|
|
|
|
|
Vrouedag is vir vroue soos MA-rina
|
My ma het amper die horries gekry toe ek destyds ná my eerste week van skoolhou vir haar vertel hoe goed ek en ons adjunkhoof, Marina, oor die weg kom. Ek wou uitdagend weet hoekom sy so voel.
|
“Mev. Van Zyl,” is hoe jy haar aanspreek. “Sy is nie jou speelmaat nie.”
|
Ek kon maar net lag vir my ma, as verteenwoordiger van die ouer geslag, wat nie weet dat sommige mense net eenvoudig nié 'tannie' of 'mev. Dominee' kan wees nie. Maar in daardie stadium het ek ook nog nie geweet dat die klem van Marina van Zyl, vir die vier jaar wat ek op Stellenbosch skoolgehou het, op die eerste twee letters van haar naam sou val nie. MA-rina van Zyl.
|
Sy is die soort vrou vir wie daar 'n dag soos Vrouedag geskep is. Sy is die soort vrou wat nie belangstel om haar man te staan nie; sy wil haar ménswees vier en deel met almal om haar.
|
As groentjie-onderwyser het hierdie wondervrou my aan die hand geneem en gewys hoe dinge gedoen moet word. Sy het my stilweg en onaangekondig op haar mentorprogram geneem en my toegelaat om betrokke te wees, om te kyk hoe dinge gedoen word, om te leer van standaarde wat aanvaarbaar is; sy het my eintlik aan elke aspek van die opwindende onderwysmilieu blootgestel.
|
Ek het my elke dag – sonder uitsondering – verwonder aan hierdie vrou se omvang.
|
In die klaskamer was sy ’n wiskunde-onderwyseres par excellence met matriekuitslae waarvan enige onderwyser net kan droom.
|
In die adjunkhoofkantoor was sy die ystervrou wat alles en almal bymekaar gehou het. Met ’n ongelooflike administratiewe perfeksionisme, gemeng met haar begrip en ruimte vir grys areas, het sy bykans elke skoolkwessie aangepak asof haar lewe daarvan afhang. Nagte deur het sy gesit en planne beraam, statistieke bekyk en kreatiewe veldtogte gedryf. Alles op die agtergrond. Die stille krag agter almal, dis wie sy was.
|
Maar wanneer sy by die skoolhekke uitgery het, was sy óók die predikantsvrou van die studentegemeente op Stellenbosch. Sy het haar man en sy werk deur dik en dun bygestaan. En veldtogte en kommissies en vrouesake bestuur. Met passie en ’n liefde vir die saak. Dan het sy boonop elke dag die sinvolste opinies van ons almal gehad oor dit wat in die koerante staan. Die nuutste boeke op die rak is onmiddellik gelees sodat sy kon bybly as mense daaroor praat. Sy is die eerste vrou wat die nuutste fliek sien, sy is die eerste vrou wat haar kaartjies koop vir die baie uiteenlopende verhoogproduksies in Stellenbosch of in die Kaap. En sy drink omtrent elke dag saam met een van haar goeie vriendinne koffie. Haar vier kinders en kleinkinders word nie afgeskeep nie en MA-rina gee meer as haar pond vleis vir hulle ook. In die gemeenskap is sy betrokke by enige organisasie wat 'n barmhartige samaritaan soek.
|
Merkwaardig, het ek altyd gedink... hoe kry sy dit reg om alles ingepas te kry? Hoe kry sy dit reg om nie haar werkstandaarde of vriendskappe prys te gee nie? Hoe is dit moontlik dat één vrou soveel kan vermag? Vandag is Marina afgetree, maar sy het steeds nie lus vir stilsit nie. Nee, sy was immers lank die dryfkrag agter 'n universiteitsprojek daar op Stellenbosch waar hulle wiskunde-onderwysers opgelei het. Dag-in en dag-uit gee sy terug aan die dorp en die gemeenskap waarin sy al die jare woon. Sy glo in waardetoevoeging. Sy glo dat kennis mag is en dat dit jou verantwoordelikheid is om dit met ander te deel.
|
Ek weet nie hoe ek ooit my dankbaarheid vir MArina van Zyl sal kan betuig nie. Want sy het méér gedoen as wat enige ander leermeester op my onderwyspad al vir my gedoen het. Sy is 'n werkmentor met 'n sagte moederhart. En ’n harde wil.
|
Vandag bring ek hulde aan al die Marinas wat op hul stil en sterk manier skole; instellings én families én vriendskappe én projekte – alles sommer so gelyktydig - met liefde en baie deernis staande hou.
|
Jan van Riebeeckers, mag Maandag se Vrouedagviering ons almal herinner aan die wonder van die spesiale vasvatvroue in ons lewens.
|
Die Kwartaal 2-rapporte is Woensdag elektronies aan ouers/voogde gestuur. Dis vir ons baie belangrik dat u saam met u kind deur elke prestasiepunt werk om te kyk waar intervensie benodig word. Kontak asseblief die graadhoofde indien u enige verdere navrae rondom u kind se rapport het.
|
Die graad 12's se rekordeksamen begin reeds op Maandag, 6 September. Die tyd is dus min en ons verwag dat almal nou ’n ernstige akademiese fokus moet inneem. Die res van die skool sal ook aan die einde van die kwartaal ’n formele assesseringsreeks aflê wat op 20 September afskop.
|
Die oueraand vind eerskomende Dinsdag, 10 Augustus, vanaf 17:30 tot 19:30 in die skoolsaal plaas. U is welkom om u kind se onderwysers dan te spreek om sy/haar akademiese vordering te bespreek. Gebruik gerus die volgende skakel om afsprake te reël: https://www.picktime.com/JvRoueraand21
|
Ouers/Voogde moet asseblief teen die Dinsdagoggend om 10:00 ’n afspraak maak en kan nie bloot die aand versoek om onderwysers te spreek nie. Hulle wil graag behoorlik voorbereid wees vir ’n sinvolle gesprek rondom u kind se akademiese werk.
|
Leerders wat ekstra ondersteuning verlang, kan gerus hul vakonderwysers nader vir intervensieklasse.
|
Die tye waarop onderwysers vir klasse beskikbaar is tydens die derde kwartaal, is hier beskikbaar.
|
U kind moet asseblief die dag voor die tyd vir die onderwyser aandui dat hul die intervensieklas gaan bywoon sodat onderwysers die nodige voorbereiding kan doen. Graad 12’s wat onderpresteer het in ’n spesifieke vak, word sterk aangemoedig om die klasse by te woon.
|
Onthou ook asseblief dat intervensieklasse van min waarde is as u kind slegs die week voor die eksamen vir die klas opdaag. Selfvertroue en vaardigheid in ’n vak word deurlopend opgebou.
|
Indien u enige vrae of kwelling het, kontak gerus adjunkhoof, me. Lizette Visser, by lizette.visser@janvanriebeeck.co.za.
|
Om 14de (uit die 201 skole!) op Die Burger se lys van Wes-Kaapse skole met die beste gemiddelde prestasie in wiskunde te wees - dit na afloop van die 2020-matriekeksamen - is prysenswaardig.Geluk, Jan van Riebeeckers!
|
In 2021 bou ons steeds voort op hierdie mooi prestasie!
|
SAASTA-NASIONALE SKOLEWETENSKAPDEBAT
|
Ons is trots op ons Wetenskapdebatspan wat deurgedring het na die volgende ronde van die SAASTA National School Science Debate!
|
Sterkte aan Mila Fourie, Abraham Greeff, Christiaan Prinsloo, Simon van den Berg en Stefan Turkstra wat sake more sal uitspook teen ander skole in die Wes-kaap tydens ’n werkswinkel en debat. Dink uit die boks, Jan van Riebeeckers!
|
ONDERSTEUN, ASB: ONS KAMPUSMUUR WORD GEVERF!
|
Die Departement van Openbare Werke het eindelik die werk aan ons muur in Kampstraat afgehandel - iets waaroor ons baie dankbaar is.
|
Ons is ook baie dankbaar dat weldoeners en vriende van ons skool aangebied het om nou te help met mannekrag, voorbereiding en die verf van die muur. Die voorbereidings begin nou in alle erns.
|
Ons wil egter die hele Jan van Riebeeck-familie uitnooi om ’n finansiële bydrae tot hierdie inisiatief te maak. Die skool het nie vanjaar hiervoor begroot nie en ons wil graag die hele blok (agter by Welgemeend ook) verf.
|
Die totale koste gaan meer as R100 000 beloop. Ons laai ’n donasie-opsie op Karri en sal enige finansiële bydraes baie waardeer. U is ook welkom om elektroniese betalings in die skoolrekening te doen, maar gebruik dan muur_u van as verwysing.
|
By voorbaat dankie vir u ondersteuning!
|
Die JvR-kalender vir die volgende paar maande is hier beskikbaar.
|
JvR-WHATSAPP Ouers en leerders word versoek om die skool se Whatsapp-nommer op hul fone te stoor sodat alle kennisgewings ontvang kan word. Die nommer is 066 448 4881.
|
JAN VAN RIEBEECKER VAN DIE WEEK
|
Francois Potgieter is ons Jan van Riebeecker van die week! Francois het onlangs sy WP-Vlak 1-rugbyskeidsregterkwalifikasie verwerf. Hy geniet dit om in sy vrye tyd verdere ontwikkelingsgeleenthede aan te gryp - en daarom is ons baie trots op jou, Francois!
|
WELGEMEEND: ’N EERSTE VIRTUELE KUNSVEILING
|
Die bekende kunshandelaars, Strauss and Co, bied op 10 Augustus 'n virtuele en "lewendige" kunsveiling vanuit Welgemeend aan.
|
Almal is welkom om nou reeds die Prof. Leon Strydom-versameling en die Linnware-versameling van mnr. David Hall, wat hy oor die afgelope sestig jaar bymekaar gemaak het, by Welgemeend te kom besigtig.
|
Die goeie nuus is dat indien jy nog nie kans sien om openbare plekke te besoek nie, alles aanlyn besigtig kan word, en jy kan deelneem aan die veiling en deur middel van 'Zoom' interessante praatjies bywoon.
|
Ons is geeërd dat Strauss & Co Welgemeend gebruik vir dié geskiedkundige veiling!
|
Die dag na die Strauss-veiling, begin ons regmaak vir "Die Maand van Kuns" wat op 17 September eindig.
|
Ons sien uit na 'n heerlike paar weke by Welgemeend! Kom geniet dit saam met ons!
|
WELGEMEEND MAAND VAN KUNS 2021
|
Skud solank die vere reg vir ons Welgemeend Kunsmaand wat op 15 Augustus begin. Ons sien uit na ’n wonderlike kunservaring vanjaar! Moenie dit misloop nie!
|
VRYDAGFEESTAFEL OP WELGEMEEND SE STOEP
|
Ek nooi baie graag al ons ouers/voogde en vriende van ons skool uit om by my aan te sluit vir ons eerste Vrydagfeestafel op Welgemeend se stoep! Hierdie heerlike middagete vind op Vrydag, 27 Augustus plaas.
|
Kom geniet ’n heerlike bord hartskos en lekker koffie/tee en iets soets teen R185 per persoon. U is welkom om u eie wyn saam te bring. Toegang om die 60/360-kunsuitstalling te besigtig, is ook ingesluit.
|
Bespreek gerus u sitplek(ke) by vrydagfeestafel@janvanriebeeck.co.za teen Woensdag, 25 Augustus.
|
Nooi gerus u vriende en kom geniet die middagete hier op ons pragtige kampus.
|
Die skool, in samewerking met die organiseerders van die Welgemeend Maand van Kuns, nooi alle leerders wat belangstel uit om in te skryf vir die Welgemeend Maand van Kuns VISUELE KUNS-leerderkompetisie.
|
Die sluitingsdatum is 17:00 op 7 September en werke moet by me. Vrey ingehandig word. Wenwerke word op 15 September aangekondig.
|
Leerders kan nuwe werke skep of reeds bestaande werke inskryf.
|
Werke mag in die vorm van sketse, skilderye, beeldhouwerke of enige ander visuele kunsvorm wees.
|
Elke leerders mag ‘n maksimum van twee werke inskryf. Inskrywings is gratis.
|
Die werk moet vergesel word van ‘n motivering (tussen 300 en 1000 woorde) van hoe die werk aansluit by die tema van die 2021 se Welgemeend maand van kuns, naamlik “60/360”.
|
Die tema, waaraan verskeie betekenisse geheg kan word, verteenwoordig onder andere die konsep van tyd (bv. sestig minute in ’n uur) asook die beeld van ‘n 360 grade beskouing op die lewe. (die woorde ‘geheelbeeld’, ‘oopkop’, ‘bewus van omgewing’ ‘introspeksie’ en ‘multi-dimensioneel’ kom in hierdie verband by ‘n mens op.)
|
Elke leerder moet vry voel om hul eie interpretasie van wat die tema vir hul beteken, uit te beeld/ te motiveer.
|
Drie werke uit elke graad sal aangewys word as pryswenners. ‘n Kontantprys van R800 word toegeken per werk wat gekies word.
|
Geniet hierdie heerlike uitdaging, Jan van Riebeeckers!
|
AFRIKAANSWEEK 2021 - nog ’n eerste vir JvR!
|
Ons Afrikaansdepartement beplan ’n baie opwindende Afrikaansweek vir die week van 23-27 Augustus. Kyk gerus hier na die program. Meer inligting sal ook volgende week aan die leerders deurgegee. word.
|
AUGUSTUS-NOSTALGIE OP FACEBOOK
|
Ons kyk hierdie maand terug na van die mooiste oomblikke in die Hoërskool Jan van Riebeeck-storie! Loop daagliks op ons Facebookbladsaam met ons terug in ons mooi verlede... en geniet die reis! Loer daagliks hierna by https://www.facebook.com/HSJanvanRiebeeck.
|
Ons vra opnuut almal se samewerking om te verseker dat ons skoolgemeenskap veilig kan bly te midde van die derde vlaag in ons land. Daar is onlangs positiewe gevalle in ons skool aangemeld, maar die nodige protokol is gevolg en ander Jan van Riebeeckers is nie in gevaar gestel nie.
|
Ons doen weer ’n beroep op u om eerder u kind tuis te hou indien enige simptome voorkom - ons kinders se veiligheid, bo énige ander skoolverpligting, is altyd die eerste prioriteit.
|
SENOR CHEF-FONDSINSAMELINGSPROJEK
|
Ons het ’n opwindende fondsinsamelingsprojek geloods en vra ons hele Jan van Riebeeck-gemeenskap se ondersteuning om hiervan ’n sukses te maak!
|
Lees weer hier al die reëlings hier of kliek hier om die korter opsomming op ons bemarkingsplakkaat te lees.
|
U is ook welkom om aanlyn te bestel.
|
Stap 2: Kies School Fundraising.
|
Stap 3: Klik op drie strepies regs bo(slegs indien u vanaf 'n selfoon bestel).
|
Stap 4: Kies Catalogue regs bo.
|
Stap 6: Kies Start Shopping.
|
Stap 7: Kies Select School.
|
Stap 8: Kies HS Jan van Riebeeck.
|
Stap 9: Tik in by School passcode: *JVR76*.
|
Stap 11: Voltooi die besonderhede en bestel.
|
Ons maak staat op almal se ondersteuning. Dankie by voorbaat!
|
Hoërskool Jan van Riebeeck nooi alumni, vriende van Jan van Riebeeck en ouers uit na ‘n gholfdag by King David Mowbray-gholfbaan. Kliek hier vir die besonderhede.
|
Die graad 12's se Nasionale Senior Sertifikaat (NSS)-eksamen skop op Maandag, 1 November met Engels (Taalkunde) af en die laaste vak (Musiek) word op 6 Desember geskryf. Kliek hier om die eksamenrooster af te laai.
|
Die IT-lab is Maandag (op die vakansiedag) vanaf 9:00 weer beskikbaar vir matrieks om aan hul RTT- en IT-PATs te kom werk. Matrieks word aangemoedig om van hierdie geleentheid gebruik te maak.
|
Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Studentewerwing en Loopbaanadvies bied vanjaar 'n graad 9-vakkeusevoorligtingwebinaar aan. Ons moedig graag ons leerders en ouers aan om vir hierdie webinaar te registreer - u sal dan ook die geleentheid kry om vrae in te stuur wat tydens die vraag-antwoord-sessie beantwoord sal word.
|
Datum: Woensdag, 11 Augustus
|
Ons verwag dat elke leerder aan ten minste een wintersport deelneem.
|
Ouers/Voogde moet asb. ’n skirftelike verskoning ten minste 24 uur voor die oefening aan die afrigter/kontakonderwyser stuur indien u kind nie ’n sportoefening kan bywoon nie. Leerders wat nie vir sportoefeninge opdaag nie, sal met detensiepunte gestraf word.
|
Die nasorgfasiliteite sal tot 17:00 beskikbaar wees sodat leerders in ’n rustige atmosfeer hier by die skool kan werk indien hul moet wag vir sportoefeninge wat eers later begin.
|
Ons bied aan leerders die opsie om in die middag heerlike etes en iets te drinke by die snoepie te bestel – om hulle deur die middgprogram te dra.
|
Alle bestellings kan via Karri gedoen word en leerders kan die kospakkies tussen 14:00-14:30 op die betrokke dag by die snoepie afhaal.
|
Die wintersportprogram vir Kwartaal 3 hier beskikbaar.
|
Swemafrigter, Allan, versoek dat indien u ou wetsuits het wat rondlê, u dit vir die skool sal skenk sodat leerders dit kan gebruik om in die koue water te swem.
|
Wetsuits kan ook namens mense verkoop word.
|
Kontak gerus vir mnr. Jan Henning by jan.henning@janvanriebeeck.co.za indien u ons van hulp kan wees.
|
Tweekampseisoen 2021/2022
|
Leerders wat in die nuwe seisoen aan tweekamp wil deel neem, moet asseblief affilieer op die WP-Tweekamp-webwerf. Vir 'n voorlopige program en reëlings, raadpleeg gerus hul bepalingsblad.
|
Pieter Kooij-musiekkompetisie
|
Ons is baie dankbaar dat die koor weer mag begin sing en ons oefeninge skop weer volgende week af! Ons oefen Dinsdagoggend 7:00 tot 8:00 en Woensdagmiddag 16:00 tot 17:30.
|
Ons skoolorkes oefen eerskomende Woensdagoggend vanaf 7:00 tot 8:00.
|
Ons nuwe dansklub maak volgende Vrydag, 13 Augustus, om 14:30 amptelik hul eerste danspassies! Alle Jan van Riebeeckers word uitgenooi om te kom saam dans en om al die wonderlike danssoorte te leer bemeester! Knap instrukteurs van die dansvereniging by die Universiteit van Kaapstad sal die sessies lei.
|
Tannie Katinka se tafel- en ander maniere!
|
Ons moes ongelukkig tannie Katinka se etiketkursus uitstel as gevolg van Covid-regulasies verlede kwartaal. Die kursus vind nou op Saterdag, 28 Augustus vanaf 9:00-13:00 in Welgemeend plaas.
|
"For good ideas and good innovation, you need human interaction, conflict, argument and debate." - Margaret Heffernan
|
Ons Junior Rotary Debating-span het die afgelope week in die kwarteindronde van die skoleliga teen Hoërskool Stellenberg te staan gekom.
|
Stellenberg het as wenners uit die stryd getree, maar ons is baie trots op ons juniors se knap werk wat groot belofte vir die toekoms inhou.
|
Stef Bos-liedjiewerkswinkel
|
Die internasionale sanger-liedjieskrywer, Stef Bos, se tweede liedjieskryfmiddag saam met ons Jan van Riebeeckers was weer sielsverrykend! "Wat's jou storie" gaan iets baie spesiaal wees...
|
Jak de Priester by Jan van Riebeeck
|
Daar is slegs enkele kaartjies nog beskikbaar vir Jak de Priester se vertoning hier in ons skoolsaal op 25 Augustus.
|
Bespreek nou jou kaartjies / tafel vir ons musiekteateraand as deel van die Afrikaansweek! Kliek hier vir al die besprekingbesonderhede.
|
ATKV-Tienertoneel: Om teen treine te skree!
|
Mercy en haar vriende hang gereeld by die treinspoor naby haar huis uit.
|
Maar nadat ’n foto van Mercy tussen die hele skool versprei word, word vriendskappe, verhoudings en vertroue onder mekaar verbreek.
|
In die nadraai van ‘n aand op die spoor, word ’n groep vriende almal na vore geroep om hulle nabetragting van wat gebeur het voor te lê.
|
Tussen vingerwys, leuens en beloftes, lê die waarheid iewers teen die trein geskree.
|
"Om teen treine te skree" is ’n nuwe teaterproduksie deur Kanya Viljoen, met tien leerders van Hoërskool Jan van Riebeeck. Die stuk ondersoek temas waarmee tieners daagliks omgaan, insluitend kuberafknouery, groepsdruk, sosiale angs en die druk van akademiese verwagtinge.
|
Ons produksie is op 20 Augustus in die Baxter Teater te sien. Baie sterkte aan ons talentvolle produksiespan en spelers vir die laaste afronding.
|
Die streeksfinaal vind op Saterdag, 21 Augustus plaas. Ons hou duimvas, Jan van Riebeeckers!
|
Kaapse Afrikaanse Eisteddfod
|
Eisteddfodoefeninge vind op Woensdag vanaf 14:15 tot 16:15 plaas. Die beoordeling vind op 14 Augustus hier by die skool plaas.
|
Die klerewinkel sal volgende week Maandag en Woensdag vanaf 12:45 tot 14:30 oop wees.
|
Geniet die langnaweek - en ek hoop al die ma's word Maandag heerlik bederf!
|
VERJAARDAE: 7 TOT 13 AUGUSTUS 2021
|
Baie geluk aan al ons Jan van Riebeeckers wat die volgende week verjaar!
|
ONTMOET ONS ONDERWYSERS: MNR. JAN HENNING
|
Mnr. Jan Henning is die hoof van sport by Jan van Riebeeck en is deel van ons skool se leierspan.
|
Hy is ook die senior ekonomie-onderwyser, registeronderwyser vir graad 9J en diensdoenende koshuispersoneellid by Huis Jordaan.
|
Op die sportveld is hy as afrigter verantwoordelik vir die 0/14-rugbyspan en staan in beheer van ons nuwe bergfietsprogram.
|
|
|
|
|
|
|
|