Nuusbrief-header
12 November 2021
facebook instagram custom 
Geagte Ouers / Voogde

Eksamen
dit is kakofonie
wanneer jy bang verwilderd
kantel
deur die nag
tussen die bladsye
van hoofstuk vyf
se Klimatologie;
die lêboor van die wyfiesprinkaan
klop
haar eiers stelselmatig stoot
tot in die veilige vesting
van jou dop -
jy sien die dood
as Franse Revolusies bloedloos stol
sodat die lewensiklus
van die mielieboorwurm
in die hamerslae van jou kop
voltooiing vind

tot jy verkorrel
in die suiker van soet slaap - Annesu de Vos

Die eindeksamen vir die res van die skool het hierdie week in alle erns afgeskop en hier heers ’n rustige akademiese atmosfeer by die skool. Ek vertrou dat almal hard aan die werk is om goeie uitslae te verseker.

Jan van riebeeckers, onthou om tussendeur die leerwerk ook genoeg ontspanning, vars lug en ’n goeie nagrus in te kry. Kyk mooi na julself!

Skool- en Koshuisgelde 2022
Die 2022-skool- en koshuisgelde is tydens gisteraand se begrotingsvergadering goedgekeur.
Baie dankie aan die voorsitter van ons finansieskomitee, mnr. Izak Swanepoel, wat ’n Begroting vir Hernuwing aan die vergadering voorgelê het. Ons waardeer sy kundigheid en ondersteuning baie!

Dankie ook aan ons finansiële bestuurder, me. Nicky Hatting, vir haar baie harde werk om hierdie begroting suksesvol op te stel. Jou knap bestuur en aandag aan die fynere besonderhede word opreg waardeer!

Laai gerus die 2022-skoolgeldestruktuur hier af.

NUWE SKOOLKLERE VIR JvR!
Ek is baie opgewonde om aan te kondig dat ons volgende jaar ’n nuwe rigting met ons skooluniform inslaan - en dié nuwe drag word ingefaseer.

Geen huidige Jan van Riebeecker sal vir volgende jaar verplig wees om die nuwe skooldrag aan te skaf nie, maar al ons graad 8's sal vanaf 2022 die nuwe skooldrag dra. Ons is tans besig om hul bestellings te finaliseer.
Huidige leerders wat egter die nuwe drag wil aanskaf, sal vanaf Januarie 2022 dit ook kan doen.

Die seuns sal voortaan JvR-chino's (kort- en lank) met vlootblou kouse dra en die dogters sal ’n (geplooide) roomkleurige JvR-skoolrompie en -langbroek dra. Die dogters sal ook mooi diamantvormige kniekouse (bobby socks) dra.
Hierdie items sal slegs by die JvR-skoolwinkel aangeskaf kan word. Die pryslyste sal op die webblad beskikbaar wees.

Ons sien uit na die nuwe en vars voorkoms van ons Jan van Riebeeckers!

NUWE EREKLEURE
Ons het ook die erekleurevoorkoms hersien en daar sal voortaan ’n vlootblou-en-goud omboorsel op die erebaadjie vasgewerk word. Dit is soortgelyk aan die 2021-matriekraadbaadjies.
Matriekraadlede ontvang egter nie meer hierdie erekleure en ’n baadjie vir leierskap aan die begin van hul termyn nie. Slegs die drie hoofleiers sal voortaan ’n erekleurebaadjie ontvang indien hul ten tyde van die hoofleieraankondiging nie ’n erekleurebaadjie dra nie.

Alle leerders met erebaadjies moet asseblief vanaf eerkomende Maandag, 15 November, hul baadjies (met hul name op ’n papiertjie vassteek) by tannie Sannette van Loggerenberg inhandig.
Die koste beloop R240 (R150 vir arbeid en R90 vir die koord). Slegs kontant word aanvaar en dit moet betaal word wanneer die baadjie ingehandig word.

Alle baadjies se koorde moet voor die begin van die 2022-skooljaar vasgewerk wees. Baie dankie vir jul samewerking!

ONTMOET ONS NUWE ENGELSONDERWYSER: MNR. RENIER CLASSEN
Mnr. Renier Claassen is aangestel in die pos van me. Astrid Mauermann wat aan die einde van die jaar aftree.

Mnr. Claassen is gebore in die hartjie van Kaapstad en het later verhuis na die platteland. Hy matrikuleer in 2006 met ’n gemiddeld van 92% (met onderskeidings in ses vakke) aan die Hoërskool Hermanus en daarna studeer hy aan die Universiteit van Stellenbosch waar hy eers ’n regsgraad (BA Regte) verwerf. Sy hoofvakke sluit ook Engels en Filosofie in.

Hy besluit toe egter om van rigting te verander en die onderwys tydelik te betree. ’n Aanvanklik beplande een jaar in die Verre Ooste het ontvou in vyf, met die onvermydelike gevolg dat hy terugkeer na Suid-Afrika om sy nagraadse onderwyssertifikaat te voltooi. Hy slaag dié sertifikaat Cum Laude.

Mnr. Claassen sluit sy oorsese werkervaring as ’n senior Engelse taalonderwyser aan die ILA Vietnam Centre (Cambridge ESOL Platinum-sentrum) en toe as Head Teacher by die Guangdong International Baccalaureate World School in China af voordat hy in Julie vanjaar terugkeer Suid-Afrika toe.

Mnr. Claassen is lief vir die natuur en beoefen ’n verskeidenheid alternatiewe sportsoorte, en is ook n entoesiastiese musiekliefhebber. Sy agtergrond in regsgeleerdheid en filosofie het ook ’n sterk belangstelling in sosiale geregtigheid en debat geweek.
Hy is passievol in sy beroep en is opgewonde om by Jan van Riebeeck aan te sluit as Engels Huistaalonderwyser.

Baie welkom, mnr. Claassen! Ons is opgewonde dat u deel raak van ons span!

JvR-BUSVERVOER 2022
Daar is ’n netwerk van busroetes wat ons leerders daagliks veilig en gerieflik na en van die skool en na buitemuurse aktiwiteite vervoer - onthou: Jan van Riebeeck is nooit te ver nie!
Baie dankie aan Dewald en Theresa Lombard wat ’n puik diens lewer om ons leerders se veilige skool toe en huis toe te verseker - ons is baie dankbaar daarvoor!

Enige navrae omtrent ons busvervoer vir volgende jaar kan aan Dewald of Theresa gerig word:
Dewald Lombard: 0732650834 / e-pos: dewald@actdfin.co.za
Theresa Lombard: 0832444312 / e-pos: theresa@actdfin.co.za

Om aansoek te doen vir 2022, kliek gerus op die volgende skakel. U sal al die huidige stoppunte ook daar kan sien. Theresa sal u kontak met die verdere nodige inligting.

Noordelike Voorstede-aansoeke
https://forms.gle/3BLPesxw2Qi8KF9v7

Weskus/Tableview-aansoeke
https://forms.gle/j1GWdb7ZJsGwypyb8

Suidelike Voorstede-aansoeke
https://forms.gle/TqPeMxWuiwhN2EkW9

JAN VAN RIEBEECK-JAARBLAD 2021
’n Jaarboek is ’n uitstekende manier om ’n jaar in die lewe van JvR te dokumenteer en is daarom ook ’n waardevolle stuk geskiedenis, nie net vir die huidige Jan van Riebeeckers nie, maar ook vir die wat later hulle merk hier wil laat.

Ons publiseer vanjaar ’n volkleur glansblad (digitaal, met beperkte gedrukte kopieë) om gratis aan ons leerders te versprei. Daar sal ook eksemplare te koop aangebied word vir oudleerders en ander belangstellendes.

Indien u deel wil wees van die projek, wil ons u graag aanmoedig om dit te oorweeg om ’n bladsy in die boek te skenk, hetsy deur advertensiespasie te koop of bloot ’n bladsy te borg. Daar is verskeie borgopsies.

Laai gerus die borgvorm en inligtingstuk hier af. U kan betalings maak sodra u bevestig het watter borgopsie u verkies.

Baie dankie by voorbaat vir u ondersteuning - ons waardeer dit!

JvR-SWIMATHON: ONS LAASTE FONDSINSAMELINGSPROJEK VIR 2022
Ons laaste fondsinsamelingsprojek vir 2021 vind op Vrydag, 3 Desember, plaas en beloof om groot pret vir die hele gesin te wees. Skryf dit solank in u dagboeke neer. Meer inligting word vroeg volgende week aan u gestuur!

SLUITKASSIES VIR 2022
Daar is nog ’n paar sluitkassies (lockers) beskikbaar vir 2022. Die koste beloop R100.00 per kwartaal – vooruitbetaalbaar op KARRI voor 10 Januarie 2022.

Leerders wat belangstel om ’n sluitkassie te bespreek, moet asseblief hul name aan me. Nicky Hattingh in Finansies deurgee of ’n e-pos na nicky.hattingh@janvanriebeeck.co.za stuur. Die leerder se naam en sluitkassienommer moet asseblief aangedui word.

AKADEMIE
Gr. 8–11-eksamen
Ouers/Voogde word daaraan herinner dat hul die eksamenhoof, me. Liza Serrao, dadelik moet kontak by liza.serrao@janvanriebeeck.co.za indien u kind die dag nie ’n eksamensessie kan bywoon nie. Ouers/Voogde moet ook so gou as moontlik ’n mediese sertifikaat by me. Eygelaar indien.

Leerders moet elke oggend tydens register hul handboeke van die vorige dag se eksamen inhandig. Leerders wat nie handboeke inhandig nie, sal vir die handboeke moet betaal.

As gevolg van COVID-protokolle, vra ons dat leerders nie skool bywoon op die dae wat hul nie eksamen skryf nie.
Rig asseblief enige navrae in verband met die eksamen aan me. Serrao by liza.serrao@janvanriebeeck.co.za.

KOSHUIS
Ons koshuisouers en -leerders word versoek om die volgende belangrike 2022-dokumente noukeurig te bestudeer:
1. Koshuisinligtingstuk
2. Gedragskode
3. Covid-gebeurlikheidsplan

GRAADSAKE
Graad 12
Die graad 12's ontvang hul getuigskrifte op die laaste dag van hul eksamen.

Ons bied ook aan die graad 12's die opsie om ’n Engelse getuigskrif te ontvang.
Die professionele vertalingkoste hiervoor beloop R100 en betalings kan vanaf volgende week via Karri gedoen word indien u sou belangstel.

Graad 11
Matriektrui 2022
Graad 11-leerders kan vanaf eerskomende Maandag,15 November, matriektruie via Karri bestel. Die koste van die trui is R 320. U het die keuse om die volle bedrag eenmalig te betaal of in vier gelyke bedrae van R80.00. Bestelling sluit 30 November.

Daar is ook ’n opsie om ’n trui te borg vir diegene wat belangstel – stel asseblief vir me. Serrao per e-pos (liza.serrao@janvanriebeeck.co.za) in kennis indien u ’n spesifieke leerder in gedagte het.

Om te verseker dat die matriektruie betyds afgelewer word, kan geen laatbestellings ongelukkig aanvaar word nie.

SPORTSAKE
Atletiek
Ons is baie trots op Damian Bosch wat verlede naweek tydens die Boland- interprovinsiale byeenkoms in die Paarl ’n goue medalje verower het in die 400m- én 800m-wedloop vir seuns onder 18.

Damian se 400m-tyd (50,13) is die tweede vinnigste tyd in Suid-Afrika tot dusver dié voorseisoen. Baie geluk, Damian!

Swem
Swemmers wat graag van ’n bietjie eksamenstres ontslae wil raak, kan gerus Maandae en Woensdae direk na skool by die JvR-swembad aanmeld vir ’n goeie oefensessie. Almal is baie welkom!

KULTUURSAKE
ATKV-Monoloogbundel
Drie Jan van Riebeeckers se nuutgeskrewe toneeltekste is in die 2021-uitgawe van die ATKV-monoloogbundel ingesluit! Die beste tekste deur aspirant-skooldramaturge in Suid-Afrika is beoordeel en alle werke wat bo 80% behaal het, is ingesluit.

Ons Elzaan Daniels se teks het Cum Laude (bo 90%) behaal. Elzaan pronk ook op die voorblad!
Gulia Nel en Merize Vlietstra spog ook met hul monoloë in dié publikasie.

Lees gerus vanjaar se beste tekste hier: https://indd.adobe.com/.../9b75255e-9f12-40c1-a709...
Ons is baie trots op julle, Jan van Riebeeckers!

Gesogte kunsbeurs vir ’n Jan van Riebeecker
Ons is baie trots op ons Nikolaas Bergh in graad 10 wat die trotse ontvanger is van die gesogte Frank Joubert-beurs van die bekende Peter Clarke Kunssentrum.
Mooi so, Nikolaas - jy is 'n ware ambassadeur vir dié sentrum én JvR!

KLEREWINKEL
Ouers/Voogde wat graag iets by die klerewinkel wil koop, kan ’n afspraak met me. Sannette van Loggerenberg maak. Haar nommer is 084 690 2798.
Stuur ook gerus ’n e-pos na sannette.loggerenberg@janvanriebeeck.co.za.

Baie dankie aan almal wat saam met ons so positief en opgewonde is oor heerlike verwikkelinge hier by die skool - ons sien uit na ’n opwindende 2022!

Mooi naweek!

Vriendelike JvR-groete
Pieter Rademeyer
Skoolhoof

VERJAARDAE: 13 TOT 19 NOVEMBER 2021
Baie geluk aan al ons Jan van Riebeeckers wat die volgende week verjaar!

15 NOVEMBER
Joshua Moos (9R)
Daniella Coetzee (9H)

16 NOVEMBER
Nian du Toit (10J)

17 NOVEMBER
Ethan Stevens (10V)
Neleh van Wyk (12V)

18 NOVEMBER
Mnr. Pieter Rademeyer

19 NOVEMBER
Cayle Stolz (8R)

ONTMOET ONS ONDERWYSERS: ME. LIZA SERRAO
Me. Liza Serrao is ‘n Vrystater wat aan die Pukke studeer het. Sy bied Wiskunde aan vir graad 8–12 en stap ook voor as vakhoof. Sy was bevoorreg om al by verskeie skole te kon werk, voordat sy in April 2016 by Hoërskool Jan van Riebeeck aangesluit het. Me. Serrao is ‘n bedrewe en geïnspireerde Wiskunde-onderwyser en laat leerders gereeld aan Olimpiades deelneem om hul selfvertroue en entoesiasme te ontwikkel.
As Wiskundige stel sy ook dikwels haar kreatiewe kant in haar klas ten toon en leerders leer op unieke maniere, deur onder meer interessante raaisels op te los en selfs sang! Sy glo daarin om presteerders te beloon en dus maak sy gebruik van ‘n Hall of Fame in haar klaskamer. Me. Serrao is die graad 11-graadhoof en departementshoof: dissipline. Sy is ook baie betrokke by die akademiese beplanning van die skool en tree tans as eksamenhoof op.
Serrao, L
facebook instagram custom 
MailPoet