|
|
|
|
|
|
Ek het hierdie treffende voorstelling van die illustreerder, Lisa Aisato, die afgelope week raakgesien en opnuut besef hoe elke Jan van Riebeecker se uniekheid gevier moet word.
|
Hoe maklik gebeur dit nie soms dat kinders aan die wêreld of die skool se verwagting van prestasie moet voldoen nie.
|
Erkende merietesisteme, die norm; die konvensionele het hul behoorlike staanplek verdien, ja, maar veel belangriker is om aan jongmense die ruimte te gun om hul menswees - op watter manier ookal - te laat geld. Behoorlike ékwees is die hoogste prestasie wat gevier moet word.
|
Soms sien ons jongmense wat, soos die dogtertjie in die middel, met vrees onseker optree omdat hul werk of bydraes nie soos die ander s'n lyk of is nie.
|
Net omdat haar prestasietoring nie bo die ander s'n uittroon nie, en die onderwyser se maatband skaars kniehoogte gaan wees, beteken dit nié dat sy gefaal het nie... Inteendeel... haar meesterstuk getuig van kreatiwiteit, moeite, deursettingsvermoë: buite-die-boks-dink.
|
Jan van Riebeeck wil ’n skool wees wat aan jongmense die ruimte gee om oopkop oor dinge te dink en te praat - natuurlik binne die veiligheid van skoolgrense en medemenslikheid.
|
Dit is vir my heerlik om te beleef dat daar hier in ons skool ’n opregte gees van 'wees jouself' heers. Mag ons hierdie ingesteldheid bly koester sodat dit op elke vlak van ons skoollewe sigbaar is.
|
Jan van Riebeeck wil en moet aan elkeen die ruimte gun om goue torings of goue kastele te bou waarop ons almal saam trots is.
|
En ons wil vir mekaar bly sê: wees jou beste self!
|
Die eerste week van die eksamen het baie goed afgeloop - ek hoop al ons Jan van Riebeeckers is hard aan die werk!
|
Omdat die eksamen ’n amptelike assesseringsgeleentheid is, moet leerders ’n wettige rede verskaf indien hul nie teenwoordig is nie.
|
Indien ’n leerder siek is, moet u as ouer / voog die skool asseblief dadelik in kennis stel deur ’n e-pos aan lizette.visser@janvanriebeeck.co.za te stuur. ’n Mediese sertifikaat, in die geval van siekte, moet verkieslik op die dag per e-pos aan die eksamenhoof gestuur word.
|
Omdat die land tans in Vlak 3 van nasionale inperking is, vra ons dat leerders wat op ’n dag nie skryf nie, tuis bly. Daar sal egter ’n klas beskikbaar wees vir leerders wat nie tuis kan studeer nie.
|
Sterkte vir die laaste paar vakke, Jan van Riebeeckers!
|
WELGEMEEND - HEERLIKE KUIERGELEENTHEDE WAG
|
Welgemeend bied binnekort twee opwindende funksies aan!
|
Niël Rademan en Lucas Heinen kom heerlike musiek maak en dan verwelkom ons ’n oud-Jan van Riebeecker, Beyers Truter, vir ’n heerlike aand van kuns, kos, wyn en goeie geselskap. Kliek gerus hier en hier vir al die inligting.
|
JAN VAN RIEBEECKER VAN DIE WEEK
|
Caylee is aangewys as 'n Top 30-finalis in die Sarie Nuwe Gesig-kompetisie! Ons hou jou deelname en vordering met groot belangstelling dop!
|
JVR-WELGEMEEND SKOOL VIR MUSIEK
|
Alle laer- en hoërskoolleerders in Kaapstad en omliggende dele word uitgenooi om by ons JvR-Welgemeend Skool vir Musiek aan te sluit!
|
Lesse word deur puik musikante en opvoeders aangebied en word soggens en smiddae om leerders se buitemuurse program beplan.
|
Kliek hier vir meer inligting!
|
Hoërskool Jan van Riebeeck is baie trots om nou deel te wees van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) se REACT-interaktiewe onderwysprograminisiatief.
|
Ons is een van vyf skole wat deur die REACT-platform akademiese lesse na skole in die provinsie se leerders uitsaai. Die fokus is tans op graad 12-leerders, maar die program word uitgebrei om hulp aan ander grade ook te verleen.
|
Van die JvR-onderwysers is al 'n geruime tydjie besig om vanuit 'n ateljee in die stad lesse uit te saai, maar die program en toerusting is onlangs by ons skool geïnstalleer en meer onderwysers is nou opgelei om die program effektief te gebruik.
|
Ons hoop om in die meeste vakke wat ons aanbied, lesse na ander skole te kan uitsaai.
|
Onderwysers wat deel is van die program, saai voortaan smiddae (volgens 'n vaste skedule) lewendig vanuit die lokaal hier by JvR uit na die 24 skole wat tans deur hierdie onderrig bedien word.
|
Ek is baie trots daarop dat ons onderwysers hierdie akademiese uitreikprogram met soveel entoesiasme aanpak om 'n postiewe bydrae tot die akademiese vordering van ander leerders in ons provinsie te maak.
|
Dit is die leuse van Huis Jabes, ’n rehabilitasiesentrum wat ’n tydelike tuiste aan slagoffers van gesinsmisbruik bied.
|
Hulle bied etes, skuiling, mediese sorg, berading en help om veral vroue te bemagtig om 'n beter toekoms vir hulself en hul kinders te skep. Huis Jabes is ‘n nie-regeringsorganisasie en is slegs van skenkings afhanklik.
|
JvR se sosiaal-maatskaplike portefulje het besluit om Huis Jabes te help deur ‘n insameling te hou. Ons wil fokus op toiletware soos waslappe, wasseep, weggooibare skeermessies, sjampoo ens. asook op die basiese dinge wat in ’n noodhulptassie voorkom, soos pleisters, watte, salf ensovoorts.
|
Ons vra almal se hulp met ons liefdadigheidsuitreik na Huis Jabes!
|
Enige donasies van produkte sal baie waardeer word, of u kan ’n finansiële bydrae via Karri maak. Produkte kan in die registerklasse ingehandig word en ons sal dit teen 7 Jullie verpak en na Huis Jabes neem.
|
Baie dankie by voorbaat vir die Jan van Riebeeck-omgee en ondersteuning van hierdie projek!
|
'n Herinnering aan ouers om die betaling vir die hokkie-hoodie so gou moontlik af te handel. Die koste van die hoodie is verlaag na slegs R 250 aangesien ons ’n borg aan boord het - ons het groot waardering hiervoor!
|
Betalings kan direk in die skool se rekening gedoen word, met die verwysing:
|
Baie geluk aan Mienke Herbst wat amptelike erekleure-erkenning van WP-Swem ontvang het vir haar deelname aan die SA-Juniorkampioenskappe. Ons is trots op jou, Mienke!
|
Francios Potgieter het sy Vlak 1-WP-skeidsregterskwalifikasie ontvang en is nou amptelik 'n WP-Vlak 1-skeidsregter. Baie geluk, Franscois - ons is trots op jou!
|
Sportoefeninge tydens eksamentydperk
|
Ons wil leerders aanmoedig om gedurende die eksamen Dinsdae en Donderdae vanaf 13:00 tot 14:00 deel te neem aan ons sportaktiwiteite. Ons is gou vir 'n uur in die berg besig om fiets te ry of te hardloop... en dan kan jy weer verder gaan leer!
|
Wanneer die brandertoepassing op jou foon Llandudno se branders 'n vyf-uit-vyf gee, is daar geen groter trekpleister nie... Jy weet jy is op die regte plek as die deinings soos donderweer op die strand se sandbanke breek en die uitputtende akademiese week net so vergete is. Ons branderplankryers geniet die heerlike see-avonture. Gesels met me. Jansen van Vuuren as jy ook wil inskakel!
|
Tweekampseisoen 2021/2022
|
Leerders wat in die nuwe seisoen aan tweekamp wil deel neem, moet asseblief affilieer op die WP-Tweekamp-webwerf. Vir 'n voorlopige program, raadpleeg gerus hul bepalingsblad.
|
Kom ons wend ’n reusepoging aan om lekker fiks te word sodat ons ’n groot groep Jan van Riebeeckers vir die eerste ligabyeenkoms op 31 Julie kan inskryf!
|
Die Kaapse Afrikaanse Eisteddfod se kunsinskrywings moet tesame met inskrywingsgelde op Maandag, 5 Julie ingehandig word.
|
Die kunsafdeling van die Afrikaans-ekspo sluit ook op 5 Julie. Werke moet by me. vrey ingehandig word.
|
Die klerewinkel sal gedurende die eksamen slegs per afspraak oop wees.
|
Sterkte met die eksamenvoorbereiding die naweek. Vasbyt - die einde van die kwartaal is in sig!
|
VERJAARDAE: 26 JUNIE TOT 2 JULIE 2021
|
Baie geluk aan al ons Jan van Riebeeckers wat volgende week verjaar!
|
Minette van der Westhuizen (11V)
|
ONTMOET ONS ONDERWYSERS: ME. CHRISNA GRIESSEL
|
Chrisna matrikuleer in 1984 aan Hoërskool MT Steyn Philippolis, in die Suid-Vrystaat. Sy gaan studeer onderwys in Bloemfontein en begin haar loopbaan in 1989.
|
Gedurende die 32 jaar van haar loopbaan, was sy by CD de Wet in Dewetsdorp en Colinda Sekondêr in Vryburg betrokke voordat sy en haar eggenoot in 2016 by Hoërskool Jan van Riebeeck aangesluit het. Hulle is huisouers van die studentekoshuis Huis vd Merwe.
|
Chrisna is verantwoordelik vir die volgende vakke: Geografie (Gr. 8, 9 en 10) en LO (Gr. 9, 10 en 11). Verder is Chrisna verantwoordelik vir die departementele handboeke van JvR. Sy is ingeskakel by ons nasorgfasiliteit waar leerders die geleentheid kry om take en huiswerk na skool te kan voltooi. Sy tree ook as spanbestuurder by ons tenniswedstryde op.
|
Vir Chrisna is elke leerling belangrik en sy glo hulle moet ontwikkel word tot volwaardige volwassenes. Dit kan alleenlik gebeur met die leiding en motivering van hul onderwysers.
|
|
|
|
|
|
|
|