|
|
|
|
|
|
Ons matrieks het Woensdag met die eerste Engelsvraestel hul eindeksamen amptelik afgeskop. Ons weet dit sal baie goed gaan met hierdie besondere groep leerders!
|
Dit was lekker om by verlede Vrydag se Witrokdag tien aanhalings met die matrieks te kon deel wat ek in my dagboek van 1999, toe ék in matriek was, neergeskryf het.
|
Dis alles woorde deur bekendes wat ek in daardie jaar raakgelees of raakgehoor het.
|
’n Mens vergeet soms om ’n bietjie stil te staan en hierdie soort waarhede in te drink.
|
22 jaar later tref dié woorde steeds - en die insigte bly iets waaraan ek my meer dikwels moet herinner... dalk is daar een of twee hiervan wat vandeesweek ook vir u iets beteken:
|
- DIE TOEKOMS: Waar jy jou nou bevind is nie so belangrik nie; wat saak maak, is waarheen jy op pad is. – Oliver Holmes
- TYD: Probeer ’n slag om in die eeu van snelheid mens te bly. Ook die slak het uiteindelik in die ark gekom. – Phil Bosman
- SUKSES/NEDERIGHEID: Al vlieg die voëltjies ook so hoog; hy moet nog altyd grond toe kom om sy kos te kom haal. – volkspreuk
- DEURSETTINGSVERMOë/DAAG JOUSELF UIT: Moenie sê dis bo my vuurmaakplek nie; maak jou vuurmaakplek hoër op! – Freda Linde
- LIEFDE: Die een belowe jou die son, die maan en die sterre – vind rus by die een wat die aarde vir jou anker! - Riana Scheepers
- SOSIAAL: Versterk jou lewe deur baie vriendskapsbande. Om lief te hê en liefgehê te word, is die grootste geluk van die lewe. – Susan Smith
- TELEURSTELLING: Een lewensreël geld deur die eeue: as een deur vir jou toegaan, gaan daar iewers ‘n ander een oop. – Andre Gide
- TAAL: Om jou een eie taal tot nut te gebruik, is ’n groter kuns as om sewe by te leer. - C.J. Langenhoven
- AS DINGE SKIELIK NIE SIN MAAK NIE: Die verstaanbaarste ding van die wêreld is dat dit onverstaanbaar is. – Albert Einstein
- GOUE LEWENSREëL: En help my om aan ander die ruimte te gee wat ek vir myself opeis. – Amanda Strydom (Trippe Trappe Trone)
Daar is 48 sluitkassies (lockers) beskikbaar vir 2022. Die koste beloop R100.00 per kwartaal – vooruitbetaalbaar op KARRI voor 10 Januarie 2022.
|
Leerders wat belangstel om ’n sluitkassie te bespreek, moet asseblief hul name aan me. Nicky Hattingh in Finansies deurgee of ’n e-pos na nicky.hattingh@janvanriebeeck.co.za stuur. Die leerder se naam en sluitkassienommer moet asseblief aangedui word.
|
Die eksamen begin op Woensdag, 10 November en eindig Vrydag, 3 Desember. Die eksamenrooster is aan die leerders uitgedeel, maar u kan dit ook hier aflaai.
|
Intervensieklasse vind plaas soos in Kwartaal 3. Leerders moet onthou om ’n dag voor die tyd ’n afspraak met die betrokke onderwyser te maak.
|
KWARTAAL 3: TOP 20-AKADEMIESE PRESTEERDERS
|
Baie geluk aan die volgende Top 20-akademiese presteerders na afloop van die Kwartaal 3-assesserings:
|
1. Lara-Lisa Senekal - 95,11%
|
1. Mari Swanepoel - 95,67%
|
3. Layla Erasmus - 91,67%
|
19. Marcelle van der Merwe
|
20. Danielle Brand - 84,89%
|
1. Adrian Huysamen - 95,86%
|
3. Claudia Stipp - 91,86%
|
3. Stefan Turkstra - 91,86%
|
2. Cavan McKeown - 93,71%
|
Mooi so, Jan van Riebeeckers - Ons is baie trots op julle!
|
Jan van Riebeecker, wil jy ’n bietjie dans?
|
Dit is met ’n groot lekkerte dat die graad 10-groep alle graad 8-11-leerders uitnooi na ’n sokkie wat hulle eerste fondsinsamelingpoging is vir die matriekafskeid van 2022 is. Kaartjies is nog slegs tot eerskomende Maandag beskikbaar. Geen kaartjies sal Dinsdag of Woensdag verkoop word nie.
|
Tema: Aandmark in die Gat!
|
DATUM: Woensdag, 3 November
|
Kaartjies: R50 kospakkies teen R50 is ook beskikbaar. Betaal via Karri.
|
Kom sokkie saam. Dit gaan lekker wees... kry jou dansskoene, vryf hul blink en kom draai en swaai!
|
Leerders wat graag ’n gas van buite ons skool wil saamnooi, moet asseblief kennis neem van die volgende belangrike skrywe. Kliek hier om die dokument af te laai.
|
Ons is baie opgewonde oor ons eerste aanlyn veiling wat eerskomende Woensdag, 3 November om 8:00 afskop!
|
Ons fokus op ondervindings en mooi dinge wat die grendeltydperk se klou afskop.
|
Ons het onder andere ’n groot jagondervinding naby Vryburg, twee nagte by Tswalu en ’n ete by Klein Jan, naweekwegbreekaanbiedinge in die Karoo, Tuinroete en Wynlande, pragtige kuns en natuurlik wyn!
|
Die laaste vier uur van die aanlyn veiling gaan gepaard met ’n afsluitingsfunksie in Welgemeend. Kom kuier saam en bie vanaf jou foon teen almal elders in die kuberruim.
|
Ons maak staat op die hele Jan van Riebeeck-familie (en u vriende en kennisse!) om ons in hierdie groot fondsinsamelingsprojek te ondersteun.
|
Kom geniet ’n heerlike Kersfeesmaal met musiek deur Niël Rademan op 14 en 21 November! Kliek gerus hier vir al die inligting.
|
Die graad 11's word 'gekroon'!
|
"Die koning is dood, lank lewe die koning!"
|
Die einde van die jaar kruip nader en dit bring weer veranderinge mee.
|
Die graad 11's het letterlik Maandag hul ereplek as seniors van die skool ingeneem.
|
Die graad 11's mag voortaan hul pouses voor Welgemeend, met 'n asemrowende uitsig oor Tafelberg, deurbring. Daarbenewens het hul ook die voorreg om tydens saalperiode op die galery te sit.
|
Met hierdie voorregte kom ook nuwe verantwoordelikhede, Graad 11's - ons weet dat jul ’n groep is waarna daar opgekyk kan word. Voorspoed met die nuwe uitdagings!
|
ROG en SOP in 2022 weer onder een dak: koshuistradisie voortgesit!
|
“Die Roggies en Soppies het saamgesmelt. Ons staan saam, ons staan vas, ons is een."
|
Ons twee koshuise het die week weer ewige trou aan mekaar beloof tydens Huis Jordaan en Huis van der Merwe se tradisionele RogSop-troue.
|
Die Jan van Riebeeckers het Pienk Oktober hierdie week ondersteun met pienk strikke in die hare en op leerders se baadjies en dié veldtogweek het vandag met 'n lekker pienk-sivviedag geëindig!
|
Dankie aan al ons leerders wat ook sanitêre produkte geskenk het.
|
Kayla Smit en Lené Vorster is vanaf hierdie kwartaal in beheer van die akademiese portefeulje. Met die November-eksamen om die draai, wil hul graag alle Jan van Riebeeckers aanmoedig om gebruik te maak van ons leerdertutorprogram.
|
Die Hokkietoernooi die afgelope drie weke by Rhenish is hierdie week uitstekend afgesluit - dankie aan die spelers vir jul deelname.
|
Ons sien baie uit na nog ’n toernooi saam met In Shape Academy by Rhenish in Januarie 2022.
|
Die laaste oefening vir die kwartaal vind eerskomende Dinsdag, 2 November vanaf 15:00 tot 16:30 by die St. Cyprians-astro plaas. Kom oefen vir oulaas saam met me. Du Plessis!
|
Ons het verlede naweek heerlike atletiek op die Groenpunt-stadion beleef.
|
30 van ons Jan van Riebeeckers het hier aan die eerste byeenkoms van die Super Schools-atletiekreeks deelgeneem. 20 Top Wes-Kaapskole neem aan die reeks deel.
|
Die hoogtepunt was ongetwyfeld toe ons seunsaflosspan die tweede plek kon loshardloop - hoendervleisoomblikke!
|
Damian Bosch het 'n pragtige 2de plek behaal in die seuns o/17-400m met ’n tyd van 50,93. Scarlett van der Merwe kon daarin slaag om 4de te eindig in die dogters 0/15- 1500m hoewel sy is eintlik nog o/14 is.
|
Mari Swanepoel het 5de in die dogters o/17-3000m geëindig, hoewel sy ook nog o/15 15 is.
|
Baie geluk aan al die atlete - ons is veral trots op die goeie deelname! Na afloop van dié eerste byeenkoms is JvR in die 11de posisie vir gesamentlike dogters- en seunstotale.
|
Damian Bosch neem more aan die Puma School of Speed in die Paarl deel. Sterkte, Damian!
|
Die res van ons atlete gaan in Moorreesburg aan Dirkie Uys se Top 10-byeenkoms deelneem. Ons sien uit na mooi atletiek!
|
Die swemmers het gister in Vishoek gaan deelneem en dit het baie goed gegaan.
|
Ons dogters het algeheel gesamentlik in die tweede plek geëndig en ons seuns was vyfde.
|
Eerste plekke is behaal deur Stef Mostert, Christian Viljoen en Kianna-Gro Liversage. Kianna-Gro het ook tweede geëndig in die o/19-100m vryslagope.
|
Baie geluk aan al die swemmers en dankie aan almal vir jul getroue deelname om te verseker dat JvR goed verteenwoordig is.
|
ATKV-DigiToneelkompetisie
|
Ons Elzaan Daniels is die NASIONALE WENNER van die ATKV-DigiToneelkompetisie 2021! Die Top 8-skoleakteurs in die land het sake uitgespook en is weekliks op Via TV se Gekies vir die Kollig aan die publiek voorgestel.
|
Hiérdie Jan van Riebeecker gaan nog die land se verhoë en televisieskerms aan die brand speel - hou hierdie talentvolle aktrise en skrywer dop!
|
Ons bars van trots, Elzaan!
|
Claudia Stipp presteer in Talent Africa-kompetisie
|
Nadat Claudia Stipp in die provinsiale streekskompetisie suksesvol was, het sy na die nasionale finaal van Talent Africa se kompetisie deurgedring.
|
Daar het sy met 3 sangnommers, te wete 2 uit Broadway-musiekblyspele en een populêre lied, deelgeneem, en het sy 2 goue medaljes en 'n silwer onderskeidelik verwerf!
|
Sy kry dus nou die geleentheid om Suid-Afrika te verteenwoordig in 'n internasionale kompetisie. Baie geluk, Claudia!
|
Kaapse Afrikaanse Eisteddfod: Sang
|
Ons wens vir Phillip en Mienke Herbst baie geluk dat hulle goed gevaar het in die sangafdeling van die Kaapse Afrkaanse Eisteddfod.
|
Hulle is albei silwermedaljewenners vanjaar: Mienke in die afdeling: kunslied (graad 9) en Phillip in die ouderdomsgroep graad 10 tot 11. Mooi so!
|
Die takopleiding vir ons nuwe vereniging vind eerskomende Dinsdag, 2 November plaas.
|
Die opleiding begin stiptelik om 14:30 en sal duur tot 15:30 in me. Schwartz se klas. Leerders van gr. 8 tot 11 wat belangstel om as addisionele lede in die takbestuur te dien, moet hul name by me. Schwartz gaan opgee.
|
Baie sterkte aan ons Jan van Riebeeckers wat volgende Vrydag hul drama-eksamen by die Bordienghuisteater te Wellington aflê - ons weet dit sal baie goed gaan!
|
Die klerewinkel is volgende week Woensdag en Donderdag vanaf 13:00 tot 14:30 oop.
|
Geniet die langer naweek. Mooi wense!
|
VERJAARDAE: 30 OKTOBER TOT 5 NOVEMBER 2021
|
Baie geluk aan al ons Jan van Riebeeckers wat die volgende week verjaar!
|
Scarlett van der Merwe (8R)
|
ONTMOET ONS ONDERWYSERS: ME. JEANNE POTGIETER
|
Me. Jeanne Potgieter is sedert 2002 aan Hoërskool Jan van Riebeeck verbonde as Engels EAT-onderwyseres, maar haar verbintenis met die skool strek veel verder. Haar Oupa, J.J. Jordaan, was die eerste skoolhoof van die skool en haar pa was ook later jare prinsipaal van Hoërskool Jan van Riebeeck.
|
Me. Potgieter het tale (Afrikaans-Nederlands, Engels, Duits) aan die US studeer en ook twee-derdes van ’n Honneurs in Sielkunde aan Unisa voltooi!
|
Sy het een jaar as vertaler by die RGN in Pretoria oorleef, asook drie jaar as administratiewe beampte by die Administrasieraad in Port Elizabeth, waarna sy tot die gevolgtrekking gekom dat kantoorwerk nie vir haar is nie, en met groot vreugde na die onderwysberoep teruggekeer.
|
Me. Potgieter tree aan die einde van die jaar by JvR af, maar sal in Desember nog eers vir oulaas as senior nasiener die Engelsmatriekvraestelle in die provinsie nasien.
|
|
|
|
|
|
|