|
|
|
|
|
O koud is die windjie en skraal. En blink in die dof-lig en kaal. so wyd as die Heer se genade, lê die velde in sterlig en skade En hoog in die rande, versprei in die brande, is die grassaad aan roere soos winkende hande.
O treurig die wysie op die ooswind se maat, soos die lied van ‘n meisie in haar liefde verlaat. In elk’ grashalm se vou blink ‘n druppel van dou, en vinnig verbleek dit tot ryp in die kou!
|
Afrikaans het al ’n lang pad geloop sedert Eugene Marais sy bekende "Winternag", wat allerweë as dié eerste letterkundig betekenisvolle Afrikaanse gedig beskou word, geskryf het.
|
Hoërskool Jan van Riebeeck se heel eerste Afrikaansweek is vandeesweek aangebied en ek is ongelooflik trots op dit wat die Afrikaansdepartement en talle rolspelers hierdie week vermag het!
|
Wat 'n voorreg om skrywer, Fanie Viljoen Maandagoggend by Jan van Riebeeck te kon verwelkom. Hy het heerlik met die graad 12's en 11's oor skryfsake en hul voorgeskrewe roman gesels. Die graad 9's het ook die groot voorreg gehad om Maandagoggend via Zoom met Marita van der Vyver in Frankryk oor hul voorgeskrewe werk, Al wat ek weet, te gesels.
|
Maandagaand is die heel eerste JanKous gehou en dit was vreeslik pret. Daar was lyndanse, 'n kouskompetisie en 'n "dance off" tussen Toby in graad 9 en Adam in graad 10. Baie geluk aan Johann Jordaan, Toby de Ruiter en Shannon Grobbelaar vir hul wen met die oulikste sokkies. Geluk ook aan Adam Liebenberg met sy uitstekende danspassies.
|
’n Insiggewende redakteursforum het Dinsdagoggend in die skoolsaal plaasgevind waartydens die Onze Jan-redaksie, ons laerskoolvriende en ander belangstellendes geluister het hoe joernaliste oor die Afrikaanse joernalistiek gesels.
|
Oudleerder, Susan Samuels (subredakteur van Huisgenoot) het die gesprek gelei en met nog 'n oudleerder, Yvonne Beyers (redakteur van Huisgenoot) en Carryn-Ann Nel (Via en Media24) gesels.
|
Anna van Rooyen en Mila du Toit (redakteurs van ons skoolkoerant) het ook heerlike insette gelewer.
|
Vermaaklikheidspersoonlikheid, Kanya Viljoen en ons eie me. Sanet Taljaard het later Dinsdagoggend 'n puik dramawerkswinkel vir graad 9- en 10-leerders aangebied.
|
Ons is baie opgewonde dat Dramatiese Kunste weer vanaf volgende jaar by Jan van Riebeeck aangebied word en alle belangstellendes kon kom ervaar watter lekkertes in hierdie vakgebied opgesluit lê.
|
Dit was toe Kultuurkaskenades Dinsdagaand. Ons Jan van Riebeeckers wat puik presteer het by die Kaapse Afrikaanse Eisteddfod het hul prosa en poësie voorgedra en ons kon weer spog met ons tienertoneelproduksie, Om teen treine te skree. Seth Louw en Claudia Stipp het die gehoor in vervoering gehad met hul pragtige musiekitems.
|
Oudleerder, liedjieskrywer en musikant, Luna Paige het Woensdagoggend by ons kom kuier en met die gr.10's gesels oor die waarde van letterkunde en die wonderlike medium waarin jy jouself kan uitdruk. Dit was groot pret en heerlik om haar by haar alma mater te verwelkom.
|
Ons Jak de Priester-musiekteateraand Woensdagaand was iets besonders! Dié woord- en musiekkunstenaar het die hartsnare geroer...en ons Jan van Riebeeckers het ook beïndruk met 'n besondere voorprogram van prosa en poësie.
|
Dit was heerlik om gisteroggend vir Eldridge Jason hier te kon verwelkom. Eldridge is ’n verslaggewer by die Son op Sondag en die skrywer van die bekroonde jeugroman, Gerook, wat in 2014 by LAPA Uitgewers verskyn het.
|
Ons graad 8's het behoorlik aan Eldridge se lippe gehang toe hy oor die ontstellende waarhede van dwelmmisbruik, soos beskryf in sy trefferroman, gepraat het.
|
Ons Afrikaansweek-aandprogram is gisteraand op 'n hoogtepunt afgesluit toe ons 15 oudleerders vereer het vir hul wérk en mérk wat hul in AFRIKAANS in ons land maak!
|
Ons sal voortaan jaarliks oudleerders tydens ons Afrikaansweek vereer.
|
Die atmosfeer in Welgemeend was iets besonders: die talentvolle Luna Paige was ons gaskunstenaar en het almal beïndruk met haar pragtige stém en die staaltjies en herinneringe wat die oudleerders gedeel het, was aangrypend.
|
Ons is trots op: Amanda Botha, Yvonne Beyers, Luna Paige, Herman Lategan, Tertius Kapp, Fred Pheiffer, Susan Samuels, Elsabé Daneel, Pietie Beyers, Caro Wiese, Le Roux Schoeman, Marko van der Colff, Vilje Maritz, Barbara Joubert en Sybrandus Adema.
|
Ons sluit die week vandag op ’n hoë noot af! Elize Fortuin, streeksorganiseerder van die ATKV in die Wes-Kaap, het ons skool vanoggend besoek om amptelik 'n ATKV-jeugtak by Jan van Riebeeck te stig. Ons sien baie daarna uit om nou 'n opwindende nuwe pad as jeugtak saam met die ATKV te stap - en dit in ons geliefde moedertaal, Afrikaans!
|
Ons Jan van Riebeeckers het ook elkeen 'n kreatiewe Afrikaanse projek vir Afrikaansweek aangepak - en hul puik van hul taak gekwyt!
|
Die graad 8's het sigwoorde gedoen, die graad 9's moes kreatiewe maskers ontwerp en die graad 10's het idiome visueel uitgebeeld. Ons graad 11's moes 'n Jak de Priester-liriek uitbeeld en die graad 12's kon enige van hul voorgeskrewe werke of gedigte ook visueel uitbeeld.
|
Ons gaskunstenaar, Jak de Priester, het Woensdag die beste drie projekte in elke graad gekies en die wenners word Maandagoggend in die saal aangekondig. Dankie aan die FAK wat pragtige pryse vir hierdie wenners geskenk het.
|
Tussendeur al hierdie lekkertes het ons leerders pouses ook Afrikaanse musiek gemaak in Die Gat, die skool is verfraai met plakkate, vlaggies en ander interessanthede en die personeel is elke pouse met ’n Afrikaanse happie - van koeksisters tot Hertzoggies - bederf. Ons leerders het ook aan die einde van die skooldag vandag hul JanHAP-Kardoes met die heerlikse eetgoed geniet.
|
Ek wil ’n reusedankie sê aan me. Roosmaryn Schwartz, hoof van Afrikaans, wat aan die stuur van al dié sake gestaan het en ook ons hele Afrikaansspan (me. Taljaard, Strydom en Lombaard) vir ’n puik week by Jan van Riebeeck. Dankie ook aan al die ander ondersteuningpersoneel en ouers wat agter die skerms baie hard gewerk het.
|
Ons bars van trots oor alles wat jul hierdie week gedoen het. Baie dankie en baie geluk!
|
Ons matrieks vier vandag hul laaste 40 skooldae by Jan van Riebeeck.
|
Hul het vanoggend 'n heldeontvangs van hul medeleerders geniet toe hul, geklee volgens die letter 'L', op die stoepe langs na Die Gat beweeg het om die JvR-Geeslied te sing!
|
Mag die matriekklas van 2021 hierdie spesiale afskeidsoomblikke altyd koester.
|
VROUEMAAND-INSAMELING: MAANDAG EN DINSDAG
|
Ons wil hierdie vrouemaand op ’n hoë noot afsluit en teruggee aan die vrouegemeenskap rondom ons. Ons vra dus dat leerders saamstaan en sanitêre produkte/doekies skenk. Skenkings sal tot en met Dinsdag, 31 Augustus aanvaar word waarna dit aan Girls with Wings (@Girlswithwiings) geskenk word.
|
Leerders mag eerskomende Maandag, 30 Augustus enige pienk bykomstighede by hul skooldrag dra, bv. pienk sokkies, ’n pienk das, pienk serpe, ens.
|
Dankie aan die graad 11-VRL wat voorloop met hierdie inisiatief! Kom help ons om 'n verskil te maak!
|
Die graad 11's is hard aan die werk om te verseker die matrieks geniet ’n spesiale matriekafskeid vanjaar. Ondersteun hul in hul fondsinsamelingspoging deur ’n R20-lootjie te koop!
|
Die volgende fantastiese pryse is op die spel vir almal wat lootjies koop:
|
- Pick 'n Pay-geskenkbewys ter waarde van R500
- Peppertree Cafè-geskenkbewys ter waarde van R100
- Cotton On-geskenkbewys ter waarde van R500
- H&M-geskenkbewys ter waarde van R500
- Woolworths-geskenkbewys ter waarde van R500
- 1 x 45 min.-fisioterapiegeskenkbewys
- 1 x 45 min.-fisioterapiegeskenkbewys
- 'n Stel "bluetooth"-koordlose oorfone
- Bootleggers-geskenkbewys ter waarde van R100
- Bootleggers-geskenkbewys ter waarde van R100
Die R20-lootjies is beskikbaar by die finansiestoonbank of op Karri.
|
Die trekking vind op Vrydag, 17 September plaas.
|
Die pragtige Welgemeend-skakeltrap is voltooid! Kliek gerus hier en hier om te sien hoe die eindproduk lyk.
|
Baie dankie aan die Vriende van Welgemeend, ons grond en geboue-komitee van die beheerliggaam en al die rolspelers wat hierdie spesiale projek aangepak en suksesvol afgehandel het.
|
Ons is opgewonde oor die volgende fase en verdere ontwikkelings rondom die nuwe beplande studenteplein langs hierdie mooi skakeltrap.
|
Ons junior seunsbadkamerprojek is ook afgehandel! Die fasiliteit spog met 'n netjiese, vars en moderne gevoel waarop ons baie trots is. Baie dankie ook aan al die rolspelers wat hierdie projek aangepak en bestuur het.
|
ONDERSTEUN, ASB: ONS KAMPUSMUUR WORD GEVERF!
|
Die Departement van Openbare Werke het eindelik die werk aan ons muur in Kampstraat afgehandel - iets waaroor ons baie dankbaar is.
|
Ons is ook baie dankbaar dat weldoeners en vriende van ons skool aangebied het om nou te help met mannekrag, voorbereiding en die verf van die muur. Die voorbereidings begin nou in alle erns.
|
Ons wil egter die hele Jan van Riebeeck-familie uitnooi om ’n finansiële bydrae tot hierdie inisiatief te maak. Die skool het nie vanjaar hiervoor begroot nie en ons wil graag die hele blok (agter by Welgemeend ook) verf.
|
Die totale koste gaan meer as R100 000 beloop. Ons laai ’n donasie-opsie op Karri en sal enige finansiële bydraes baie waardeer. U is ook welkom om elektroniese betalings in die skoolrekening te doen, maar gebruik dan muur_u van as verwysing.
|
Die JvR-kalender vir die volgende paar maande is hier beskikbaar.
|
JvR-WHATSAPP Ouers en leerders word versoek om die skool se Whatsapp-nommer op hul fone te stoor sodat alle kennisgewings ontvang kan word. Die nommer is 066 448 4881.
|
WELGEMEEND MAAND VAN KUNS 2021
|
Die 2021 Welgemeend Maand van Kuns word tot 16 September aangebied deur die Vriende van Welgemeend in samewerking met Frank en Lizelle Kilbourn, Strauss & Co en Delaire Graff Landgoed, met die ondersteuning van Hoërskool Jan van Riebeeck.
|
Welgemeend is oop vanaf 9:00 tot 15:00 vir besigtiging van die kunswerke. U hoef nie vir besoeke te bespreek nie, maar kyk asseblief na aangehegte kalender watter dae Welgemeend toe is vir die publiek. Toegangsgeld R50 per persoon.
|
Die program is hier beskikbaar - en sal aangepas word indien Covid-19-regulasies dit noodsaak.
|
Loslitdag vind vanjaar op Vrydag, 3 September plaas.
|
As leerders ’n plakker koop, kan hul op hierdie dag in sivvies skool toe kom. Die tema van vanjaar is Courage and Kindness en almal word gevra om pers te dra om te wys jul ondersteun die inisiatief.
|
Plakkers is te koop by alle graad 8-leerders en op Karri en kos R20,00 elk. Die fondse wat ingesamel word, is ten bate van mense met gestremdhede.
|
Ondersteun asseblief hierdie inisiatief deur ’n plakker te koop, Jan van Riebeeckers!
|
JvR-ALUMNI/OUERS/LEERDERS-SPORTDAG!
|
Ons nooi graag al ons alumni, ouers en leerders uit om deel te neem aan hierdie opwindende sportdag op 18 September!
|
Kliek hier vir al die inligting en voltooi die skakel op die plakkaat indien u wil deelneem.
|
Die jaarlikse mnr. en mej. Jan van Riebeeck-kompetisie vind volgende Donderdag, 2 September om 18:00 plaas.
|
Kaartjies vir leerders is teen R80 beskikbaar op Quicket (JanStyl 2021).
|
Leerders kan ook 'n boksie met peuselhappies bestel vir net R50. Koeldrank word op die aand verkoop.
|
Ouers word ook uitgenooi om om tafels saam te kuier - 8 gaste per tafel en die koste beloop R1200 vir die tafel. Eie eetgoed mag gebring word.
|
Daar is slegs 50 kaartjies in die stadium beskikbaar - spring dus gou om teleurstelling te voorkom! Let wel: Kovid-regulasies geld.
|
SENOR CHEF-FONDSINSAMELINGSPROJEK
|
Dié fondsinsamelingsprojek eindig vandag en ons sal volgende week al die pryswenners aankondig.
|
Baie dankie aan almal vir die wonderlike ondersteuning van hierdie projek!
|
Ons nooi alle alumni, Vriende van Jan van Riebeeck en ons ouers na ons gholfdag wat op 30 September plaasvind by King David Mowbraygholfbaan.
|
Ons speel ‘shotgun’ wat beteken almal slaan gelyk af om 13:00.
|
Die formaat van spel is vierbal-samespel (‘4-ball alliance’) met slegs die beste 2 punte wat tel en al 4 punte op ’n par 3.
|
Nooi gerus persone buite ons skoolgemeenskap om die dag by te woon.
|
Kliek hier vir meer besonderhede.
|
JAN VAN RIEBEECKERS VAN DIE WEEK
|
25 Produksies van regoor die provinsie is vanjaar ingeskryf.
|
Hierdie JvR-produksie was niks minder as 'n emosionele kragtoer nie! Die leefwêreld van die tiener is op 'n skrikwekkende wyse deur 'n lewensgetroue scenario ontstellend-eerlik en méésterlikkreatief aangebied.
|
Ons ontvang nominasies vir: 'beste ensemblewerk', 'beste tegniese aspekte' en 'beste beligtingoperateur: Christiaan Prinsloo'.
|
Kanya Viljoen word as die beste regisseur aangewys!
|
Baie geluk aan ons vriende by Parel Vallei met hul wenproduksie, Hansie Slim - ons is saam met julle trots! Mooi so, Jan van Riebeeckers - dis puik en ons is baie trots op julle!
|
Die graad 12's se rekordeksamen skop op Maandag, 6 September af. Die rooster is hier beskikbaar.
|
Die graad 12's se Nasionale Senior Sertifikaat (NSS)-eksamen skop op Maandag, 1 November met Engels (Taalkunde) af en die laaste vak (Musiek) word op 6 Desember geskryf. Kliek hier om die eksamenrooster af te laai.
|
Die graad 9-vakkeuse-inligtingsaand vind op Dinsdag, 31 Augustus plaas.
|
Die amptelike verrigtinge begin om 18:30, maar vakonderwysers is egter vanaf 18:00 tot 18:30 beskikbaar indien u enige vrae oor ’n spesifieke vak het.
|
Ons moedig u aan om van die geleentheid gebruik te maak indien u onseker is oor die inhoud of beroepsmoontlikhede van spesifieke vakke.
|
Daar is reeds ’n e-pos aan al die graad 9-ouers/voogde gestuur met meer inligting rakend vakkeuses. Nog ’n e-pos is vandag gestuur oor die verdere reëlings vir Dinsdagaand.
|
Die strandskoonmaakoggend wat vir more beplan is, is gekanselleer as gevolg van die reënweer wat voorspel word. Ons maak gou weer ’n plan!
|
Leerders moet teen Maandag hul somersportkeuse gefinaliseer hê - almal moet ten minste aan een somersport deelneem.
|
Kliek hier om volgende week se sportprogram af te laai en te sien waar u kind wil inskakel.
|
Die meisies het hierdie week teen Fairmont gespeel. Dit was 'n uitdagende stryd en hulle het ongelukki 5-1 verloor. Volhard!
|
Ons het Maandag ons eerste Krieketoefening gehad. Ons speel ook Woensdae tydens pouses krieket, selfs al reën dit. Ons moedig al ons seuns en dogters aan om saam te kom speel!
|
Ons ondersoek tans die moontlikheid om binnekort 'n wedstryd teen Dirky Uys te speel. Die reëlings sal binnekort deurgegee word.
|
Ons neem voorlopig op 4 September aan 'n bergfietsuitdaging in Montagu deel. Alle bergfietryers is welkom om in te skryf. Ons span moet uit vyf lede bestaan waarvan die gekombineerde ouderdom nie meer as 85 jaar mag wees nie.
|
Ons het ook die afgelope week bevestig dat ons aan swemgalas wil deelneem in die 4de kwartaal. Meer inligting volg.
|
Swemafrigter, Allan, versoek dat indien u ou wetsuits het wat rondlê, u dit vir die skool sal skenk sodat leerders dit kan gebruik om in die koue water te swem.
|
Wetsuits kan ook namens mense verkoop word.
|
Kontak gerus vir mnr. Jan Henning by jan.henning@janvanriebeeck.co.za indien u ons van hulp kan wees.
|
Tweekampseisoen 2021/2022
|
Leerders wat in die nuwe seisoen aan tweekamp wil deel neem, moet asseblief affilieer op die WP-Tweekamp-webwerf. Vir 'n voorlopige program en reëlings, raadpleeg gerus hul bepalingsblad.
|
Die Jan van Riebeeckers was baie opgewonde om die nuwe uitgawe van die Onze Jan te ontvang... en kon nie gou genoeg begin lees aan al die sappige JvR-nuus nie.
|
Baie geluk aan die Onze Jan-redaksie met 'n mooi uitgawe.
|
Ons is ook dankbaar vir me. Susan van Rooyen se harde werk en leiding!
|
Hierdie opwindende nuwe klub nooi alle Jan van Riebeeckers om oor die wonder van musiekteater te kom leer.
|
Woensdag, 14:30-15:30: Solo-/Duet-/Triowerk
|
Donderdag, 16:00-17:30: Groepwerk
|
Kaapse Afrikaanse Eisteddfod
|
Die KAE-sang vind Maandag, 30 Augustus vanaf 16:00 tot 18:00 in die skoolsaal plaas. Sterkte met die laaste voorbereiding hiervoor, Jan van Riebeeckers!
|
Ons nooi al ons leerders om Vrydae direk na skool in die skoolsaal die fynere danskunsies te kom leer. Die instrukteurs van UCT sal ons Jan van Riebeeckers aan al die verskillende dansdissiplines bekendstel. Moenie die geleentheid misloop nie. Gesels gerus met mnr. Klink om meer uit te vind oor dié nuwe inisiatief.
|
Ons skoolkoor en orkes begin weer volgende week oefen!
|
Koor: Dinsdagoggend om 07:00 en Woensdagmiddag vanaf 16:00 tot 17:30
|
Orkes: Maandag- en Woensdagoggend om 07:00
|
Kunsmaand-kunskompetisie Die Welgemeend-kunsmaandkunskompetisie is nou aan die gang! Enige JvR-leerder mag inskryf en kan inskrywingsvorms by me. Vrey afhaal. Daar is groot pryse vir wenners in elke graadgroep op die spel. Inskrywings sluit op 7 September.
|
Ons leesklub vergader Dinsdagmiddag direk na skool in die biblioteek.
|
Die klerewinkel sal volgende week Dinsdag en Donderdag vanaf 12:45 tot 14:30 oop wees.
|
Dankie vir u volgehoue ondersteuning van ons geliefde skool. Mooi naweek!
|
VERJAARDAE: 28 AUGUSTUS TOT 3 SEPTEMBER 2021
|
Baie geluk aan al ons Jan van Riebeeckers wat die volgende week verjaar!
|
ONTMOET ONS ONDERWYSERS: ME. ASTRID MAUERMANN
|
Me. Astrid Mauermann het aan die Universiteit van Kaapstad gegradueer met ’n BA Hons.-graad en ’n Nagraadse Onderwyssertifikaat. Sy verwerf ook sertifikate in multikulturele onderrig, onderwysdidaktiek en opvoedkundige sielkunde aan die Magdeburg Universiteit in Duitsland, terwyl sy by ’n Duitse skool skoolgehou het.
|
Astrid is vakhoof van Engels, departementshoof en dien op die skool se bestuurspan.
|
|
|
|
|
|
|
|