
|
Die huidige graad 12’s het aan die einde van hul graad 10-jaar laas ‘n volledige skooleksamen geskryf!
|
Moedig u kind dus aan om vroegtydig te begin voorberei sodat hul selfvertroue kan opbou vir die rekord- en eindeksamen wat voorlê.
|
Dis met groot hartseer dat ons afskeid neem van Helena Lambrechts née Jordaan (matriek 1941), beter bekend as Tannie Toetoe.
|
Sy was die enigste dogter van mnr. en mev. Jordaan, eerste skoolhoof van Hoërskool Jan van Riebeeck.
|
Sy begin haar skoolloopbaan by LJvR en in 1941 voltooi sy haar matriek by HSJvR.
|
Na matriek studeer sy tale by UK en voltooi haar M.A. met ‘n studie oor MER onder leiding van DJ Opperman.
|
Sy trou met Hugo Lambrechts (matriek 1937) skoolhoof van HJvR 1962-1968. Sy bly vir sewe jaar met haar jong gesin in Welgemeend.
|
Jeanne Potgieter née Lambrechts is tans onderwyseres hier by JvR en haar twee seuns, Adriaan en Nelius, is ook oudleerlinge van die skool.
|
Sy was deur en deur ’n Jan van Riebeecker, ‘n skakel met die beginjare van die skool in 1926 tot 96 jaar later.
|
Ons eer haar nagedagtenis en is dankbaar vir die bydraes wat sy in haar lewe tot die opvoedkunde en die Jan van Riebeeck-skole gemaak het.
|
Ons innige simpatie met die Lambrechts-familie – kinders en kleinkinders.
|
WAARDEGEDREWE-ONDERWYS: VRAELYS VIR OUERS
|
Ons is nou al ’n paar weke besig met die skool se waardes en hoe ’n waardegedrewe onderrig ’n verskil kan maak in ons elkeen se lewe.
|
Die skool se waardes en waarop ons graag al ons besluite wil baseer, is as volg:
|
Trots, Regverdig, Eerlik, Betroubaar, Medemenslik, Verantwoordelik, Respek, Volharding en Integriteit.
|
Ons het aan elke leerder en personeellid die geleentheid gegee om die volgende vraelys te voltooi en ek nooi u as ouer/voog ook nou uit om dit te voltooi.
|
Kies asseblief een van ons waardes en dink dan aan gewone, op-die-man-af voorbeelde van dinge in die skool wat moet STOP en moet BEGIN.
Bv. Leerders moet ophou rommelstrooi (respek vir eiendom) - STOP Leerders moet begin om getrou sport by te woon (volharding) – BEGIN
Maak ‘n lysie van wat u dink moet STOP en BEGIN gebeur by die skool ten opsigte van hierdie waardes.
|
TOENAME IN COVID-19-GEVALLE
|
Ek doen ’n dringende beroep op alle leerders en ouers om die erns van die toename in positiewe gevalle en derde vlaag van Covid-19 te besef.
|
Ons het ook meer onlangs ’n positiewe geval in die skool gehad, maar alle protokol is gevolg en geen leerder of onderwyser was ’n direkte kontak by die skool nie. Ons het voorkomend opgetree en verskeie leerders wat moontlik met hierdie leerder in kontak was, moes ook isoleer en is later getoets, maar hul het intussen negatief getoets.
|
Leerders moet te alle tye hul masker korrek by die skool dra en behoorlike sosiale afstand handhaaf.
|
Ons maak staat op almal se samewerking om te verseker dat ons ’n veilige skoolomgewing kan skep.
|
SINCHRONISEER JOU KALENDERS
|
Ons webblad is nou so opgestel dat al u kalenders outomaties gesinchroniseer bly en op u rekenaar en ander elektroniese toestelle beskikbaar is. Dit word ook outomaties op datum gehou wanneer inskrywings bygewerk word.
|
Ons moes ongelukkig ons bergfietsfees uitstel na 28 Augustus aangesien die vlak 2-Covid-19-regulasies interskoolse kompetisie in hierdie stadium verbied.
|
Ons sien daarna uit om ’n heerlike fietsrydag aan te bied!
|
WELGEMEEND SE POP UP/ OPWIP-MARK
|
Welgemeend bied volgende Donderdag tot Saterdag (10 tot 12 Junie) ’n unieke ouwêreldse uitstalling van kuns en mooigoed aan - ’n eerste waarna ons baie uitsien!
|
Moenie dit misloop nie! Kliek hier vir meer inligting.
|
Ek vra u samewerking om te verseker dat u kind netjies lyk wanneer hy/sy die huis verlaat of uit die motor klim.
|
Al word maskers gedra, moet die seuns elke dag skoongeskeer wees.
|
Let asseblief daarop dat geen buffs as masker toegelaat word nie, want dit is meestal te dun. ’n Dubbellaagmasker moet asseblief te alle tye gedra word.
|
Leerders mag ook geen musse, pette of sweetpakbaadjies saam met hul skooldrag dra nie.
|
Slegs die amptelike JvR-serp mag saam met die skooluniform gedra word.
|
Ouers en leerders word versoek om die skool se Whatsapp-nommer op hul fone te stoor sodat alle kennisgewings ontvang kan word. Die nommer is 066 448 4881.
|
HERMIEN VAN DER MERWE SOLO-KUNSUITSTALLING BY WELGEMEEND
|
Welgemeend, Hs Jan van Riebeeck, Kaapstad
|
Sy vind uitbundige inspirasie waar sy skuil in Tafelberg se skaduwee
|
Ons is ongelooflik trots op Gerard Snijders en Johan Jordaan wat die eerste plek in die Wes-Kaap behaal het in die spanafdeling van dié uitdagende wiskundekompetisie asook Peet Karsten wat individueel 7de geëindig het - dit is ’n puik prestasie, Menere!
|
Ons Jan van Riebeeckers leer elke dag in Junie 'n Jan-idioom! Die hele skool sal dan 'n pretassessering hieroor voltooi - en heerlike pryse is op die spel.
|
Geniet saam met ons leerders hierdie interessante Jan-idiome deur elke dag ons Facebook-blad dop te hou: https://www.facebook.com/HSJanvanRiebeeck
|
JvR is sedert 2017 ’n CIE- (Cambridge International Education) skool. Sedert die eerste groep in 2018 hul AS-eksamen afgelê het, neem daar jaarliks tussen 5 en 7 leerders AS-wiskunde.
|
Vanaf hierdie jaar, bied die skool ook IGCSE-wiskunde aan. Leerders lê jaarliks in Junie eksamens af om nie te bots met die finale eksamen in die Suid-Afrikaanse skoolkalender nie.
|
Ons is bevoorreg om naas me. Boo Heyns hierdie jaar ook vir dr. Lieze-Ann Roediger as tutor vir IGCSE-wiskunde aan boord te hê.
|
Klasse het reeds ’n aanvang geneem en ons vertrou dat almal wat deel is van die program nie net Wiskunde nie, maar waardevolle lewensvaardighede, sal aanleer wat hulle goed vir die lewe na skool voorberei.
|
Fisiese Wetenskappe-intervensie
|
* Graad 12-FW gaan elke Maandag voort met onderrig na hul dubbelperiode FW, vanaf
|
* Graad 12-FW-hulpklas: Vrydagoggend vanaf 07:00 tot 07:30
|
* Graad 11-FW-hulpklas: Leerders kan kies tussen Dinsdagmiddag en
|
Woensdagmiddag 14:04 tot 15:00, soos dit hul buitemuurse program pas.
|
* Graad 10-FW-hulpklas: Donderdagmiddag 14:04 tot 15:00
|
Wiskunde-intervensie v Graad 12: Maandagmiddag vanaf 14:15 – 15:00 (Me. Serrao se klas) Graad 12: Woensdagoggend vanaf 06:55 – 7:25 (Mnr. Cronjè se klas) Graad 11: Maandagmiddag vanaf 15:15 – 16:00 (Me. Serrao se klas) Graad 11: Donderdagmiddag 14:30 – 15:30 (Mnr. Oosthuizen - nasorglokaal) Graad 10: Maandagmiddag 15:15 – 16:00 (Mnr. Klink se klas) Graad 10: Maandag 14:15 – 15:00 (Mnr. Cronjè se klas) Graad 9: Woensdag 14:15 – 15:00 (Mnr. Klink se klas) Graad 9: Dinsdagmiddag 14:15 – 15:00 (Me. Du Plessis se klas) Graad 8: Woensdagmiddag 14:30 – 15:30 (Mnr. Oosthuizen) Graad 8: Maandagmiddag 14:15 – 15:00 (Mnr. Klink se klas)
|
Graad 12-Lewenswetenskappe-intervensie |
Ons matrieks is welkom om elke Woensdagooggend van 6:30 tot 7:30 dié klasse by te woon. Bespreek asb. ’n plek die dag voor die tyd by me. Steyn. |
Leerders wat hulp benodig met vakverwante probleme, kan die volgende MR-lede vir tutorklasse kontak: |
Maak gebruik van hierdie tutorgeleenthede deur jou medeskoliere, Jan van Riebeeckers.
|
|
Daniels Tennisakademie (DTA) bied more ’n tennistoernooi vir laer- en hoërskoolleerders by ons bane asook die laerskool se bane aan.
|
Skryf gerus by hierdie skakel
|
Ons het Woensdagaand ons opwindende nuwe krieketplanne met ouers en leerders van die hoër- en laerskool gedeel. Dit was heerlik om mnr. Beets (skoolhoof) en die manne van Laerskool Jan van Riebeeck te verwelkom.
|
Ryan Maron, voormalige Wes-Indiese en Afghanistanse hoofveldwerkafrigter en eienaar van die Cricket School of Excellence is ons nuwe sport- en krieketkonsultant en gaan saam met verskeie rolspelers 'n uitnemende krieketprogram hier by JvR laat léwe.
|
Keith Ingram, voormalige Lions-krieketspeler en een van die beste boulafrigters in die land, is ook deel van Ryan se afrigtingspan.
|
Ons beplan die HSJvR-krieketdag vir laerskool- en hoërskoolleerders asook ouers volgende Vrydagmiddag, 11 Junie van 15:00 tot 18:00. Kliek hier vir al die inligting.
|
Rotsklim is 'n fisiek en geestelik veeleisende sport. Dit toets uithouvermoë, krag en balans. Dit is 'n sport waarin jy tegnieke moet bemeester.
|
Ons Jan van Riebeeckers klim en klouter graag en leer net so graag. 'n Kursus oor die knooptegniek kom dus handig te pas. Die opleiding onder die bekwame leiding van Delaney Carpenter, eienaar en afrigter van Top Out rotsklim-klub, vorder fluks.
|
Ons rotsklimmers toon baie potensiaal!
|
Hierdie opwindende aktiwiteit word elke Donderdagmiddag beoefen
|
Die volgende Jan van Riebeeckers het verlede Saterdag aan die eerste byeenkoms van die WP-winterliga deelgeneem en uitstekende presteer:
|
Mienke Herbst - 0/17: 4de plek (2056 punt)
|
Stephan Griesel - o/15: 4de plek (2166 punte)
|
Noudat die nuwe Covid-19-regulasies ons verbied om skaak teen ander skole te speel en ons eintlike wedstryd teen Rondebosch Boys' High dus nie kon plaasvind nie, het Jan van Riebeeck die inisiatief geneem om 'n aanlyn (lichess.org) vriendskaplike wedstryd gistermiddag teen Rondebosch te reël.
|
Die formaat was 10 minute aan 'n kant, geen inkrement, beste uit drie wedstryde.
|
Ons span vir die dag was (in bordvolgorde) Gerard Snijders, Francois Theron (kaptein), Simon van den Berg, Gabriël Smuts, Nicholas de Jong, Cameron Carelse en DJ Smit. Die suksesvolste speler vir die dag was Gabriël Smuts.
|
Ons kon egter nie as span die Rondebosch-manne klop nie; tog was die ervaring leersaam en dit was lekker om die meerderheid van die span op een slag bymekaar te hê aangesien van die topspelers ook ander spansporte beoefen.
|
Die beplande pilatesklasse skuif na Donderdae om 18:00 in die Jubeliumsaal. Heelwat leerders en onderwysers het reeds aangedui hul stel belang en ons nooi graag ook ons ouers, oudleerders en vriende van die skool uit om hieraan te kom deelneem!
|
Ons swempadpomp het ongelukkig die gees gegee. Die instandhoudingpersoneel werk hard om dit so gou moontlik te herstel en ons sal alle swemmers in kennis stel sodra ons weer die swembad kan gebruik.
|
Ons kultuurkinders is hard aan die werk en maak ons baie trots!
|
Ons het vanoggend die uitstekende nuus ontvang dat drie van ons Jan van Riebeeckers die nasionale TOP 20-lys van die ATKV-DigiToneelkompetisie gehaal het. Jan van Riebeeck is ook die Wes-Kaapse skool met die meeste leerders in die TOP 20 en saam met Noordheuwel in Krugersdorp spog ons as die toppresterende skool in die land.
|
Baie geluk met hierdie puik prestasie - ons bars van trots! Sterkte met jul voorbereiding vir die volgende rondes.
|
Hier is die TOP 20-toneelspelers: https://atkv.org.za/nuus/posts/2021/june/atkv-digitoneel-2021-en-die-top-20-is/
|
JvR presteer in die ATKV-Debatkompetisie!
|
Om ander van jou opinie te oortuig en onder druk die regte argumente te kan aanvoer, is ’n gawe. Daarom is ons so trots op ons debatspanne wat vanjaar vir die ATKV-Debatkompetisie ingeskryf het - julle entoesiasme was aansteeklik!
|
Baie geluk aan Mari Swanepoel, Liezel Snijders en Owen van der Linde wat deurdring na die nasionale finale ronde. Hulle haal die Top 5 in die Wes-Kaap!
|
Hierdie juniorspan sal dus JvR by die nasionale kompetisie te Buffelspoort verteenwoordig.
|
Baie geluk, ons is trots op hierdie wonderlike prestasie!
|
WAT IS JOU STORIE? STEF BOS BY JvR!
|
Gróót opgewondenheid het Woensdag geheers toe STEF BOS ons eerste groep aspirantliedjieskrywers ontmoet het.
|
Vir die volgende paar maande gaan hy 'n musikale reis met die Jan van Riebeeckers aanpak ... op soek na húl stories.
|
Die eindproduk: 12 nuwe liedjies deur Jan van Riebeeckers, gesing én opgeneem deur Stef (in ons splinternuwe ateljee in wording!) en 'n reeks oor ons leerders se 'stories'.
|
Teen Desember deel ons met jul die eindproduk!
|
Ons eie me. Regina Malan, SK-musiek- en sangonderwyser, sal eersdaags iin die produksie, A Boarding Line, te sien wees.
|
As jy lief is vir jazzhande soos Fosse, kwartette soos Lloyd Webber en puik sang soos LuPone, hoef jy nie verder te soek nie - dié produskie is wat jy dan in jou lewe nodig het! Hul dansende, singende en musikale ekstravaganza bevat al die Broadway-treffers wat jy ken, asook 'n paar nuwes. Moet dit nie misloop nie!
|
Kaartjies is nou beskikbaar by Computicket. Bespreek jou sitplekke om teleurstelling te voorkom: https://bit.ly/33BhOsw.
|
Die vertoning is van 10 tot 19 Junie in die Masque Theatre South Africa te sien.
|
Drama-eisteddfod Oefeninge vind Woensdag, 14:15 tot 15:15, plaas.
|
Rotary Debating Ons kom Maandagaand om 18:30 teen Rondebosch Boys' High School (weg) te staan. Sterkte aan die juniors en seniors wat hul sê (behoorlik!) gaan sê. Ons weet dit sal goed gaan!
Tienertoneel
|
JvR se Tienertoneelproduksie, Om teen treine te skreeu, vorm deel van die Suidoosterfees se opwindende projek, Klaskamer, wat op 16 en 19 Junie hier by Hoërskool Jan van Riebeeck aangebied word. Opwindend!
|
Dinsdag, Donderdag, Vrydag: 16:00 - 19:00.
|
Orkes Die orkes is weer aan die oefen op Maandag- en Woensdagoggend van 7:00 tot 8:00.
|
Die Afrikaans-ekspo se kunskompetisie-inskrywings sluit 12 Julie. Al die inligting is op die “Kunskompetisies Google-klaskamer” beskikbaar. Leerders kan tye reël om in die kunsklas aan hul inskrywings te kom werk. Gesels met me. Vrey.
|
|
Die klerewinkel sal volgende week Maandag en Woensdag vanaf 12:45 tot 14:15 oop wees.
|
Ongelukkig is al die kleiner groottes van die winterbroeke reeds uitverkoop. Daar is nou net vanaf grootte-36 beskikbaar.
|
VERJAARDAE: 5 JUNIE TOT 11 JUNIE 2021
|
Baie geluk aan al ons Jan van Riebeeckers wat volgende week verjaar!
|
Jaun-Pierre Joubert (12J)
|
Shaun-Douglas Davids (10V)
|
ONTMOET ONS ONDERWYSERS: ME. RUTHETTE DU TOIT
|
Ruthette is ’n oud-Jan van Riebeecker wat op skool al besonder lief was vir musiek en Latyn. Na haar musiekstudies by die Universiteit van Stellenbosch, waar sy onder andere ’n onderwysdiploma en ’n honneursgraad in Musikologie behaal het (en in 4 kore gesing en in die US Simfoniese Blaasorkes gespeel het), het sy haar onderwysloopbaan by die Hoërskool J.J. du Preez begin.
|
Daar het sy, benewens die klavier en hobo wat sy tydens haar studiejare bespeel het, ook onder druk die klarinet en fluit leer speel, omdat sy dit moes doseer.
|
Toe die skool met ’n ander skool saamsmelt en Hoërskool Parow word, het sy voortgegaan en ook haar hand (en mond) aan sakofoon en fagot gewaag. Aldaar het sy die koor begelei en was sy in beheer van die houtblaasafdeling van die blaasorkes.
|
Na byna 10 jaar daar het sy vir 6 jaar vryskutwerk gedoen, kwalifikasies in orrel en sang verwerf en in verhoogproduksies opgetree.
|
In 2006 keer sy terug na Jan van Riebeeck. Sy is ook kerkorrelis en ’n groot natuurliefhebber en voëlkyker - en amateur-natuurfotograaf - en is (buite Covid-tyd!) lid van die Kaapstadse Solistekoor.
|
Tans is sy verwerker van musiek vir en afrigter/dirigent van die orkes, asook begeleier van die koor en individuele leerders. Sy rig ook leerders af vir eksterne musiekeksamens en eisteddfods.
|
As synde 'n taalliefhebber, help sy met proefleeswerk van amptelike dokumente, en het ook pas die Jan van Riebeeck-voëlkykklub, oftewel Jan Vogel, gestig.
|
|
|
|
|
|
|
|
|