Nuusbrief-header
17 September 2021
Geagte Ouers / Voogde

Jan van Riebeeckers het die afgelope paar weke baie omgeewerk gedoen - op vele maniere het ons leerders en ouergemeenskap die las van ander effe ligter probeer maak - en daarop is ek baie trots!

Ek het ook onlangs een van daardie vreemde (dis nou sielkundig gesproke) ervarings gehad toe ek saam met ’n gemeenskapsuitreikgroep ’n skolesentrum besoek het waar die menswaardigheid van jongmense die fokus is. Vreemd, omdat ek aan die een kant die ongelooflikste warm gevoel ervaar as ek sien wat daardie onderwysmense elke dag uitrig, maar aan die ander kant ’n intense hartseer as ek sien en luister hoe swaar hulle trek om vir minderbevoorregte kinders die stormwaters van hul werklikheid kalmer te probeer maak.

Met die aankoms skarrel entoesiastiese laerskoolkindertjies oral rond – almal eintlik oënskoulik doelloos aan die balskop, of puzzle-bou of fietsry. ’n Miernes van bedrywighede, kan ’n mens maar sê. En dan trek die fassiliteerders hulle skielik nader met die blaas van ’n fluitjie. En binne oomblikke word hierdie kindertjies se oë groot as hulle luister en kyk en moet dink aan die uitdagings wat hierdie engelmanne- en vroue aan hulle stel.

Maar tog, al lê die jongspan soos hul lag, bly die prentjie voor my hartseer. Die bestuurderes sê moedig hulle ‘hou darem kop bo water’ en dat ‘hulle eintlik nie kan kla nie’ as ek vra hoe dit met die sentrum gaan. Maar die gespannendheid om haar mondhoeke vertel veel meer as die paar ingeoefende standaard antwoorde wat sy trots aanbied. Trots op wat hulle hier regkry, maar moedeloos omdat hulle eie stormwater nie soos die kinders s’n, deur enigiemand anders draagliker gemaak word nie.

Terwyl die manne saam met die kinders sokker speel en sommer ’n vleisie braai, is die sekuriteitsmaatskappy aan die een kant van die gebou besig om herstelwerk te doen – daar is weer die vorige nag al wat ’n kabel en slot is, gesteel. Die huidige bestuurderes vertel dat die ander bestuurders voor haar almal omtrent net drie maande uithou, en dan maar eerder nuwe (beter?) uitdagings gaan soek. Daar is nie voldoende geriewe nie – misdaad en sosiale probleme verhoed hulle om behoorlik vorentoe te beweeg.
So hou élke dag sy uitdagende uitdagings in. Elke dag lewer net meer en meer probleme op...

En soos ek daar in die agterplaas van ’n amperse vervalle skoolgeboutjie staan, dink ek hoe bevoorreg hierdie minderbevoorregtes ook eintlik is dat daar mense is wat daar wíl wees. Mense wat dit hul lewensdoel en –taak beskou om aan hulle liefde en sorg en opvoeding te wil gee. Mense wat bereid is om maar die eie sielkundige aftakeling te verduur, want die hartseer van die kinderogies en die omstandighede waarin hulle gedompel is, móét aan hulle binneste knaag. En so tussendeur my dinke voel ek weer skuldig dat ek nie meer doen om hierdie soort inisiatiewe te ondersteun nie.
Ja, as die geleentheid homself voordoen, gee ’n mens en help waar jy kan. Maar as ’n mens regtig vir ’n middag déél word van die sisteem wat op hulle manier seker werk en jy sien die maer kindertjies wat met verkoueneusies oral ronddwaal, weet jy dat jy nooit genoeg kan doen nie. En dat jy van nou af meer moet doen.

Jan van Riebeeckers, Ouers/Voogde, Vriende van ons skool: wanneer jy weer in jou besige program ’n paar minute het om af te staan, doen jouself ’n guns en besoek enige van die talle instansies wat omsien na ons kinders. Neem ’n sak met ou klere saam. Of iets van opvoedkundige waarde.

Die onderwysengele wat by hierdie veilige hawes werk en die las vir ander minder probeer maak, het al die hulp in die wêreld nodig om staande te bly. En ons, die publiek, móét hulle staande hou.

NETWERK 24-BLITSBREIN ALGEMENE KENNIS
Peet Karsten behaal die eerste plek in die Wes-Kaap en die tweede plek in Suid-Afrika in die graad 8 & 9-Netwerk 24 Blitsbrein Junior-algemene kenniskompetisie! Ons bars van trots oor dié uitsonderlike prestasie, Peet - baie geluk!

PIETER KOOIJ MUSIEKKOMPETISIE 2021
'n Kultuurbelewenis soos min het verlede Saterdagaand in Welgemeend plaasgevind!
Die 13de jaarlikse Pieter Kooij Musiekkompetisie is voor 'n handvol genooide gaste in Welgemeend aangebied, maar enigeen kon die musiekaksie regstreeks aanlyn volg.

Die 2021-wenners is as volg:
Beste Barokuitvoering: Liam Slabbert
Beste Romantiese uitvoering: Isaac van der Merwe
Beste Pianis: Isaac van der Merwe
Beste Houtblaser: Liam Slabbert
Beste Stryker: Juliette Roux
2de Plek: Vivianna Pearson
Wenner: Isaac van der Merwe

Beleef hierdie wonderlike uitvoerings aanlyn nog tot 25 September.
Koop gerus u kaartjies op Quicket teen slegs R50.

Volg die skakel vir kaartjies en lees gerus na oor die deelnemers:
https://tinyurl.com/3td7rz56
https://qkt.io/mmXzwZ

Baie geluk en dankie aan ons musiek- en kultuurhoof, mnr. Geruan Geldenhuys, vir sy professionele aanslag in die organisering en aanbieding van dié spesiale kompetisie!

AKADEMIE
Ons toetsreeks skop eerskomende Maandag, 20 September af en eindig op Donderdag, 30 September. Ons hoop dat al ons Jan van Riebeeckers die naweek hard sal werk en goed sal voorberei vir hierdie belangrike assesseringsgeleentheid.

Die skool verdaag tydens die toetsreeks vir graad 8–11 leerders daagliks om 11:30. As gevolg van COVID-protokolle moet leerders wat nie skryf nie, tuis bly op die dae wanneer hul nie ’n vraestel skryf nie.

Ouers word herinner dat leerders wat ’n vraestel misloop, ’n mediese sertifikaat moet inhandig. Kontak asseblief me. Liza Serrao, wat as toetsreekshoof optree, by liza.serrao@janvanriebeeck.co.za vir enige navrae.

SKOOLUNIFORM
Die res van die kwartaal is ’n oorgangstydperk vir leerderuniforms. Leerders kan vanaf Maandag winter- of someruniform dra, afhangende van die weer.
Vanaf 11 Oktober dra almal die someruniform.

WOLKSKOOL vir elke Jan van Riebeecker!
Daar is nog leerders wat op hierdie akademiese platform moet registreer. Verseker asseblief die naweek dat u kind geregistreer het.

Ons is baie trots en opgewonde om hierdie akademiese platform aan elke leerder beskikbaar te stel - en saam met Die Wolkskoolspan nog verdere aanvullende gehalteonderrig buite die klaskamer te verseker!

KAMPUSSAKE
Kampusmuur: DANKIE!
Die verf van ons kampusmuur is afgehandel. Baie dankie aan almal wat ’n finansiële bydrae gelewer het. Ons is ook ongelooflik dankbaar vir die ondersteuning van ouers en weldoeners wat hierdie projek vir ons moontlik gemaak het. Die opknapwerk maak ’n reuseverskil!

ERFENISDAG-PRET
Ons vier volgende Donderdag, 23 September, reeds ons Suid-Afrikaanse erfenis met 'n boereworsbraai en Trots-Suid-Afrikaanse uitrustings.

Die graad-11's verkoop heerlike boereworsrolle vir Braaidag!
Bestel u en u kinders se boereworsrolle op Karri teen R25 voor 21 September. Daar word ook voorsiening gemaak vir vegetariërs.

Jan van Riebeeckers mag ook vir hierdie dag hul Trots-JVR-skooldrag vervang met 'n Trots-Suid-Afrikaanse uitrusting; teen R10.

Indien leerders ’n boereworsrol wil bestel en sivvies dra, is die koste R30 en Karri betaalbaar.

JvR-GHOLFDAG 2021
Daar is nog ’n paar plekke vir spanne beskikbaar om in te skryf vir die heerlike sosiale gholfdag wat op 30 September by King David Gholfbaan plaasvind.
Kontak gerus vir Karien Zulch by 083 4455 0980 of karien.zulch@janvanriebeeck.co.za om u plek/span te bespreek.
Daar is reeds wonderlike pryse op die spel, maar nog skenkings en prysborge is altyd welkom.

TENNISOPE: MNR. BEETS VS. MNR. RADEMEYER
Ek en mnr. Beets, skoolhoof van die laerskool, sê mekaar die stryd aan op die tennisbaan! Koop u kaartjies op Quicket en kom deel in die pret.
Hier is die skakel: https://qkt.io/HS_LS_JvR_Tennisope

Daar sal braaivleisvure brand en verversings verkoop word. Ons verkies om kontantloos te werk, so laai asseblief die Snapscan- toepassing op u foon af en kom ondersteun ons. Alle fondse wat ingesamel word, is ten bate van tennisbaanligte op ons skool se bane.
Kom geniet die opelug saam met die Jan van Riebeeck-gemeenskap langs die tennisbaan. Leerders en ouers is welkom.

U kan ook op Karri u skoolhoof borg! Indien ek die dubbelswedstryyd teen mnr. Beets wen, staan u 'n kans om in die trekking deel te neem en wonderlike pryse te wen. Lootjie-opsies is op Karri beskikbaar.
Wees verseker dat u borg veilig is en beslis in die trekking sal beland, want hierdie skoolhoof beplan nie om te verloor nie!

VRYDAGFEESTAFEL OP WELGEMEEND SE STOEP: 1 OKTOBER
Ek nooi baie graag al ons ouers/voogde en vriende van ons skool uit na ons tweede Vrydagfeestafel op Welgemeend se stoep!

Hierdie heerlike middagete vind op Vrydag, 1 Oktober plaas.

Kom geniet ’n heerlike bord Kaapse kos en lekker koffie/tee en iets soets teen R185 per persoon. U is welkom om u eie wyn of bier saam te bring.

Bespreek gerus u sitplek(ke) teen Woensdag, 29 September op Quicket. Hier is die skakel: https://qkt.io/R3UB3i

Nooi u vriende en kom geniet die middagete hier op ons pragtige kampus - en sluit die kwartaal saam met ons op ’n gesellige noot af!

Kliek hier vir verdere besonderhede en die spyskaart.

SENOR CHEF
Al die Senor Chef-produkte is nou in grootmaat by die skool afgelewer.
Die OOV gaan ons help om dit vanaf Maandag in klasverband te verpak en te versprei.

Ons sal van Maandag af elke dag 'n boodskap uitstuur om te bevestig watter klasse op die spesifieke dag hulle bestellings ontvang het. Dankie nogmaals vir almal se ondersteuning!

FONDSINSAMELINGSPROJEKTE
Ons het nog ’n paar opwindende fondsinsamelingsprojekte wat op ons wag.
Kliek gerus hier en teken solank die datums in u dagboek aan!

KERSVERSE BY WELGEMEEND
Kom geniet ’n heerlike Kersfeesmaal met musiek deur Niël Rademan op 14 en 21 November! Kliek gerus hier vir al die inligting.

GRAADSAKE
Graad 8 - Loslitdag
Die graad 8's het vanjaar R7500 vir mense met gestremdhede ingesamel deur middel van hul Loslitdag-plakkerverkope.
Baie dankie aan elke graad 8-leerder wat al hulle plakkers getrou verkoop het en ook aan elke leerder en ouer wat hierdie wonderlike inisiatief ondersteun het.

Die leerder wat die meeste plakkers verkoop het, is Aleisha King. Sy ontvang 'n R300 geskenkbewys as prys. Baie geluk, Aleisha - ons is trots op jou!

Graad 9
Graad 9-leerders word herinner aan hul 2022-vakkeusevorm. Die sluitingsdatum is 15 Oktober. Voltooi die vorm by hierdie skakel: https://forms.office.com/r/4enuYatdvw

Graad 12
Graad 12’s en ouers/voogde moet asseblief kennis neem dat die rooster vir die NSS- eksamen aangepas is om voorsiening te maak vir die plaaslike verkiesings.

Die eksamen begin nou ses dae vroeër. Engels (Vraestel 1) en Besigheidstudie (Vraestel 1) word beide nou vroeër afgelê. Die res van die eksamen se datums is onveranderd.

Laai gerus die nuwe weergawe van die eksamenrooster hier af.

SPORTSAKE
Die sportaktiwiteite vir die kwartaal loop stadig tot 'n einde. Ons wil egter 'n beroep op leerders doen om steeds fluks te oefen.

Stap sal gedurende die toetsreeks op Maandae en Woensdae voortgaan en middelafstande/fiksheid op Dinsdae en Donderdae. Dit vind plaas vanaf 12:00 tot 13:00. Almal is baie welkom!

JvR-Alumni-sportdag
Die alumni-sportdag vind more plaas en ons hoop om sommer baie mense uit ons Jan van Riebeeck-gemeenskap hier te verwelkom.
Ons vra dat almal asseblief by die Buysveld (boonste veld) parkeer aangesien ons netbal op die Boshoffveld se parkeerarea gaan speel. Dra asseblief iets vintage uit u Jan van Riebeeck-dae as u dalk nog so iets het...

Die program lyk so:
8:00 Bergfietsry (glad nie uitdagend nie; enigiemand met ’n fiets sal kan saam ry!)
9:00 Skaak sal deur die loop van die oggend gespeel word.
9:15 Hokkie
10:30 Netbal
10:30 Raakrugby
11:45 Hindernisbaan (trail running)

Hokkie: Superhero-somerliga op die Rhenish-astro
Ons wil baie graag dat ons Jan van Riebeeckers aan dié opwindende hokkie-somerliga deelneem. Inskrywings kan eerskomende Maandag na die assesserings by me. Meyer gedoen word.

JvR kan as gemengde spanne inskryf - meisies en seuns en verskillende ouderdomsgroepe van 14 tot 18 jaar.
Daar sal ’n minimum van twee wedstryde per aand gespeel word en daar sal ook ‘n mentor toegeken word aan elke span vir die duur van die toernooi.
Vervoerreëlings sal ook deur die skool getref word.

Kliek gerus hier vir die besonderhede en gesels met me. Meyer. Ons sien uit na al ons hokkiespelers se entoesiastiese deelname!

Sportdatums om vir volgende kwartaal in gedagte te hou:
Tennis vs. Dirkie Uys: 18 Oktober (tuis) om 15:00
Atletiek (Top 10): 23 Oktober (Groenpunt-stadion) om 8:00
Atletiek vs. Dirkie Uys: 30 Okotber (Moorreesburg) om 8:00

Noodhulp
Die Jan van Riebeeck-noodhulpspan nooi graag alle leerders wat hul vlak 1- noodhulpkursus voltooi het, om die vlak 2- en 3-kursus te bywoon!

Datum: 16 en 17 Oktober
Tyd: 9:00 tot 16:00
Koste: R850 per leerder vir die kombinasie van vlak 2 en 3 (Betaalbaar op Karri).
Kom skryf in by me. Du Plessis tydens register, teen 6 Oktober!
Navra kan gerig word aan me. Du Plessis.

Leerders moet ’n geldige vlak 1-noodhulpkwalifikasie hê om die vlak 2 en 3 te mag voltooi. As die noodhulpkursus nie by die skool voltooi is nie, moet die geldige sertifikaat asb. aan me. Du Plessis gestuur word.

Tweekampseisoen 2021/2022
Leerders wat in die nuwe seisoen aan tweekamp wil deel neem, moet asseblief affilieer op die WP-Tweekamp-webwerf. Vir 'n voorlopige program en reëlings, raadpleeg gerus hul bepalingsblad.

KULTUURSAKE
Die dinge van ’n kind - met Cintaine Schutte as Mart Vermaak
Ons is baie opgewonde om in samewerking met Arena Produksiehuis die verhoogverwerking van Marita van der Vyver se trefferjeugroman, Die dinge van ’n kind, hier by Jan van Riebeeck aan te bied.

Daar is 6 skolevertonings en dan is die verhoogstuk vir die publiek te sien op Woensdag, 13 Oktober (19:00) en Sondag, 17 Oktober (14:00).
Bespreek u kaartjies so gou as moontlik by Computicket. Moenie dit misloop nie!

Kliek gerus hier vir al die besonderhede.

Koor
Volgende week se oefentye:
Koor: Dinsdag en Woensdag vanaf 11:45 tot 13:15

Ons koor neem volgende Donderdag om 12:00 aan die ATKV-Applouskompetisie deel. Ons hou duivas dat dit baie goed sal gaan, Jan van Riebeeckers!

UNISA-musiekeksamens
Ons is baie opgewonde om vanaf Maandag tot Woensdag volgende week eksaminators van UNISA hier by JvR te verwelkom vir die assessering van verskeie UNISA- musiekeksamens.
Ons is opgewonde dat hul JvR hul tuiste in die Kaap maak - ons sien uit na ’n goeie werksverhouding in die toekoms!

Klerewinkel
Die klerewinkel sal volgende week gesluit wees. Maak gerus ’n afspraak by me. Sanette van Loggerenberg indien u iets dringend benodig. Haar e-posadres is sannette.loggerenberg@janvanriebeeck.co.za.

Baie dankie vir u volgehoue ondersteuning van ons geliefde skool!

Vriendelike JvR-groete
Pieter Rademeyer
Skoolhoof

VERJAARDAE: 18 TOT 24 SEPTEMBER 2021
Baie geluk aan al ons Jan van Riebeeckers wat die volgende week verjaar!

18 SEPTEMBER
Jacomina van Rooyen (9H)

19 SEPTEMBER
Arno van der Merwe (11J)

20 SEPTEMBER
Daniel Hewetson (9J)

21 SEPTEMBER
Me. Liza Serrao
Zandré Lee (9J)

22 SEPTEMBER
Francois Liebenberg (10J)
Monique Liebenberg (10J)
Keira Heyns (8R)

24 SEPTEMBER
Karla Luyt (11J)

ONTMOET ONS ONDERWYSERS: ME.ANNELIE NIMMO
Me. Annelie Nimmo matrikuleer aan die Hoërskool De Kuilen, waarna sy haar BA-graad en HOD aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Tussen 2003 en 2008 verwerf sy ook die LLB-graad op deeltydse basis aan Unisa. Sy begin haar onderwysloopbaan aan die Hoër Meisieskool Clarendon in Oos-Londen waar sy Afrikaans Eerste Addisionele Taal as vak aanbied. In 2000 keer sy terug na die Wes-Kaap en aanvaar ‘n pos by die Hoërskool Bellville en werk daarna ook by Abbotts Kollege, ‘n privaatskool in Claremont, waar sy in Afrikaans en Geskiedenis spesialiseer. In 2019 sluit sy by die Hoërskool Jan van Riebeeck aan en word ook aangestel as die hoofnasiener vir Geskiedenis (Vraestel 1) in die Wes-Kaap.
In 2021 word sy die graadhoof van die graad 8’s, wat sy dan ook onder haar vlerk neem. Sy is die organiseerder van die debatsvereniging, Sterrejag (die jaarlikse talentkompetisie by die skool) en ook Loslitdag. Annelie het ʼn groot passie vir Geskiedenis, politieke debat en haar moedertaal en sien die onderwys as ‘n geleentheid om demokrasie, gelyke regte en verantwoordelike burgerskap onder die jeug van Suid-Afrika te bevorder en leerders te help om hul volle potensiaal te bereik.
PERSONEEL , NIMMO , A._ Export Staff(1)
facebook instagram custom 
MailPoet