|
|
|
|
|
|
Nog ’n bedrywige Jan van Riebeeck-week is agter die rug en ek bly dankbaar om te kan sien hoe goed dit by die skool gaan. Ons leerders werk hard in die klaskamer en doen hul ding op die sportveld en op die kultuurverhoog.
|
Baie dankie aan almal wat getrou deelneem en trots is daarop om te doen wat van hul verwag word.
|
Dit klink of dit goed gaan met die matrieks se eindeksamen. Die eerste Wiskunde-vraestel is vandag geskryf en heelwat het ’n sug van verligting geslaak toe hul besef ons Wiskunde-departement het hul behoorlik hiervoor voorberei. Kom ons hou duimvas Maandag se tweede vraestel is ook billik. Hul het ook reeds die eerste Afrikaans- en Engelsvraestel geskyf en die groot glimlagte was bewys genoeg dat hul begrip- en taalkennis bobaas is. Die rooster begin vanaf volgende week so effe besiger raak. Ons dink aan julle, Matrieks!
|
Dit was besonder heerlik om Dinsdag 'n groot onderwysgees en puik motiveringspreker, mnr. Rian Truter, by ons saalbyeenkoms te verwelkom!
|
Rian is boonop 'n oudleerder én was adjunkhoof hier by JvR. Hy was later skoolhoof by DF Malan.
|
Mnr. Truter het die stories van Richard Turere, John Stephen Akhwari en Hunter Dogherty Adams met die leerders gedeel (gaan lees gerus oor dié groot inspirasies!) en met dié interessante staaltjies hul aangemoedig om tot diens van ander te wees.
|
Ons het ook Dinsdagaand met die siftingsproses begin vir die aanstel van ons nuwe departementshoof. Ons het 47 aansoekers vir die pos gehad en die kortlyskandidate se onderhoude vind volgende week plaas. Dankie aan die aanstellingskomitee vir hul baie tyd en waardevolle insette.
|
Die sokkie Woensdagaand was beslis ’n lekkerte vir ons leerders. Onder Algemeen is daar ’n bietjie terugvoer oor die aand. ’n Mens besef opnuut met so ’n geleentheid hoe nodig dit vir ons leerders is om gemaklik en sosiaal as maats saam pret te hê. Ons hoop nie die Covid-situasie sal veel langer in ons pad staan om sulke geleenthede vir ons leerders te skep nie.
|
Woensdag en gister het die veilingkoors hoog geloop! Ons eerste aanlyn veiling was ’n reusesukses en ek wil uit die diepte van my hart vir al ons ondersteuners bedank.
|
Die veiling is gisteraand met ’n kos-en-wyn-aand in Welgemeend afgesluit en oudleerder, Jade de Waal, het die allerheerlikste aandete bedien.
|
’n Groot dankie aan ons fondsbevorderaar, Karien Zulch, vir dié uitmuntende projek en haar harde werk om te verseker dat ons kwaliteitprodukte en ervarings kon aanbied. Ons sien nou reeds uit na volgende jaar!
|
Die week is met ’n groot hoogtepunt afgesluit toe die 1961-matriekgroep die skool vandag besoek het. Ons hoofleiers het dié oudleerders vroegoggend na ’n koppie tee op ’n begeleide toer deur die skool geneem, ek het die voorreg gehad om ’n heerlike middagete saam met hul in Welgemeend te geniet en toe het ons die skooldag met ’n spesiale saalbyeenkoms afgesluit.
|
Ons drie hoofleiers het hul hier verseker dat Jan van Riebeeck behoorlik op koers is en sal bly en dit was vir die Jan van Riebeeckers heerlik om na die staaltjies uit hul skooldae te luister. Die sing van die skool- en geeslied het vir ’n mooi en nostalgiese afsluiting gesorg.
|
Dit was werklik heerlik om hierdie oudleerders terug te verwelkom! Dankie ook aan Helena le Roux vir haar knap organisering van die verrigtinge. Ek hoor daar lê nog heelwat kuier vir dié groep skoolmaats voor die naweek - ons hoop hul geniet die samesyn en terugloop op hul skoolspore!
|
Ons is tussendeur die baie gebeure op die oomblik ook hard aan die beplan vir die 2022-skooljaar en ons sal van volgende week af weekliks ’n paar nuwe idees, nuwe aanstellings, interne skuiwe en veranderinge en inisiatiewe met u deel.
|
Ons sien baie daarna uit om Maandagaand ons nuwe graad 8-leerders vir die inligtingsessie hier te ontvang. Ek herinner ook aan die begrotingsvergadering volgende Donderdag, 11 November, om 18:00 in die skoolsaal.
|
Mnr. Charel Bruwer sê vanmiddag in die saalbyeenkoms die volgende treffende woorde in sy toesprakie aan die leerders: "Sukses is nooit finaal nie... en mislukking is nie fataal nie." Lekker woorde om aan te kou so in die pylvak van 2021.
|
Kom ons herinner ons daaraan dat ons volgende jaar harder kan probeer om dinge wat nie so goed was nie, beter te maak. Hier aan die voet van Tafelberg gaan Hoërskool Jan van Riebeeck altyd bly streef na hoër hoogtes.
|
Daar is 48 sluitkassies (lockers) beskikbaar vir 2022. Die koste beloop R100.00 per kwartaal – vooruitbetaalbaar op KARRI voor 10 Januarie 2022.
|
Leerders wat belangstel om ’n sluitkassie te bespreek, moet asseblief hul name aan me. Nicky Hattingh in Finansies deurgee of ’n e-pos na nicky.hattingh@janvanriebeeck.co.za stuur. Die leerder se naam en sluitkassienommer moet asseblief aangedui word.
|
BIBLIOTEEKBOEKE MOET ASSEBLIEF TERUG
|
Leerders moet asseblief alle biblioteekboeke teen Dinsdag terug bring skool toe. Hou asseblief by die reëlings om sodoende onnodige boetes te vermy. Dankie vir jul samewerking!
|
Die eindeksamen vir graad 8–11 skop eerskomende Woensdag, 10 November af. Die skool kom daagliks om 12:10 uit en busse vertrek om 12:25. Die rooster kan weer hier afgelaai word. Neem kennis dat die skryftye vir graad 9-Tegnologie sowel as graad 10 en graad 11-RTT verander het.
|
Ouers/Voogde word daaraan herinner dat hul die eksamenhoof, me. Liza Serrao, dadelik moet kontak by liza.serrao@janvanriebeeck.co.za indien u kind die dag nie ’n eksamensessie kan bywoon nie. Ouers/Voogde moet ook so gou as moontlik ’n mediese sertifikaat by me. Eygelaar indien.
|
Leerders moet elke oggend tydens register hul handboeke van die vorige dag se eksamen inhandig. Leerders wat nie handboeke inhandig nie, sal vir die handboeke moet betaal.
|
As gevolg van COVID-protokolle, vra ons dat leerders nie skool bywoon op die dae wat hul nie eksamen skryf nie.
|
Vier Jan van Riebeeckers presteer in die ATKV-Afrikaans Olimpiade!
|
Peet Karsten behaal die derde plek in Suid-Afrika in die ATKV-Afrikaans Huistaalolimpiade vir graad 8- en 9-leerlinge!
|
Drie Jan van Riebeeckers behaal ook topposisies in die Wes-Kaap:
|
Al drie haal ook die nasionale Top 100-presteerderlys!
|
Ons is ongelooflik trots op julle, Jan van Riebeeckers!
|
Straatmarksokkie ’n groot sukses!
|
Wanneer daar vir die eerste keer in maande aangekondig word dat daar 'n sokkie gaan wees en jy kan vir jou "opdollie" in daardie nuwe uitrusting waarmee jy wil spog, dan gryp jy die geleentheid met beide hande aan!
|
Die Jan van Riebeeckers het hul Woensdagaand gate uit geniet! Dit was so lekker om die see van gesigte te sien straal. Die band van vriendskappe, omgee vir mekaar en aanvaarding van elke unieke individu was die heelaand tasbaar.
|
Die dekor van 'n straatmark met liggies het dit soos iets uit 'n fliek laat voel en bygedra tot die ontspanne atmosfeer.
|
Baie dankie aan elke ouer en gr.10-leerder vir julle harde werk met ons fondsinsameling. ’n Spesiale dankie aan graadhoof, me. Huibrecht Steyn, vir haar leiding hier - ons sien uit na ons volgende projekte!
|
Geluk aan die wenners van verskeie pryse - Daniël Grütter & Nicole Fourie, Guilia Nel en Toby de Ruiter. Dis beslis 'n aand waaroor nog lank gesels en geglimlag gaan word!
|
Kom geniet ’n heerlike Kersfeesmaal met musiek deur Niël Rademan op 14 en 21 November! Kliek gerus hier vir al die inligting.
|
Kayla Smit en Lené Vorster is vanaf hierdie kwartaal in beheer van die akademiese portefeulje. Met die November-eksamen om die draai, wil hul graag alle Jan van Riebeeckers aanmoedig om gebruik te maak van ons leerdertutorprogram.
|
Ons het verlede Saterdag aan Dirkie Uys se Top 10-atletiekbyeenkoms in Moorreesburg deelgeneem en mooi prestasies behaal.
|
Simonay Jacobs (graad 8) kon daarin slaag om die eerste plek in die o/14-100m te behaal. Gerard Snijders was tweede in die driesprong en Mari Swanepoel het ook twee tweede plekke behaal: vir die 800m en 1500m. Scarlett van der Merwe was ook tweede in die 1500m vir dogters o/14. Layla Erasmus was derde in die o15-hoogspringafdeling. Mooi so!
|
Damian Bosch het aan die Puma School of Speed in die Paarl deelgeneem. Hy kon daarin slaag om 'n tweede plek in die 400m los te hardloop.
|
Dié byeenkomste het dan ook ons atletiekseisoen afgeluit. Ons sien baie uit na die 2022-seisoen wat sommer vroeg in die jaar sal afskop.
|
Ons dogtersspan het Dinsdag teen Ct Cyprians dubbels gespeel en naelskraap 2-1 verloor, maar baie van die wedstryde het gelykoptellings opgelewer.
|
Die bergfietsryers het Dinsdag hul afsluitingsbraai by mnr. Phillip Grutter se huis gehou - dankie vir die gasvryheid! Mnr. Grutter het ook pryse vir Woensdag se vaardigheidskompetisie teen Herzlia geborg - nog ’n groot dankie hiervoor!
|
Elke ryer moes 12 vaardigheidstoetse voltooi, waarvoor hul dan bepunt is.
|
Jan van Riebeeck se span het bestaan uit Daniël Grutter, Daniël Strydom, Johann Jordaan, Johan Theunissen, Gerard Snijders, Liezel Snijders en Mari Swanepoel.
|
Liezel was die beste meisie op die dag en Daniël Grutter die naasbeste seun.
|
Jan van Riebeeck kon ook daarin slaag om die spanafdeling te wen - wel gedaan!
|
Die swemspan het Donderdag aan hul laaste gala vir die jaar by Groote Schuur deelgeneem - en dit was ook ons beste gala vir die jaar.
|
Die span was algeheel tweede met nie minder nie as agt eerste plekke op die dag.
|
Ons het opwindende graad 8- en 9-swemmers wat baie belowende dinge vir die toekoms voorspel. Ons is trots op julle!
|
Welgemeend Maand van Kuns-kunskompetisie 2021
|
Baie geluk aan die wenners van ons heel eerste 'Welgemeend Maand van Kuns' - kunskompetisie! Ons is baie trots op al die Jan van Riebeeckers wat mooi presteer het.
|
Dié gelukkige wenners in elke graad stap weg met R800-prysgeld vir hul wenpogings. Die naaswenners het elk R400-prysgeld ontvang.
|
Shané Rademeyer (naaswenner)
|
Helen Beukes (naaswenner)
|
Teneasha Oncke (naaswenner)
|
Baie geluk aan ons kunsleerders asook me. Vrey wat ons Jan van Riebeeckers tot hoër kunshoogtes inspireer!
|
Nasionale Drama-eksamen 2021
|
Jan van Riebeeck se eksterne dramaleerders lewer praatjies wat selfs die eksaminatrise inspireer! Sy't ’n traantjie weggepink. Die politici in die land kan maar kom kers opsteek...
|
Hul onvoorbereide paneelbesprekings laat die gehoor skater van al die kwinkslae; die konsertprogramme laat ons lag en huil.
|
Dankie vir so baie ouers wat hul kinders kom ondersteun het.
|
Oor tannie Helena het een leerder tydens die boekbespreking gesê: "Die tannie het my laat glo 'n boek roep my. En ek kon nie ophou lees nie!"
|
Dankie Alma Nel vir briljante leiding. Ons uitslae volg binne die volgende paar weke.
|
Ons is baie trots op al ons dramaleerders!
|
Ouers/Voogde wat graag iets by die klerewinkel wil koop, kan van volgende week af ’n afspraak met me. Sannette van Loggerenberg maak. Haar nommer is 084 690 2798. Stuur ook gerus ’n e-pos na sannette.loggerenberg@janvanriebeeck.co.za.
|
Ek vertrou dat ons leerders hierdie naweek die eksamenboeke sal nader trek - sterkte aan al ons leerders én hul ondersteuningspanne tuis!
|
VERJAARDAE: 6 TOT 12 NOVEMBER 2021
|
Baie geluk aan al ons Jan van Riebeeckers wat die volgende week verjaar!
|
Mcnishia Leeuskieter (12J)
|
ONTMOET ONS ONDERWYSERS: ME. ROOSMARYN SCHWARTZ
|
Vandat me. Roosmaryn Schwartz kan onthou, wou sy ‘n onderwyseres wees. Die afgelope 25 jaar was ‘n leerskool waar sy deel was van ‘n myners- en vissersgemeenskap, ‘n tegniese skool en ‘n kindersorgskool. As lid van verskeie bestuurspanne kon sy haar as leier ook vestig. Sy geniet dit ook om haar liefde vir die onderwys met kollegas te deel. Dit was baie opwindend om nasionaal namens die SAOU deel te vorm van ‘n CAPS/KABV-span. Verskeie werkswinkels, onder andere die jaarlikse LOK-simposium, maak ook deel uit van haar onderwysloopbaan. Om deel te wees van die Jan van Riebeeck familie is ‘n fees! Me. Schwartz stap voor as vakhoof vir Afrikaans en werk met baie passie hard daaraan om nuwe en baie opwindende projekte by die skool te begin!
|
|
|
|
|
|
|
|