Nuusbrief-header
18 Junie 2021
Geagte Ouers / Voogde

Eksamentyd is ’n interessante tyd...

Jare gelede op Stellenbosch, so word dit vir my vertel, was daar twee studente wat 'n
Sielkundevraestel die Saterdagoggend moes skryf. Maar die twee manne het nie juis aan akademiese-voorbeeldigheid gely nie en was maar pure student. So het hulle sosiale lewe hulle verhoed om deur die week met voorbereidings te begin en toe ander vriende hulle arm draai om die Vrydagaand ook net ’n vinnige draai in die dorp te gaan maak, het hulle geredeneer dat hulle teen agtuur by die huis kon wees om met hulle studies vir die volgende dag se eksamen te begin. Maar die kuiertjie het lekkerder en later geraak en helaas het hul nie by die swotwerk uitgekom nie. Ook nie by die eksamen die volgende oggend nie...

Maandagoggend pleit hulle toe by die dosent om genade: hulle het skielik Saterdagoggend 'n pap wiel gekry op pad na die eksamenlokaal toe. Hulle smeek vir 'n tweede kans. En die dosent kom hul tegemoet. Hy verstaan mos studente
en die vreeslike dinge wat hulle kan oorkom – veral so voor 'n eksamenskrywery.

’n Week later sit die twee manne gereed om hierdie tweede-kans-eksamen af te lê.
Die dosent sit een ou heel voor in die klas en die ander een reg agter in die klas. Met 'n breë glimlag deel hy die vraestel uit.
En die volgende vraag verskyn op hulle bladsy: Skryf 'n opstel van 500 woorde waarin jy sê watter een van die vier motorbande verlede Saterdagoggend pap was en verduidelik stap-vir-stap hoe julle die situasie probeer oplos het. Vas.

Die mannetjie voor in die klas kon nie waag omkyk vir hulp nie. Daar was geen manier dat hulle weergawes in vyfhonderd woorde sou ooreenstem nie. Albei die manne het toe 'n ronde nul vir daardie eksamen behaal. En die dosent het lekker gelag.

Ek hoop ons Jan van Riebeeckers gaan ’n veel positiewer eksamenervaring die volgende twee weke hê. Sterkte aan almal - ook aan die ondersteuningspan by die huis... ons sien uit na mooi suksesstories!

JUNIE-EKSAMEN
Die eksamen begin eerskomende Maandag 21, Junie. Me. Lizette Visser tree as eksamenhoof op. Kontak haar by lizette.visser@janvanriebeeck.co.za indien nodig.

Die eksamenreëls vir leerders is vir u kennisname hier ingesluit. Die leerders sal deeglik van die reëls ingelig word voor hul eerste skryfsessie Maandag.

Omdat die eksamen ’n amptelike assesseringsgeleentheid is, moet leerders ‘n wettige rede verskaf indien hul nie teenwoordig is nie.
Indien ’n leerder siek is, moet u as ouer / voog die skool asseblief dadelik in kennis stel deur ’n e-pos aan lizette.visser@janvanriebeeck.co.za te stuur. ‘n Mediese sertifikaat, in die geval van siekte, moet verkieslik op die dag per e-pos aan die eksamenhoof gestuur word.

Omdat die land tans in Vlak 3 van nasionale inperking is, vra ons dat leerders wat op ‘n dag nie skryf nie, tuis bly. Daar sal egter ’n klas beskikbaar wees vir leerders wat nie tuis kan studeer nie.

Ons heg die eksamenrooster vir oulaas hier aan. Voorspoed!

TOENAME IN COVID-19-GEVALLE
Ek doen ’n dringende beroep op alle leerders en ouers om die erns van die toename in positiewe gevalle en derde vlaag van Covid-19 te besef.
Leerders moet te alle tye hul masker korrek by die skool dra en behoorlike sosiale afstand handhaaf.

Ons maak staat op almal se samewerking om te verseker dat ons ’n veilige skoolomgewing kan skep.

JAN VAN RIEBEECKER VAN DIE WEEK
Lisa Best is ons Jan van Riebeecker van die week!

Ons is baie trots op ons junior debatspan wat Rondebosch Boys' High in die Engelse Rotary Debating-ligakompetisie geklop het - en Lisa is as die beste spreker aangewys! Lisa se puik voorbereiding, koelkop argumentering en knap op-die-voete-dink het grootliks bygedra tot hierdie mooi prestasie.

JVR-WELGEMEEND SKOOL VIR MUSIEK
Alle laer- en hoërskoolleerders in Kaapstad en omliggende dele word uitgenooi om by ons JvR-Welgemeend Skool vir Musiek aan te sluit!
Lesse word deur puik musikante en opvoeders aangebied en word soggens en smiddae om leerders se buitemuurse program beplan.
Kliek hier vir meer inligting!

SARIE NUWE GESIG 2021: GELUK, CAYLEE SAUL - TOP 30!
Ons is baie trots op ons Caylee Saul wat as een van die Top 30-finaliste in vanjaar se Sarie Nuwe Gesig-kompetisie aangewys is!
Ons hou jou deelname en vordering met groot belangstelling dop, Caylee!
Wees verseker van die hele JvR-familie se ondersteuning van jou in dié opwindende projek. https://www.netwerk24.com/.../sarie-nuwe-gesig-ontmoet...

ONZE JAN
Ons gaan vanjaar 2 uitgawes van die Onze Jan-skoolkoerant publiseer.

Ons redaksie is onder die bekwame leiding van ons redakteur, Anna van Rooyen in Graad 12, en subredakteur, Mila Fourie in Graad 11. Hulle sorg dat hierdie uitgawes aktueel en vars bly en belangrike en positiewe insae het tot ons huidige omgewing.

Ons benodig adverteerders om publikasiekoste vir die Onze Jan te dek en het die volgende advertensiegeleenthede om te bied:

Formaat: A4 gedruk in kleur.
Verspreiding: 450 kopieë waarvan die oudste en enigste van ons 420 leerders ʼn kopie sal ontvang. Die verdere verspreiding sluit in besighede rondom die skoolgebou asook omringende- en voederlaerskole.
Die uitgawe sal eers aan die einde van die jaar digitaal beskikbaar wees.

Advertensiekoste per uitgawe:
Voor binneblad, volblad, kleur: R 4 350
Agterblad, volblad, kleur: R 5 000
Agter binneblad, volblad, kleur: R 3 500
Volblad, kleur: R 1 750
Halfblad, kleur: R 900
Kwartblad, kleur: R 500
Bladsyborg (besigheidsnaam/klasgroep onder aan die bladsy): R 200 per bladsy

Die uitgawe word net voor die Julie-vakansie gepubliseer en versprei.

Kontak gerus vir ons fondsbevorderaar, Karien Zulch, via e-pos (karien.zulch@janvanriebeeck.co.za) so spoedig moontlik indien u belangstel om te adverteer in die opwindende Onze Jan-skoolkoerant van 2021.
U ondersteuning sal baie waardeer word!

GRAADSAKE
Graad 12
’n Groot dankie aan Christoff Pauw (Matriek 2015) wat ons graad 12-leerders meer kom vertel het oor die vereistes en prosesse om aansoek te doen om toelating tot universiteite/kolleges en ander opleidinginstansies.
Hy kon waardevolle inligting meedeel en voorbeelde noem van vriende wat, deur verskillende paaie en rigtings te volg, hul passie gevind het en ’n sukses van hul loopbaan gemaak het.

Kyk gerus hier na sy Powerpoint-aanbieding.

MATRIEKRAAD
"Omgee bring genesing"
Dit is die leuse van Huis Jabes, ’n rehabilitasiesentrum wat ’n tydelike tuiste aan slagoffers van gesinsmisbruik bied.
Hulle bied etes, skuiling, mediese sorg, berading en help om veral vroue te bemagtig om 'n beter toekoms vir hulself en hul kinders te skep. Huis Jabes is ‘n nie-regeringsorganisasie en is slegs van skenkings afhanklik.

JvR se sosiaal-maatskaplike portefulje het besluit om Huis Jabes te help deur ‘n insameling te hou.
Ons wil fokus op toiletware soos waslappe, wasseep, weggooibare skeermessies, sjampoo ens. asook op die basiese dinge wat in ’n noodhulptassie voorkom, soos pleisters, watte, salf ensovoorts.

Ons vra almal se hulp met ons liefdadigheidsuitreik na Huis Jabes!
Enige donasies van produkte sal baie waardeer word, of u kan ’n finansiële bydrae via Karri maak. Produkte kan in die registerklasse ingehandig word en ons sal dit teen 7 Jullie verpak en na Huis Jabes neem.

Baie dankie by voorbaat vir die Jan van Riebeeck-omgee en ondersteuning van hierdie projek!

SPORTSAKE
Die fokus die afgelope paar weke was om te probeer om steeds leerders aktief te hou en ons het ook met die meeste sportaktiwiteite voortgegaan.
Ons wil al die leerders bedank wat getrou oefeninge bygewoon het - ons is trots op jul!

Tweekamp
Die volgende Jan van Riebeeckers het verlede Saterdag aan die WP-wintertweekamp-ligabyeenkoms deelgeneem:
Mienke Herbst het 'n goeie plek en punte behaal in die dogters O/17-afdeling met 'n 2087 punte.
Stephan Griesel het derde geëindig in die seuns O/15-afdeling met 2079 punte. Nehemia Rosen (seuns O/17) het amper 2000 punte - ’n mooi verbetering van die vorige byeenkoms.

Tweekampseisoen 2021/2022
Leerders wat in die nuwe seisoen aan tweekamp wil deel neem, moet asseblief affilieer op die WP-Tweekamp-webwerf. Vir 'n voorlopige program, raadpleeg gerus hul bepalingsblad.

Tweekamp is van die min sportsoorte wat die hele gesin saam kan beoefen (veral in die geval waar Pa en Ma altyd spog oor hoe atleties of goeie swemmers hulle op skool was!). Punte word aan individuele uitslae gekoppel, so dit is maklik vir 'n deelnemer om hul eie vordering in hul ouderdomsgroep te monitor.

Kom ons wend ’n reusepoging aan om lekker fiks te word sodat ons ’n groot groep Jan van Riebeeckers vir die eerste ligabyeenkoms op 31 Julie kan inskryf!

Toutrek
Ons het bevestiging gekry dat Nadia van Antwerpen die Suid-Afrikaanse Nasionale Junior O/19-damespan verteenwoordig by die Outdoor World Tug of War Championship te Getxo, Spanje vanaf 15 tot 19 September.

Ons wens vir Nadia alle sterkte toe!

Krieket
Ons JvR-krieketdag was 'n heerlike geleentheid vir ons hoër- en laerskoolleerders om die fynere krieketkuns by sportkonsultant, Ryan Maron, en sy span te leer!
Ons moedig al ons leerders aan om nou in die winterseisoen by ons aan te sluit op Vrydaemiddae sodat ons goeie voorbereiding vir die krieketseisoen kan doen!

Perdespring
Ons is baie trots op Daniella Coetzee wat eers die tweede en toe die eerste plek behaal het in die ope-afdeling van die 'Graded Provincial'-perdespringvertoning wat Saterdag by die Constantia Village-ryklub plaasgevind het.

Daniella is tans die topruiter in die 0/18-afdeling in die Wes-Kaap en beklee die derde posisie in Suid-Afrika! Baie geluk, Daniella!

#JanBrander
Die JanBrander-entoesiaste geniet hul uitstappies en is die week bederf met aangename weersomstandighede. Llandudno het perfekte lyfplankbranders!
Vele besoekers het ook die strand geniet en waarskynlik van die laaste sondeurdrenkte dae langs die water kom benut.
Ons branderplankryers het baljaar in die amper twee meter hoë branders. Heerlik!

Sportoefeninge tydens eksamentydperk
Daar sal oor die algemeen geen sportspesifieke oefeninge tydens die eksamentydperk plaasvind nie, maar leerders wat fiks wil bly, kan Dinsdae en Donderdae saam met mnr. Klink direk na skool (13:00-14:00) gaan hardloop. Ons moedig almal aan om van hierdie geleentheid gebruik te maak!

Mnr. Henning sal saam met leerders bergfiets ry en die rotsklimmers kan mnr. Janse van Vuuren kontak indien hulle op Donderdae sou wou rotsklim.

Atletiekafrigting
Ons is op soek na persone wat moontlik belangstel om in die vierde kwartaal gewigstoot en skyfwerp af te rig.
Indien u belangstel om hiermee te help, of iemand ken wat sou wou, kontak asseblief vir mnr. Henning by jan.henning@janvanriebeeck.co.za.

Pilates
Die beplande pilatesklasse skuif na Donderdae om 18:00 in die Jubileumsaal. Heelwat leerders en onderwysers het reeds aangedui hul stel belang en ons nooi graag ook ons ouers, oudleerders en vriende van die skool uit om hieraan te kom deelneem!
Stuur gerus ’n e-pos aan mnr. Jan Henning by jan.henning@janvanriebeeck.co.za indien u belangstel.

KULTUURSAKE
Ons kultuurleerders is aan die woeker met baie opwindende geleenthede - sterkte!

Kuns
Die Kaapse Afrikaanse Eisteddfod se kunsinskrywings moet tesame met inskrywingsgelde op Maandag, 5 Julie ingehandig word.

Die kunsafdeling van die Afrikaans-ekspo sluit ook op 5 Julie. Werke moet by me. vrey ingehandig word.

Klerewinkel
Die klerewinkel sal gedurende die eksamen slegs per afspraak oop wees.
Kontak gerus vir Sanette by sannette.loggerenberg@janvanriebeeck om n afspraak te maak.

Sterkte vir die laaste drie weke van die kwartaal - die vakansie is om die draai.
Mooi naweek!

Vriendelike JvR-groete
Pieter Rademeyer
Skoolhoof

VERJAARDAE: 19 JUNIE TOT 25 JUNIE 2021
Baie geluk aan al ons Jan van Riebeeckers wat volgende week verjaar!

19 JUNIE
Annie Basson (9H)
Redaah Hattas (8J)
Jerome Solomons (9V)

20 JUNIE
Keara-Lee Abrahams (12R)
Francois Joubert (12J)
Lisa Schoeman (9V)
Emma Jones (9J)
Teneasha Oncke (9V)
Misha Kapot (12J)

22 JUNIE
Keagan Muller (10R)
Donnagene Lings (8J)

23 JUNIE
Phillip Herbst (11V)

24 JUNIE
Franco Symington (12R)

25 JUNIE
Zaheer Marney (8R)
Cavan McKeown (11J)

ONTMOET ONS ONDERWYSERS: ME. ELIZE GOUWS
Elize het in 2010 aan Hoërskool Charlie Hofmeyr in Ceres gematrikuleer. Sy het haar BE.d-graad (Cum Laude) aan CPUT te Wellington voltooi.
Sy begin in Januarie 2016 by Hoërskool Jan van Riebeeck werk. Sy bied EBW-Rekeningkunde vir die graad 8’s aan asook Besigheidstudies vir die graad 10-12’s.
Sy is vakhoof van die Handelsdepartement, graadvoog van die graad 9’s en netbal-organiseerder.
Elize is gek na die vele uitdagings en geleenthede wat onderwys bied. Sy geniet onder andere die leerders se sin vir humor en elkeen se verskillende denkwyse. Sy meen elke leerder het ‘n storie en potensiaal... en dis vir haar besonders as die leerders dit besef en hul volle potensiaal bereik. Elize is ’n kranige sportvrou en het op skool provinsiale kleure in hokkie en atletiek verwerf.
E Gouws
facebook instagram custom 
MailPoet