|
|
|
|
|
Hoe ongelooflik dat aan die einde van ’n mensgemaakte siklus, word ons skielik oorrompel met die begin van ’n nuwe lewensiklus.
|
Met die naderende einde van ’n besige en nog ’n onbekende jaar, word ons skielik soggens wakker met die belofte van konstantheid in die natuur: oornag het nuwe lote en blare hul verskyning aan die bome en plante om ons gemaak. Varsgroen lewendige lewe!
|
Die mensdom is darem interessant. Die eindfluitjie vir 2021 is nog nie geblaas nie en ons begin reeds planne beraam en voetwerk doen vir die komende 2022. Ek glo dit dui op hoop en op optimisme: die aanhoudende vorentoe beur dat ons volgende keer kan beter wees; dat ons ook soos die natuur nuut kan begin.
|
Die bekende dr. Edith Eger skryf dat vryheid hoop veréís. Hierdie hoop definieer sy op twee maniere. Eerstens is daar die bewustheid dat swaarkry, maak nie saak hoe erg nie, tydelik is. En tweedens die onblusbare nuuskierigheid om te ontdek: wat gaan volgende gebeur? Hoe treffend is dit nie van toepassing op die skoollewe nie!
|
En watter opwindende gedagte is dit dan nie dat ons elke jaar bederf word met ’n skoon blaadjie; ’n oorbegin, maar met lewenslesse en ervaring in ons knapsak sodat ons beter en dalk meer ingeligte besluite kan neem...
|
Ek ervaar tans in die skoolgemeenskap, onderwysdepartement en ons land dat daar ’n absolute en onwrikbare wíl en passie is om vir ons en ons nageslagte ’n beter toekoms te wil skep. Een waar ons weet swaarkry onvermydelik is, maar een waar ons aanhou wonder en soek vir die beter antwoorde en oplossings. Mag ons hierdie wil en strewe by Hoërskool Jan van Riebeeck nooit verloor nie.
|
Sterkte vir die laaste kwartaal van 2021, Jan van Riebeeckers! Gryp dit met moed aan, handel dit tot die beste van jou vermoëns af... maar hou heeltyd aan dié wete vas: die keuse van vernuwing en groei is in jou hande.
|
Die eerste Matriekmodeparade was iets baie besonders! Baie dankie aan me. Elize Gouws en almal wat hard gewerk het om van dié geleentheid iets baie spesiaals te maak.
|
Met dié funksie word fondse nou ingesamel vir 'n mooimaakfonds sodat ál ons leerders soos 'n prins of 'n prinses op hul groot aand kan voel... dankie aan almal wat dié sentiment ondersteun. Ons matrieks het geskitter - loer gerus op ons Facebookblad om te sien hoe mooi almal gelyk het.
|
Ons het gister 'n fees van 'n middag gehad toe die graad 6-klas van ons Laerskool Jan van Riebeeck hier by ons kom kuier het!
|
Die Jannies het saam met ons matriekraad en graad 10's (hul graad 12's in 2023) verskeie interessante aktiwiteite in die klaskamers aangepak en die geesmiddag is met 'n jolige kaskarresies afgesluit - en die opwinding was groot!
|
Ek kon ook op 'n gesellige en informele noot die ouers/voogde op Welgemeend se stoep ontvang om hul meer van ons spesiale skool vertel.
|
Baie dankie aan mnr. Henning en almal wat bygedra het tot 'n fantastiese middag hier by Jan van Riebeeck!
|
Ons kan nie wag dat al dié Jannies in 2023 hier by ons trotse Jan van Riebeeckers word nie!
|
JvR-KALENDER: OKTOBER TOT DESEMBER 2021
|
Kliek gerus hier vir die jongste weergawe van ons skoolkalender.
|
Verseker asseblief dat u kind teen Maandag aan die nodige voorkomsreëls voldoen: hare moet netjies versorg wees en seuns moet behoorlik skoongeskeer wees.
|
Ek herinner ook dat skoolbaadjie verpligtend op Maandae en dis verpligtend om ’n skooldas saam met skoolbaadjie te dra.
|
Maak asseblief seker dat u kind ons haarreëls nakom, soos in die gedagskode aangedui (op ons webblad beskikbaar):
|
Dogters * Kuiwe moet minstens een vingerbreedte bokant die wenkbroulyn wees en mag nie in die gesig hang nie; * Sodra hare aan die kraag raak, moet dit stewig gevleg of vasgemaak word; * Haarkleur moet te alle tye natuurlik vertoon. Geen onnatuurlike strepe word toegelaat nie; * Geen los slierte wat langs die gesig en in die oë hang, word toegelaat nie; * Verlengstukke en pruike is onderhewig aan dieselfde reëls as vir hare; * Haarstyle mag nie volgens ‘n modegier wees en onnodige aandag trek nie.
|
Seuns * Baarde en snorbaarde word nie toegelaat nie – seuns moet soggens skoongeskeer wees; * Hare moet kort en netjies geknip wees; * Hare mag nie aan die ore raak wanneer dit regaf gekam word nie; * Kuiwe moet minstens een vingerbreedte bokant die wenkbroulyn wees, en mag nie in die gesig hang nie; * Wangbaarde mag net tot by die middel van die oor strek; * Hare moet agter reëlmatig opgesny word; * Haarkleur moet te alle tye natuurlik vertoon. Geen onnatuurlike strepe word toegelaat nie; * Wenkbroue mag nie onnatuurlik geskeer word nie.
|
Nasionale UP-wiskundeolimpiade uitslae
|
Baie geluk aan vier van ons Jan van Riebeeckers wat op nasionale vlak puik presteer het in vanjaar se UP-wiskundeolimpiade!
|
Albert Matthee (gr. 10) behaal ’ vierde plek, Peet Karstens (gr.9) behaal ook ’n vierde plek en Gerard Snijders en Johann Jordaan (gr.10) behaal ’n gesamentlike derde plek.
|
Ons is baie trots op julle, manne - dit wil gedoen wees!
|
Baie sterkte aan Braam Greeff, Ella Basson, Caylee Ray, Emma Ray, Edmund van Rooyen en Joshua Harvey wat eerskomende Maandag hul Cambridge-eksamen in Wiskunde aflê! Ons weet jul harde werk sal met mooi uitslae beloon word!
|
Ons bied vir die eerte keer ’n aanlyn veiling tussen 2 en 4 November 2021 aan!
|
Kom deel in die opwinding van hierdie geleentheid en bie vanuit die gemak van jou eie huis ÓF kom sluit by ons aan in die Welgemeend vir ’n kaas-en-wynfunksie terwyl ons saam aanlyn bie en meeding - vir die laaste 4 uur van die aksie!
|
Die afslaer, MC du Toit, sal die veilingverrigtinge bestuur tydens die Welgemeend afsluitingsfunksie.
|
Die aanlyn platform open op 2 November 2021 om 12:00.
|
Kaartjiekoste vir die funksie by Welgemeend beloop R350/persoon en sluit heerlike verversings en wonderlike wyn in.
|
Bespreek u kaartjies by karien.zulch@janvanriebeeck.co.za en kliek gerus hier vir die advertensie. Ons maak staat op die hele Jan van Riebeeck-familie om ons in hierdie groot fondsinsamelingsprojek te ondersteun!
|
JAN VAN RIEBEECKER, WIL JY ’n BIETJIE DANS?
|
Dit is met ’n groot lekkerte dat die graad 10-groep alle graad 8-11-leerders uitnooi na ’n sokkie wat hulle eerste fondsinsamelingpoging is vir die matriekafskeid van 2022 is.
|
Tema: Aandmark in die Gat!
|
DATUM: Woensdag, 3 November
|
Kaartjies: R50 kospakkies teen R50 is ook beskikbaar. Betaal via Karri.
|
Kom SOKKIE saam. Dit gaan lekker wees... kry jou dansskoene, vryf hul blink en kom draai en swaai!
|
ALUMNI-WYNSKOU BY WELGEMEEND
|
Kom proe en geniet heerlike wyne by ons alumni-wynskou more! Kliek hier vir die besonderhede. Koop gerus u kaartjies byhttps://www.quicket.co.za/events/152498-wynskou-by-welgemeend-herehuis/?fbclid=IwAR2OadyaOHcnbrV44nSl8rSOUROubOwbrQT_k0p6M3SBo1P_i7QjuMGikVk#/
|
Kom geniet ’n heerlike Kersfeesmaal met musiek deur Niël Rademan op 14 en 21 November! Kliek gerus hier vir al die inligting.
|
Die graad 12's se praktiese eksamens vir die NSS-eksamen skop eerskomende Dinsdag (RTT) en Woensdag (IT) af. Alle ander graad 12's gaan voort met hul akademiese uitnemendheidprogram.
|
Graad 12's ontvang Donderdag, 21 Oktober hul toelatingsbriewe sowel as finale reëlings vir die NSS-eksamen. Matrieks moet persoonlik die brief in ontvangs neem en daarvoor teken - sonder die brief het hul nie toegang tot die eksamenlokaal nie.
|
Ons wens ons graad 12's alle sterkte toe met hierdie belangrike eksamen. Ons vertrou dat hul harde werk oor jare met goeie uitslae beloon sal word.
|
Graad 8 -11 akademiese aangeleenthede
|
Kwartaal 3-rapporte word Maandag per e-pos aan ouers en voogde gestuur. Moedig u kind aan om, waar hulle in vakke onderpresteer het, die intervensieklasse by te woon om te verseker dat hulle aan die einde van die jaar hul beste lewer.
|
Die eksamenrooster kan eers beskikbaar gestel word nadat ons die finale promosiedatums vanaf die WKOD ontvang het. Leerders kan egter solank begin voorberei omdat alle vakke aan die einde van die jaar getoets sal word.
|
Kayla Smit en Lené Vorster is vanaf hierdie kwartaal in beheer van die akademiese portefeulje. Met die November-eksamen om die draai, wil hul graag alle Jan van Riebeeckers aanmoedig om gebruik te maak van ons leerdertutorprogram.
|
Ons somersportprogram het die week afgeskop. Kliek gerus hier om seker te maak van die tye.
|
Alle Jan van Riebeeckers moet aan ten minste een somersport deelneem. Ons maak staat op almal se samewerking!
|
Ons bied volgende Donderdag, 21 Oktober ons eerste swemgala vir die seisoen aan. Skole wat genooi is, is Hoërskool Vishoek, die Duitse Skool en Reddam Atlantic.
|
Sterkte, Jan van Riebeeckers!
|
Ons sien daarna uit om volgende Saterdag, 23 Oktober aan die Twizza Super Schools- reeks in die Groenpunt Stadion deel te neem.
|
30 JvR-topatlete gaan aan die byeenkoms deelneem - sterkte!
|
Ons is baie trots op Scarlett van der Merwe wat gedurende die Oktober-vakansie aan die Suid-Afrikaanse Lewensreddingkampioenskappe in Port Elizabeth deelgeneem het en ’n silwer medalje in die Long Run (1200m-wedloop) in die o/14-afdeling behaal het.
|
Dis ’n puik prestasie! Wel gedaan, Scarlett!
|
Scarlett was ook deel van die Pool of Still-lewensreddingspan wat deelgeneem het in swembadlewensreddingafdeling. Kianna-Gro Liversage was ook deel van dié span. Kianna-Gro het die finale uitdun vir flags gehaal en vyfde geëindig. Mooi so!
|
Maandag se oefening begin reeds om 14:15 en eindig om 15:00. Ons speel Maandag vriendskaplike wedstryde teen Hoërskool Dirkie Uys - sterkte!
|
Woensdag se oefening gaan voort soos normaalweg:14:30 - 15:30.
|
Hokkie-oefeninge vind hierdie kwartaal Dinsdaemiddae om 15:00 tot 16:30 by St. Cyprians se astro plaas en almal is welkom! Ons stap om 14:45 saam na die astro en is weer om 16:30 terug by die skool.
|
Meisieshokkie: Sosiale hokkie vir beginners en ervare spelers saam met die St. Cyprians-afrigters word ook op Woensdaeaande by St. Cyprians aangebied.
|
Enige graad 8-leerder wat nog glad nie gespeel het nie, is tussen 17:00 en 18:00 welkom en enige graad 9- tot 11-leerder kan tussen 18:00 en 19:00 kom speel.
|
Ons het nog twee aande oor van die In Shape Hokkie Akademie-toernooi te Rhenish (op Woensdae) - sterkte aan die deelnemers! Daar is ook twee plekke beskikbaar vir nog twee meisies wat wil inskryf. Gesels gerus met me. Meyer.
|
Baie geluk aan Francois Potgieter wat sy eerste Cape Town Cycle Tour suksesvol in 4:54 min. voltooi het. Ons is trots op jou!
|
Jan van Riebeeck behaal die 3de plek in Suid-Afrika in die 2021-ATKV-Tienertoneelkompetisie!
|
Baie geluk aan die regisseur, Kanya Viljoen, ons hoof van drama, me. Sanet Taljaard en die hele produksiespan met hierdie uitsonderlike prestasie!
|
Elzaan Daniëls het boonop die toekenning ontvang vir die mees belowende aktrise in die kompetisie en Darren Cloete is aangewys as die beste ondersteunende akteur - dit wil gedoen wees!
|
Fantasties, Jan van Riebeeckers! Ons bars van die trots!
|
Die orkeslede moet Maandagoggend om 7:00 op hul pos wees!
|
Die koor oefen Dinsdagoggend 7:00 en dit is baie belangrik dat almal bywoon, ter voorbereiding van Kô, laat ons Sing!
|
Ons toneelgroep tree die naweek by die Suidoosterfees op en hul hou eerskomende Maandagaand, 18 Oktober om 18:00 in die skoolsaal, hul laaste toneelaand van die jaar.
|
Indien u nog nie die wenproduksie, Om teen treine te skree, gekyk het nie, is dit die laaste kans!
|
En nog ’n verrassing! Twee ander groepe in die skool tree ook op met die tema: "Daardie pop hou jou dop" en"Onsienbare dinge".
|
Kaartjies is teen R40 op Karri of by die deure beskikbaar. Moenie die geleentheid misloop nie!
|
Kô, laat ons Sing: Dinsdagaand, 19 Oktober
|
Kom geniet 'n aand propvol sang en musiek wat treffers gaan insluit van toeka tot nou!
|
Ons splinternuwe musiekteaterklub, die skoolkoor, asook die JvR-orkes gaan die verhoog laat lewe en sal verseker dat die gehoor se voete behoorlik sal jeuk!
|
Kaartjies is teen R60 op Quicket beskikbaar. Ons sien uit na ’n trefferaand!
|
Kaapse Afrikaanse Eisteddfod: Kunsuitslae
|
Baie geluk aan ons Jan van Riebeeckers wat puik presteer het in die kunsafdeling van vanjaar se eisteddfod!
|
Kistin Uys: Gr. 11 - Lof (88%)
|
Aimee Els: Gr. 10 - Twee goue diplomas (97% en 96%)
|
Monique Liebenberg: Gr. 10 - Twee goue diplomas (98% en 97%) en sy wen ’n silwer medalje
|
Mari van der Merwe: Gr. 11 - Twee goue diplomas (98% en 98%) en sy wen n silwer en ’n goue medalje.
|
Ons is baie trots op julle!
|
Ons inskrywing in die Paul Roos-Filmit-kompetisie, 3 Shades of Agony, is Sima Ngwenya in graad 11 se breinkind.
|
JvR se inskrywing is as een van die topinskrywings geïdentifiseer en Sima het die wonderlike geleentheid gehad om d.m.v. twee Zoom-vergaderings met bekendes in die filmbedryf haar storielyn en konsepte te verfyn.
|
Die storie reflekteer op die uitdagende omstandighede van drie tieners... en dat dit okei is om nie okei te wees nie!
|
Daniël Grobbelaar is die regisseur, met Sima as mede regisseur. Lukas Wildenboer, Mickayla Japhta en Lasty Gomez vertolk rolle terwyl Daniël en Kayla Smit die hele filmproses redigeer. \
|
Baie sterkte aan Sima en haar span - ons is baie trots op julle!
|
Die klerewinkel sal volgende week Maandag en Woensdag vanaf 12:30 tot 14:30 oop wees.
|
Die lyste van leerders wat in hierdie stadium vir balkies kwalifiseer, sal op Karri geplaas word en dit kan daar betaal word.
|
Ek hoop om baie van u vanmiddag by die tenniswedstryd teen mnr. Naas Beets, hoof van Laerskool Jan van Riebeeck, te sien. Ek sal my bes doen om ons naam hoog te hou...
|
VERJAARDAE: 16 TOT 22 OKTOBER 2021
|
Baie geluk aan al ons Jan van Riebeeckers wat die volgende week verjaar!
|
ONTMOET ONS ONDERWYSERS: ME. LIN OLIVIER
|
Me. Lin Olivier is gebore en getoë in Namibië en matrikuleer in Mariental. Na skool gaan studeer sy in Pretoria en voltooi ’n ND in Voedsel- en Kledingtegnologie en ’n ND in Hoër Onderwys, waarna sy begin klasgee by die Tswane Universiteit van Tegnologie.
|
Nadat sy getrou het en hul gesin uitgebrei het, werk sy as restaurantbestuurder van Postmasburg Hotel. Hierna bedryf sy vir vier jaar haar eie restaurant in Postmasburg. Sy span haar vlerke en werk vanaf 1996 by die Kruger Wildtuin voordat sy in 2000 die onderwys by ’n privaatskool betree.
|
Sy werk as betuurder van ’n Spar-franchise vanaf 2002-2004, en begin skoolhou by Hoërskool Mafikeng in Huishoudkunde, Gasvryheidstudies en Tegnologie.
|
Sy sluit haar in 2008 by die Jan van Riebeeck-personeel aan vir Gasvryheidstudies, Lewensoriëntering en Tegnologie. Sy is ook organiseerder van vele van die JvR-funksies en glansgeleenthede.
|
|
|
|
|
|
|
|