Nuusbrief-header
22 Oktober 2021
facebook instagram custom 
Geagte Ouers / Voogde

Die eerste skoolhoof van Hoërskool Jan van Riebeeck was mnr. JJ Jordaan, oupa van me. Jeanne Potgieter, wat na 20 jaar se diens by ons aan die einde van die jaar aftree.

Op die eerste skooldag, 25 Januarie 1926, is 42 leerlinge teenwoordig. Daar is slegs twee onderwysers en geen speelplek vir leerlinge, biblioteek, laboratorium of personeelkamer nie. Harde werk lê voor, maar met toewyding, geloof en inspanning asook die lojaliteit van ’n gemeenskap word die grondslag vir ’n roemryke skool gelê.

Van ’n klein begin, groei HsJvR oor dekades – byna 100 jaar later – na 1926 tot ’n baken van uitnemendeheid. Ons het ‘n lang en trotse geskiedenis van groot prestasies – op akademiese, kultuur en sportgebied. Ons leerders onderskei hulself op die hoogste vlakke in die stad, provinsie en die land.

Mnr. Jordaan beskryf in sy dagboek sy taak as die eerste skoolhoof van hierdie roemryke skool as ’n "allerskoonste taak".
En hy verklaar dan: "Ons leuse is, Wees uself! Ons eerste taak is om ons kinders te leer om orals en altyd aan hulself, hul taal en aan hul volk getrou te wees."

Ek is oortuig daarvan dat mnr. Jordaan die afgelope week by ons graad 12-prysuitdeling sou trots wees op JvR as hy saam met ons kon terugkyk op die 2021-jaar. Trots, omdat ek glo ons kinders en onderwysers dit wat hy en baie ander mense oor en vir hierdie skool gedroom het, uitleef.
Ons kinders is gelukkig en ons probeer ’n ruimte skep waar hul hulself kan wees.

Dit was wonderlik om by ons prysuitdeling te kon spog met ons Jan van Riebeeckers!

Ek kondig dan met groot trots ons nuwe hoofleiers vir 2021/2022 ook hier aan:

JAN VAN RIEBEECK-HOOFLEIER en VRL-VOORSITTER: Cavan McKeown

Hoofseun: Dawid Agenbag
Hoofdogter: Lené Vorster

Onderhoofseun: Obed Bam
Onderhoofdogter: Mila Fourie

Baie geluk en sterkte - ons is baie trots op julle!

SPESIALE TOEKENNINGS:
Die volgende leerders het Woensdagaand spesiale toekennings ontvang:

* Dux-leerder: Werner Voges (94% jaargemiddeld)
* Silwer medalje: Kayla Stoffberg (93%)
* Brons medalje: Sophia Pienaar (90%)

* Jan van Riebeecker van die jaar: Elzaan Daniels
* Nuusmaker van die jaar: Elzaan Daniels

* Grethe Ehlers-trofee (deursettingsvermoë): Merize Vlietstra
* Leierskap, karaktersterkte, integriteit, en diens: Francois Roux

* Sportnuusmaker van die jaar: Nadia van Antwerpen

* Kultuurnuusmaker van die jaar: ATKV-Tienertoneel
* Kultuurpersoon van die jaar: Elzaan Daniels

* Leierskaptrofee: Gregory Barends
* Leierskap- en VRL-trofee: Jana-Mari Beukes

Ons het vandag afskeid geneem van ons matrieks by die pragtige Witrokdaggeleentheid.
Dit was ook heerlik om die 2017-onderhoofleiers, Rigard van Rooyen en Julia Lloyd terug te verwelkom by hul alma mater.
Die seremonie was besonders en graadhoof, Ananda Visser, se treffende boodskap sal die matrieks bybly.

Matrieks, onthou die wyse woorde van Oliver Holmes: "Waar jy jou nou bevind is nie so belangrik nie; wat saak maak is waarheen jy op pad is!"
Ons hou styf duimvas vir jul eindeksamen wat Woensdag afskop - mooi wense!

PERSONEELSAKE
Baie geluk aan me. Janet Neuhoff wat more die knoop deurhaak met Adriaan.
Ons sien daarna uit om die nuwe mev. Lotriet volgende Donderdag dan weer by die skool terug te verwelkom!

DISSIPLINE EN VOORKOMS
Ek herinner dat skoolbaadjie verpligtend op Maandae is en dis ook verpligtend om ’n skooldas saam met die skoolbaadjie te dra.

Maak asseblief seker dat u kind ons haarreëls nakom, soos in die gedagskode aangedui (op ons webblad beskikbaar).

SLUITKASSIES VIR 2022
Daar is 48 sluitkassies (lockers) beskikbaar vir 2022. Die koste beloop R100.00 per kwartaal – vooruitbetaalbaar op KARRI voor 10 Januarie 2022.

Leerders wat belangstel om ’n sluitkassie te bespreek, moet asseblief hul name aan me. Nicky Hattingh in Finansies deurgee of ’n e-pos na nicky.hattingh@janvanriebeeck.co.za stuur. Die leerder se naam en sluitkassienommer moet asseblief aangedui word.

AKADEMIE
Gr. 8–11-eksamen
Die eksamen begin op Woensdag, 10 November en eindig Vrydag, 3 Desember. Die eksamenrooster sal volgende week beskikbaar wees.

Intervensieklasse vind plaas soos in Kwartaal 3. Leerders moet onthou om ’n dag voor die tyd ’n afspraak met die betrokke onderwyser te maak.

ESKOM-Ekspo ISF-uitslae
Ons is baie trots op Adrian Huysamen wat ’n goue medalje by die afgelope ESKOM Ekspo ISF (International Science Fair) vir sy projek oor boumateriaal vir lae-koste behuising verower het. Wel gedaan, Adrian!

ALGEMEEN
Tenniswedstryd tussen skoolhoofde
Die groot tenniswedstryd tussen my en mnr. Naas Beets (en ons ondersteuningspanne!) het verlede Vrydag hier op ons tennisbane plaasgevind - met mooie Tafelberg toe onder die mis.

Dankie aan almal wat hierdie lekker geesmiddag bygewoon het en deelgeneem het aan die fondsinsamelingprojek vir ons tennisfasiliteite.
Ons is ook dankbaar vir al die ouers wat ingespring het om met kosverkope te help!

En die WENNER van die dag: Hoërskool en Laerskool JvR-vriendskap, gees en trots! Loer gerus op ons Facebook-blad na die foto's.

JvR-veiling 2021
Ons bied vir die eerte keer ’n aanlyn veiling tussen 2 en 4 November 2021 aan!

Kom deel in die opwinding van hierdie geleentheid en bie vanuit die gemak van jou eie huis ÓF kom sluit by ons aan in die Welgemeend vir ’n kaas-en-wynfunksie terwyl ons saam aanlyn bie en meeding - vir die laaste 4 uur van die aksie!

Die afslaer, MC du Toit, sal die veilingverrigtinge bestuur tydens die Welgemeend afsluitingsfunksie.

Die aanlyn platform open op 2 November 2021 om 12:00.
Alle belangstellendes moet registreer by Sign up for a new account (bidpro.co.za) om te bie. Die veiling eindig op 4 November 2021 om 22:00.

Kaartjiekoste vir die funksie by Welgemeend beloop R350/persoon en sluit heerlike verversings en wonderlike wyn in.

Bespreek u kaartjies by karien.zulch@janvanriebeeck.co.za en kliek gerus hier vir die advertensie. Ons maak staat op die hele Jan van Riebeeck-familie om ons in hierdie groot fondsinsamelingsprojek te ondersteun!

Jan van Riebeecker, wil jy ’n bietjie dans?
Dit is met ’n groot lekkerte dat die graad 10-groep alle graad 8-11-leerders uitnooi na ’n sokkie wat hulle eerste fondsinsamelingpoging is vir die matriekafskeid van 2022 is.

Tema: Aandmark in die Gat!
DATUM: Woensdag, 3 November
TYD: 18:00 tot 21:00
DRAG: Deftig-informeel

Kaartjies: R50 kospakkies teen R50 is ook beskikbaar. Betaal via Karri.

Kom sokkie saam. Dit gaan lekker wees... kry jou dansskoene, vryf hul blink en kom draai en swaai!
Leerders wat graag ’n gas van buite ons skool wil saamnooi, moet asseblief kennis neem van die volgende belangrike skrywe. Kliek hier om die dokument af te laai.

Kersverse by Welgemeend
Kom geniet ’n heerlike Kersfeesmaal met musiek deur Niël Rademan op 14 en 21 November! Kliek gerus hier vir al die inligting.

KOSHUISSAKE
Die koshuis se Kersete met HART gevier!
"Jy het my geleer om hoflik te wees."
"Daar is iets wat ek altyd van jou sal onthou, jy respekteer almal en is lojaal."
"Dankie dat jy my altyd gehelp het en vriendelik was met my."

Diep, opregte boodskappe van dankbaarheid en seënwense is vandeesweek tydens die Kersete deur die graad 8's aan die graad 12's toegewens. Dit was voorwaar 'n aand van heerlike kos, kuier, gesels en pret saam met vriende.

'n Spesiale dankie aan almal wat die aand so spesiaal gemaak het - in die besonder me. Huibrecht Steyn wat voor stap!

Dankie, graad 8's, vir jul kreatiewe vermaak... dis beslis 'n aand wat ons nog lank gaan onthou.

MATRIEKRAAD
Kayla Smit en Lené Vorster is vanaf hierdie kwartaal in beheer van die akademiese portefeulje. Met die November-eksamen om die draai, wil hul graag alle Jan van Riebeeckers aanmoedig om gebruik te maak van ons leerdertutorprogram.

Skakel gerus met hul via e-pos by kayla.smit@janvanriebeeck.org en lene.vorster@janvanriebeeck.org om ’n tutor aan te vra vir enige spesifieke vak. Moenie hierdie wonderlike geleentheid deur jul vingers laat glip nie!

SPORTSAKE
Bergfietsry
Ons het die afgelope week ’n groot skenking ontvang van fietsryhempies en dit lyk baie mooi. Ons wil graag vir Yvette Vorster hiervoor bedank. Ons sien baie daarna uit om al die Jan van Riebeeckers in die donkerblou hempies te sien.

Atletiek
Ons is baie trots op Damian Bosch wat verlede Saterdag by Boland Atletiek se eerste Lenteligabyeenkoms in die Paarl 'n eerste plek in die 400m én 800m in die seuns o/18-afdeling losgehardloop het! Mooi so, Damian!

Ons eerste byeenkoms in byna twee jaar vind more plaas! Ons neem aan die Twizza Super Schools-reeks in Groepunt deel. Ag-en-twintig van ons leerders gaan teen die topskole in die Wes-Kaap deelneem.

Volgende Saterdag, 30 Oktober is ons in Moorreesburg waar ons aan Dirky Uys se Top 10-byeenkoms deelneem.

Sterkte aan al ons atlete - ons weet jul gaan ons trots maak!

Swem
Daar is nog twee gala-geleenthede:
Donderdag, 28 Oktober in Vishoek
Donderdag, 4 November by Grootte Schuur

Ons doen ’n beroep op al ons swemmers om in te skryf sodat ons van hierdie twee galas ’n sukses kan maak.

Tennis
Ons het Maandag, 18 Oktober heerlike tennis teen Moorreesburg gespeel. Die kompetisie was baie straf, maar Peet Karsten en Markus Smit kon tog daarin slaag om hul dubbelspel te wen.

Eerskomende Dinsdag, 26 Oktober speel ons dogters teen St. Cyprians. Ons wens hulle alle sterkte toe!

Tweekamp
Die volgende Jan van Riebeeckers het deelgeneem aan die WP-Liga Tweekampbyeenkams op 16 Oktober 2021:

Leerder
Punte
Kategorie
Mienke Herbst
2049.43
o/17-meisies
Albert Griesel
1898.24
o/15-seuns
Stephan Griesel
2047.69
o/17-seuns
Albert en Stephan het hul persoonlike beste uitslag vir die seisoen behaal. Mooi so!

KULTUURSAKE
Toneel
Ons Om teen treine te skree- toneelgroep het verlede Saterdag aan die Suidoosterfees-High School Drama Festival deelgeneem en Elzaan Daniels is as die beste aktrise aangewys!
Die kersie op die koek: sy het 'n verskyning in die TV-sepie 'Suidooster' losgeslaan! Baie geluk, Elzaan - jou toekoms blink!

Kultuuraande
Ons Toneelaand Maandag het 'n besondere kykie gebied in die baie talentvolle Jan van Riebeeckers se harde werk gedurende 2021.
Baie geluk aan al die Jan van Riebeeckers en ons hoof van drama, me. Taljaard, vir jul puik werk vanjaar!

Ons splinternuwe #JanMusiekteater, #Janorkes en ons #Jankoor het Disndagaand beïndruk met puik optredes! Van ons Welgemeend Musiekskool-leerders het ook kom saamsing - en die aand was van begin tot einde net 'n groot lékkerte! Kultuur léwe hier by JvR! Ons maak gou weer so!

Jan van Riebeeck se Welgemeend Skool vir Musiek het ook gisteraand by 'n spesiale afsluitingfunksie met agt van ons musiekleerders gespog.
Dié uitblinkers het die waarderende gehoor beïndruk met klavier, dwarsfluit, saksofoon, kitaar, trompet, viool en sang!

Dankie aan mnr. Geldenhuys en sy span wat verseker dat laer- en hoërskoolleerders én volwassenes van oraloor in Kaapstad by ons musiekskool topgehalte musiekonderrig kan ontvang.
Ons het baie opwindende planne vir 2022 - hou JvR dop!

KLEREWINKEL
Die klerewinkel is volgende week Dinsdag en Donderdag vanaf 12:30 tot 14:30 oop. Betaal asseblief via KARRI vir nuwe balkies. Leerders kan dit dan by me. Sanette van Loggerenberg gaan afhaal.

Baie dankie vir u getroue ondersteuning! Mooi naweek!

Vriendelike JvR-groete
Pieter Rademeyer
Skoolhoof

VERJAARDAE: 23 TOT 29 OKTOBER 2021
Baie geluk aan al ons Jan van Riebeeckers wat die volgende week verjaar!

24 OKTOBER
Aleisha King (8J)

25 OKTOBER
Memorie Ajuluchukwa (8H)

26 OKTOBER
Stef Mostert (10R)

ONTMOET ONS ONDERWYSERS: MNR. MEIRING OOSTHUIZEN
Mnr. Meiring Oosthuizen matrikuleer in 2001 aan die Hoerskool Punt in Mosselbaai. Daarna studeer hy aan die Noordwes Universiteit se Potchefstroom-kampus waar hy onder andere sy onderwyskwalifikasie behaal.
Hy het die voorreg gehad om by verskeie skole onderwys te gee voordat hy in 2018 by Hoërskool Jan van Riebeeck aangesluit het. Hy onderrig Wiskunde vir graad 8 tot 12.
Oosthuizen, M
facebook instagram custom 
MailPoet